Desmond Painter. Vergete verbintenisse met Verónica Volkow

Ek was ‘n maand of wat gelede in Mexiko om ‘n kongres by te woon. My kongresbestemming was Morelia, die hoofstad van Michoacán, ‘n staat wat meer bekend is vir die bloedige oorlog wat daar woed tussen die polisie en dwelmsmokkelaars as vir Morelia se bekoorlike koloniale strate.

Morelia

Morelia

Ek het darem voor en na die kongres die geleentheid gehad om ook vir ‘n paar dae in Mexiko Stad rond te dwaal. Mense het my natuurlik gewaarsku om dit nie te doen nie — Mexiko Stad is glo te gevaarlik — maar ek is ‘n geharde Suid-Afrikaner: ek kan ‘n sakkeroller van ‘n myl af uitken, en om angstig rond te kyk wanneer ek ‘n OTM gebruik, is al tweede natuur. Ons is mos ge-gear vir geweld; ons kan dit net sowel inspan vir selfbehoud elders ook. (‘n Mens behoort hierdie straatsvernuf te verpak en aan weerlose Noord-Atlantiese toeriste te bemark.)

Mexiko Stad

Mexiko Stad

Maar Mexiko Stad is eintlik ‘n lieflike plek om in rond te dwaal, om in te verdwaal. Ek en my vriend Athanasios het die huis besoek waarin Leon Trotski op 21 Augustus 1940 vermoor is. Hy het etlike jare in ballingskap daar deurgebring, en vandag is die huis, in ‘n stil straat net ‘n klipgooi van waar Frida Kahlo gewoon het, ‘n museum.

Die Trotski-huis in Mexiko Stad

Die Trotski-huis in Mexiko Stad

Darem snaaks hoe ‘n mens se brein werk — of nie werk nie. Terwyl ek in die museum was, het ek ‘n knaende vermoede gehad, ‘n amper-herinnering eintlik, dat een van Trotski se kleinseuns of kleindogters in later jare ‘n bekende Mexikaanse digter geword het. Athanasios kon nie my vermoede bevestig nie, en ek het weer heeltemal daarvan vergeet.

‘n Paar dae gelede is ek egter heel toevallig weer aan my vermoede herinner, in ‘n huldeblyk oor Neville Alexander. Hein Willemse skryf: ‘[Alexander] sou hom by voorkeur as ’n revolusionêre sosialis wou beskou en kon identifiseer met die Russiese Marxis Leon Trotski se ewigdurende revolusie. Hoe diep daardie verbintenis was, kon ek eerstehands ervaar toe hy een aand in die loop van 1986 met tasbare entoesiasme met Trotski se kleindogter, die Mexikaanse digter Verónica Volkow, in gesprek getree het.’

Aha! Verónica Volkow! Ek dink Trotski was haar oupagrootjie, nie haar oupa nie; maar nogtans, sy moet die digter wees aan wie ek my amper herinner het in Trotski se huis. Die rede waarom ek van haar weet, is omdat daar van haar gedigte opgeneem is in The Vintage Book of Contemporary World Poetry, een van daardie boeke wat ‘n permamente plek op my bedkassie het.

Verónica Volkow

Verónica Volkow

Die Vintage Book meld nie die Trotski-verbintenis nie, so ek moes seker elders daarvan gehoor het — en toe weer amper van vergeet het. Wat ek beslis heeltemal van vergeet het, is dat die Vintage Book wel melding maak van haar besoek aan Suid-Afrika in die 1980’s, en dat sy ‘n reisboek oor daardie besoek gepubliseer het. Ek was heel seker, toe ek in Willemse se huldeblyk daarvan lees, dat ek nog nooit vantevore daarvan gehoor het nie.

Volkow (geb. 1955) is inderdaad een van Mexiko se belangrikste hedendaagse digters. Hier is een van haar gedigte:

**

(From) The Beginning

I.
Hunger is the original eye of the body
primeval eye in the dark of the body
the eye with which flesh first beholds flesh

and a sanguinary darkness draws us inward

the eye
with which my feet see you my teeth
my fingers

the eye
with which I discover you centuries long
in one night of touching
that night
so like the night of the fish
the tiger
the snake
so like the first night of life

we close our eyes and are beast again
and our bodies are clamped like throats
choking on the shapely flavours

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Desmond Painter. Vergete verbintenisse met Verónica Volkow”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond: Ek het die voorreg gehad, jare gelede, om Veronica Volkow mee te maak. Op ‘n haar na nes haar oupa (of oupagrootjie) behalwe nou vir die kenmerkende bokbaardjie. Tot so ‘n mate dat Yehuda Amichai, nie juis baie hoog gestoel nie, vir haar wou vra om te buk sodat mens seker kon maak sy het nie ‘n litteken op haar kop soos waar die ouman se skedel deur die Katalaan gekloof is nie.

  2. Desmond Painter :

    Buiteblaf, ek wou nou ‘n skunnige opmerking gemaak het oor Verónica en die bokbaardjie (ek sou later aangevoer het dit was g’n skunnige opmerking nie, maar ‘n gesofistikeerde intertekstuele verwysing na ‘n verhaal van Breyten Breytenbach in die se boek Mouroir) maar ek gaan nie. Ugge-um.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    As ek hoed gedra het sou ek dit afhaal vir jou raaksien, Desmond, verby die bokbaarjie wat nooit ophou groei het nie, al het die Staliniste dit ook probeer kortknip – insluitende in Azanië. Die verhaal moet seker nog vertel word hoe die Staliniste ook ons plaaslike Trotskiste geëlimineer het, ek bedoel ook fisies, in Moskou en in die Kaap.
    Maar nouja, soos die gesegde lui: as jy sien jou buurman se baard brand beter jy jou eie in ‘n emmer water doop.

  •