Andries Bezuidenhout. Die dokter

Middag dokter. Amper weer laat.
Hierdie marmertrappe so bekend, maar soos soveel ander in Wene
nou kil geslyt deur jou afwesigheid.

Soms wonder ek hoe jy weg is –
sigaar in die kies, ʼn familieprosessie, die Franse prinses
op sleeptou? Twee tantes wat agterbly.

Het iemand dit gedokumenteer?
Nietemin, julle intellektuele het oor ander dinge
as ons gedink. Ontwerp, skoonheid, die binnekant van ʼn huis.

Toe hulle kom het ons meegedoen:
name verskaf, uitgewys, aangeprys,
saam met die vete se rugstring gebuig.

Soms onthou ek jou visgraatvloer,
fetisj-beeldjies in jou vensterraamspieël,
maar meestal vergeet ek.

Dis net as ek hier verbystap.

Bookmark and Share

53 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die dokter”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie vir hierdie vers, Andries, wat veel wyer klink en weerklink as wat die oppervlak vir mens wys sou wil maak. Miskien sou dit nog dieper slaan, al wil mens nie die trefkrag van die steelhou onderskat nie, indien (die oningeligte – miskien) mens ‘n helderder beeld sou hê van die “hulle” wat kom. Jy is snoep!

    Jy het my gevang met daardie dubbele resonansie van “vergeet” – die persoonlike en die historiese amnesie. En daardie laaste, skrynende lyn!

    Dankie!

    BB

  2. Baie dankie Breyten. Ek sukkel om oor Suid-Afrika te skryf – veral nou. Dis dalk hoekom ek daaroor in ander plekke skryf. Met ons besoek aan die woonstel het ons na ou swart-en-wit films gekyk (sommige daarvan deur Marie Bonaparte geskiet): die Nazi’s wat Wene binnekom, baniere, die familie op vlug. Op alles lewer Anna Freud afstandelik kommentaar, iewers uit die 1970s.

  3. Desmond Painter :

    Andries, jou gedig en jou opmerking oor hoe moeilik dit is om oor SA te skryf, herinner my nou aan ‘n aanhaling van Adorno wat ek onlangs op Facebook raakgeloop het. Hy kwalifiseer daarin sy eie opmerking oor die moontlikheid al dan nie om na Auschwitz gedigte te skryf:

    “Ich würde gern zugeben, daß man so gut wie ich gesagt habe, daß man nach Auschwitz kein Gedicht mehr schreiben kann […], andererseits doch Gedichte noch schreiben muß, im Sinn […], daß es solange, wie es ein Bewußtsein vom Leiden unter den Menschen gibt, eben auch Kunst als die objektive Gestalt dieses Bewußtseins geben müsse.”

  4. Desmond, dit laat my weer aan Coetzee dink, met sy ontvangs van die Jerusalemprys:

    “The crudity of life in South Africa, the naked force of its appeals, not only at the physical level but at the moral level too, its callousness and its brutalities, its hungers and its rages, its greed and its lies, make it as irresistible as it is unlovable… We have art, said Nietzsche, so that we shall not die of the truth. In South Africa, there is now too much truth for art to hold, truth by the bucketful, truth that overwhelms and swamps every act of the imagination.”

  5. Desmond Painter :

    Ja Andries, SA is beslis ‘n ‘beter’ land om sosiale wetenskaplike in te wees as digter. So ervaar ek dit in elk geval.

  6. Desmond, lyk my dis ‘n dag vir aanhalings. Hier’s daai karakter Pepe Carvalho:

    “Carry on with your journey, and don’t come back until tiredness or old age get the better of you. You’ll return to find that everyone here has become petty-minded, mad or old. Those are the only three ways of surviving in a country which did not make the industrial revolution in time.”

    In my geval blyk dit “petty-minded, mad AND old” te wees!

  7. Buiteblaf Breytenbach :

    Pepe Carvalho spreek wyse woorde. Adorno en Nietzsche eweneens. En mens sou Beckett kon byhaal: “I can’t go on, I must go on.”

    Is die Nasionale Demokratiese Revolusie dan nie veronderstel om die Industriële Revolusie op te vang en verby te steek nie?

    Hoe voel dit om oud te wees, Andries? Jy moet vir ‘n jong laitie soos ek voorligting gee oor die skuifelknoppe wat wag!

  8. Buiteblaf Breytenbach :

    Die “sigaar in die kies” van die goeie dokter (wat natuurlik ‘n skrywer was met die waan dat hy ‘n wetenskaplike is – tipiese skrywersverbeelding) interesseer my. Veral in lig van die feit dat sy mond toe te geheim was om kanker nie te voel nie. Het dit eers later gekom? En ek wonder of ons ‘kies’ aan die Amerikaanse ‘kisser’ verwant is – soos in “cigar in the kisser” wat mens soms teëkom. Ook opvallend dat die Nederlanders ‘kies’ (wanneer dit by mondsake kom) slegs as die tand ken en nie as daardie toevlugsoord vir die tong of bêreplek vir nikkerbôls nie. Vanselfsprekend in die mond. Alhoewel party digters tong in die vers steek sou mens tog seker nie na ‘n gedig as ‘kies’ verwys nie.

  9. Breyten, lekker lag hierdie oujong man nou! Anna Freud moes mos daagliks haar pa se prostese (kunskaak?) uithaal en skoonmaak.

    Die NDR het juis gister by my verbygery. Ek was oppad terug huis toe en is saam met die res van die staatsdiensstoet deur metropolisiemanne aangeraai om stil te hou. Aan die voorpunt van die NDR was kaders op motorfietse, geklee in swart leer – vlae in swart, groen en geel wat agterna wapper. Toe volg die luukse, Duitse motors, asook ʼn viertrekvoertuig of twee. Donkerbrille was volop. Magersfontein, o Magersfontein!

    Ek het foto’s van die petalje geneem, wat ek in een of ander kunswerk wil gebruik waarvoor ek vervolg kan word as ons Weimartydperk (1994-?) finaal tot ʼn einde kom.

  10. Desmond Painter :

    Andries, ek het hoeka hierdie week begin lees aan Montalban se ‘The Angst-Ridden Executive’, ‘n Pepe Carvalho-roman waarvan die Engelse vertaling lank uit druk was, maar wat nou weer beskikbaar is.

  11. Desmond Painter :

    In Afrikaans is ‘n “kieser” iemand wat stemgeregtig is. Die politiek moet dus letterlik tong in die kies bedryf word.

  12. Buiteblaf Breytenbach :

    Solank die kaders hulle dit nie toeëien om jou in die mond kom loer om te kyk of jy nie dalk illegitieme en self-verrykende kos in die kies wegsteek nie.

  13. Desmond Painter :

    Terloops, as ek reg onthou het Freud iets soos 20 of 30 operasies ondergaan vir sy mondkanker. Hy het egter geweier om op te hou rook: glo juis omdat hy daarop aangedring het dat die lewe geen betekenis het sonder die vryheid om te mag kies nie… Toe hulle Engeland toe is, was hy dus reeds siek; maar hy sou inderdaad, soos in Andries se gedig, die sigaar gekies gehad het.

  14. Kieskeurige roker, die Freud! Hy kon blykbaar ook nie sonder die sigaar aan die skryf kom nie. Gepraat van fiksasies.

    Desmond, op ‘n ander noot en effe verder noord – as koeskeurige leser het ek die volgende rubriek van Tertius Kapp baie geniet: http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Is-meneer-n-Afrikaan-20121027

    Vanoggend toevallig daarop afgekom.

  15. Desmond Painter :

    Fiksies en Fiksasies! Andries, ek het ook vanoggend op daardie rubriek afgekom — juis deur jou FB status opdatering, of wat mens dit ook al noem. Het my met heimwee laat dink aan my trippie Pole toe, presies 5 jaar gelede. Mooi rubriek!!

  16. Desmond Painter :

    Andries en Breyten, noudat ons so uit die kies uit praat oor siektes en ander onkiese fiks(as)ies; ek lees pas hierdie op News24:

    Johannesburg – A Gauteng woman laid a complaint with the Health Professions Council of SA (HPCSA) after she went to see a doctor about a sore throat – and was given a vaginal examination instead.

    The woman also said the doctor made some improper comments about her genitals during the vaginal examination at the consulting rooms in Germiston, reported The Star.

    But an investigation brought to light that the man who had examined her was not a doctor at all and had been standing in for a Congolese doctor, Dr Kazombia Manda, who had gone out on an errand.

    Dr Manda told the HPCSA he didn’t know that fellow countryman, Dr Kilundu Makengo, was not a registered doctor in South Africa.

    It emerged that Makengo had failed oral and practical exams twice in SA.

    Dr Manda was given a suspended sentence and was slapped with a fine.

  17. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond, Andries: Dis miskien duidelik waarom die kortsigtige Dokter Makengo sy orale eksamens gedruip het. Dit kan ‘n geval van taalverwarring wees. Vroeër of later sal hy hopelik by die regte oor uitkom.

    Toevallig word daar in Le Monde se literêre bylae van vandag groot gewag gemaak van die verskyning van die korrespondensie tussen Vader Freud en sy dogter Anna in die jare 1904-1938. (Sy het blykbaar ‘n tragies uitkyk op die lewe gehad.) Langs die resensie versier met ‘n mooi foto van ons sigaarkieser is daar ‘n rubriek deur Jean Birnbaum wat min of meer so begin: “Liewe psigoanaliste, dis hoog tyd om terug te keer na Freud. Dis die gedagte wat by mens opkom wanneer jy die korrespondensie tussen die Meester van Wene en sy dogter Anna lees… Dis nie sodanig ‘n terugkeer na konseptuele bronne nie as ‘n hereniging met styl. Want vir die psigoanalise is dit soos met alle ander revolusionêre teorieë: die wegspring (afskop?) is die ontmoeting tussen ‘n idee en ‘n skrywe (écriture).” Hy betreur dit dat terapeute taal vergeet of verwaarloos het, veral aangesien hulle juis hoog opgee oor die inluister na taal. En hy sluit so af: “Erkenning van die onbewuste en die roman se einder, waarheid van die begeerte en skoonheid van die konsep, sieleverpleging en die skryfdaad se fyndraai: die ware terugkeer na Freud is ‘n retoer na die literatuur.”

