Louis Esterhuizen. Die Olimpiese Spele en die digkuns

 

Danksy ‘n skakel wat ‘n getroue leser van die webblad vir my gestuur het, beland ek op die New York Times se webblad waar ‘n essay deur Tony Perrottet oor die Olimpiese Spele en die digkuns gevind kan word. (Perrottet is onder andere die skrywer van The Naked Olympics: The True Story of the Ancient Games en ‘n gereelde bydraer tot die Smithsonian Magazine.) Sy essay staan uiteraard teen die agtergrond van die spele wat op hande is, en ook die twee groot poësieprojekte wat deel vorm van die Spele, naamlik die Poetry Parnassus waaraan 50 internasionale digters in 50 verskillende tale deelgeneem het en “The Written World”-projek waarvolgens ‘n gedig uit elk van die 204 deelnemende lande se digkunste daagliks op die BBC voorgelees word.

Besonder interessant is die historiese perspektief wat Perrottet bied. Volgens hom het poësie van die vroegste tye af ‘n integrale deel van sportbyeenkomste gevorm aangesien die beginsel van “‘n gesonde liggam huisves ‘n gesonde gees” ‘n uitgespelde oogmerk van die antieke Griekse kultuur was. En die digters het net soveel aansien soos die atlete geniet. Aan die negatiewe kant was die kritiek glo ook net so fel: “Criticism could be meted out brutally: when the Sicilian dictator Dionysius presented subpar poems in 384 B.C., disgusted sports fans beat him up and trashed his tent.” Sjoe.

Baron Pierre de Coubertin

Baron Pierre de Coubertin

In die 20ste eeu het die digkuns inderdaad ‘n integrale deel van die Olimpiese Spele gevorm danksy die visie van baron Pierre de Courbertin, wat as vader van die moderne spele beskou word:  “Baron Pierre de Coubertin always insisted Greek-style arts contests should be allowed alongside athletics. His dream was realized in 1912 at Stockholm, where literature, together with music, painting, sculpture and even architecture, became Olympic events in the so-called Pentathlon of the Muses, in which all submissions had to be ‘directly inspired by the idea of sport.’ Hierna het daar 7 olimpiades gevolg waartydens digters met medaljes vereer is vir hul digterskap; onder andere ons eie Ernst van Heerden wie se sportgedigte in 1948 tydens die Olimpiese Spele in einste Londen met ‘n silwer medalje bekroon is.

Maar nou ja, soos dit dikwels die geval is met kwessies des letters is ook dié inisiatief met kontroversie omsingel. Beswaar is veral vanuit Sweedse geledere gemaak oor die beperkende aspek van die vooropgestelde sportgerigte tema. Ook die bekronings is erg gekritiseer: hoe kon ene Géo-Charles, nom de plume vir Charles Louis Prosper Guyot, die goue medalje in 1924 wen vir sy gedig “Jeux Olympiques” en nie T.S. Eliot of Jean Cocteau nie, is gevra. (Terloops, Géo-Charles se gedig het naelloop en hamergooi gekombineerd betrek en bevat die volgende onvergeetlike reëls: “The runners bend, tense flowers, . . . / A shot: A violent word! / And suddenly / Necks extended, forward / like stalks / faces like pale snatched / apples, / teeth and jaws rushing into / space.”) – Soos deur Tony Perrottet aangehaal.

Nog ‘n punt van beswaar is dat die regulasies vir deelname bepaal het dat dié kompetisie slegs vir “amateurs” is, want hoe bepaal ‘n mens sodanige status; veral – soos Daniel Hugo nog onlangs op dié webblad opgemerk het – alle digters maar eintlik “amateurs” bly in dié bedryf?

Aale Maria Tynni

Aale Maria Tynni

En so is die laaste goue medalje toe toegeken in 1948 aan die Finse digter Aale Maria Tynni met haar vers “Laurel of Hellas“. (Enkele reëls wat Perrottet aanhaal, is die volgende: Laurel of Hellas noble-born, / most celebrated tree, / gazing to your lofty crown / the mind must dazzled be.”) Met Ernst van Heerden in die tweede plek, uiteraard.

Nietemnin, die kontroversie wat op dié bekroning gevolg het, was sodanig dat daar besluit is om voortaan nié meer poësie by die spele te betrek óf te bekroon nie: “This proved the last gasp for official Olympic poetry. Organizers began to doubt the quality of the offerings, as the gulf between the sports-related entries and contemporary poetry grew ever wider. Apart from the niggling amateur question, one official speculated that there are not enough artists who find occasion to study the beauty of the human body in motion or have connection with the world of sport. In 1952 at Helsinki, literature was quietly dropped, along with the other arts contests.”

Tot nou in 2012 waar die Britte met ‘n doelbewuste poging vorendag kom om die poësie weer ‘n voet in die wegspringblok te gee … Of hulle egter suksesvol gaan wees in dié poging sal net die tyd kan leer.

Graag eindig ek egter dié blog met Perrottet se slotparagraaf: “For this year’s games, a panel of literary experts decided to adorn London’s Olympic Village with a line from Tennyson’s Ulysses’to sum up the gritty determination of the ancient wanderer: ‘To strive, to seek, to find, and not to yield.’ Perhaps more nuanced are the words of Achilles pondering the vagaries of celebrity in Homer’s Iliad’. ‘I too shall lie in the dust when I am dead, but now let me win noble renown.’ Or as Emily Dickinson more cheerily put it: ‘Fame is a bee. / It has a song – / It has a sting – / Ah, too, it has a wing’.”

(Maar nou hoekom klink Tennyson se reëls ‘To strive, to seek, to find, and not to yield’ meteens vir my so baie na daardie spookstem aan die begin van elke Star Wars-episode?!)

Gaan lees gerus Perrottet se volledige essay hier.

***

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •