Andries Bezuidenhout. Somer III

Vandag is Guy Fawkes-dag. Dis ook Koos Kombuis se verjaarsdag. Vir die geleentheid een van sy gedigte, uit die digbundel Die geel kafee:

VRIEND

ek verlang na jou
vriend
skaduwee meer reëel as rots
wentelbaan van vrede
Godgegewe lied
waarvan ek soms die wysie vergeet
veral tydens die petit mals
van niksseggende transaksies
en die reise agter die skerms
met arms vol kruideniersware

vriend
die winter kom onvermydelik
die lamppale word ryp soos gebede
die lig gaan kop toe
die vrede duisel
ek dra jou in die sak van my leerbaadjie
en reik na jou soos na sigarette
soos na die onblusbare vlam
wat weier om te sterf
onder jare se debris.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •