Louis Esterhuizen. Inderdaad reën dit digters en gedigte …

 

Verlede week het ek oor Charles Simic se ietwat tong-in-die-kies-besinning oor die blomtyd waarin die digkuns haar tans wêreldwyd bevind, geskryf. In aansluiting daarby lees ek toe enkele dae later ‘n blog deur ene Leo van der Sterren raak op die weblog Uitpost Kephala. In wese huldig van Van der Sterren dieselfde menining as Simic, maar in sy geval fokus hy tog ook op ander kwessies; soos die probleem ten opsigte van gehaltebeheer, byvoorbeeld.

Volgens Van der Sterren se inleidingstoespraak skryf hy sy blog in reaksie op die siening dat die digkuns tot niet is: “De poëzie is alles behalve dood,” skryf hy. “De poëzie is als god: eenmaal in het bestaan geroepen, krijgt niets of niemand haar nog weg […] De poëzie is niet dood. Integendeel, de poëzie leeft en springt meer dan zij ooit gedaan heeft […] Tegenwoordig kan iedere dichter, beroemd of niet, zelfbenoemd of niet, publiceren dat het een lieve aard heeft. En dat gebeurt ook. Het aantal dichters dat publiceert, op welke manier dan ook, is nog nooit zo groot geweest als nu. Dat met die nivellering de kwaliteit geen pas houdt, dat moge duidelijk zijn, maar zo werkt nivellering nu eenmaal – dat er zich bijkomende schade voordoet. Het koren gaat verloren in het kaf. “

Inderdaad. Kwantiteit was immers nog nooit ‘n waarborg vir kwaliteit nie. Van der Sterren stel dit soos volg: “Het streven van de dichter om door en met zijn gedichten de status van onsterfelijkheid te bereiken is vervangen door de zucht om zoveel mogelijk teksten de openbare ruimte in te plempen. De kwaliteit van die teksten, niemand maalt er nog om. Maar het lot van onsterfelijkheid is slechts een miniem groepje van uitverkoren dichters beschoren. En dan nog maar met één of enkele gevleugelde woorden die tot algemene zegswijzen zijn uitgegroeid. “

En natuurlik plaas die klem op produksie eerder as gehalte die digkuns vierkantig binne die raamwerk van ons verbruikerskultuur waar “kits”  en lighartige “entertainment” die wagwoorde is. Of dit ‘n probleem is? Ek weet nie … Dalk mag die poësie van veer verander, maar dat dit ‘n gevogelte is wat gaan (kan) oorleef te midde van snelveranderende tegnologie en lesersvoorkeure, is nie te betwyfel nie: “Niettemin, dergelijke groepjes zullen altijd blijven bestaan. Gezelschapjes van mensen die zich aan de poëzie – wat voor andere dooie poëzie is – wijden. Lezers. En zo lang de poëzie nog lezers kent, is zij dooi noch gaat zij dood.”

Solank daar lesers vir die digkuns bestaan. Wat ‘n gedagte! En tog wonder ek soms in my meer siniese oomblikke of ons ons nie tans in die situasie bevind waar daar meer skrywers van gedigte is as lesers nie …

Nietemin, vanoggend sluit ek af met ‘n gedig deur Mellet Moll; ‘n persoon wat vanweë sy posisie as hoofman by Carpe Noctem deur vele gesien word as ons vernaamste internetdigter en as sulks verteenwoordigend van die nuwe era in ons digkuns.

Vir diegene wat nie weet nie: Op hul FaceBook-profiel word Carpe Noctem soos volg aangekondig: “(Carpe Noctem is) ‘n Faceboekgroep vir middernagsiele, die donker digters wat uitkom as die gewone mense slaap, wat die paaie loop wat hulle harte na hunker, wat nie omgee of skaam is vir wie hulle is nie. Wat huil, wat lei, wat soek, wat vind, wat gee, wat neem, wat woorde laat vlieg op die Afrikawind. Die groep is oop na middernag. Elke nag. En kom bymekaar as dit volmaan is. Wanneer hulle verlang na die vreemde romantiek van hulle vorige lewens in ou kastele, kelders en torings, waar die mensdom hulle heen verban het omdat hulle misverstane uitgeworpenes was.”

Carpe Noctum het 1,296 lede wat gereeld hul gedigte op dié blad plaas. Hul webblad is hier te vinde; met die volgende uitsprake as deel van hul hoofbanier: “Carpe Noctem – Vir die ernstige digters” en “Welkom by die grootste Afrikaanse woordkunsblad op die internet.”

Ook is dit belangrik om daarop te wys dat Carpe Noctem maar één van vele soortgelyke ruimtes op die internet is.

Om meer van Mellet Moll te wete te kom, kan jy gerus sy naam goegeloer. Op LitNet het ek wel die volgende biografie gevind: “Mellet Moll is ‘n digter-skrywer wat in 2011 die letterkundewêreld aan die brand geskryf het. Hy is die eerste Afrikaanse digter wat onbeskaamd ‘n volledige en omvattende digbundel interaktief op die sosiale media skryf, publiseer en laat resenseer. Dit skep ongekende belangstelling in sy unieke en kenmerkende benadering vanuit alle oorde in die woordkunswêreld aangesien die populariteit van sy werk tot ‘n lesertal lei waarop die meeste hoogaangekrewe skrywers jaloers sal wees. Dit veroorsaak ook ‘n groot verwagting in die mark vir die vrystelling van sy debuutbundel, Terug in die Hoogland, wat in Januarie 2012 plaasvind. Hy doen iets wat die omgekeerde is van al sy tydgenote: hy skryf tradisionele, byna middeleeuse verse, maar hy spreek die donker en dikwels taboe temas van die moderne wêreld op skokkende en soms vertroostende wyse daarmee aan. Dit word ‘n vars bries in ‘n wêreld van andersins middelmatige maar sogenaamd moderne werk wat steeds in dieselfde clichés verval. Hy volg hierdie bundel dadelik op met ‘n opvolgwerk, Testament wat in April 2012 vrygestel word, en ‘n e-hoogtepunte-bundel met die titel Lacrimosa.”

***

Bookmark and Share

69 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Inderdaad reën dit digters en gedigte …”

  1. Eerstens, Louis, dankie vir die verwysing. Miskien moet ek wel ook perspektief gee oor die sg. facebookdigters.

    Die sosiale media het ‘n stem gegee aan die massas, heelparty is mense wat wil dig. Hulle doen dit om verskeie redes, en uiteraard wissel die gehalte van beginners tot en met gevestigde digters. Dis wat dit so populêr maak: die vermening van stemme en die feit dat elke een wat deelneem, ‘n siel is wat vir die kunsvorm gewen word. Dis mense wat belangstel in die geskrewe woord, wat bundels koop en wat Afrikaanse poësie sien floreer. Dit verbreed die landskap en maak toegang daartoe vir elkeen moontlik. Ons het met verloop van tyd gegroei tot ons huidige formaat en grootte. Carpe Noctem het vandag meer as een blad op die sosiale media, veral omdat dit belangrik geraak het om te onderskei tussen veral die beginners, wat uiters sensitief is vir literêre kritiek, en ons tweede blad, Carpe Noctem Plus, waar literêre kritiek gelewer word en geskaaf word aan werk met die doel om te verbeter.

    Hierdie digitale stem op die soiale media het gekom om te bly. Ek nooi graag belangstellendes om te kom loer op Carpe Noctem of Carpe Noctem Plus (http://www.facebook.com/groups/382269248473135/). Groetnis. MM.

  2. Sonika Botha :

    Naand,
    Ek loer graag hier in. Prof Moll, is nie slegs een van my mentors nie, maar ook ‘n digter van formaat. Daar was al heelwat relaas oor die facebook/internetdigters. Op Carpe Noctem verwelkom ons die critici, en ek glo dit leer die opkomende digters om kritiek te hanteer, maar ook vir die bevordering van die digkuns. Ek persoonlik skryf vanuit Aus, en is tans die enigste Afrikaanse digter hier, maw my sosiale digkuns gemeenskap is nul! Ons leer daagliks by digters oa Prof Moll asook vele ander CN digters en ek voel dat baie ander by hulle kan leer. Kwaliteit, gehalte en die bevordering van hierdie kuns is waarna CN streef. Ons is ‘n massiewe groep met enorme talent. ‘n Spasie vir skrywers van formaat en ‘n fondasie vir die beginners. Ons aanvaar nie “rympies” nie en is streng tog regverdig in dit wat ons verteenwoordig. Dis ‘n eer om aan hierdie groep te behoort en as lid van die redaksie, nooi ek julle ook om ware gehalte poësie op ons skaafblad, CN+
    te kom geniet. Die critici is uit die boonste rakke en so ook ons digters. As dit nie was vir groepe soos CN nie, was daar al vele meer publikasies op rakke, wat die taal ‘n onreg aan sou doen.
    Groete, S

  3. Coen Havenga :

    Ek het ook die voorreg om betrokke te wees by Carpe Noctem en sy verwante blaaie. Mellet Moll het met die stigting daarvan die wonder van digkuns vir letterlik duisende sogenaamde amateurs toeganklik gemaak, wat voorheen uitgesluit is deur die “eksklusiewe aard” van die skryfkuns. Dit akkomodeer alle vlakke van skrywers, en met die verskillende blaaie word inderdaad aandag gegee aan kwaliteit dmv kritiek en leiding, deur bekwame mentors. Ek stem nie saam met die opinie wat somtyds gehuldig word dat net “gepubliseerde digters” die reg verwerf om “iemand” te wees wat kan uitstyg bo die sg laaglandelike landskap van internet-digters nie. Kom word gerus deel van die uiters opwindende vernuwing in die diglandskap!

