Louis Esterhuizen. Die impak wat ‘n goeie gedig kan maak
(Foto-erkenning: Denzil Maregele)
Murray La Vita is loshande een van my gunsteling onderhoudvoers. In hoofsaak omrede hy myns insiens uitmuntend daarin slaag om die stem en persoonlikheid van die betrokke persoon met wie hy gesels na vore te bring; soos dit nou weer die geval was met die onderhoud wat hy met Pieter Odendaal (foto) gevoer het na aanleiding van Odendaal se gedig ter ere van Adam Small. (Dié onderhoud het Vrydag, 21 September, in Die Burger verskyn. )
Graag wil ek dan dié onderhoud en die gedig wat daarby betrek is, gebruik as springplank na De Waal Venter se volgehoue versoek dat daar rondom die kwessie van wat ‘n “goeie” gedig is, besin moet word.
Maar eers die onderhoud.
Uiteraard was die aanloop tot die onderhoud die huldigingsbundel wat ter herdenking van Adam Small se 75ste verjaarsdag ontstaan het, en meer spesifiek Pieter Odendaal se vers daarin. Hierdie vers het naamlik reeds met die eerste voordrag tydens Versindaba verlede jaar die aanwesiges soos ‘n voorhamerhou getref; trouens, enkele dae later is daar ook ‘n digstring geplaas waarin Odendaal uitgebrei het op die ontstaansgeskiedenis en konteks van dié aangrypende gedig.
Die verdere verloop hiervan was dat Adam Small tydens die dankwoord met die ontvangs van die Hertzogprys vir Drama pertinent na Pieter Odendaal en sy gedig, “Die eerste steen“, verwys het: “In dieselfde asem sê ek graag aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van sy roerende reëls waarin hy my vra om te aanvaar dat sy pa wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ‘n goeie man is. Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.”
‘n Gebaar van versoening, inderdaad. Soos dit ook in 1994 die geval was was toe oudpresident Nelson Mandela tydens die eerste opening van die demokratiese parlement Ingrid Jonker se gedig “Die kind” voorgelees het, en ook toe Diana Ferrus met haar gedig oor Saartjie Baartman mense sodanig ontroer het dat daar deur die Franse oewerhede besluit is om Saartjie se oorskot in Suid-Afrika te laat herbegrawe … En ja, sekerlik is daar nog talle ander voorbeelde.
Nou wat maak dat bepaalde gedigte hierdie impak kan hê op mense?
En dit bring my by die gesprek wat De Waal Venter graag wil inisieer. Persoonlik is ek van mening dat dit bykans onmoontlik is om op die vraag wat ‘n “goeie” gedig is, te antwoord. Die rede is waarskynlik dat daar nooit eenstemmigheid hieromtrent kan (of mag?) wees nie; elke gedig resoneer op ‘n eie, unieke manier met die leser of hoorder daarvan volgens die betrokke persoon se eiesoortige verwysingsveld en emosionele landskap. (Eersgenoemde het met kognitiewe prosesse te make en laasgenoemde met die konatiewe.)
Met bogenoemde as uitgangspunt is ek persoonlik egter van mening dat die integriteit van die gedig vooropstaan; daarmee bedoel ek eerlikheid ten opsigte van sowel tema as toon. En met laasgenoemde staan diksie (woordkeuses) en visuele komponente (beeldspraak) natuurlik sentraal.
Soos dit die geval is met Pieter Odendaal se gedig: toeganklik, met ‘n “losserige” struktuur en skreiende eerlikheid. Onbevange. Elke woord en inspeling presies reg binne die reëls soos die gedig dit self genereer volgens toon en aanslag. (‘n Punt wat myns insiens hierby aansluit: ‘n suksesvolle gedig volg sy eie dinamika. Asof dit ‘n eie verwysingsveld ontwikkel wat jou in daardie “woordwêreld” in sleep.)
Daarteenoor kry jy natuurlik ook “geslote”, of hermetiese verse, wat ten spyte daarvan dat hulle minder toeganklik is, steeds kan ontroer. Soos T.S. Eliot by geleentheid gesê het: “Genuine poetry moves before it is understood.” ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Marlene van Niekerk se gedig oor die Marikana-slagting wat onlangs op SlipNet verskyn het. By wyse van lusmaker, die slotreëls uit dié kragtige vers:
Alles is soos dit is en die wederkeer ewig,
die mag totem-agtig, die onmag murf.
So, waarom nie dig nie, Jacqueline? Dit is lewe –
in jou allesvermoedende medepligtige water
lig ritmies jou vers haar voetjies en vuisies
in die biomimiek van opstand, aanval, ontlading.
Wat dus ‘n “goeie” gedig bepaal? Ek weet eerlikwaar nie; trouens, daar sal sekerlik soveel antwoorde hierop bestaan as wat daar digters en lesers is. Dieselfde geld seker ook maar die vraag na wat ‘n “swak” gedig is … In die woorde van Robert Frost: “Like a piece of ice on a hot stove the poem must ride on its own melting.”
Maar dat jy sal weet wanneer jy met ‘n goeie gedig te make het, is gewis. Soos die ou oom aan sy vrou gesê het toe hy per ongeluk ‘n meisie se broekie gesien en sy hom daaroor geroskam het: “Ou vrou, daai ding hy’s soes die bliksemstraal; jy kyk nie vir hom nie, maar jy wíét van hom …”
Vir jou leesplesier volg Pieter Odendaal se gedig. En gaan lees sommer die digstring daaroor indien jy dit gemis het toe dit verlede jaar Oktober op Versindaba verskyn het.
***
die eerste steen
vir adam small
ek sou graag net ‘n klipgooi vêr
van jou af wou leef, meneer small
van die bankies die deure
die treine die skole die strande
die riots die klippe in hande
maar ek staan anderkant die storm
waar ons reënboë teen die grys skerm
van die dag projekteer
‘n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
en ek weet nie hoe om
van hier vir jou te skryf nie
hier waar die blindes dans dans dans
met iPods in hul ore
en dollars in hul oë
‘n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
ek wens ek is vroeër gebore
dat ek al kon loop die dag
toe Hector gaan lê het
miskien sou ek hom optel
miskien sou ek saam
cowboys en kroeks speel
maar my hande is nog altyd
te klein gewees om klippe te gooi
al stoei my pa se bloed in my
en al was my oupa in die senaat
hy’s dood die jaar
toe my pa begin skiet het
my pa is ‘n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ‘n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god
maar oukei met als gewees
hy’s ‘n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil
© Pieter Odendaal, Augustus 2011.