  18. Buiteblaf Breytenbach :

    As Dr. Kilundu Makengo ‘n Freudiaanse ondersoekbril op sou gehad (van daardie wat vir Freud laat lyk het soos ‘n veel ouer weergawe van Andries) sou hy dalk nie so lelik gepraat het van die dame se stemgeregtigheid nie.

  19. Leon Retief :

    Terug keer na Freud? Behoed ons van daai pseudowetenskaplike snert!

  20. Joan Hambidge :

    Leon, Freud se taalteorie is van belang vir die letterkunde. Die Interpretasie van drome se ryk geskakeerde metafore is uiters waardevol vir taalteorie. Hierom kon teoretici soos Lacan en vele andere sy tekste gebruik.

    En steeds gebruik.

  21. Buiteblaf Breytenbach :

    Joan: ek is bevrees ek stem hier met Leon saam. Drome was nog altyd met ons. Ons droom onsself. Die ‘Westerse’ wyse van omgaan met drome – trouens, die konstruk van die onderbewuste (Joods-Helenisties) is die minste interessant en die meeste gerig op die barheid van interpretasie, die desperate poging om daardie ander wêreld onder woorde en begrippe te bring. Gee dan maar liewer vir my die aanvaarding van ‘n Boesman betekeniswêreld (jammer om dit nou te reduseer tot Westerse omgangstaal), of iemand soos Naghieb Mafoez se reise deur die lewende droomwêreld. Freud was ‘n verskynsel van sy tyd – redelik kru, toe mense nog op sofa’s gelê het. Hy is ‘n bietjie soos Columbus wat ‘n Indië ‘ontdek’ waar dit nie is op ‘n plek waar mense nog altyd gelewe het. Dis nie sy skuld dat hy ‘n kultusfiguur geword het nie. (Tog raar dat baie aandoenings, soos ‘histerie’, toe saam met sy insigte verdwyn het.) Die probleem is ons fundamentele en fundamentalistiese behoefte aan sin en aan troos. En die sjarlatane het die ghêp geruik en gevat – en besluit hulle gekweel oor en om die ‘ego’ moet as wetenskap veredel word.
    Ek dink Birnbaum het iets anders in gedagte wanneer hy pleit dat daar teruggekeer moet word na ‘n skerper ervaring van taal. En styl.
    Groete
    BB

  22. Leon Retief :

    Ek is nie bevoeg om ‘n mening te gee oor Freud se bydrae tot letterkunde nie, maar sal geredelik toegee dat wanneer iemand ‘n letterkundige werk skryf met psigo-analise as uitgangspunt dan behoort dit as sulks beoordeel te word, net soos wanneer iemand iets skryf met Boeddhisme of wat ook al as fondament (mind you, Freud moes beslis ‘n Nobelprys gekry het: vir die fiksie wat hy geskryf het  )
    Die feit bly egter staan dat Freudiaanse psigo-analise een van die grootste stukke pseudowetenskap is wat nog die lig gesien het en dat dit hoegenaamd geen betekenisvolle bydrae kon lewer tot die behandeling van mense met psigiatriese probleme nie – en dis per slot van rekening to waar die kruks van die saak lê is dit nie? Daar is groot en goeie studies gedoen wat aantoon dat psigo-analise niks beter is as om met ‘n goeie vriend/eggenoot/eggenote te gaan gesels nie. Essensieël is al Freud se werk niks anders as “just-so stories” nie, en ek dink dat Peter Medawar dit die beste opgesom het: “Considered in its entirety, psychoanalysis won’t do. It’s an end product, moreover, like a dinosaur or a zeppelin; no better theory can ever be erected on its ruins, which will remain for ever one of the saddest and strangest of all landmarks in the history of twentieth-century thought. “
    En ook: “Freudian psychoanalytical theory is a mythology that answers pretty well to Levi-Strauss’s descriptions. It brings some kind of order into incoherence; it, too, hangs together, makes sense, leaves no loose ends, and is never (but never) at a loss for explanation. In a state of bewilderment it may therefore bring comfort and relief…. give its subject a new and deeper understanding of his own condition and of the nature of his relationship to his fellow men. A mythical structure will be built up around him which makes sense and is believable-in, regardless of whether or not it is true.”
    Freud se boek oor die interpretasie van drome… the less said the better.
    Dir sluit alle Freud-aanhagers in, Lacan sowel as Zizek.

  23. Leon Retief :

    Askies, nog iets: Breyten, Freud het alle pogings aangwend om wel ‘n ikoniese figuur te word,

  24. Leon, ek sou myself nie as kenner op die veld uitgee nie, maar Irma (my lewensmaat) is al deur die meeste van Freud se korrespondensie – o.a. sy briewewisseling met Jung. Sy verhoudings loop telkens skeef as sy korrespondente ophou om hom as “professor” aan te spreek – ook die geval met Jung. So ek is geneig om saam te stem oor jou punt oor Freud as berekende ikoon. ‘n Mens kan egter ook vra of hy dan nou soveel anders as die meeste denkers met ‘n soortgelyke inpak op die geskiedenis van denke is.

