LAURIE SMITH
(1926-2003)
Die man maak ‘n laai oop en beduie
na die skulpe wat netjies gepak lê.
Tel een op: “‘n Seldsame trompetskulp.”
Ek neem die stuk versigtig in my hand
en hoor hoe die versamelaar vertel:
“Die Museum het dié kaste uitgegooi.”
Met my wysvinger voel ek aan die spits
se windings, die apeks en opening
met die kleur van maanlig oor die water.
“‘n Mens moet hulle teen lig beskerm.
Anders word hulle gou dof en kleurloos
en wil g’n niemand hulle meer hê nie.”
In een laai na die ander rus hulle:
“Muntskulpe. Perdepootjies. Perlemoen.
Hartmossels. Chinese hoedjies. Knopies.”
Alles word skielik vreemd aan Linnaeus
en name klink weer soos “in die begin”
wanneer ek die name nuuskierig lees.
© Johann L Marais, 2012