  4. Ek verneem natuurlik ook graag van kenners soos De Waal of dit onvanpas is om die massas aan te moedig om gedigte te skryf en te leer waardeer.

  5. Karin Prinsloo-Stuart :

    Ek meen sosiale media soos Facebook en Twitter is die katalisators vir ‘n Tsunami van stemme wat nie stilgemaak kan word nie.

    In elke land en in elke taal, is die wye wêreld nou die web waarop enigiemand sy woorde kan spin.

    Ek is van mening dat die nuwe stemme die ou stemme effens ongemaklik maak. Skielik is die digkuns nie meer die formele en gereguleerde “old boys club” van die verlede nie.

    Jy hoef nie meer vooraf deur ‘n doyenne of doyen onder die muwwe vlerk geneem te word en uiteindelik met ‘n fanfare bekendgestel te word nie.

    As jy talent het, sal jy belangstelling wek en sal jy ‘n leserstal opbou met tyd. *Ware verhaal*

    Maar net, as jy talent het.

    Want die internet is wreed. Die kritici is gesigloos en skuld jou niks.

    So is dit dan dat dié dommes met dik velle; en ‘n paar van die skaarses met talent, sal uitgewers soek, (of sommer self sal uitgee – *het julle geweet daar is ‘n uitgewer in Kilarney Gardens in Kaapstad wat 100 bundels van 100 bls, met ‘n harde omslag, van baie goeie gehalte, teen R5500 vir jou sal druk?*)

    Ek wonder nogal hoe die toekoms van die Afrikaanse digkuns gaan lyk?

    Rakke vol sub-standaard resitasies wat ge-return word na die senders; of dalk die bykom en bybly van die mooiste, mooiste taal?

    Ons sal wel uitvind. En eerder vroeër as later. Die internet en tegnologie beweeg vinniger as wat ons besef.

    K 🙂

  6. Len Els :

    Ek vind aanklank by Coen Havenga se kommentaar. Sogenaamde digtersblaaie ontpop dans in groot getalle op die internet. Dit is myns insiens gesond en bevorderlik vir die behoud van Afrikaans. Gegewe die medium, sal daar uiteraard van amateurs tot taal ghurus deelneem.
    Deur mentorskap word kwaliteit verbeter en die amateurs blootgestel aan die denke en skryfstyle van die ‘hogerige digters’. Hierdeur word gehalte en verteenwoordiging verseker.Die digterlike kommunikasieproses bevat immers ‘n oop boodskap met beide modernistiese en post modernistiese elemente.
    Ons moet net attend wees om die kaf van die koringte onderskei, maar die speelveld moet myns insiens oop vir almal wees.

  7. Estee Booyens :

    Ek het nou vlugtig hier deurgelees en ek glimlag breed, want weereens gaan die debat nie oor die vernuwing van Afrikaans en die digkuns nie, maar oor wie wat moet en mag doen. En nie oor wie wil en kan nie. Hoekom wil daar altyd iemand wees wat Heer en Meester wil speel en alle kreatiwiteit wil verpak en ‘n naamplaatjie opplak? Laat die wat wil skryf tog om godsnaam skryf en hou op om jouself te bekommer oor “miershopies”. Daar is darem miershopies in die woestyn van konserwatieiwe, calvinistiese middelmatigheid wat soos klitsgras aan die Afrikaners se kreatiewe denke klou. Wees vry. Breek los van die kettings en haal die oogklappe af en wees dankbaar dat daar darem diegene is wat verfrissend skeppend in Afrikaans wil wees en die gespuis, ja sommer elke ou wat wil dig, die kans gun om so te maak. Want die jirre weet, as die digkuns dan net toevertrou gaan word aan diegene wat hulself hoog genoeg ag (wie hulle nou ookal mag wees) om daarmee te peuter, kan ons as volk, as taalgroep, maar die handdoek ingooi. Dit is vir my so tipies van my volk. Mellet Moll het vir die eerste keer in die geskiedenis van hierdie taal, die skryfkuns werklik toeganklik gemaak vir almal. Laat ons die wat hulself so belangrik ag, agterwee laat, die pen opneem en begin skryf. Soos dit hoort. Want die toekoms van hierdie taal is nie in die hande van die sogenaamde taalgeleerdes nie, maar die in die hande van die volk – die mense wat die taal liefhet en gebruik – hoe krom en skeef ookal!

  8. Antwoord op Mellet Moll: die n-ste taalbeweging?

  9. Dit is normale sistemiese gedrag van enige bedryf, die samelewing en die natuur om homself te herskik. In vandag se samelewing vind heelwat hiervan plaas as gevolg van die manier waarop tegnologie die landskap verander en selfs die ouer orde ontwrig.

    Dit is my mening dat dit ook vir die geskrewe woord geld. Natuurlik bring dit nuwe uitdagings mee, veral omdat dit nuwe horisonne oopmaak en oues laat vaar. Tereg is ons grootste uitdaging gehaltebeheer. Dit kan myns insiens op baie maniere oorkom word, veral as ons sou hande vat.

  10. Marlize Hobbs :

    Ek hou al vir ‘n geruime tyd die debat oor die “opskiet-digters” op sosiale netwerke en aan die ander kant, die “geagte digters” dop. Daar word niks weggevat van diegene wat hulself ag goeie digters en bewakers van die geskrewe woord, wanneer ander minder bekende mense vir hulself ‘n plek vind om woorde te dig / of te pleeg nie. Dat so iets sou gebeur, is onvermydelik. Die internet bring vir ons onmiddelikheid wat by die mens se aard pas. Aan die ander kant weet ons dat die geskrewe woord, die gedig, tyd vat en meestal oor en oor geskryf moet word en kans moet kry om hersien te word… dit gebeur dikwels nie by hierdie bladsye nie. Maar steeds pleit ek vir die beweeg MET die tyd en deel word van die beWEging om die taal sover as moontlik te rek. Ek dink Mellet Moll het bloot die hokke gerattle waarin die bewakers van die Woord sit en oordeel fel oor ander se pogings tot die digkuns… want hy het n manier gekry om die ou manier van doen te omseil. Ek wens ek het sy binnegoed gehad! Op dieselfde wyse dat hierdie mense maar mag skryf en dit gedigte noem; so mag die establishment seker krities optree en vra: “maar is dit Poe-hoe-zie?” Ek verwag niks anders van hulle nie. Onthou net dit: digters is veronderstel om die vooruitdenkers en profete te wees…

  11. Sleutelwoord: “gehaltebeheer”.

  12. Gehaltebeheer is egter nie dieselfde ding as toegangsbeheer nie. Eersgenoemde is bedoel om soveel as moontlik mense te ondersteun in beter skryfwerk. Dit is ‘n leerproses en een van deurlopende verbetering. Laasgenoemde is bedoel om hulle weg te wys by die poorte ongeag hulle bereidwilligheid om te leer. Dit is die vyand van kreatiwiteit.

  13. Dit klink of jy sê dat literêre tydskrifte deur die dekades “die vyand van kreatiwiteit” is omdat hulle nie alles gepubliseer het wat aan hulle voorgelê is nie.

  14. Rudi Prinsloo :

    Hierdie gesprek is dalk weer begin om ‘n punt te bewys en ek glimlag by die lees van Estee Booyens se reaksie daarop; pront en tot die punt. Dit het nodig geraak om pront en tot die punt te gesels hieroor. Ek wonder hoeveel digters “toets” hulle werk onder mekaar voor plasing, soos wat ons dit by Carpe Noctem doen. Ek neem aan dat daar vele werke is wat soms nie die paal haal nie, soos wat dit ook by Carpe Noctem gebeur. Maar ons is versigtig vir die baba en die badwater. Nie elke vers haal ‘n bundel nie en ek dink skielik aan die aankondiging van Joan se prestasie waar dit vermeld word dat vorige werke wat nog nie geplaas is nie by hierdie bundel ingesluit is. Die tyd is dalk soms ryp en andermale nie. Mens kan die erns en aard van elke internet-digter en sy talent nie eenvoudig wegwens of lukraak opsom nie. Persoonlik lees ek gereeld deur die “gedigte van formaat” wat in verskeie bundels aangebied word en voel meer gereeld deesdae in die steek gelaat daardeur. Dit dan dalk my punt: ons lees “julle” werk, dalk moet julle bietjie kennis neem van “ons” werk, julle mag verras wees wanneer julle eers by die “veralgemening” kan verbykom.

  15. Hardus :

    Net nog ‘n opinie:

    Soos met enige kuns-formaat is daar voordele en nadele. Met hierdie internet-ontploffing (ek dink wel dit is ‘n ontploffing, al is dit subtiel) kan digters kommentaar en advies kry. Dit is wonderlik. Gaan hierdie digters eerder woon op die internet, as om bundels te laat publiseer? Dalk, en dit beteken minder bundels op die rakke te koop. Maar: die totaal gedigte is groter! As iemand (sonder die internet) geen advies of kommentaar kry oor sy werk nie, gaan hy heel moontlik nie aanhou nie. Ja, mens het mos vriende en familie om vir advies te vra, maar dit is ook nie altyd ‘n opsie nie. Hierdie selfde argument is al menigmaal oor musiek, fotografie, flieks en ander literatuur gevoer. Elke argument se kommentaar lyk soos die hierbo. Wat is die uiteinde van elkeen? Niks, want daar kan nie ‘n gesamentlike opinie gevorm word nie. Daarom gaan alles aan soos voorheen, totdat iemand weer die argument begin.