    Oor psigoanalise as sodanig: Ek weet darem nie of ‘n mens ‘n hele denkrigting, met soveel vertakkings, goedsmoeds kan afmaak nie. Soos daar verskillende liberalismes, Marxismes, feminismes, ens. is (wat ook aanspraak op wetenskaplikheid maak), is daar tog verskillende benaderings en aansprake wat in die naam van psigoanalise gemaak word. Dalk is ek op dun ys hier (nie ‘n goeie plan in Suid-Afrika in die somer nie), maar ek dink tog daar is iets te sê vir die gestadigde proses van analise, waartydens dit meer oor vrae as antwoorde gaan. Ek weet iemand soos Karl Popper skeer Marxisme en psigoanalise oor dieselfde kam (beide is ideologie en het geen onafhanklik-verifieerbare basis nie), maar is daar die iets te sê vir die praktyk van die sistematiese opskryf van jare se gevallestudies nie?

    Aan die ander kant en op ‘n ligter noot – iemand het mos gesê: “A life over-examined is not worth living.”

  25. Desmond Painter :

    Ek stem saam met Joan. Baie min psigoanalitiese denkers en praktisyns na Freud gee voor om natuurwetenskaplikes te wees; of om bloot in mediese hoedanigheid betrokke te wees by “die behandeling van psigiatriese probleme”. Mense soos Zizek of Judith Butler is filosowe; waarom hulle werk natuurwetenskaplik beoordeel? Ek is nie ‘n Freudiaan of ‘n psigoanalis nie, maar as mens oor die kwessie van subjektiwiteit wil praat, kan jy aan die hand van Freud en kie ten minste begin teoretiseer. Daarteenoor het die positivistiese psigologie en psigiatrie het ongeveer NIKS daaroor te s^e nie.

    Popper maak belangrike opmerkings oor die ‘dogmatisering’ van psigoanalise en die Marxisme as ideologiese tradisies, maar hy het fouteer deur individuele figure se werk sommer so af te skiet. Om Freud en Marx (en volgelinge soos Adorno of David Harvey) te lees is steeds die moeite werd en bied insigryke interpretasies van die wereld waarin ons leef; meestal meer genuanseerd en interessant as die stompsinnige positivisme van verbeeldinglose denkers soos Richard Dawkins en ander voorstanders van ‘n soort ‘scientific redemptionism’.

    Laastens: Andries maak ‘n goeie punt oor gevalstudies. Freud het nie oneerlik omgegaan met sy gegewens nie. Hy het deeglike gevalstudies gedoen, en probeer om teoreties daarvan sin te maak. Hy het dikwels, op grond van verdere waarnemings, teoretiese vernaderinge aangebring. Mense wat die gevalstudies, soos die van Dora, ernstig opneem, bring vandag nog teoretiese veranderinge op grond van verdere waarnemings en intepretasie. Dit is gewoon nie waar dat Feud die goed bloot uit sy duim gesuig het; of dat dit glad nie ‘falsifieerbaar’ is nie. (As mens nou vir ‘n oomblik maak asof die wetenskapsfilosofie nie verby Popper beweeg het nie.) Dit is juis die sistematiese ontwikkelling van konsepte en teoretiese samehang, op grond van waarnemings, wat van hom ook WETENSKAPLIK ‘n interessante figuur maak.

    Gaan lees gerus Philippe van Haute se onlangse herbesoek aan Freud se gevalstudies en teoretisering van seksualiteit en vertel my dat dit daardie gevalstudiemateriaal nie ‘falsifieerbaar’ is of goeie gronde om ernstig oor seksualiteit, geslag ens. te besin nie.

  26. Joan Hambidge :

    Freud en psigoanalises

    Ek dink nie ‘n mens kan Freud se werk net afmaak nie. Daar is verskillende vorme van psigoanalises. Lacan en Žižek verskil radikaal van die (oorspronklike) Freud. Die oorspronklike Freud se taalteorie is uiters belangrik en ander filosofiese denkers het hierop kon reageer: Lacan, Deleuze & Guattari, Kristeva, Derrida, en vele ander. Hulle skryf egter vanuit ‘n filosofiese verwysingsraamwerk en ek dink om Freud (en sy navolgers) as natuurwetenskaplikes te beoordeel (of veroordeel) is volgens my eensydig. Dat Freud wél ‘n wetenskaplike wou wees aan die beginjare val nie betwyfel nie. Dit is egter so dat die intensie deur interpreteerders verander is. Dit wat jy skryf (‘n gedig) of beleef (‘n droom) kan immers verskillende interpretasies ontlok. ‘n Mens dink aan Žižek wat weer verskil van Lacan en dit met ‘n Marxistiese lading verander en herinterpreteer. Daar is dus verskillende denkrigtings en interpretasies en vanuit filosofiese hoeke. The pervert’s guide to the cinema gee immers blyke hiervan; net soos wat studies van Jung weer radikaal verskil van Freud se oorspronklike sieninge van die onbewuste. Ek dink wel hierdie debat is belangrik, omdat dit verskillende benaderings na vore bring. ‘n Mens hoef nie van Freud te hou nie – hy het egter wel die siening van die self verander en selfs feministiese lesers soos Juliet Mitchell en Jane Gallop (The daughter’s seduction) wys hierop.

  27. Desmond Painter :

    Joan, mens sou selfs verder kon gaan en s^e: Freud het nie net die siening van die self verander nie, hy het die (Westerse) self verander… beide Ian Parker en Serge Moscivici het studies gedoen oor die manier waarop psigoanalitiese konsepte ens. gepopulariseer is en dus ‘n woordeskat geword het in terme waarvan ons onsself aan onsself voorstelbaar maak as moderne subjekte. Mens sou kon argumenteer, soos Breyten hier bo oor drome, dat hierdie verskraalde self- en kulturele konsepsies tot gevolg het, en dat ons onnself daarvan moet bevry; maar dit is ‘n ander kritiek as die blote afwys van Freud as synde ‘pseudowetenskap’.

  28. Desmond, op daardie noot Ashis Nandy se verwysing na Freudiaanse psigoanalise as die beste voorbeeld van die “Weste se etno-sielkunde”. Dis uit “The Intimate Enemy”: “The colonial culture depended heavily on Western cosmology, with its built-in fears about losing potency through the loss of activism and the ability to be violent. I have avoided discussing here the fantasies which underlie these fears fantasies of rape and counter-rape, seduction and counterseduction, castration and counter-castration-which have accompanied the Western concept of manhood whenever Western man has gone beyond his narrow cultural borders to civilize, populate or self-improve. (The depth of this linkage between activism and aggression in parts of the Western world is evident from the fact that the West’s major ethnopsychology, Freudian psychoanalysis, locates the source of all activism and the concern with power in the instinctual patterning of aggression.)”

  29. Desmond Painter :

    Andries, ja, dit maak vir my ‘n meer produktiewe kritiese omgaan met Freud moontlik as bloot die debat wetenskap – pseudowetenskap. Ranjana Khanna, ook vanuit die postkoloniale perspektief, het ‘n boek wat op sekere maniere by die werk van Nandy aansluit: “Dark Continents: Psychoanalysis and Colonialism”. Ek stem saam met Nandy oor Westerse etno-sielkunde; maar dan, die positivistiese psi-dissiplines, eerder as wetenskaplike teenvoeter teen pseudowetenskap, is eweseer Westerse etno-sielkunde. Die psigologisering van subjektiwiteit in allerlei vorme is ‘n belangrike komponent van laat-kapitalistiese ‘governmentality’. Om nou Foucault by die hare by te sleep — o wag, Foucault het nie hare gehad nie; om vir Foucault by die leather straps en boeie nader te sleep.

  30. Buiteblaf Breytenbach :

    Leon: waar is jy nou die geleerde witmense ons met boeie en swepies tugtig? Help!

  31. Leon Retief :

    @Breyten: ek kan nie altyd vinnig respondeer nie want ons is 8 uur agter SA tyd. Dit beteken dat almal in SA al in die kooi is teen die tyd dat ek tuis kom, en elke derde nag/naweek is ek aan diens vir noodgevalle wat dikwels tot gevolg het dat ek glad nie by Versindaba uitkom nie.

    Ek stem saam dat min hedendaagse psigoanaliste hulself sien as “natuur”wetenskaplikes, alhoewel daar tog enkeles is wat sy teorieë op neurobiologiese gronde probeer bewys – met min sukses moet ek byvoeg. Enigiemand wat die “talking cure” gebruik om iemand te behandel is nie noodwendig ‘n natuurwetenskaplike nie (net soos mediese dokters nie natuurwetenskaplikes is nie) maar wanneer sulke terapeutiese modaliteite aangewend word dan moet daar ten minste goeie “evidence-based” (weet nie wat ‘n goeie Afrikaanse term is nie) studies te bestaan wat kan toon dat daar empiriese bewyse is dat die metode in ten minste sommige gevalle suksesvol is. In hierdie opsig het psigo-analise en die mediese wetenskap dus iets in gemeen. Daar bestaan egter geen sodanige studies nie. In hierdie opsig is Freudiaanse teorie soos die Ingelse dit noem “evidence-free.” Ek praat nie hier van wat mens kan noem die “walking wounded” van psigologiese/psigiatriese probleme nie – sulke mense kan inderdaad ‘n helse klomp geld gaan spandeer om vir die jirre weet hoe lank op ‘n sofa te gaan lê en vrye assosiasie te beoefen om te vertel hoe sy fobie vir motorbestuur die gevolg is dat hy sy ma kaal gesien het toe hy ‘n klein seuntjie was. Ek dik nie aan nie, ek weet van so iemand wat sulke vrae deur ‘n analis gevra is. Gelukkig het CBT die probleem opgelos. Of: mens kan met ‘n goeie vriend/vriendin/eggenoot/eggenote gaan gesels – daar is inderdaad studies wat getoon het dat mens geensins ‘n analis vir sulke dinge nodig het nie, en dit het die bykomende voordeel dat mens dit oor ‘n paar glase wyn kan doen, wat ‘n analis waarskynlik nie sal toelaat nie .

