Andries Bezuidenhout. Kanker

1

Ek ry deesdae gereeld tussen Pretoria (of Tshwane) en Potchefstroom (of Tlokwe). Twee p’s vir twee t’s. ʼn Mens kan met die N1 suid ry en dan op die Kimberleypad klim, maar ek verkies ʼn roete wat effe langer neem – verby Carletonville en ʼn klein dorpie genaamd Welverdiend. By Welverdiend het pragtige rooibaksteen spoorweghuise en ʼn petrolstasie genaamd “Hi Way Motors” my eerste opgeval. Nou kan ek myself nie help om elke keer as ek daar verbyry met my kamera die plek in te boender nie.

Ek werk nou aan ʼn hele paar landskapskilderye van die omgewing. Ek het veral ʼn voorliefde vir bloekombome ontwikkel. Myne se skagtorings, mynhope, mielielande, bloekoms. Dis alles dinge wat ʼn landskap vir my mooi maak, my tuis laat voel.

2

Ek luister weer na Cowboy Junkies se “Trinity Sessions”. Dis ʼn opname in ʼn kerk. Margot Timmins sing met haar lieflike stem:

We are miners, hard rock miners
To the shaft house we must go
Oil bottles on our shoulders
We are marching to the slow

On the line boys, on the line boys
Drill your holes and stand in line
‘til the shift boss comes to tell you
You must drill her out on time

Can’t you feel the rock dust in your lungs?
It’ll cut down a miner when he is still young
Two years and the silicosis takes hold
and I feel like I’m dying from mining for gold

Yes, I feel like I’m dying from mining for gold.

Ek’s nie seker of hierdie liriek korrek is nie. Dis ʼn tradisionele lied. Dit laat my aan my oupagrootjie dink – Andries Jacobus Burger Rossouw. Hy’s op die ouderdom van dertig aan myntering dood.

3

Ek is deel van ʼn nuwe projek. Ons noem onsself die Vrye Radikales. Daar’s Drikus (of Brixton) Barnard op kitaar en stem en Marguerite Visser op klawerbord, kitaar en stem. Ek slaan ook kitaar en sing. Ons neem landskapskilderye deur ek en Marguerite saam, stal dit uit by plekke waar ons optree. Ons probeer om die musiek en skilderye met mekaar in gesprek laat tree, maar ek weet nie of dit altyd so suksesvol is nie. Dis veral lekker om by Nieu-Bethesda in die tennisklub se saal op te tree. Die mense daar kyk stip na die skilderye. Marguerite se pa wil weet hoekom ons die Vrye Radikales is. Dra ons dan nie klere nie?

 

4

Twee werke van Marguerite is deel van ʼn uitstalling by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn. Die uitstalling se titel is “Hangende tuine”. Marguerite se werke is van mynhope, met gruis en gras in klein botteltjies daarop gemonteer.

5

Op die Vrye Radikales se toer kom Hanné Koster saam om ʼn dokumentêre program te skiet. By plekke waar daar min mense opdaag is klubeienaars waarskynlik vriendeliker met ons as andersins, weens die kamera se teenwoordigheid. In Oudtshoorn gaan kyk ek saam met Hanné na ʼn uitstalling van Walter Meyer se landskapskilderye. Daar’s een van ʼn straattoneel in Prins Albert waarvan ek baie hou.

Soms wonder ek hoekom ek aanhou om musiek te maak en voor skraal gehore op te tree. Die Afrikaanse taalgemeenskap is te klein om die tipe musiek wat ek maak te regverdig. Hoekom sleep ek nog swaar luidsprekers en kitaarkiste rond?

maak die kis oop
haal jou snare uit
steek peule met jou stemvurk stukkend
skep, kou, sluk

g’n pêrels hier nie
g’n pêrels hier nie

6

“Hier’s net leë borde in die ondergrond,” sing Trike. Steak & Ale brand af. Ek gaan die gebou mis. Dis langs ʼn treinspoor, in Bothalaan. Koos du Plessis het destyds daar gesit, in die plek se voorganger. Naas Voëlvry se backdrop, deur Catharina Scheepers gemaak, was die skildery van James Philips agter Steak & Ale se verhoog seker een van mees klassieke backdrops in Suid-Afrikaanse musiek. Niemand weet wat van die Voëlvry-backdrop geword het nie. Steak & Ale s’n het afgebrand. 

7

Ek wonder of my oupagrootjie ook soos ek oor myne se skagtorings gevoel het. Seker nie. Die tipe nostalgie waaraan ek ly is waarskynlik generasiegebonde.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •