Louis Esterhuizen. Inderdaad reën dit digters en gedigte, Deel 2

 

Sedert die reaksie op gister se blog het ek onderstaande voorberei en geskeduleer om soos gebruiklik môre-oggend vroeg op te gaan, maar aangesien dit myns insiens naatloos aansluit by Johann de Lange se uitvoerige kommentaar wat enkele minute gelede geplaas is, plaas ek onderstaande nou. Mét die kopknik dat wat ek wou sê, baie beter verwoord is deur hom.

***

Ek is nog altyd van mening dat elke leser van ‘n gedig ook ‘n skrywer daarvan is. Net so sal daardie leser ook graag ‘n aanslag op eie pogings wil lewer. Dog, waar hierdie pogings in vroeëre tye in die lessenaarlaai sou gebly het, stel die sosiale media alle liefhebbers en skrywers van gedigte in staat om dit met ‘n veel groter gehoor te deel. As sulks is dit goed en reg en beslis iets wat verwelkom moet word omrede dit die stuwingskrag van ‘n bepaalde digkuns verteenwoordig en die dinamiese aard daarvan ondersteun.

In ons eie digkuns bevind ons ons eintlik in ‘n besonder gunstige posisie vanweë die vele inisiatiewe en aktiwiteite rondom die fenomeen genaamd “kuberdigters”. Twee knelpunte wat egter onmiddellik na vore dring, is enersyds die aangewakkerde verdeeldheid wat bestaan tussen die sogenaamde “gepubliseerde” digters en hul vrylopende kuberbroers en -susters, met heelwat verdagmakery heen-en-weer oor wie nou eintlik die bloedlyn van die digkuns verteenwoordig. Andersyds is daar natuurlik die kwessie van gehaltebeheer.

Albei hierdie knelpunte het veroorsaak dat die gesprek wat sedert Maandag se blog op die webblad ontstaan het, ontaard het met die ongelukkige gevolg dat bepaalde kommentare, en ook gedigte van twee kuberdigters wat as illustrasie tot bepaalde standpunte geplaas was, op hul versoek verwyder moes word.

Verdeeldheid en wedersydse venyn strek die digkuns myns insiens hoegenaamd nie tot voordeel nie. Net so is dit hierdie webblad se uitgespelde doelwit om as ‘n “kollektief” bedryf te word; ‘n ruimte waar almal welkom en veilig sal voel. Gehalte en relevansie is inderdaad ons enigste voorvereiste.

Nogtans wil ek graag ‘n paar opmerkings rondom dié aangeleentheid maak omrede ek gehoop het dat die gesprek merendeels hieromtrent sou handel.

Sekerlik is die verskynsel van internet-diggroepe vergelykbaar met die era van little magazines in die 1970s en 80s. Trouens, dit behoort ‘n besonder interessante tema te wees vir ‘n vergelykende nagraadse studie, vermoed ek. Rondom die little magazines van toentertyd was daar immers soortgelyke groeperings; dikwels met die voorneme om die bestaande strukture te ondermyn ten einde die reikwydte van die digkuns te verbreed; hetsy tematies of by wyse van eksperiment. Ook was dié little magazines dikwels polities gemotiveerd aangesien dit die mees doeltreffende manier was om sensuur en diesulke prettige aksies te omseil.

Inherent problematies was egter die befondsingsprobleme en die uiters beperkte reikwydte van die little magazine. Daarom dat hul lewensduur in die meeste gevalle maar erg kort was. En natuurlik, die internet bied die perfekte oplossing tot dié probleem.

Wat my bring by die tweede punt.

In die 1990s het daar ontstellend min digbundels verskyn aangesien die meeste uitgewery drasties ingekort het aan publikasies wat onderpresteer by die kasregisters. Gevolglik het die little magazines en selfpublikasies die enigste manier geword waarop nuwe stemme na vore gebring kon word. Hierdie toedrag van sake het die vrugbare bedding waar ánder uitgewers kon begin spit en gaandeweg het die aktiwiteit rondom die digkuns en die blootstelling daaraan sodanig verbeter dat die aantal nuwe digbundels wat per jaar verskyn sedert 2005 telkens ongeveer 20 was. En dit, vermoed ek, is úíters indrukwekkend vir ‘n taalgroep soos Afrikaans. (Vir die volledige opgaaf van publikasies in die vorige dekade kan jy hier gaan kyk.)