    Voorts, een van die vele dinge wat psigoanalitiese teorie probeer doen is om tot ‘n mindere of meerdere mate ‘n uitlegging van die menslike psige te probeer gee. Mens kan onder andere dink aan die interpretasie van drome en die psigopatologie van alledaagse lewe. Freudian slips… Freudian flops sou ek sê. Dit is op sy minste ‘n vorm van neurobiologie en behoort as sulks beoordeel te word. Frank Sulloway het na deeglike studie van Freud se geskrifte en ook sy biblioteek tot die gevolgtrekking gekom dat Freud, sy protestasies tot die teendeel ten spyt, deurentyd opgetree het as wat mens kan noem ‘n “biologist of the mind” en dat baie van sy mees oorspronklike idees juis uit die teelaarde van die biologie gekom het

    Freud se metodes is nie juis bo verdenking nie. Grünbaum het aangetoon dat dit geen verband het met metodes wat in ander vakgebiede effektief was om betroubare, algemene en bruikbare gevolgtrekkings te maak nie. Mens kan byvoorbeeld maar net kyk na hoe die sogenaamde Oedipus-kompleks tot stand gekom het – dit is essensieël gebaseer op een ietwat twyfelagtige herhinnering van ‘n treinrit saam met sy ma toe hy was Freud was twee jaar oud was (as ek die ouderdom reg onthou), aangevul deur ewe twyfelagtige analises van kinders – analises wat mank gaan aan detail. Grünbaum het ook gewys op die probleem van kontaminasie deur die analis, dat dit min of meer onvermydelik is en ook dat enige suiwer, dws ongekontamineerde data (indien so iets bestaan) nie noodwendig die kausale verband het wat Freud daaraan toegeskryf het nie. Freud self het hom herhaaldelik hieraan skuldig gemaak: “The work [of therapy] keeps coming to a stop and they keep maintaining that this time nothing has occurred to them. We must not believe what they say, we must always assume, and tell them too, that they have kept something back . . We must insist on this, we must repeat the pressure and represent ourselves as infallible, till at last we are really told something . . . There are cases, too, in which the patient tries to disown [the memory] even after its return. ‘Something has occurred to me now, but you obviously put it into my head’ . . . In all such cases, I remain unshakeably firm. I . . . explain to the patient that [these distinctions] are only forms of his resistance and pretexts raise by it against reproducing this particular memory, which we must recognise in spite of all this”.

    Ek is in Kanada, SA en tot onlangs in Engeland geregistreer. As ek in my eie vakgebied iets ekwivalent hieraan sou aanvang en die betrokke outoriteite vind dit uit sal ek van die rol geskrap word, en ek sal dit verdien.

    Sulloway, Esterson, Crewes an Webster het aangetoon dat Freud se gevalstudies nie betroubaar is nie, die mite wat in die psigo-analitiese literatuur bestaan ten spyt. Ek vergeet nou die presiese kwotasie en ook wie dit gesê het, maar dit kom daarop neer dat Freud begin met ‘n waterdruppeltjie waarnemings en eindig met ‘n hele vertrek vol stoom. Sela.

  32. Leon Retief :

    Askies weereens, lyk my elke keer dat ek die “send”-knoppie druk dan val iets my by wat ek nog wou gesê het. @Desmond: jy skryf: “Mense wat die gevalstudies, soos die van Dora, ernstig opneem, bring vandag nog teoretiese veranderinge op grond van verdere waarnemings en intepretasie.” Dalk verstaan ek jou verkeerd, maar as jy bedoel dat Freud se oorspronklike gevalstudies herbesoek word dan moet ek wonder of dit van enige waarde is. Dis ekwivalent aan die langafstand psigologiese profilering van Hitler, Stalin en andere tydens WO2, en Mao en andere daarna – profilering wat gedoen is sonder dat die betrokke persoon eers gesien is, laat staan nog enigiets anders. Maar let asseblief op dat ek jou dalk verkeerd “lees.”
    Ek is nie bekend met van Hauten se boek nie, maar as hy van Freud se gevalstudies gebruik gemaak het… wel, ek wonder net. Dan is my opmerking hierbo ook van toepassing.
    Joan is natuurlik korrek wanneer sy sê dat drome meer as een interpretasie kan hê. Wanneer Freud en Zizek egter dieselfde droom so wyd uiteenlopend uitlê, sonder dat mens enige rede(s) kan vind waarom een interpretasie bo die ander verkies moet word (in hierdie geval dink ek kan mens nie albei interpretasies aanvaar nie) dan moet mens ook begin wonder.

