Labirint
In ‘n doolhof kan jy dool-dool verdwaal:
elke vertakking word oorweeg en verken,
dit verknoop en ontstem jou
voordat jy die raaisel ontgrendel,
jou eindbestemming bereik.
‘n Labirint lei jou langs ‘n enkele pad
en die ritme van stap, tot jy vervuld
al met die kronkels die sentrum vind,
prikkel die luislang wat in die skedelholte skuil.
Dit begoël hom, die heen en weer wieg,
want hy volg die beweging,
maar sak uiteindelik bedaard weer terug.
Moderne hospitale pak klippieslabirinte
of snoei sipresse in sirkelende lane
volgens die oeroue wysheid van die Minoane.
Geestelik versteurd, verstandelik gestrem
of in die kake van kanker geklem,
om die kronkelpad na binne te stap
laat maak jou met jou binneste kontak.
© Trienke Laurie, 2012