Zandra Bezuidenhout. Vertaalproses
Vertaalproses
Om woorde uit te wan
tot uit die warreling van kaf
‘n handvol korrels
oorbly in die skedelpan
om dan die vonds omsigtig te betrag
te meet en pas
te weeg en sif
en gulsig in die kies te maal
tot kousels gepuur van alle -ismes
gis en rys terwyl die taalkombuis
die hele werf laat watertand
vir tuisgebakte boerebrood.
Zandra Bezuidenhout
Stellenbosch
Junie 2012
Hallo Zandra. Ek hou van jou gedig. Veral die nadruk op deeglike oordenking en die voortbring van ‘n gehalte-produk.
In die groot debat wat oor eeue gevoer word oor vertaling, word daar mos gepraat van twee hoof-kategorieë van vertaling: die “getroue” vertaling wat poog om elke woord en sinswending in die teikentaal na te boots – en die vertaling wat skeppend te werk gaan om eerder die “essensie” van die vertaalde gedig oor te dra en nie so pynlik getrou by die oorspronklike wil bly nie. Dus: traduttore, traditore.
Dit wil my lyk of jou gedig meer neig na die tweede soort vertaler – al daardie gewan en uitsoek en bak ens. gaan sekerlik ‘n splinternuwe produk vorendag bring!