  33. Desmond Painter :

    Leon, weereens, ek is nie ‘n psigoanalis nie, maar die CBT- en “evidence based”-aanvalle op die psigoanalise berus op soveel onbeholpe en moedswillige misverstande en vertekeninge, mens kan nie anders as om te protesteer nie (jou uitbeelding van wat in psigodinamiese terapie gebeur, tsv van die anekdotiese “bewys” waarop jy jou beroep, is gewoon nie korrek nie). Wat meer is, die hele verskuiwing na ‘n kognitief-gedragswetenskaplike model in die psigologie in die VSA vind nie buite ‘n ideologiese konteks plaas nie, en die bloot kennisideologies nie; dit is nie so onskuldig as ‘n skuif van “evidence free” en “evidence based” nie. (En “evidence” is self ook nie onskuldig nie: dis hoeka die CBT-manne wat so lustig deelneem aan “ondervragings” in plekke soos Guantanamo Bay; “evidence based” national security…) Groot dele van die CBT, met hulle maklik kommodifiseerbare, ‘manualized’ ABC-modelle van psigiese prosesse en intervensie (‘structural adjustment programs’ vir die siel!!), is myns insiens self pseudowetenskap; in my eie departement is hulle soooo gretig om hulleself “wetenskaplikes” te noem en die department uit die lettere na die mediese fakulteit te verplaas. Vir hulle is die bestudering van kuns, letterkunde en filosofie vir jong sielkundiges nie ter sake nie; jy het biologie en ‘n skitterende Amerikaanse glimlag nodig. As daar wel iets oor die menslike kondisie te s^e is, beroep ek my eerder dan op Freud, Marx en Kafka as op Albert Ellis, Aaron Beck en Dr Phil.

  34. Desmond Painter :

    NS. Hier by ons in SA word die sielkunde dus ook vinnig veramerikaniseer: dit gaan oor individuele terapie binne ‘n toenemend geprivatiseerde geestesgesondheidstelsel. Ekonomiese mededinging vir beheer oor marksegmente word dikwels verdoesel as epistemologiese debatte; eintlik is die CBT se “evidence based” retoriek maar net nog ‘n bemarkingsstrategie vir hulle “manuals”. En hulle verklaar nie net oorlog teen die psigoanalise nie, maar teen enige alternatiewe benadering tot hartseer en verlange: van joga tot Breyten se Boesman droomanalise!! Of hulle inkorporeer dit deur vervlakte verwestersing, soos CBT maak met elemente van Boeddhisme in hulle “mindfulness” benaderings. Ek wil eintlik nie vir Freud verdedig in hierdie verhaal nie; ek wil eerder die hele individuele terapie industrie en die globalisering van Amerikaanse psi-tegnologie met ‘n Molotov cocktail bykom! 🙂

  35. Leon Retief :

    Vroegoggend voor ek gaan werk: Desmond ja, dalk moes ek nou nie die staaltjie oor CBT bygesleep het nie want dis ook nie noodwendig ‘n alternatief nie. Of nie altyd ‘n alternatief nie. En ek is dit met jou roerend eens oor die ganse mediese/psigiatriese/psigologiese opset in die VSA. Wat is “vertekening”?

  36. Breyten, ek neem aan jy het Die President se opmerkings oor “clever blacks” gesien. Maak die bloed koud.

  37. Desmond Painter :

    Leon, ek het met ‘verteken’ bedoel: vervorming, distorsie. Ons moet ‘n slag oor musiek praat, sodat ons kan saamstem… 🙂

  38. Ja, Desmond, ek mis julle gesprekke oor musiek. Daarsonder regresseer ek tot sentimentaliteite soos die Maanligsonate.

  39. Desmond Painter :

    Andries, ek kry hierdie jaar glad nie my draaie nie; ek luister skaars ordentlik (en ordentlike) musiek, wat nog van tyd kry om te blog. Die helfte van my nagraadse studente wag ongeduldig vir terugvoer wat laat is; redakteurs van joernale en boeke stuur krappige navrae per e-pos; en die universiteit verwag al hoe meer sinnelose papierwerk… En dan wil julle mense nog stry oor Freud!!! 😉

  40. Desmond, ek ken daai situasie van die krapperige navrae goed. Om Paul Riekert aan te haal:

    Hier sit ek alweer in kakstraat,
    alles lyk tog so bekend.
    Ek ken elke mens hier persoonlik,
    ek ken elke kraak in die sement…

    Van musiek en Paul Riekert gepraat, hier’s ‘n baie, baie mooi nuwe een van hom (“Laaste braai op Rooijakkalsdraai”): http://www.youtube.com/watch?v=b6LB5hYpgog

    Sterk Koos du Plessis invloed, dink ek.

  41. Buiteblaf Breytenbach :

    Andries: Nee, ek het nie die verwysing van Zuma opgetel nie – darem seker nie ‘n selfverwysing nie; ek sukkel hoeka om by die clever whites verby te kom, wat nog te sê van clever blacks! Die blote gedagte maak my sommer klewwerig. Maar baie bly om te sien jy en Desmond stuur die gesprek terug na veel meer konsensuele bane en snitte. Ek was al amper rasend reg vir psigoanalise, en dit seker seker sonder die pyndoder van ‘n soetigheidjie soos Cohen in die ore. Of het die kopkwakke intussen iets aangeleer by die tandartse?
    Groete!
    (Desmond – al manier om daardie studente gerietkluit te kry is om hulle te vra wat hulle al ooit vir Boland rugby gedoen het.)

