Desmond Painter. Miskien sal ek die wingerd prys…
Sondag op Stellenbosch. Ek sit en worstel deur die koerante. Ek lees berigte oor stakings, opstande en geweld op Bolandse plase en in Bolandse dorpe. Dit tref my – en miskien is ek onregverdig, maar dit is hoe dit op so ‘n Sondagmiddag vir my lyk – hoe maklik dit is om lofsange aan wyn en die natuurskoon van die Boland in die Afrikaanse digkuns te vind, terwyl die onderdrukking, immiserasie en maatskaplike weerloosheid van plaaswerkers in die streek oor die jare eintlik maar weinig neerslag gekry het in ons poësie…
Kyk jy na die Boland kyk deur die wasige lense van die Afrikaanse digkuns, is dit wat tans aan die gebeur is, die werklikhede van die sosiale verhoudinge wat hier geld (en ontgeld), eintlik onvoorstelbaar. Miskien is dit juis die ideologiese funksie van die Bolandse streekspoësie? Dit herinner my nou meteens aan hierdie reëls uit Barend J. Toerien se fantastiese gedig, ‘Johannes die Digter’, uit 39 Gedigte (1963):
Uit: Johannes die Digter – Barend J. Toerien
[…]
Want hy was fyngevoelig
en ‘lief vir die natuur’.
Hy wy sy aanleg om aan
sy taal te skuur en te skuur
en te treur oor Romeinse wreedhede,
conquistadore en Atilla sʼn,
oor Hongarye, en Troje
se verontregte koningin.
Maar kom hy tot ʼn vergelyk ooit
oor Sekukuni- en Pondoland?
Dié vraag bly hom onbekend:
dit was die opposisiekoerant.
Nie dat ek vinger wys nie. Die slotstrofe van Toerien se gedig is eweseer toepaslik, en slaan ewe seer:
Dis maklik om Johannes
so effe te hou vir die gek.
Die bitterheid is dat ek hy is,
en hy, Johannes, ek.
Desmond, dit is ‘n groot onderwerp wat jy hier by aansny … En hoe tragies dat Barend Toerien eintlik (nog) nooit na waarde geskat is nie. Gewis was hy sy tyd ver vooruit.
Nietemin, hieronder volg ietsie-in-wording vir jou sardoniese plesier.
Louis
***
Want in die afwesigheid van berge
word die horison met die harde potlood se rubberkant
uitgewis. Word dit ’n letsel waarop elke
bos en klip
ingeskryf staan
elke wolk by elke rivier
of spruit
soos in die vallei van doodskaduwee
waar hulle klippe pak op die N1 by Touwsrivier,
met jillende stok en kierie betoog
teen die stof wat opgedam in die waterkraan
net armoede lek
in uitgehongerde borde.
Ja, langs die donga se doodskaduwee
stapel hulle motorbande brandend in die pad
van noodvoertuie, swerm skeltaal
soos klippe om munisipale werkers
in die byekorf
van hul nagelate besoldiging,
stroom stakers deur die myne se spergebied
op koers na die keerwal van polisie
en lykshuis,
word standbeelde in openbare plekke
tot die voet toe afgebreek,
skilderye in kunslokale met verf besmeer
asof dit ’n skandmuur is
vir die beloofde groen weivelde
by waters waar rus is
van nou af tot in ewigheid.
Want in die dal van doodskaduwee
breek die son sku deur die kombers van
rook en roet
bo die sinkplaatbuurtes
van hul wanbesteding, sterf mense
sonder sorg of heenkome
in hospitaalgange
om ander name ontwil
stok en staf sal voorsien word
en so ook die vrees
vir die lengte van al jou dae.
Louis, dankie. Jou vers-in-wording (wonding?) is baie kragtig. Debatte oor “betrokke letterkunde” kan steriel, moralisties en voorskriftelik raak, maar ons moet darem seker probeer soek na maniere om die verbeelding uit te brei, om ook die “sonder sorg of heenkome” van ons land te verwoord soos jy in jou gedig doen. Ons leef in ‘n waansinnige, gewelddadige tyd; watter soort poësie sou dit kon ignoreer? Maar hoe verwoord ons dit? Die vraag sluit ook aan, dink ek, by Andries en Breyten se gesprek oor morele agentskap en die etiese verbeelding in die fassinerende onderhoud vanoggend.
Naskrif: ja, Toerien word steeds onderskat. Verstaan nie waarom nie; sy werk is briljant, van die vroegste bundel regdeur tot die laatverse. Ek is ‘n groot fan.
Desmond, dit lyk mos vir my of Barend Toerien vir N.P. Van Wyk Louw bykom. Wat dink jy? Indien wel, het Barend doelbewus vergeet van Louw se “Nuusberigte: 1956”.
Dan is daar natuurlik ook Barend se manjifieke gedig “Steenwerp se bruinmense” wat so begin: “Diep onder die wingerd l^e ons, Steenwerp se bruinmense”.
Daniel, ek het ook gedink daar word spesifiek houe gemik na Van Wyk Louw — die dat ek ook my titel by laasgenoemde gesteel het. Jy is natuurlik reg oor “Nuusberigte: 1956”; en “Steenwerp se bruinmense” is inderdaad ‘n uitstekende argument teen dit wat ek hierbo aanvoer (“maar al wil ons ook lag, / is niks meer snaaks genoeg nie.” Eisj.). Daar is seker baie ander voorbeelde ook. Nogtans… die Boland is verleidelik mooi, te maklik-mooi dalk; hoe rym mens die “Boland” van die afgelope paar dae se koerante met die “Boland” van die Afrikaanse poësie?
Kaap die Goeie Hoop : 1976
Bedag
Op jou kleure
Geure en tale
Dwaal ek
Snags
Jou ou stiltes ín
Hoor:
Bronskloppers teen herehuis-deure galm,
Statige stad- en kerkhorlosies
oor gekeide pleine metronomies tik,
Hoe die see aan jou some kan sis.
Tussen Buren, Oranje, Leerdam, Katzenellenbogen en Nassau
Skreeu mý erfenis gefolterd uit:
Ek is ‘n Afrikaan!
Maar wanneer die nagwagte se konkavuur
Voor die Burgerwaghuis
hul swart skadu’s
Teen die wit muur laat poppiedans
En Langa en Nyanga
-son en maan-
Uitreik na jou keisteenhart
om húlle erfenis op te vra,
Klap knuppels en sambokke
teen koppe en lywe
Klap skote teen sink
teen steen
teen vleis
(‘n Trojaanse Perd
teen voetvolk?)
Dans Poppie dans
Die minuet
met ʼn geparfumeerde pruik
op die Kat,
Dan later…
(voetpad langs na Lady Anne se bad …)
ʼn Slaaf wat liggies tydhou in die Gat?
En daar is die invloed op die natuur …