Mediavrystelling: PEN Afrikaans suksesvol geregistreer

 

 

‘n PEN-sentrum vir Afrikaanse skrywers is nou ‘n voldonge feit.

By die pas afgelope 78ste PEN International-kongres in Gyeongju, Suid-Korea, is PEN Afrikaans eenparig as volwaardige PEN-sentrum verwelkom.

Die aansoek wat voor die ledevergadering gedien het, was vir die verandering van die naam “Geherkonstitueerde Pretoria PEN” tot PEN Afrikaans.

Prof Fanie Olivier, leier van die afvaardiging, sê “Dit is ‘n groot oomblik, maar darem nie die eerste keer dat ‘n taalgebaseerde sentrum erken word nie – daar bestaan reeds sentrums vir tale soos  Langue d’Oc, Quebecois, Baskies, Koerdies en Esperanto, om enkeles te noem.”

Prof Olivier is na die kongres vergesel  deur die bekende skrywers EKM Dido en Sonja Loots. In Suid-Afrika bestaan daar reeds South African PEN, ‘n sentrum vir skrywers in Engels.  South African PEN is in Suid-Korea verteenwoordig deur sy vise-president, Margie Orford, wat die aansoek sterk ondersteun het.

Die bestaan van twee sentrums in Suid-Afrika val in die patroon van twee Belgiese sentrums vir onderskeidelik Vlaams en Frans, en twee sentrums in Hong Kong vir Engels en Sjinees.

‘n Gesamentlike algemene ledevergadering van PEN Afrikaans en die Afrikaanse Skrywersunie vind op eersdaagsin Stellenbosch plaas. By dié geleentheid word beoog om die twee organisasies saam te smelt. Dit sal van PEN Afrikaans een van die beduidendste PEN-sentrums ter wêreld maak.

Kerneels Breytenbach, bestuurslid  van die Afrikaanse Skrywersunie, sê: “Dis ‘n blye dag vir Afrikaanse woordkunstenaars. PEN Afrikaans is nie plek- of streeksgebonde nie. Hy het lede in elke provinsie, in Namibië, en in verskeie oorsese lande. Daarby het hy geen ideologiese oriëntasie nie.”

PEN Afrikaans is ‘n nie-winsgewende, onafhanklike en onverbonde organisasie wat die belange van Afrikaanse woordkunstenaars beskerm en bevorder in ooreenstemming met die beginsels van die PEN-handves. Hy bevorder die belange van letterkunde oor die algemeen, beskerm en bou taalregte uit, en beywer hom vir vryheid van spraak en die reg op selfstandige denke.

Navrae:

Kerneels Breytenbach (Afrikaanse Skrywersunie)

Naas Steenkamp (PEN Afrikaans)

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Mediavrystelling: PEN Afrikaans suksesvol geregistreer”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Skote Pertoors! Retief ook! En hoe goed dat dit saamval met Small se Hertzogprys en sy werklik aangrypende en besielende dankwoord.

    Dankie vir die voorlopers, die shisa-manne en -vroue (wou byna sê die rock drillers maar het my net betyds bedink).

    Viva, mense – viva!

  •