    Stap 1: sien Stap 2.
    Stap 2: sien Stap 1.

  16. Len Els :

    Tipies Afrikaner! Trek dwars, trek op ‘n knop, verskil, kruisig. Beide die kaf en die koring het bestaansreg op die www. Dis hoe ons daarmee omgaan wat bepalend is: wil ons mentors wees of wil ons kruisig?

    Verskeidenheid is so ‘n omvattende konsep en hoogs subjektief. So ‘lets live and let live’.

    Godank (imho) WIL mense nog in Afrikans dig. Gee hul ‘n forum!Die plig van ‘hogere digters’ is nie om in vlamme af te skiet nie, maar om te MENTOR.

  17. Leon Retief :

    Jy het ‘n punt beet Len, almal het bestaansreg. Aan die ander Kant VERDIEN sommige/baie/meeste van die nokturnale emissies wat op sommige webwerwe verskyn om in vlamme afgeskiet te word.

  18. In antwoord op jou vraag, De Waal. Ek kan nie veralgemeen nie.

    As die betrokke gedig hierbo jou verwysing is, neem kennis dit was nie aangebied vir plasing hier nie en is lukraak van my facebookbblad af gekies, ek aanvaar met die doel om ‘n sekere standpunt te demonstreer. As ek byvoorbeeld gevra was om ‘n gedig voor te lê vir bespreking (of ‘n baie arrogante en afkrakende reaksie teenoor die moontlike lesers daarvan, soos hierbo), sou ek iets gepas gekies het of dalk selfs iets geskryf het.

    Daardie aanname oor die lesers wat jou in MacDonaldvleispakkies sal verander, is bloot dit: hulle het geen stof- of soortoordeel teenoor jou uitgespreek nie, tog doen jy dit hier teenoor wie jy dink die lesers is.

  19. anita :

    Hoekom is daar heelwat kommentators hier wat verwys na ‘hoogere’ digters? Wat beteken dit nou eintlik? ‘n Published author? Geen gepubliseerde digter sal na homself of ander verwys as ‘n hoogere digters nie! Dis mos nou totaal belaglik. Jy is of goed genoeg om gepubliseer te word deur ‘n uitgewer of jy is nie of jy is nog nie heeltemal daar nie, ens. As jy dan dink jou gedigte is goed genoeg maar niemand wil dit publish nie, dan kan jy dit mos wel self publish ook. In boekvorm of dan op die internet. Maar om nou hier ‘n skeidslyn te wil trek tussen hoogere en laagere is absurd. Tensy daar eindelose jaloesie hier ter sprake is! Lank voor internet het daar ook maar duisende gesit en hulle gediggies geskryf en in laaie gegooi en vir familie en vrinne gewys, sommige met groot talent en ander met geen talent nie. Ons het net nie daarvan geweet nie. Nou weet ons dit want die media/internet is beskikbaar. Dis dus geen ontploffing van gedigte nie – dis net ‘n voortsetting uit die ou internetlose dae, een wat nou sigbaar is.

  20. Erna Jo :

    Ai tog, hoe jammer dat nog ‘n geskil oor die digkuns hier moet uitbreek. Asof een persoon hom die reg kan toe-eien om ‘n ander te verbied om gedigte te skryf. Ek beklaag die diep kloof tussen gepubliseerde,erkende digters en die ongepubliseerdes. Hier is ‘n gemeenskaplike belang: die digkuns. Sommiges sal dit selfs hul passie noem.Ek verstaan die argument, dat kwantiteit nie noodwendig lei tot kwaliteit nie, dit is ook ‘n vraagstuk waarmee ‘n digblad soos Carpe Noctem hom mee besig hou. Maar gee dit ‘n kenner die reg om iemand wat graag die kuns wil beoefen en streef daarna om sy/haar werk te verbeter se werk hier af te skiet? Ek het nie geweet Versindaba het nou ook die rol as FB-kritikus ingeneem nie. Dien ons nie almal die digkuns nie? Waarom word daar neergesien op internetdigters? Omdat die massas ‘n golf van gedigte die kuberruimte instuur en mekaar se werk geniet, mekaar aanmoedig tot verbetering, selfs moed inpraat? As jy jou neus wil optrek vir die kwaliteit daarvan, dan sou ek voorstel dat jy inspring en begin met ‘n digitale mentorskap eerder as om snedige opmerkings te maak. Ons koop digbundels by Exlusive, lees dit selfs, vertel vir mekaar daarvan, voer informele gesprekke daaroor, moedig mekaar aan omdat die Gemeenskap van Gepubliseerde Digters ontoeganklik is vir ons. Ja, die internet het voorwaar die sluise oopgemaak en ons gryp die geleentheid aan. Nie omdat erkende digters bereid is om met ons te gesels daaroor nie, eerder omdat daar teen literere neuse op ons afgekyk word. Ek is oortuig daarvan dat meer digbundels verkoop sal word as ons elite bereid is om ‘n hand uit te steek. Dit sal jou as erkende digter net soveel meer geloofwaardig maak in die oog van die leser. Ek koop graag die mense wat ek respekteer se boeke.
    Moet daarom nie vir Prof. Moll subtiel verwyt omdat hy weet hoe om sy gedigte en sy digblad te bemark nie. Nooi hom eerder uit tot gesonde gesprekvoering en vind saam oplossings, eerder as om sy gedig hier op ‘n openbare blog te beswadder.
    Ek sit daagliks en sif deur die digblaaie om gedigte uit internetgeledere ‘n publikasiegeleentheid in my digitale tydskrif Bloots, te gee. Die groot hoeveelheid (kwantiteit) maak my ook moedeloos. Maar uit daardie massa werk kom tog kwaliteit ook. Hulle is yl gesaai, maar dis ongetwyfeld daar. En ons gun die son oor die ander skyn. Selfs in die swakste gedigte het ek al wonderlike gedagtes teegekom. Selfs op grafskrifte. Soos die geagte heer Van der Sterren opmerk: die digkuns is nie dood nie. Maar ek verskil ook van hom. Koring sal altyd van kaf geskei word.Wees net ‘n klein bietjie meer toeganklik en nooi die liefhebbers na jou dorsvloer toe

  21. Fanny, ek dink die “vertaling” van Mellet Moll se gedig is dalk nie aangewese nie. Mens sal eers by hom toestemming moet kry. Maar ek bied graag iets anders aan wat hopelik insiggewend kan wees.

    Dit is met vreugde dat ek sien hoe lewendig hierdie debat is op Versindaba. Ons lees hier verskillende menings en motiveringe en neem kennis van ‘n diep belangstelling in, en liefde vir Afrikaanse poësie.

    Ek het geen bedoeling of begeerte om kwetsend en persoonlik te wees nie. Dit dien geen doel nie. Maar ek voel sterk oor sekere sake rakende poësie. Dus gaan ek (na my mening) ‘n interessante manier gebruik om iets te probeer verduidelik oor wat myns insiens party van die verskille tussen swak en goeie poësie is.

    (Net voor ek begin: natuurlik is dit enigiemand se goeie reg om swak poësie te skryf, en te publiser waar hy of sy kan. Maar ek raak bekommerd wanneer hierdie soort literatuur begin aanspraak maak daarop dat dit verteenwoordigend is van die standaard wat oor heelwat dekades deur ‘n reeks voortreflike digters opgebou is.)

    Eerstens my gedig “Skeppingspyn van ‘n groot digter”.

    Skeppingspyn van ‘n groot digter

    Teen die nag se donker gesig, weerloos
    terwyl drome in my wentel soos planete,
    staar ek met droë oë traanloos
    en voel die pyn van my hart se droewe wete.

    Ek het baie moeite gedoen om dit so sleg as moontlik te skryf. Dit is in der daad nie die naam werd van “gedig” nie. Dit is ‘n stuk prulwerk.

    Hoekom? Wel, dit is pretensieus – dit gee voor dat dit groot waarhede verkondig terwyl dit in werklikheid onsinnig babbel.

    Tweedens is daar nie ‘n enkele oorspronklike gedagte in die ding nie. Dit is een cliché op die ander. En party van hulle is nog erg verouderd ook: “droewe wete” … oy vey!

    Onsamehangend, ritmies gebreklik, vals, vol gewaande wysheid … arme ding.

    Kom ons kyk nou na ‘n vertaling van ‘n gedig van Tomas Tranströmer, verlede jaar se Nobelpryswenner vir literatuur.

    (Ons bekommer vir eers nie oor die gehalte van die vertaling nie, dit val buite die doel van hierdie bespreking.)

    Maart 1979

    Tomas Tranströmer

    Moeg vir almal wat kom met woorde, woorde maar geen taal nie
    ek gee pad na die sneeubedekte eiland.
    Die wildernis het nie woorde nie.
    Die ongeskrewe bladsye sprei uit na alle kante!
    Ek kom af op spore van takbokke in die sneeu.
    Taal maar geen woorde nie.

    Eenvoudige taal, geen pretensie nie, oorspronklike, vars metafore en dan ‘n stukkie werklike wysheid wat die leser hier kan uithaal. En dit is: woorde (soos in ‘n swak gedig) kan sinneloos en niksbeduidend wees, min of geen betekenis dra. Terwyl ander dinge – ervaringe soos die waarneming van takbokspore in die sneeeu – diepsinnige betekenis kan hê, soos die (indirekte) taal in ‘n gedig.