Die internet en die geleentheid wat dit aan sowel aspirant as gevestigde digters bied om hul verse aan ‘n ander (waarskynlik groter) gehoor bekend te stel, vervul ‘n belangrike rol; trouens, dit is presies teen hierdie agtergrond wat Versindaba-fees in 2005 tot stand gekom het en die daaruitvoortvloeiende webblad in 2008 …

Net so is ek van mening dat enige manuskrip van enige digter wat publikasiewaardig is, vandag ‘n uitgewer sal vind. Waar daar byvoorbeeld enkele jare gelede nog waarskynlik net drie uitgewers van digbundels was, is daar vandag nie minder nie as 10 gevestigde uitgewers wat Afrikaanse digkuns publiseer.

En vir ‘n klein taalgroep soos Afrikaans is dit eweneens indrukwekkend.

Wat my by die volgende punt bring.

Primêr gaan dit hier oor verhoogde produksie en die belemmering wat dit plaas op sowel publikasie (met gepaargaande bemarking en verkope) as gehaltebeheer. Net soos wat nie alles wat op die internet verskyn goed is nie, is nie alles wat in boekvorm verskyn, van gehalte nie. Nie alle uitgewers is ewe streng ten opsigte van die gehalte van inhoud óf redigering nie. Dit op sigself is ‘n probleem; ‘n lekker probleem, toegegee, maar nogtans ‘n probleem.

Want die essensie van produksie is konsumpsie.

‘n Gerekende uitgewer het tydens ‘n gesprek oor die teleurstellende verkope van digbundels te midde van die frenetiese aktiwiteit daarrondom, aan my gesê dat hy van mening is dat die groot hoeveelheid gedigte wat op die internet te lese is, nadelig inwerk op bundelverkope. Waarskynlik is hy reg.

En maak dit hoegenaamd saak? Miskien tog, sou ek dink. Want die afname in verkope gaan maak dat uitgewers weer drasties gaan begin afskaal aan hul poësie-publikasies; iets wat ons gaan terugneem na die 1990s toe net ‘n handjievol digters as publikasiewaardig geag is en daar bykans géén ruimte was vir nuwe talente om na vore te kom nie.

En hoekom is dít ‘n probleem, hoor ek die kuberdigters grom; daar’s mos die internet.

Daarmee my volgende punt.

Een van die kommentators  onderaan Charles Simic se essay het dit besonder poëties gestel deur die plaas van gedigte op die internet te vergelyk met die skryf van gedigte op water.  Vandag kan ons steeds die verse van vervloeë digters geniet júís omrede dit in boekvorm verskyn het. Daarteenoor is die internet (of FaceBook) ‘n verbyskuiwende medium. Dit is en bly volledig in die “nou” en “hier” geanker.

Ja, hoor ek die gegrom: Jy kan mos gewoon die gedig of digter google en siedaar! Maar hoe kan jy ‘n gedig of digter google indien jy dit nie kan onthou (of van weet nie) omrede daar sedertdien duisende bygekom het?

En tog – is dit hoegenaamd ‘n probleem? Soos Leo van der Sterren dit in sy blog gestel het: “Het streven van de dichter om door en met zijn gedichten de status van onsterfelijkheid te bereiken is vervangen door de zucht om zoveel mogelijk teksten de openbare ruimte in te plempen. De kwaliteit van die teksten, niemand maalt er nog om. Maar het lot van onsterfelijkheid is slechts een miniem groepje van uitverkoren dichters beschoren. En dan nog maar met één of enkele gevleugelde woorden die tot algemene zegswijzen zijn uitgegroeid. “

Wat my bring by die kwessie van gehalte.

Die strikvraag waarmee bykans alle media-owerstes tans wêreldwyd worstel, is: Gee jy aan jou lesers/luisteraars/kykers/volgelinge wat hulle wil hê, of wat hulle nodig het? En solank ons ons in die verbruikerskultuur bevind waar produksie = konsumpsie = wins sal die neiging altyd wees om toe te gee aan die markdinamika wat vra vir entertainment en nie “skoling” nie.

Maar is populariteit en/of topverkope altyd ‘n aanduiding van gehalte? Sekerlik níé. Maak dit hoegenaamd saak? En wie bepaal dan ook wat “goed” is en wat nie? Die lesers/kopers/luisteraars of iemand anders (of instansie) wat ook maar weer deurlopend ondermyn en verdag gemaak word vanweë die gefrustreerdes wat nie kry wat hulle wil hê nie?

Soos Johann de Lange dit in sy kommentaar gestel het: Hoekom oor die kwessie van intellektuele (óf kreatiewe) vervlakking bekommerd wees wanneer ons reeds die barre soutpanne bereik het?