  42. Breyten, hier is dit:

    http://www.citypress.co.za/Politics/News/Zuma-scolds-clever-blacks-20121103

    Hiervoor het ek meer as ‘n dosis L. Cohen nodig!

  43. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie vir die aanstuur, Andries. Of liewer – dank jou die duiwel.

    Oy veh. Hierdie idioot is so ‘tradisioneel’ soos Hitler. Of Idi Amin.

    Sterkte

  44. Leon Retief :

    Ag wel, sulke redenasies kan interessant wees en mens kan selfs nuwe dinge leer ook. Ek meen, ek het ‘n nuwe woord geleer: vertekening… Nou soek ek net ‘n geleentheid om dit te gebruik 🙂 @ Andries: ken jy die Kronos kwartet?

  45. Desmond Painter :

    Leon, ek is mal oor sulke (ongedissiplineerde) redenasies; net jammer mens kan dit nie eerder om ‘n tafel met kos, goeie wyn en woeste handgebare voer nie… Hierdie virtuele samesyn is werklik darem ‘n vertekende vorm van egte sosiale verkeer!

    Ek het die musiek van die Finse komponis Einojuhani Rautavaara (geb. 1928) onlangs ontdek. Een van sy nuutstes, “Incantations”, ‘n concerto vir perkussie instrumente, is my opname van die jaar, ongetwyfeld. Sy koormusiek is ook indrukwekkend.

    Snaaks dat die Finne soveel goeie komponiste lewer.

  46. @Leon. Ek het lank gelede hulle “Pieces of Africa” van ‘n Amerikaanse vriendin/kollega ontvang.

  47. Desmond Painter :

    Die Kronos Kwartet het onlangs komposisies van Bryce Dessner opgeneem. Hy is naas sy loopbaan in klassieke musiek (komponis, musikant en feesorganiseerder) die kitaarspeler in die rock groep The National. Hier doen hulle say “Aheym”; ek hou baie van die frenetiese intensiteit daarvan:

    http://www.youtube.com/watch?v=1Re4lgVCwGg

  48. Dis lieflik. Ek gun die tjellis sy oomblik van rus na die einde toe. Desmond, so van The National gepraat, hulle het juis ‘n liriek met die titel “Anna Freud”. Dalk het ons al hieroor gepraat? Dis die laaste een op hulle eerste plaat. Ek sukkel nog altyd om die liriek klein te kry. Dalk gaan dit oor die kindersielkundige in Anna Freud? ‘n Kinderskoonheidskoningin wat nie aan haar dominerende ouers se verwagtinge kan voldoen nie? Daar’s gereeld kruisverwysings na elders in The National se lirieke – soms nogal obskuur. Dalk stem hulle maar net saam met Breyten en Leon oor die (gebrek aan) waarde van/in psigoanalise! Ek het die Anna Feud-liriek op die web gaan haal – daar mag foute in wees:

    Everyone is watching
    but nobody is watching for you
    I don’t wanna turn it on
    it only makes me sad for you
    I know you can play piano
    that was just a talent show
    I’ve never known you like I know you
    I never wanted you to go

    You’re on the rocks in a two-piece suit
    the dead location of the dying suit
    you gave Lawrence a big salute
    Texas brought them to their knees
    Indiana pushes you on the stairs
    your independent declaration sounded too much like a prayer

    But I’ll wake up and wait there for you
    I’ll wait there for you

    Anna Freud
    no confidence in Anna
    Anna Freud

    Remember what they said to you
    Everyone will know us now
    we love you babe, you make us proud
    don’t come home without he crowd
    Don’t come back to long this town
    we always knew you’d let us down
    Don’t come back without the crown

    Anna Freud
    no confidence in Anna
    Anna Freud

    But I’ll wake up and wait there for you
    I’ll wait there for you

    Hier’s dit op YouTube (net klank):

    http://www.youtube.com/watch?v=WPQ0ok-R1Wk

  49. Leon Retief :

    @Desmond:, ja, ek stem. Hopelik kry ons nog eendag kans om van aangesig tot anagesig te gesels. Ek hou ook van Rautavaara se musiek.
    @Andries: dalk vind jy hierdie skakel oor die dowe perkussionis Evelyn Glennie interessant:
    http://www.youtube.com/watch?v=IU3V6zNER4g&feature=related

  50. Leon Retief :

    Nog ‘n laaste byvoeginkie tot die Freud-debat. Ek kry onlangs ‘n klein boekie in die hande “Bookstore Lore” deur iemand wat in ‘n boekwinkel in San Francisco werk of gewerk het. Daarin vertel hy onder ander van iemand wat kom vra het vir Freud se “Civilization and its Discotheques”…

  51. Leon, dit is baie snaaks!!

  52. Andries

    Van nou af gaan ek jou “die maer man met die marmertrap” noem.

    Groete
    Jo

  53. Jo, ek hou veral van die “maer”!

  •