  22. Johann de Lange :

    Die oordeel oor wat kuns is & wat nié, is nie ‘n demokratiese proses nie. Dit het niks te make met getalle of die aantal klieks nie. Die internet & die sosiale media het dit moontlik gemaak dat elkeen ‘n legende op ‘n webblad of tweet of FB groep kan wees. Dis Andy Warhol se vyftien minute, met ‘n vengeance. DIs ‘n feit dat webblaaie (in hulle najaag van lesersgetalle & klieks) nie naastenby krities genoeg is in hulle keuse van wat geplaas word nie, & dit meestal na ‘n tombola-tafel lyk. Bittermin van wat daar verskyn & soos ‘n swam regdeur die internet versprei, sal die toets van die tyd deurstaan. Tyd is die finale arbiter, hoe warm griffelaars ook onder die krae mag raak.
    Daar is iets positiefs te haal uit die proliferasie van skrywendes op die internet: soos met skryfskole & werkswinkels is daar gratis, vrye ondersteuning, raad & entoesiasme van mede-skrywers. En baie van ons weet uit eie ervaring watter verskil dit kan maak. Ek dink amper elke ‘gerekende’ skrywer het iemand wat op die regte tyd die regte hulp of raad gegee het. Met dit gesê, wil ek byvoeg: Daar is geen waarborge nie; selfs nie talent is waarborg genoeg nie. Sonder die begeerte om te slaag, om op te offer, & sonder ‘n dik vel, sal jy dit nié maak nie. Dink aan iets soos die Comrades marathon: ongeag hoeveel duisende wegspring & wat hulle drome of idees van hulle eie vermoëns is nie, daar sál net een wenner wees. Die meeste bly “naamloos in die skaar” soos Van Wyk Louw dit in ‘n ander konteks gestel het.

  23. Louis Esterhuizen :

    @Erna Jo – Teen hierdie opmerking van jou maak ek beswaar: “Ek het nie geweet Versindaba het nou ook die rol as FB-kritikus ingeneem nie.” My blog (of Versindaba) kies geen kant nie; ek wys gewoon op ‘n tendens wat tans wêreldwyd geld. Mellet Moll en Carpe Noctem is volgens hul eie verklarings verteenwoordigend van dié tendens. Daar is ook vele ander soortgelyke inisiatiewe soos “Woes”, “Dowe Digters”, ens. ens. En ja, almal dien die digkuns. Daarom dat die dualiteit van “gepubliseerde” (of wat jy dit ook al wil noem)digters en die sogenaamde “internetdigters” belaglik is.
    In alle lande wat toegang tot internet en ander soasiale media het, worstel hulle tans met dieselfde ding: ooraanbod en gepaardgaande gehaltebeheer.
    Net soveel geld dit vir alle ander kunsvorme: musiek, skilderkuns, dans, drama, ens. ens. aangesien die moderne tegnologie aan die amateur (van watter aard ook al) die middele bied tot selfproduksie en -reklame. En by daardie “amateur” sluit ek die sogenaamde “gepubliseerde digters” in. Soos Daniel Hugo by geleentheid gesê het” “By die digkuns, soos by die liefde, bly ons almal amateurs.”
    Maar – aan die wortel lê die kwessie van intellektuele en/of kulturele vervlakking wat so tiperend van die moderne mens en samelewing is. En dit word hoegenaamd nie as kritiek bedoel nie; dit is gewoon ‘n waarneming.
    Die engel wat by die paradys se poorte staan, is omgekoop; die hekke lê wawyd oop. En ons almal storm deur op soek na … Wat?

  24. Maar Louis.

    Ek stem net ten dele saam. Jou opmerking oor intellektuele vervlakking as rede vir die proliferasie van die digkuns op facebook is egter vir my onlogies en ek sien nie die oorsaaklikheid daarvan raak nie.

    Dit mag wees dat ons samelewing op sekere terreine vervlak. Op ander terreine gaan ons natuurlik ook vooruit.

    Maar die groter bewustheid, en die generasie op facebook kan tog nie die gevolg wees van intellektuele vervlakking nie? Die net word dan juis wyer?

    Dit is natuurlik so dat daar ‘n element van kitsgratifikasie is om werk te plaas en dadelik erkenning te wil kry. En ja, dit lei dalk tot minder skaafwerk. Hierdie tendens van korter wagtye in ons samelewing is ook ‘n teken van voortuitgang. Ek vlieg tussen Kaapstad en Jhb want dit neem 2 ure. Per motor is dit ‘n dagreis. Jy kan redeneer dat ek as gevolg daarvan minder van die landskap inneem, maar daar is gewis ander voordele, anders sou ek dit tog nie gedoen het nie.

    So glo ek alles in ons wêreld is in elk geval wordend, dis nie klaar nie (soos die Griekse filosoof Heraclitus ironies genoeg in iets soos 500 vC gesê het). Ook dalk ‘n gedig. Maar die digter beweeg tog iewers aan, neem afskeid en laat die werk gaan. Daardie moment, glo ek, kan dalk in ons leeftyd vinniger plaasvind.

    Vra jouself hoeveel werk WA Mozart sou uitsit as hy vandag se tegnologie tot sy beskikking gehad het en nie bladmusiek met die hand en waarskynlik ‘n veerpen gesit en skryf het nie.

  25. Erna Jo :

    Louis, ek hoor jou. Ek het die hoogste agting vir Versindaba, daarom dat ek my teleurstelling hier kom uitspreek het, hoofsaaklik omdat Carpe Noctem en in besonder Mellet Moll hier uitgewys is as verteenwoordigend van die internetdigtergroepe, en hy as sulks in die spervuur staan. Verskoon my dan as ek jou blog as kritiek teenoor Mellet as persoon gelees het. Waarom anders dan sy gedig “Alter Ego” uitsonder? Ek het die trand van die blog as subtiele spot ervaar. Ek het ook die kommentare gelees en stem met heelwat opmerkings saam, maar Fanny Alexander se kommentare as neerhalend en aanvallend gesien. Sulke gedrag is tog nie jou blad waardig nie? Ek wil graag uitwys dat daar gereeld op die digblaaie na gepubliseerde werke verwys word, dat dit aangehaal word en as voorbeeld van gehalte voorgehou word. Ons kyk op daarna, spoor mekaar aan om bundels te koop en lees. Die gepubliseerde werke word as standaard voorgehou. Ek kan verstaan dat die oorstromings a.g.v. die koms van internet tot frustrasie lei. Dis ‘n been waaraan selfs ek as digliefhebber gereeld kou. Carpe Noctem word voorgehou as die verteenwoordiger, maar wat nie algemeen bekend is nie, is dat Carpe Noctem ook ‘n forum is waar opleiding en aansporing om kuns te skep erns is. Daarvoor haal ek my hoed vir Mellet af. Kwantiteit sal daar altyd wees, kwaliteit nie. Mellet Moll besef dit, en het Carpe Noctem Plus as alternatiewe blad geskep waar voornemende digters hulle werk kan kom slyp. Ons gee ons nie een as erkende digters uit nie, hou nie ons werk voor as kuns nie, maar ons streef daarna. As erkende digters soos jy daar wil kom handjie bysit, raad gee, help slyp, mentor, kan kwaliteit nie ver agterbly nie. Ek kan aan geen ander oplossing vir die kwantiteit vs kwaliteit-probleem dink nie. Maar dis my droom, en ek sal aanhou om voornemende digters daar aan te moedig en te ondersteun in so verre my gebrekkige kennis en ondervinding my dit toelaat. Daar is nie ‘n kitsoplossing vir die gebrek aan gehaltebeheer in die kuberruimte nie. Nog nie. Hopelik kom dit. Dalk begin dit net hier. Ek hoop so.
    Ek hoor jou bekommernis oor intellektuele vervlakking, en deel dit. Ons sien dit oral, en ja, selfs in die digkuns ook. Maar digkunsblaaie op FB kan nie daarvoor blameer word nie, ook nie voorgehou word as die sondebok nie. Ons praat hier van die seekoei se oortjies. Hoe kan ons dit uit die digkuns weer? Ek weet nie. Ek het nie die kennis om so ‘n probleem aan te pak nie, maar ek kan ‘n verskil maak in die kringe waarin ek beweeg. Ek kan uitwys dat nie almal wat hulle gediggies op FB se blaaie pos, dit doen omdat hulle dink hulle is potensiele literere pryswenners nie. (Daar is diesulkes ook). Sommiges doen dit bloot net omdat dit vir hulle lekker is. Hulle verdien m.i. ook ‘n plek. Een van Carpe Noctem se oudste lede is negentig. Ek het die wereldse respek vir haar as leser, omdat sy lees sonder oordeel. Sy put net soveel genot uit bundels as dit wat sy op die digblad lees. Dis mense soos sy wat my aan die wete laat vasklou dat die digkuns hier nie ‘n bedreigde spesie is nie.
    Daniel Hugo is voorwaar ‘n wyse man. Inderdaad. Maar ek wil graag die bekende woorde uit Animal Farm hier aanhaal: “we are all equal, but some are more equal than others”. Daar is amateurs, en dan is daar amateurs. Lank lewe die amateur

  26. Sonika Botha :

    Kleinlik! Weereens sal die “taalkundiges” nie eerder seg: “Hoe kan ons mekaar help nie?”, nee dis eerder wie weet meer. En ja, daar is duisende wat agter Prof Moll staan, juis omdat daar altyd 10 sal wees wat wil kla! Die internet is daar om gebruik te word. Dis daar om navorsing te doen so waarom kan dit nie daar wees om die taal te bevorder nie. Gee elkeen tog sy spasie om te mag skryf, te mag dig en te mag se wat hy wil. Nie een van ons gaan ophou skryf slegs omdat iemand anders so se nie. Vir elke 2 wat nie hou van wat ek se nie, is daar 1500 wat my werk volg en dit geniet! So terwyl elkeen op sy eie miershopie sit en vergaan oor onbenullighede, het ons digters wat werklik die taal lewendig hou, wat opstaan vir ons taal en terloops ook naam maak. So indien ek met 2 bundels in my hande staan, gaan ek die een kies wat ek ken, die een wie se werk ek al gelees het, en nie iemand sin wat hulself as ‘n “hoogere” beskou en tog nie ‘n “clue” het oor dit wat mense WIL lees nie. Waarom kan mens nie eerder hande vat en saam werk nie? Nee wat, hierdie debat/relaas is politiek wat werklik nie eens ‘n plek het nie. Ek het al amper 200 bestellings vir my bundel wat nog nie eens die drukkers gehaal het nie. Als te danke aan die internet/facebook en Carpe Noctem wat mens die geleentheid gun om jou werk te mag deel. Groete

  27. Maria van Greuning :

    Ek geniet die interaksie tussen die verskillende bydraers terdeë. Fanny is funny en die res is tog so verskriklik versigtig in hul omgang met mekaar, maar mens duidelik sien waar die moere so tussen die lyne gestrip word.

