By die otoloog
Hardhorendheid word oorgedra,
vertel die dokter my en kap
die toonvurk op sy knie
alvorens hy dit teen my voorkop druk,
en deur my vibrasies hoogte
kry van my tekort –
ek deur syne hoeveel vog
agter sy knieskyf klots.
Ek kyk die hidrofone dokter aan,
hoor u dit ook? vra ek,
die aandgesnater van die haelwit
swart omlynde ibisse
in die wilgers van Loch Lomond?
Hy lag, sy snawel kripties
bo sy bef, twee laaste plukkies dons
soos ekstra oortjies op sy vleisblink pan,
en vul my vorm met ‘n driehaak in:
sklerose van die middeloor
voorlopig konduktief,
maar tot die dood toe
nooit meer te verhelp
en snel degeneratief.
Geen plek op sy grafiek
om op te skryf wat my van geboorte af
die engele, die rose my smeulend toegesing,
die indaling van melk, fluisterend, nadruklik
soos waterblomme in ‘n dam.
Want dis hoe dit begin, tinnitus,
akoestiese herinnering aan die musiek
van vroegste suisinge,
met, as kompensasie, voor jy volledig doof is,
die kuns om ekstra fyn te kýk,te mérk
hoe leedvermakerig bejaarde artse is,
hoe kráál hul oog, hoe strák die pupil,
hoe váág hulle tas na lig en spuit,
hoe dóf die wetenskap hul insig maak,
hoe uilágtig hul diagnostiek.
© Marlene van Niekerk – 2012