By wyse van groet haal ek graag sy kommentaar volledig aan: “Skryf voort, onderskraag mekaar, verkoop julle bundels voordat dit nog drukkers het. Tegnologie is aan julle kant, dis makliker as ooit tevore om te sê ‘ek is ‘n skrywer’. Maar moenie ergerlik raak as ander nie met julle saamstem nie. Die innerlike stemmetjie is mos die enigste een wat regtig tel, of hoe?”

En my innerlike stemmetjie sê hoeka: Kry nou klaar hiermee. Hirosjima was baie erger.

***

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Louis Esterhuizen. Inderdaad reën dit digters en gedigte, Deel 2”

  1. Beste Louis. Welgedaan weereens met ‘n weldeurdagte uiteensetting.

    Ek deel graag, en in aansluiting by jou, ‘n paar perspektiewe uit die kuberdigwêreld.

    (1) DIT HET TOEVALLIG GEBEUR EN WAS NIE DIE GEVOLG VAN ENIGE FYN BEPLANDE STRATEGIE NIE. Soos wat heelwat mense hulleself dikwels in spesifieke situasies bevind, is my eie betrokkenheid by kuberdigkuns gladnie so beplan gewees nie. Ek het gedurende 2011 ‘n sabbatsjaar in die kunste onderneem weg van my loopbaan as akademikus in velde soos Ingenieurswese, Tegnologiebestuur en Strategie. Ek het saans rondgespeel met gedigte en ‘n medium gesoek om dit bekend te stel en in aanraking te kom met enersdenkers. Ek het per toeval op facebook op ‘n paar kuberdigters afgekom en uitgevind van die digblaaie daar. Ek het daar rondgeloer, maar was aanvanklik verveeld met ‘n paar aspekte: (i) die feit dat die werk op bykans alle blaaie dieselfde was (ii) dat ook daar verdeeldheid bestaan het tussen die verskillende groepe en dat kliekvorming oor die kuberruim en selfs tot in die werklike lewe plaasgevind het (iii) die meeste kuberdigters se werk was myns insiens verouderd, vervelig en onkundig (iv) ek het Carpe Noctem begin om deelname te bewerk wat so breed en verteenwoordigend as moontlik is en om soveel as moontlik van die kuberdigters onder een sambreel te verenig (v) en om daarna na maniere te soek om die gehalte te verbeter – ek dink steeds die totale omvang van mense op die facebookblaaie wat aan die Afrikaanse forums deelneem is ongeveer 2000 (Ons het tans skrams by 1300 lede en ontvang tussen 100 en soms tot soveel as 2500 aktiwiteite per dag). Ek het ‘n redaksie saamgestel uit die kubergemeenskap wat almal die belange van die kunsvorm op die hart dra. Die redaksie bestaan uit mense uit alle oorde van die samelewing en sluit joernaliste, mediakundiges, akademici, regsgeleerdes, skrywers en musikante in.

    (2) DIE BENADERING IS BASEER OP DIE WEB 2.0-KONSEP. Ek dink daar is baie waarde in die inset wat Naude Kritzinger op die vorige blog geplaas het naamlik dat Wikipedia ‘n voorbeeld is van hoe hulle geloofwaardigheidsprobleme en meegaande gehalteprobleme te bowe gekom het. Daar is ‘n paar beginsels wat Web 2.0 (en 3.0) voorhou wat die model laat werk: (i) dit is gratis vir almal en dis maklik om te vind (ii) elke gebruiker kan self inhoud oplaai, aan besprekings deelneem en kies wat hy/sy wil sien (iii) dit is inklusief (iv) ‘n klein groepie bestuur dit, monitor gehalte en hou boewe weg (v) deelnemers kry persoonlike aandag en bou sosiale bande wat na die werklike lewe oorspoel (vi) almal is gelyk en daar is nie heilige koeie nie (vii) daar is gereeld inisiatiewe om deelname te stimuleer. (viii) handige skakels word gereeld geplaas (ix) dit word ‘n gemeenskap.

    (3) DIS STEEDS ‘N MENSGEDREWE AKTIWITEIT. In aansluiting met my eerste punt, ons geluk by Carpe Noctem was dalk tweeledig: Eerstens het ons dit reggekry om die keur van facebookdigters te verenig en ‘n tuiste aan hulle te gee en tweedens, daar het leiersfigure na vore getree wat oor die intellektuele en interpersoonlike vaardighede beskik om rigting te gee.

    (4)KOSTE-ELEMENTE. Ons het tot dusver nie nodig gehad om enige fondse self te betaal nie. Na my mening is dit presies die punt waar ander soortgelyke forums op ‘n stadium faal. Beide WOES en Woordpaljas het die benadering gevolg waar hulle ingewikkelde webwerwe ontwikkel het waarheen hulle deelnemers lok en wat groot koste tot gevolg het. Deelnemers moet ook betaal vir deelname. Ekself het onmiddellik hierdie aspek ondersoek toe Carpe Noctem op die been gebring is en het daarteen besluit. Dit het al die verskil gemaak. ALMAL IS OP FACEBOOK. Waarom nog tegnologie ontwikkel? Ons het dus bestaande, en baie eenvoudige tegnologie gebruik. En dit kos niemand niks. Persoonlik dink ek ‘n deel van die kuberfenomeen het in ons geval baie te doen met die hoeveelheid werklose maar hoogs geletterde(of self-indiensgenome – maar steeds werklose) Afrikaanssprekendes wat tyd op hulle hande het, na ‘n identiteit soek en dikwels ook trauma iewers in hulle lewens ervaar het. (Ek is ook lid van heelwat soortgelyke groepe uit Nederland en kan jou verseker die aktiwiteit in Afrikaans is oordegroottes meer). Ons het egter met verloop wel ‘n borgskap ontvang van een van die uitgewers wat jy noem. Dit stel ons in staat om kompetisies en ook binnekort byeenkomste te kan hou, asook om ons werk in die uitgewerswereld te kan promoveer as en wanneer daar meriete is.

    (5)ONS PROBEER BRUE BOU. Glo my, net soos sekerlik in ander sfere van die digkuns, is daar letterlik hordes kleinpolitiek, kliekvorming, eindelose jaloesie en wedywering op die kuberblaaie. In ons geval het ons probeer om sover moontlik hande uit te reik na ander blaaie, saam te werk en ook gepubliseerde skrywers en kundige mense te betrek. Ons ontvang deesdae byvoorbeeld gereeld besoek en raad van mense soos Susan Smith, Rene Bohnen, JL Marais, Amanda Lourens, Annesu de Vos, Jeanette Ferreira en Fransi Phillips. Ons reik gereeld uit na ander gepubliseerde digters. Natuurlik trek sommiges hulle neuse op. Daar is ook ten minste een digblad met wie ons 100% saamwerk, inligting en vaardighede deel en vir alle praktiese doeleindes saam funksioneer.

    (6)GEHALTE. Die gehalteprobleem waarna daar gedurig verwys word is ‘n wesentlike probleem. Aangesien ek deesdae doseer in Gehaltebestuur wil ek graag enkele sake noem, want ek dink die gevallestudie is uiters van toepassing. As ‘n mens Japan as voorbeeld sou neem: teen die 1960s was produkte van hier af reeds bekend maar steeds vereenselwig met swak gehalte. ‘n Program in gehalteverbetering (bekend as KAIZEN) is geloods (ironies genoeg nav advies van ‘n Amerikaner). Reeds teen die 1990s het Japanese industrieë byna alle ander mededingers in die stof laat byt met hulle gehalte. Dieselfde geld seker vandag vir Koreaanse produkte en die Chinese aanslag. Moraal van die storie? Om die gehalte van facebookdigters te verbeter is nie iets wat oornag gebeur nie. Maar as ons elke dag beter kan wees as gister, vorder ons. En die sleutelwoorde is (i) lees so wyd moontlik en (ii) terugvoer. Op grond hiervan het ons die tweede blad Carpe Noctem Plus begin. Dit het net een doel – om die beste moontlike gehalte werk te skep. Kritici van die werk op CN kan gerus daar gaan loer en die werk van kuberdigters soos Rudi Prinsloo, Erna Jo, Mariette van Graan, Naude Kritzinger en Martin Lochner gaan lees. Maar die proses was om eers hoeveelhede te verkry en dan gehalte te verbeter. As ingenieur is my advies dat produksie eers moet verhoog voor ons na beter gehaltevlakke toe kan gaan. Ons is nou by daardie punt.

    Die resep en waardes wat ons langs die pad begin vorm het werk vir ons. Ons kry deesdae daagliks spontaan aansoeke om deelname. Die volgende vlak? KRY DIE FRIGGIN KWALITEIT REG EN LEWER DIGTERS OP WAT DIE KRITICI STIL SKRYF. Met liefde, natuurlik.

  •