    En dit alles in belang van die poësie…

  28. Marko van der Colff :

    Daar is tog sekerlik ‘n ‘helse’ verskil tussen onmiddellike self-bevrediging(sonder inagneming van die aanvaarde standaarde en norme algemeen geldend binne enige kreatiewe ‘dissipline’ en wel-deurdagte, esteties gefundeerde kunsvorme?
    Ons kan/mag almal sekerlik aanspraak maak op ons goeie reg om op die sosiale media verse (en foto’s !?)te maak en te plaas. Solank ons dan nou nie probeer maak asof ons digters/fotograwe is terwyl ons maar bloot net ‘kiekies’ neem nie?
    As die ‘kiekies’ vir sommige na fotos begin lyk, is al wat ek kan se: Viva la Mik-en-Druk!
    M.i. is die ‘probleem’ nie “Prof” Moll en sy gemeente nie. Laat hulle in vrede ‘mik en druk’…! As jy/sy nie daarvan hou nie, stuur verby!
    Versindaba moes sigself nie met ‘mik-en-drukkkers’ gemeng het nie… want net daar Louis, het die uwe – sonder ‘gumboots’ aan – innie bollie getrap…?
    Hoe’s daai vir ‘gemixte metafore’?!

  29. Ellen Margaret Hancke :

    Wat n kwade dag dat n mens moet koes vir gifdeurdrenkte woordpyle wat tussen verskillende kampe/forums/blokhuise deur sogenaamde liefhebbers van dieselfde taal gelanseer word.
    Mag ek myself noot reduseer na die vlak dat ek iemand moet afkraak, sy/haar werk minimaliseer om vir myself n veertjie in die inkpot te verseker nie. Hoe oneindig onwaardig en tragies. Droewe dag inderdaad xxx

  30. Marko van der Colff :

    Miskien sal die volgende ook iewers ‘salfies’ bring…?

    http://www.ft.com/cms/s/2/f4d6f80a-fc29-11e1-aef9-00144feabdc0.html#axzz26kutmQI4

  31. Johann de Lange :

    Dames, & here, fopdossers & skeelnamers –

    Dreigemente oor internasionale waters! Intellektuele regte waar intellekte ontbreek? Intellektuele vervlakking wanneer ons reeds die barre soutpanne bereik het. Waar gaan dit alles eindig?

    Skryf voort, onderskraag mekaar, verkoop julle bundels voordat dit nog drukkers het. Tegnologie is aan julle kant, dis makliker as ooit tevore om te sê ‘ek is ‘n skrywer’. Maar moenie ergerlik raak as ander nie met julle saamstem nie. Die innerlike stemmetjie is mos die enigste een wat regtig tel, of hoe?

  32. Sonika Botha :

    Johann, met alle respek gese, dit hinder my nie dat almal hul eie opinies het nie. Dis goed so. Wat my wel omkrap is die feit dat sommige mense dit nodig vind om ander se werk af te kraak. Dis onnodig, swak en plaas VERSINDABA in ‘n swak lig.

  33. Marko van der Colff :

    Put out the light…. and then put out the light…!
    Othello en Prometheus gaan saam kooi toe!

  34. Sonika Botha :

    🙂 Vrede vir almal 😉

  35. Johann de Lange :

    Kom ons luister eerder “It’s raining men” – daaroor kan ons almal plesierig wees.

  36. Marius Buys :

    Met jou klippe van spot,
    bou ek my huis se muur,
    daar my baba in sy kot,
    verlig; verwarm deur jou vuur.

    Mense se woorde (oor ander) sê net soveel oor hulself as bron wanneer “Malum per sé” per grap of kras kommentaar gelewer word.

    Die groot voordeel en krag van internet dig is die wye verwysingsraamwerk en kennis van die skrywers en lesers.

    Sou aspirant (en gevestigde) digters die medium ontgin sál dit tot verdieping en vergroting van die Suid Afrikaanse diglandskap lei deur kruisinvloed, vergrote blootstelling, verhoogde digaktiwiteit en die voordele van ‘n ope besprekings forum met onmiddellike terugvoer.

    Indien ‘n digter sou vra waarom mense gedigte lees sou die antwoord nie noodwendig wees om tot nuwe insigte deur tegnies korrekte skryfkuns te kom nie.

    Behoort ernstige professionele digters krities korrekte skryf na te strewe – ja.

    Is sosiale media ‘n gemaklike terloopse weg om deur passie en vriendskap as digter te groei tot goeie poësie – ook ja.

    Is daar beide betreurenswaardige en voortreflik inspirerende plasings op sosiale media – hel ja!

  37. Louis Esterhuizen :

    Ek wonder meteens hoeveel van die kommentators hierbo die blogs wat ek oor hierdie onderwerp geskryf het, volledig gelees het? Dit handel hoegenaamd NIE oor Mellet Moll of Carpe Noctem nie. (Die vorige blog was verlede Donderdag geplaas en het oor Charles Simic se siening van die stand van die digkuns gehandel.) Die twee blogs handel oor ‘n wêreldwye fenomeen en ek het dit gewoon op ons eie situasie van toepassing gemaak met ‘n bepaalde voorbeeld wat in die algemeen as verteenwoordigend beskou word.
    Ek (of Versindaba) “meng” of promoveer of kritiseer hoegenaamd niks in hierdie verband nie. Ook het Versindaba geen “volgelinge” of “lede” nie. Dit is gewoon ‘n kollektiewe webblad ter ondersteuning van die digkuns.
    Daarom dat inisiatiewe soos Carpe Noctem NIE geïgnoreer kan (of moet) word nie; trouens, deur sowel Charles Simic as Leo van der Sterren word die sogenaamde “internetdigters” gesien as ‘n positiewe energie wat die voortbestaan van die digkuns verseker.
    Die landskap van bykans ALLE kulturele belewenis is besig om te verander danksy die nuwe tegnologie. Uiteraard hieronder ook die digkuns.
    En nie alles wat geproduseer word – in watter medium ook al – is goed nie. Of sleg nie. Dit is nie waaroor hierdie gesprek (behoort te) gaan nie. Myns insiens gaan dit veeleer oor toenemende produksie en die uitdagings wat dit voor ons deur lê.
    Eweneens is die “intellektuele vervlakking” waarna ek in my vorige kommentaar verwys het, ‘n internasionale fenomeen, want hoe vinniger die renboot oor die water skeer, hoe vlakker lê dit in die water.
    Selfs dit is nie nuut óf uniek nie.

  38. Desmond Painter :

    Ek dink die internet- en sosiale media inisiatiewe is fassinerende; ek bewonder die kreatiewe energie en ek dink dit is wonderlik as mense die ‘middele van produksie’ van kultuurgoedere vir hulleself toeeien. Dit is goed vir Afrikaans ook: die elitisme en anti-demokratiese gees loop nog onder ons — net verlede Saterdag in BY, in sy Proust-antwoorde, spreek Dan Sleigh hom uit teen ‘die algemene stemreg’. MAAR, wanneer jy die produksiemiddele in jou eie hande het moet jy nog steeds probeer om dinge van kwaliteit te produseer. Die probleem wat ek met Carpe Noche gehad het (ek het die blad ‘n paar weke terug ge-unlike) is dat mense daar probeer om soveel moontlik gedigte te skryf, eerder as om goeie gedigte te skryf. En dit gaan nie bloot oor smaak nie: niemand op aarde kan 4, 5 gedigte ‘n dag skryf, en kwaliteit behou nie. Dit het my teleurgestel, want ek dink regtig hierdie meer demokratiese ruimtes kan produktief aangewend word.

  39. Len Els :

    Homo homini lupus…

  40. Marlize Hobbs :

    Goeie more almal! Ek lees en ek smile vir Johann se “It’s raining men!” – kom ons wees plesierig dan.

    Ek is heel in die middel wat hierdie saak betref. Aan die een kant verstaan ek heeltemal hoekom gevestigde digters geirriteerd en half verontwaardig voel dat die internet-digters hulself die woord “digter” toe-eien, want meeste van die gevestige, gepubliseerde digters het ‘n lang pad van skryf, herskryf en teleurstelling en verbetering geloop om uiteindelik gepubliseer te word en erkenning te kry. En hier het ons vir Mellet wat inderdaad ‘n fan club het op die internet. En ek weet dat baie van die skryfsels op hierdie bladsye verseker nie gehalte werk is nie. Maar ek bepleit bloot dat mens hierdie skrywers die ruimte laat om te skryf en mekaar te ondersteun EN te praat oor die gerekende digters wat Versindaba se mense in!

