Hannalie Taute. Tydloos

Ek het lanklaas “ge-blog”.  Ek skryf dit toe aan die volgende dilemma/verskynsel/versinsel: ‘te min tyd’.

Ek woel en werkskaf om werke klaar te kry vir volgende maand se groep tentoonstelling “FLESH” in Piketberg by ‘The Art Business’.

Intussen verwyl ek my tyd deur produkte te maak vir my ‘Lobotoy-me’ projek wat tydens die Oester fees in Knysna (ook volgende maand) te koop gaan wees by die CCDI se “POP -UP shop in die Knysna winkel sentrum.

Die muse het intussen ook kom inloer….so het talle nuwe idees en werk aan n proposal vir n uitstalling in 2013, en wil graag tyd spandeer om n nuwe reeks produkte te ontwerp vir Lobotoy-me.  Ek het ook aansoek gedoen vir ‘n residensie wat sal beteken ek kan vir 2 weke voltyds dink aan kuns, wat hemels sal wees aangesien daaglikse bedrywighede soos wasgoed, voedsel voorberei en huiswerk soveel minute inslurp.  Boonop het die skoolvakansie aangebreek en dit beteken mamma moet op haar pos wees…..

Dus vir boeklees of poësie was daar werklik minder tyd om aan te bestee…

Ek het darem tydens my 30 minute van internet tyd afgekom op die webwerf: (blogbb@wordpress.com) en die gedig getiteld ‘tydloos’ gelees wat geskryf is deur  BB wat hom/haarself sien as n trots Suid Afrikaanse Duitsprekende sanger en liedjieskrywer:

Sê die kleinseun vir die ou man: “Oupa, soms laat ek my lepel val…”

Oupa antwoord: “‘Net soms my kind? Met my gebeur dit byna pal!”

In ‘n fluisterstemmetjie sê hy: “Oupa, gister pieps ek in my broek…”

‘ n Ou hand troosvryf oor sy kop: “My kind, jou ma dreig lankal met ‘n doek!”

“Ek kry raas oor ek soms huil…”

“Hoe graag sal ek my trane ruil!”

“Weet Oupa wat maak my só seer? Grootmense het net geen tyd meer…”

“Ek verstaan dit ook nie meer…” , terwyl sy ou hand rimpelteer

saggies saggies ‘n traantjie of twee

van die blosende appelwang vee.

Gelukkig is boeke tydloos en selfs net mooi om na te kyk al lees mens dit nie.  Dit klink wel oppervlakkig, maar boeke as medium in kuns maak my opgewonde.

Book wheel

Johnathan Whitfill: Book wheel

Plaaslik het Barbara Wildeboer ook onlangs ʼn uitstalling gehad wat ek ongelukkig misgeloop het.  Ek is versot op wat sy met boeke kan uitrig.

Barbara Wildenboer

Barbara Wildenboer

Dan natuurlik is daar William Kentridge (een van my top 10 kunstenaars).  Sy uitstalling “The refusal of time” is tans te sien by die Documenta 13 in Kassel:

Trine Otte Bak Nielsen.

William Kentridge, The Refusal of Time, 2012. Stilbilde. Foto: Trine Otte Bak Nielsen.

Ek sou my voorste naaswit tande wou gee om dit in lewende lywe te besigtig/beleef.  Volgens ʼn berig in vandag se koerant “Die Burger” is “sy (William Kentridge) se vertrekpunt – wat hy saam met die Amerikaanse fisikus-professor Peter Galison ontwikkel het – gaan oor die aard van tyd en hoedat dit  (valslik en om politieke redes in die laat 19de eeu) vasgepen is.)”  Met hierdie uitstalling bevraagteken hy die vasgesteldheid van tyd…..Poëties met ‘n hoofletter P is hoe daar verwys is na Kentridge se werk…. Dus met hierdie hoofletter P  vir poegaai gaan ek eers groet voordat tyd my inhaal…..

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •