Kan ʼn mens in een sinnetjie – met ʼn stuk kryt, teen ʼn muur – opsom wat jy nog wil doen voor jy sterf? Saterdagaand word ek in Foxstraat in Johannesburg deur ʼn muur gekonfronteer wat presies dít van ʼn mens verwag. Mense skryf dinge soos:
“Travel the world.”
“Be known.”
“Pay lobola.”
“Know what to write.”
Elke digter se dilemma. Ek haal my kamera uit en neem ʼn foto of twee – hou die lens nie stil genoeg nie en die foto’s lyk soos dit lyk as ʼn dronk persoon daarna sou kyk. Dalk ʼn akkurate beeld van die oomblik?
Vroeër die aand Johannesburg toe gery om na Matthew van der Want te kom luister. Van der Want is een van daai musikante wat vir ander musikante musiek maak. Hy het, op sy eie en saam met Chris Letcher, van die beste albums in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis opgeneem. Ek verwys nou na Low Riding (1998) en Bignity, (2002) beide saam met Letcher, asook Van der Want se solodebuut, Turn On You (1996).
Lank gelede het Van der Want oor ʼn ontmoeting met James Phillips (aan Afrikaanssprekendes dalk meer bekend as Bernoldus Niemand) gesing, oor die man wie se glas so leeg soos sy hart was:
I met a man with broken hands,
His glass as empty as his heart
He got talking about music
And I watched him fall apart
My hero
Who lost something on the road
Light has not followed him home.
As broken as his heart,
Life has not followed him home…
Phillips is op 31 Julie 1995 dood, ʼn paar dae na ʼn motorongeluk naby Grahamstad. Lloyd Ross ʼn dokumentêre film oor sy lewe gemaak. Die titel: “The man who was famous for not being famous.”
Die Suid-Afrikaanse musiekindustrie is ʼn ondankbare plek, veral as jy nie op die hoofstroom sit nie, nie jou seile na die mark se warrelwinde span nie:
Envy those whose days are filled
By playing with numbers and tapping on tills.
Those unbroken dancers,
Those with all the answers
Who never
Lost something on the road,
Who have someone to follow them home
Who never break down,
Who have someone to carry them home…
In om en by 2004 het Matthew van der Want besluit om sy musiekloopbaan vaarwel te roep en regte te gaan studeer. Deesdae praktiseer hy as advokaat (of dalk prokureur?). Chris Letcher is Engeland toe om te kyk of hy daar ʼn lewe uit musiek kan maak. Vir ʼn hele paar jaar is daar ʼn gat in Suid-Afrikaanse musiek – ʼn hol kol iewers in die krop. Vir my, altans.
Toe, verlede jaar, vra Oppikoppi vir Van der Want en Letcher om weer te kom speel. Van der Want skryf weer musiek en neem ʼn album op, wat hierdie jaar verskyn; Outstanding, ʼn donker plaat vol Faustiaanse kontrakte (as Matthew van der Want ʼn love song sing, klink so amper soos ʼn dreigement), maar ook ʼn mate van berusting. Hierdie naweek is Chris Letcher toe weer in die land en die twee tree by The Bioscope in Foxstraat op. Live musiek daar is baie lekkerder as in ʼn kroeg, want in ʼn teateropset moet mense stil sit en luister. Ek sluk aan ʼn bier van een of ander onafhanklike brouery uit Knysna en luister.
Later staan ek voor die muur. Wat wil ek nog doen voor ek doodgaan?
Baie.
Beslis nóg aande met musiek deur musikante wat verstaan waar mense soos ek vandaan kom en dit in liriek kan vasvat.
Die mens sal tot die oomblik wat sy laaste asem uitgeblaas word bly hoop – selfs teen alle hoop ook. Dis goed dat die dood aan daardie onbevredigbare drang einde bring.