Louis Esterhuizen. Besonderse verering vir Gerrit Komrij as boekversamelaar

Eerskomende Saterdag, 6 Oktober, vind daar ‘n besonderse verering plaas vir Gerrit Komrij (foto) as antikwariese boekversamelaar. Volgens die berig by De Contrabas sal die Boudewijn Büch-prys tydens die Amsterdam Antiquarian Books, Maps & Print Fair postuum aan die ontslape digter en bibliofiel toegeken word. Sy lewensmaat, Charles Hofman, sal die prys in ontvangs neem.

Dié toekenning word in die mediavrystelling soos volg gemotiveer: “Deze prijs is bestemd voor degene die er het best in geslaagd is om een breed publiek voor het antiquarische boek te interesseren. De jury heeft gekozen voor Komrij vanwege zijn levenslange inzet en belangstelling voor de wereld van het zeldzame boek, zoals deze blijkt uit zijn essays en columns, de talloze bibliofiele edities van zijn werk en uit zijn eigen omvangrijke boekenverzameling.”

Indien daar van ons lesers is wat hulle Saterdag in Amsterdam bevind en dié geleentheid wil bywoon, die besonderhede is soos volg: Zaterdag 6 oktober 2012, 15:00 uur; Amsterdam Antiquarian Book, Map & Print Fair 2012; Passenger Terminal Amsterdam, Piet Heinkade 27.

Boudewijn Büch was natuurlik alombekend vir sy uitgebreide boekversameling; trouens met sy dood tien jaar gelede is daar bereken dat sy versameling uit 100,000 titels bestaan het.

Gerrit Komrij

Gerrit Komrij

Eweneens Gerrit Komrij. In ‘n rubriek oor boekversameling wat Daniel Hugo in 2002 vir Die Burger geskryf het, haal hy Komrij soos volg aan: “”Ek raak van ‘n duisend boeke ontslae en ná ‘n ruk het ek weer tweeduisend in hul plek. Ek verkoop tweeduisend boeke en skaars ‘n jaar later het ek weer vierduisend nuwes. Ek dra my boeke stapel vir stapel by die huis uit, terwyl ek byna my rugwerwels breek en dit lyk of my arms deur die steierende torings papier langer word, maar blitsvinnig vorm die rye boeke agter my weer ‘n geslote eenheid. Loodswaar verdwyn hulle, veerlig duik hulle weer op. Ek haat hulle, die wysneuse.”

‘n Gepaste toekenning, inderdaad.

Ten slotte, die stelling waarmee Daniel sy rubriek inlei: “Daar is twee soorte boekversamelaars: bibliofiele en boekverbranders. Die een doen dit uit liefde, die ander uit vrees.”

Hieronder volg een van my gunsteling gedigte deur Bertolt Brecht. (Indien jy Daniel Hugo se rubriek gaan lees, sal jy verstaan hoekom; met dié gedagte wat ek graag daarby wil aanhaak: die grootste aanklag teen die mens lê nie soseer in die boeke wat hy verbrand nie, maar in al die ongeleesde boeke wat op die rak bly staan.)

***

The burning of the books

 

When the Regime commanded that books with harmful knowledge

Should be publicly burned and on all sides

Oxen were forced to drag cartloads of books

To the bonfires, a banished

Writer, one of the best, scanning the list of the

Burned, was shocked to find that his

Books had been passed over. He rushed to his desk

On wings of wrath, and wrote a letter to those in power

Burn me! he wrote with flying pen, burn me! Haven’t my books

Always reported the truth? And here you are

Treating me like a liar! I command you:

Burn me!

 

© Bertolt Brecht

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •