Desmond Painter. Sondagmiddag [eerste weergawe van ‘n nuwe gedig]
Sondagmiddag
die ruïne waar ek en jy rondkrap
een Sondagmiddag, lustelose honde, na
die middagmaal (die mense slaap in die huis)
oplaas moeg gebaklei, versigtig in die woorde
wat ons kies, tingerige sinne, geluide eintlik
maar om mekaar oor stilte se rand
te help, op so ʼn Sondagmiddag, die ruïne
op julle plaas: ag, ʼn blote bouval eintlik
ʼn huis sonder herinneringe, net fondasie
en halwe mure wat nog staan, jare gelede
al tot toeval en stof gedaan: tussen
klippe vind ek die geraamte van ʼn akkedis
en wonder of ek en jy dan so voorspelbaar
soos ʼn Afrikaanse gedig is, en jy maak
ʼn stok tussen ʼn paar bakstene staan:
dit was seker ʼn vuurmaakplek
ʼn oorstaanplek een nag
skaars wegkruipplek
Desmond, jy moet nou maar ophou huiwer en publiseer. Ek hou van hoe jy met vorm speel om die idee van ʼn voorspelbare Afrikaanse gedig te ondermyn: die herhaling van “eintlik”, die eindrym van “vuurmaakplek” en “wegkruipplek” en dan die verdoesel van ander rympatrone (byval/ toeval, staan/gedaan, akkedis/gedig is) deur reëlbreuke. En nou laat ek dit analities en koud kink. Die gedig vat aan die hart.
Baie mooi. Wat van:”so voorspelbaar
soos ‘n Afrikaanse liefdesgedig is…”
dan werk jy die hele tradisie van die Afrikaanse liefdesgedig in wat alte dikwels oor afsegging of onvervuldheid handel.
@Andries: dankie, jy’s baie gaaf… maar ek moet nog skaaf!
@Joan: dankie, dis ‘n sinvolle voorstel; I’ll take it!
Die beste wat ek nog van jou gelees het. Maar ek dink jy moet ‘Afrikaanse gedig’ net so hou want dit is juis jou omringende fokus – die ganse genre, die hele ou spul.