En al klaar kom ek agter dat ek aan die afdwaal is, maar vir iemand soos ek met AADD (Adult Attention Deficit Disorder) vir die oningeligtes wat dalk nie weet wat hierdie afkorting beteken nie, het ek ook sommer ’n paar minute bespaar en hoef hulle nie sommer die woordeboeke nader te sleep nie.
O ja, Athol Fugard. Ek het darem al ’n paar van sy titels gehoor al het ek nie die toneelstukke gesien nie. En dis alles te danke aan Kaapstad se destydse Space-teater in Langstraat. Ek onthou nog Boesman en Lena en natuurlik Hello and Goodbye, maar in vandag se geval is dit miskien liewers ’n geval van Goodbye and another Hello na my stilte van die afgelope paar maande. Tog voel ek ook vandag half en half soos die Bybelse Lasarus en ek weet nie of hierdie Nuwe Testamentiese skepsel werklik iets te sê gehad nadat hy weer opgewarm is nie.
In my geval, gaan dit seker baie min wees. Baie min oor die letterkunde, maar oor ander dinge miskien so ’n bietjie. En sommer om te wys hoe slim ek is, kan ek sommer so dan en wan ’n versie aan die einde van die blog indruk, met die hulp van die internet natuurlik.
Ek twyfel of ek vandag verder as hierdie inleiding gaan kom, want ek het my die afgelope vier maande kapot gewerk aan ’n radio-reeks Mozart – die Musiek en die Mens. En hierdie eerste inskrywing is dan ook sommer onbeskaamde advertensie vir dié reeks wat op Sondae vanaf 7 Oktober tussen 10:00 en 11:00 soggens op die RSG-sender 100 – 104fm) vir 13 weke uitgesaai gaan word.
Dit was my eerste paragraaf. Die middel en die einde, plus ’n versie aan die einde kom hopelik eendag later.