Breytenbach Sentrum, Wellington: Tuin van digters – ‘n fotobeeld met gedigte (1)

TESSA LOUW het met haar kamera hierdie besondere dag op 15 September 2012 met die tema ‘Tuin van die Digters” baie atmosferies vasgevang. Die Breytenbach Sentrum in Wellington se opdrag aan die digters was eenvoudig: skryf ‘n gedig rondom die tema, op ‘n klip van jou keuse en kom lees dit voor tydens die openingsgeleentheid van ons digterstuin. Klipgedigte word dan later in die tuin ingemessel vir ‘n vaste en lewende staanplek vir die Afrikaanse digkuns.

 

Theo Kemp, Ampie Coetzee en Jitsvinger

Theo Kemp, Ampie Coetzee en Loit Sôls

 

Antoinette Kellermann lees voor uit digters se werk

Antoinette Kellermann lees voor uit digters se werk

Die melkweg is ‘n windhond

 

My motor stippel

deur die knewel van ‘n berg-

tonnel;

 

‘n spoormetaal in klip

wat gestolde lig stort.

 

Ek bring ‘n klip

en dit bring vir my,

 

geklonte spikkels 

wat deur die newel glip.  

 

© Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé

 

 

Die Digterstuin

 

Waar is die grond vir die wortels

en hoe skuif ek die diafane boom

om dit hier in die vers te plant?

 

reën bedrup die dorpstuine

maar die verbeelding skep die naggeluide

die honde blaf en die strate word stil

 

die purper nag hurk op ons palms

en ons soek ‘n plek, verder en hoër

‘n dromende melkpad na die hemeltuin

 

hoe nooi ek dié een

wat die anemone geplant het

om weer die blombedding te bewerk?

                              © Melanie Grobler

Melanie Grobler

Melanie Grobler

 

Omar Khayyam in Wellington

 

Uitgeskop uit die Edenparadys

met sy Vrugte, Vrou en Aandwind wat suis

maak die Digter van die Woestyn

hom vir goed in dié Woordoase tuis.

 

© Daniel Hugo

Daniel Hugo

 

Petro Rhode

Petro Rhode

Kwarts, ‘n steen so oud

soos die aarde, selfs ouer: aangegee

van die tyd voor tyd gevorm is

en alles water was, selfs ouer: vergete

in skanderings van klip

met in sy hart iets wat vloei,

iets soos water, selfs ouer: gees.

 

(Uit: Wat die water onthou, 2010: Protea Boekhuis)

© Louis Esterhuizen

 

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen

Bibi Slippers

Bibi Slippers

 

Diefstal in die tuin van digters

 

Ek het ‘n tuingedig geskryf en

dit was goed:

die woorde groen en soet en

netjies in gelid soos

perfekte ertjies in ‘n peul

 

die geheel

volmaak gevorm en gepoets

‘n blink perske was my vers

of dalk

‘n akker.

 

Dit was die Groot Werk van my loopbaan maar

hoe moes ek weet

dat hierdie meesterstuk so vinnig

sou vergaan?

 

Terwyl ek my oë na die

bome opslaan en

aan my bas kan voel

ek het ‘n goeie ding hier beet

 

Het ‘n eekhoring

die hele ding

opgevreet.

 

© Bibi Slippers, 2012

Melt Myburgh

Melt Myburgh

 

Pieter Odendaal

Pieter Odendaal

 

Foto’s: © Tessa Louw 

Vervolg na (2)

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Breytenbach Sentrum, Wellington: Tuin van digters – ‘n fotobeeld met gedigte (1)”

  1. anita :

    Dit was ‘n groot plesier om deur hierdie fototuin te stap!

  2. Pieter Wolmarans :

    Watter lieflike inisiatief was hierdie nie van die Breytenbach-sentrum nie! Wens so dat ek ook daar kon wees. Dankie Marlise vir die smaakvolle manier waarop jy ons hierna kan laat kyk het.

  •