    Hierdie mense is ook die mense wat digbundels koop…

    Die tipe mens wat ek is, hou van Mellet se guts, hou van die manier waarop hy teen die establishment optree, waarop hy die establishment (miskien onbepland) uitdaag. EN ek kan nou nie onthou wie dit hierbo gesê het nie, maar onthou; TYD is die bepalende faktor. Baie van hierdie versies op die net sal net weer so in die niet verdwyn.

    Gaan let bietjie op hoeveel skrywers van ander genres adverteer hulself op facebook en adverteer hul soms self-gepubliseerde boeke op die net EN het klompe volgelinge wat glo dat die uitgewers wat die boek afgekeur het, sommer net aspris lelik was!

    Ek gun elke ou / vrou wat dink hy/sy kan skryf en pogings daartoe aanwend die reg om dit te doen; solank ek net nie gedwing word om dit te lees nie!

  41. Rudi Prinsloo :

    Dit wil my voorkom of ons in mekaar se slaai krap; dan word daar gretig verwys na bundels wat ons oningeligtes asseblief moet koop en ondersteun en ASSEBLIEF dan nie moet navolg of bespreek nie. Gesprek en waardevolle deelname is vooraf bepaal en ons moet (soos in gesprek met die dominees wat God vanself is) ons plek ken. Ek merk nie gesprekke op oor die swak gehalte van gepubliseerde digters nie. Hy of sy het tien jaar gelede opskudding veroorsaak en hy of sy verdien dan om soos ‘n swak film mens te laat hoop en dan liederlik bedrieg te laat voel. Ons oningeligtes spandeer duisende rande aan ons passie: ons koop, ons lees, bespreek, skaaf en groei en deel die proses met mekaar. Ons gaan versklas toe en woon dit aanlyn by deur die “kesse” te bestel en ons nuutgevonde bietjie kennis op die proef te stel. Ons reik dan ook uit na die gepubliseerde skrywers en word dan herinner dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie. Hierdie gesprek is nutteloos. Hier kan nie groei en verbetering aangewakker word op hierdie wyse nie. Ek sal julle werk steeds koop en lees want nie almal het dertig jaar terug gaan vasstaan nie. Maar in die midde van hierdie internet generasie is daar mense wat dalk nou genadiglik oorgesien word. Hulle sal ook eendag my finansiele steun geniet. Ek dink nie die kommentators hier dra genoeg kennis van dit wat hulle so ywerig wil neerfel in ‘n vlammehel nie. Juis daarom ontbreek daar meriete in die onsmaaklike opmerkings wat “vir die grap” gebesig word. Ek sien uit na die aankondigings oor toekomstige versklasse, kinders is heel gewillig om te leer.

  42. Een-en-sestig kommentare sover. Dit wys hoe sterk en lewendig die belangstelling in Afrikaanse poësie en taal is. Ons Afrikaanse digkuns en lesers is nie vas aan die slaap nie (soos mens partykeer vermoed nie!). Versindaba het vir ons hier ‘n debatsvloer gebied wat ons gerus verder moet benut.

    Dit sal vir ons almal help as die kommentare ‘n bietjie meer te doen het met die aard en probleme van poësie, eerder as om persoonlike aanvalle op mekaar te loods. Dit is sekerlik nuttiger om te hoor waarom iemand ‘n bepaalde reël, of reëls, as goed of swak beskou, as om te hoor hoe min die skrywer dink van die digter as mens.

    Daar is soveel hoogtepunte in die Afrikaanse poësie:

    “Klip na klip word van die muur gerol
    tot by ‘n lam met raapwit wol.”

    Wie is die digter? watter gedig? Wat beteken hierdie reël?

  43. Niel van Deventer :

    Na ek hierdie blog met al sy kommentare gelees het, is ek moerse opgewonde. Dit voel of die Afrikaanse digkuns aan die begin van sy bloeitydperk staan… Min of meer waar Afrikaanse musiek hom so net oor die tien jaar gelede bevind het. Jy het klaar die ‘backtrack vs. live band’-geveg (basies presies dieselfde as die kwaliteit-ene hierbo), een van die dae neem ons kunstefeeste oor, bespreek Skouspel ‘n klomp digters vir 4 ure se ononderbroke poetry, word Loftus Marais se Marais se ‘Die digter as rockstar’ waar en word ons betaal om te trou in ruil vir die eksklusiewe foto regte… Lekker!

  44. Webmeester :

    Hierdie gesprek het nou heeltemal ontaard met heelwat vitrioel wat deurloop en tot niks gaan lei nie. Soos Louis dit in ‘n kommentaar gestel het, handel hierdie blog oor die fenomeen genaamd “kuberdigters”. Die bedoeling is dus nié om die digters te verkleineer of te beledig nie.
    Daarom is daar besluit om kommentare wat buite dié toon val, te verwyder.
    Ook is die gedigte van Mellet Moll en Sonika Botha op hulle versoek verwyder. So ook die kommentare wat daarmee verband hou.

  45. anita :

    @ Erna Jo sê: Ek het die trand van die blog as subtiele spot ervaar. Erna ek het weer die traan(d) van Louis se blog baie baie positief ervaar. Hy het een van Moll se beste gedigte geplaas. Daar is hoegenaamd niks spottend in hierdie blog nie!! Hy bespreek die fenomeen van internetdigters soos dit internasionaal en plaaslik manifesteer en haal dan ruim aan uit ander geskrifte. Lees dit weer – met ‘n oop gemoed! Lees ook dan weer Johann de Lange en De Waal Venter en Desmond Painter se kommentare. Diskoers is goed hieroor en ons kan almal iets meer leer uit hierdie tendense.

  46. Marlize Hobbs :

    Natuurlik is daar gespot met wat die “establishment” as lesser poets en swak poetry beskou. Maar dis goed, bespreek dan die “fenomeen”… dit gaan niks aan die bestaan daarvan verander nie. Ek het nog nooit mense so gou sien verander van hul hogere opinie soos tussen gister en vandag nie. Ek stem heeltemal saam dat baie van daai digkuns op diesulke blaaie swak is; maar ek sal my kniee nerf-af veg om aan elkeen sy/haar REG te gee om te skryf of te dig. Die alfabet is almal s’n….

  47. Ek reageer graag op drie aspekte wat hierdie gesprek aangeraak het.

    (1) Louis Esterhuizen se kommentaar vanoggend. Hiervoor bedank ek hom en stel dit ook duidelik dat ek gladnie sy motiewe bevraagteken nie. Die debat wat hy aangeroer het is ‘n geldige en relevante ene en ek het nie enige van sy kommentare as neerhalend ervaar nie. Ek mag dalk sommige elemente vanuit ‘n ander perspektief as hy beskou, maar ek betwyfel nie sy bevoegdheid waarmee ons almal bekend is, of sy bedoelings nie.

    (2) Desmond Painter se kommentaar vanoggend. Ek hoop, Desmond, jy het die moeite gedoen, voordat jy op hierdie wyse veralgemeen het, om te sien dat ek myself dikwels baie onpopulêr maak deur juis kwantiteit bo kwaliteit te probeer aanspreek. Mense skryf gedigte op die sosiale media vir baie redes, en inderdaad is sommige eerder besig met ‘n emosionele katarsis en sommige dalk bloot rympiemakers. Hierdie mense ontbloot hulle gedagtes, en neem maklik aanstoot teen literêre kritiek, dus is die proses om hulle werk te beoordeel een van positiewe versterking eerder as afkrakende en neerhalende kommentaar. Diegene wat CN volg sal bewus wees van verbete argumente wat al ontstaan het wanneer iemand dit soms waag om werk te kritiseer. Ek het die afegelope maande baie oor hierdie vraagstuk nagedink en moes selfs ook die huis effens skoonmaak deur mense die deur te wys wat nie belangstel om te verbeter nie.

    Ons het toe ‘n tweede blad, Carpe Noctem Plus begin waar twee vooraanstaande literêre kritici optree geskep en waar alle werk aan streng literêre kritiek blootgestel word met die doel om werk te slyp.

    Bekendes in die digwêreld soos Susan Smith, Johann Lodewyk Marais, Rene Bohnen, Jeanette Ferreira en Rene Bohnen loer gereeld daar in om die platform te ondersteun en sal nie skroom om goeie werk uit te wys nie. Daarvoor is ek baie dankbaar. Ek nooi jou dus om daar te kom loer. Deur telkens die rug te keer deur veralgemenings bring ons nerens nie.

    (3) My perspektief oor die gesprek die afgelope 24 uur. Dit is tog opvallend dat die geplubliseerde digwêreld se voorstanders op sigself uit twee kampe bestaan naamlik diegene wat werklik substantiewe werk lewer en in enige situasie sou uitstyg (miskien kan mens hulle swaargewigte noem, dit sluit in mense soos Louis en Johann de Lange), en dan ‘n groepie wat hulleself as kenners beskou, maar self nie altyd substansie het nie (miskien kan mens hulle liggewigte noem). Dit is opvallend dat die swaargewigte myns insien gebalanseerde menings gee wat goed deurdag is en wat spreek van ervaring en wysheid. Die tweede groep se standpunte is egter onsubstantief, arrogant en dikwels baseer op die foutiewe beskouing dat hulle en die swaargewigte dieselfde is. Wel julle is nie! Dan maak hulle ‘n verdere fout deur aan te neem dat hulle hulleself op die intellektuele hoër grond bevind bloot deur assosiasie met die swaargewigte, en dat hulle argumente op sigself dikwels deurspek is met stof-en soortoordeel, subjektiwiteit en ‘n neiging om dit onder die vaandel van kundigheid weg te steek. Aan diesulkes: maak gerus my dag!

  48. Pieter de Kock :

    Professor Moll, Ek sien met belangstelling bo van jou bundels wat in Januarie en April verskyn het asook die e-bundel. Waar kry ek dit in die hande?

  49. Desmond Painter :

    Mellett, ek het dit glad nie teen enige van jou inisiatiewe nie. Net soos musikale konsertuitvoerings nie deur buskers of singalongs om die kampvuur bedreig word nie, of die skilderkuns deur die baie amateurskilders wat hulle werk by vlooimarkte verkoop nie, hou die feit dat mense so maklik en so baie op die internet kan ‘publiseer’ myns insiens nie ‘n bedreiging vir die Afrikaanse digkuns nie. Elke tweede tiener speel ‘n kitaar; waarom kan enigeen nie ook sy of haar gedigte op ‘n blog plaas nie? Wanneer sulke digters egter aanspraak maak daarop dat hulle kuns maak, dat hulle selfs vernuwing in die Afrikaanse digkuns bring, dan moet hulle op grond van daardie aanspraak beoordeel word. Van jou het ek al beter en swakker gedigte gesien (ek was lank ‘bevriend’ met jou blad — ek het bloot gewaai omdat die verkeer en produksie vir my eie smaak te veel geword het; ek voel so oor baie webblaaie) en die een wat Louis geplaas het, dink ek, is minder geslaag. En ek is nie neerbuigend nie: ek is nie ‘n gepubliseerde digter of ‘n literary theorist nie. Ek probeer wel ook gedigte skryf, soms, en dis moeilik. Webblaaie soos joune kan baie beteken vir mense wat graag wil skryf, as daar ‘n kritiese komponent ingebou word; eerder as wat die webblad ‘n ‘celebratory air’ verkry, asof die mense daar ‘n avant garde is wat eintlik die toon aangee.

    Ek verstaan nie jou onderskeid hierbo tussen die swaargewigte en die liggewigte nie. Ek dink jy ondermyn jou argument deur jou op hierdie manier te beroep op outoriteit. As jy en die digters van CN die reg het om julle verse te plaas, het enigiemand die reg om aan hierdie debat deel te neem. Nie net ‘swaargewigte’ nie. Of verstaan ek nou verkeerd?

    Hoe ook al, ek spreek wel weereens my waardering uit vir die blote energie en kreatiwiteit van jou projek. Ek sal die ‘Plus’ site bietjie gaan verken. Dankie.

  50. (1) Pieter, inboks my gerus by melletm101@gmail.com

    (2) Desmond. Eerstens, die gedig wat geplaas was, was lukraak gekies uit my daaglikse blog. As ek bewus was daarvan dat dit op Versindaba bespreek sou word, sou ek sekerlik wou deelneem aan die besluit. Maar ek dink nie dit was Louis se bedoeling om die meriete van die werk te evalueer, nog minder om uit daardie steekproef ‘n oordeel uit te spreek oor die populasie nie. Tweedens. Ek het dit teen kwasi-intellektueles wat hulle bloot skaar by die establishment omdat hulle verhewe voel deur middel van assosiasie en sonder enige werklike eie substansie. Hierdie kommentators het later gisteraand tot allerlei vorme van gemene spel oorgegaan om byna obsessief te wys dat internetdigters nie bestaansreg het nie. Ek lees iewers jyself is betrokke by sielkunde. Go do the maths oor hulle motiewe.

  51. So wat’s die punt nou eintlik? Baie kak bundels is al deur uitgewers gepubliseer, net soos wat Mellet Moll teen ‘n verbysterende tempo uitstekende gedigte op Carpe Noctem plaas. En omgekeerd. Ek herhaal wat ek vroeer gese het: die kwaliteit van ‘n gedig het niks te doen met die medium waarin dit gepubliseer is nie. En vir beginners is die internet ‘n goedkoop medium om in te eksperimenteer. Hoekom sal hulle dit nie gebruik nie?

  52. Karin Prinsloo-Stuart :

    Ek laaik Fransi se mening en ek sing te lekker aan “It’s Raining Men”.

    Miskien moet ek weer begin resitasies skryf.

    Hierdie lewendige veelgesprek IN Afrikaans OOR Afrikaanse digkuns maak my muse soos ‘n geile Grietjie bokspring.

    K 😛

  53. Leon Retief :

    @ Desmond|: Wat is verkeerd met elitisme?

  54. Desmond Painter :

    Leon, elitisme (soos ek dit sou gebruik)beteken om vooraf te bepaal wie mag of mag nie van iets deel wees of iets doen nie. Byvoorbeeld: net die wittes, die geleerdes, die huiseienaars behoort te mag stem; net sekeres behoort te mag skryf of dig. Daardie soort logika. Natuurlik mag mens die beste demokrasie, of die beste digkuns begeer; daar is niks fout met kwalitatiewe oordeel nie, en die teendeel van elitisme is nie ‘n soort ‘grootste gemene deler’ logika nie. Kyk wat word reggekry met ‘n blogruimte soos hierdie: mense wat andersins nooit die geleentheid sou kry om bv in ‘n koerant te skryf nie, kan hier bydraes lewer; en dikwels beter bydraes as dit wat die professionele joernaliste in die koerant skryf. Joernalistieke ‘elitisme’ sou in daardie geval niks te make h^e met kwaliteit nie, maar met die beskerming van (joernalistieke) ‘klassebelange’.

  55. Leon Retief :

    @ Desmond: Goed, dan het jy en ek verskillende sienings oor wat elitisme is.

  56. Ek wil graag by Desmond aansluit: daar is myns insiens ook elitisme in die digkuns. Die vooroordeel dat “omdat jy van ‘n sekere klas, stand, ras, seksuele voorkeur of geloof is het ek nie waardering vir jou werk nie…”

    Dit word stof- en soortoordeel genoem, en is, soos ek reeds genoem het, die vyand van kreatiwiteit en van digterlike vryheid (daar is sekerlik ‘n rede waarom hierdie term so heilig is).

    Is elitisme verkeerd? Wel net as jy in universele waardes glo, en glo dat een groep nie mag diskrimineer teen ‘n ander groep nie.

  57. Johann de Lange :

    Feitlik álmal skryf gedigte, of het in ‘n stadium. Vantevore het hierdie skryfsels in laaie of in dagboeke stof lê & vergaar. Nou is dit egter moontlik om ál daardie gedigte iewers geplaas te kry. Vir die meeste skrywers is dit goeie terapie & die publikasie daarvan op ‘n webblad ‘n bonus.

    Die probleem kom daarby wanneer sommige van die skrywers sonder meer meen hulle skrywes is poësie. En dit maak gevestigde figure ergerlik, want die nuwelinge se skrywes verraai gewoonlik ‘n erbarmlike gebrek aan elementêre kennis van die kunsvorm wat hulle wil bedryf. Lees, lees, lees, is die beste raad wat ek julle kan gee. Lees mekaar se werk, ja, maar lees verál die werk van mense wat strate beter as jyself is. Mik hoër.

    En leer kritiek hanteer. Dit kan soms geniepsig raak, maar selfs gevestigde skrywers moet dikwels op openbare media ewe geniepsige resensies hanteer. Dis deel van die bedryf & niemand is daarvan kwytgeskeld is nie.

    Poësie is nie die enigste media wat tans gebukkend gaan onder hierdie popularisering & proliferasie nie. Daar is duisende wannabe musikante, skilders & beeldhouers. Op Youtube is daar tussen hope waardelose bydraes soms uitstekende clips wat loopbane lanseer. Ongelukkig geld dit vir seker minder as 1% van die bydraers. As jy jouself ‘n digter, of skilder, of danser, of videoregisseur wil noem, móét jy die vakgebied bemeester, & nie kleinserig wees as jou pogings kritiek trek nie. Byt op die onderlip & probeer wéér. En wéér. Uithouvermoë is uiteindelik belangriker as talent, & dit gebeur dikwels dat mense met minder talent as ánder groter & belangriker bydraes lewer tot hulle gebied bloot omdat hulle harder werk.

    Om 5 gedigte ‘n dag te skryf wat nie aan enige poëtiese maatstawwe voldoen nie, & waaraan daar nie régtig gewérk is nie, maak nie van jou ‘n digter nie. Van my kollegas is dankbaar as hulle ‘n versreël perfek kry ná ure se skaaf. Die meeste kritiek, & verál die negatiewe kritiek, is die bruikbaarste. Wag tot jou ergernis bedaar, & kyk dan of die persoon nie iets beet het nie. En verál: of die persoon ingelig & gevestig genoeg is om advies te gee. As hy of sy wél is, luister gerus. Gebruik wat jy kan, & laat vaar die res.

    Soos met die salms wat in hulle duisende stroomop swem, gaan helaas net ‘n klein getal dit maak. En dis fine. Nie álmal wat op die internet publiseer wil digters wees of word nie; hulle wil net gelees word & dalk ‘n geesgenoot raakloop. In sulke gevalle wil ek my kollegas vra om die vingers van die sleutelbord af te hou & te laat begaan. Dis soms moeilik om die een soort skrywer van die ander te onderskei, so dis straks beter om niks te sê nie, tensy iemand ‘n bundels ou publiseer, papier of e-boek, & selfs dán moet mens besluit of dit poësie wil wees, of bloot vir die skrywer & genote se plesier is. Ek het jare gelede Steve Hofmeyr se eerste bundel resenseer, & dit nie as ernstige poësie benader nie, maar eerder vir wat dit probeer wees, & dan op dáárdie meriete beoordeel. Ander resensente het dit benader as poësie & was ongenadig. Die man is ‘n sanger, nie ‘n digter nie.

    Ek het nou straks té lank geskryf, maar die gemoedere het hoog geloop & dinge is gesê wat kon gebly het (deur my ook). Ons vergeet soms hoe dit was om deel te wees van daardie massa wat stroomop verby die meeue & bere probeer vorder het. Party was gelukkig om mentors te hê, ander het op eie stoom & oortuiging voortgebeur. Die oorgrote meerderheid wat op die internet publiseer het nié mentors nie, hulle het net mekaar & die terugvoer & steun wat hulle mekaar gee. En as van julle in die geskarrel ‘n dwarsklap kry uit ‘n onverwagte oord, vat dit soos ‘n pro & skryf voort.

  58. Respek, Johann!

  59. Die voorafgaande debat het baie dinge aangeraak, maar min te sê gehad oor die onderliggende begrip wat die gesprek eintlik ontlok het.

    Een manier om dit te stel, is om te vra, wat is ‘n geslaagde, of goeie gedig – en wat is ‘n swak of ongeslaagde gedig. Verder … is dit hoegenaamd moontlik om so ‘n vraag te beantwoord?

    Ek hoop van harte dit is, anders is daar geen sin aan enige literatuurstudie of literatuurteorie of besinning oor poësie nie!

    Die saak word nog moeiliker gemaak deur die feit dat daar baie literatuurteorieë is, en wat mekaar se waardes dikwels ontken en selfs minag. Dan is daar ook die huidige en tans-aanvaarde teorieë wat kanon-skeppers is.

    Dit laat my dink aan wat David Botes onlangs gesê het in ‘n onderhoud: hy dink nie veel van die “narratiewe” tipe poësie wat mense deesdae skryf nie. Poësie moet vir hom baie beeldend en metafories wees, as ek hom reg verstaan.

    Gun my dus hier die geleentheid om die leeu ‘n bietjie aan die tand te vat.

    Hier is weer die “gedig” wat ek so swak as moontlik geskryf het om as demonstrasie te dien.

    “Skeppingspyn van ‘n groot digter

    Teen die nag se donker gesig, weerloos
    terwyl drome in my wentel soos planete,
    staar ek met droë oë traanloos
    en voel die pyn van my hart se droewe wete.”

    Ek het in ‘n vorige kommentaar gewys op die mees opvallende gebreke: valsheid, pretensie, lompheid en vaagheid onder andere. ‘n Digter wat ernstig opgeneem wil wees kan nie waag om iets aan te bied wat naastenby ‘n cliché se grinnik op sy bakkies het nie. As jy met “droë oë traanloos staar” stuur die spanbestuurder jou onmiddellik huis toe en jou kanse om ooit die span te haal, vervaag net daar.

    Maar kan dit wees dat iemand dalk ‘n snuifie meriete sien? Ek begin nou die ongemaklike gevoel kry dat daar dalk êrens ‘n flentertjie oorspronklikheid verskuil kan wees in: “terwyl drome in my wentel soos planete”. He?

    En dan as teenfoeter, die gedig van Tranströmer wat ek as ‘n geslaagde of goeie gedig aanbied. Hier is dit:

    “Maart 1979

    Tomas Tranströmer

    Moeg vir almal wat kom met woorde, woorde maar geen taal nie
    ek gee pad na die sneeubedekte eiland.
    Die wildernis het nie woorde nie.
    Die ongeskrewe bladsye sprei uit na alle kante!
    Ek kom af op spore van takbokke in die sneeu.
    Taal maar geen woorde nie.”

    Is hierdie gedig nie dalk skuldig aan wat dit self aanval nie – “woorde, woorde maar geen taal”. En as die gedig wel regkry om woorde te transendeer, hoe gebeur dit, wat is die proses, watter gesprek voer dit met die leser wat die leser ‘n gevoel van bewondering, van insig, van ontroering gee?

    Elke en iedere mens wat skryf, moet naastenby op hierdie manier kan en wil dink wanneer hy of sy daardie woorde neerskryf wat op die wêreld losgelaat gaan word. Die skrywer is dit verskuldig aan sy of haar oorgestimuleerde lesers.

  60. Leon Retief :

    Ek dink mens moet onderskei tussen elitisme en diskriminasie maar orraait, ek is nie nou lus vir hare kloof nie. Respek is iets wat mens verdien.

  61. Rudi Prinsloo :

    Eerstens sluit ek by Mellet aan: Johann, absolute respek! Dan wil ek verder gaan en vir De Waal Venter gelyk gee dat die lesers oorgestimuleerd is en dat verwagtinge werklik van een leser tot die volgende verskil, daarin dan ook interpretasie en die sukses van die vers binne die konteks waarin die leser dit ontvang. My verwagtinge het beslis verander en skrywers wat ek eens bewonder het stel my nou werklik teleur. In daardie selfde lig beskou ek Carpe Noctem en soortgelyke forums: mense groei daardeur. Ek speel nie rugby nie, maar ek dink byvoorbeeld daaraan dat amper elke man en seun mal is oor rugby. Hulle deelname en kantlyn ondersteuning ken geen perke nie al besef elke een dat nie almal noodwendig vir die bokke gekeur gaan word nie. Dit is dan hoe ek die “skryf-bedryf” beleef. Kan ons mekaar nie die genot daarvan gun sonder om die bok in elke deelnemer te gaan probeer uitwurg nie. Ek dink ek volstaan hierby, die ander kommentare is baie meer breedvoerig en ek dink ons het ‘n punt bereik waar almal besef die een kan nie sonder die ander nie en dat ons self die gehalte van die speelveld bepaal deur ons optrede teenoor mekaar.

  62. Desmond Painter :

    @Leon: stem saam. Ek dink in elk geval ek verstaan wat jy met ‘elitisme’ bedoel. Klassieke musiek is elitisties in jou sin van die woord, want net kunstenaars wat briljant is en oneindig hard werk bereik die hoogste sport. Jy moet alles gee, of huis toe gaan. Dit is egter soms elitisties in my sin van die woord ook: hierargies en snobisties, of doof vir dit wat buite ‘n eng verwagtingshorison val. Ek het dit oor laasgenoemde.

  63. Naude Kritzinger :

    Wat ‘n heerlike thread. Ek wonder of die vrees binne die “kwaliteit vs kwantiteit” debat soveel gewig dra binne die internet era as wat ons dink. Maak die kwaliteit van wikipedia nie ‘n goeie saak daarvoor uit dat die open-source samelewing sy eie balans binne die landingsvlak van kwaliteit kan vind nie?

  64. Leon Retief :

    @Desmond: Desmond, ek dink my sienswyse van elitisme word goed uitgedruk deur die onlangs oorlede kunskritikus Robert Hughes, alhoewel hy dit bietjie sterker verwoord as wat ek sou doen:
    “I am completely an elitist in the cultural but emphatically not the social sense. I prefer the good to the bad, the articulate to the mumbling, the aesthetically developed to the merely primitive, and full to partial consciousness. I love the spectacle of skill, whether it’s an expert gardener at work or a good carpenter chopping dovetails. I don’t think stupid or ill-read people are as good to be with as wise and fully literate ones. I would rather watch a great tennis player than a mediocre one, unless the latter is a friend or a relative… to distinguish the good from the second-rate, pretentious, sentimental, and boring stuff that saturates culture today, more (perhaps) than it ever has. I hate populist, no matter how much the demos love it.” (Uit sy outobiografie “Things I didn’t Know”)
    Asook Uit ‘n obit in The Guardian: Democracy’s task, in the field of art, he believed, was to make the world safe for elitism, not to outlaw it. He believed passionately – in Hughes’s case the adverb is redundant – in an elitism that was not based on class, wealth or race, but on skill, imagination, high ability and intense vision.
    Beide hiervan sluit vir my aan wat Louis geskryf het oor vervlakking. En oor aspekte van die pas afglope briefwisseling…

  65. Nicol Stassen :

    Mellet, wil jy nie in die openbaar sê waar jou digbundels te koop is nie? Wat is die prys, ens.? Protea Boekhuis wil graag van dit by jou bestel en aan die geesdriftige publiek verkoop en so die digkuns bevorder. Versindaba sal sekerlik ook eksemplare wil ontvang om te resenseer.

  66. Fanny Alexander :

    Mnr. Stassen, hier is vir jou ‘n resensie: “emmers afval wat so kwistig vir soetkoek verkoop word”.

  67. Sonika Botha :

    Fanny, waarom dink ek jou emmers is leeg? Jou aanvallende kommentaar in onnodig en dra geen positiewe waarde nie. Kan ons nie eerder die kwessie op ‘n volwasse wyse bespreek nie? Groete xx

  68. En so stap die shoolhoof in die klaskamer in, vra die stout seun vir sy boeke sodat hy daarvoor kan punte gee en hom ‘n pak slae kan gee. En die skoolseun kyk verveeld by die venster uit.

  69. Nicol Stassen :

    Dit lyk inderdaad of die skoolseun nie boeke het om te wys nie en die stupid skoolhoof dit nie wil besef nie.

  •