Desmond Painter. Die Tye en Teenstrydighede van Jakes Gerwel

 

Jakes Gerwel 

Toe Media24 Jakes Gerwel se dood ʼn paar dae gelede (toe nog voortydig) gerapporteer het, was ek juis besig om te soek na sy boek Literatuur en Apartheid: Konsepsies van ‘Gekleurdes’ in die Afrikaanse Roman tot 1948. Die boek, gebaseer op Gerwel se doktorale proefskrif en in 1983 deur Kampen Uitgewers in Bellville gepubliseer, het ʼn enorme impak gemaak op die Afrikaanse literatuurteorie. Gerwel se studie was ʼn soort eiehandige oopskryf en aftakeling-van-binne van die ‘wit mitologieë’ (om by Derrida af te kyk) wat die vroeë Afrikaanse prosa gekenmerk het en daardeur gereproduseer is. Dit was, sonder dat ek van hiperbool beskuldig hoef te word, ʼn boek wat in ons kleiner Afrikaanse konteks ʼn rol gespeel het soortgelyk aan Edward Saïd se Orientalism internasionaal.

Ek het na Gerwel se boek gesoek na aanleiding van verdere gesprekke oor my blog verlede week oor die uitbeelding van wyn en wingerd in Afrikaanse gedigte oor die Boland. ‘n Mens kan nie eintlik ernstig oor die politiek van uitbeelding, van representasies, in die Afrikaanse letterkunde dink sonder om Gerwel se boek weer te gaan lees nie. Gerwel skryf: ‘Die romanvisie op gekleurdes as hoofsaaklik ruimtelike figure, dus deel van die agtergrond, is onder andere daaruit vas te stel dat in die meeste tonele waarin gekleurde karakters optree, hulle aanwesigheid deur een van twee tegnieke aangekondig word: óf die vermelding van hulle teenwoordigheid is ʼn sintakties ingemesselde deel van die milieu-beskrywende sinne óf hulle word voorgestel as deel van die blanke karakters se gerapporteerde waarnemings’ (p. 111).

Jakes Gerwel se politieke en akademiese geskiedenis voor 1994 is niks minder nie as fassinerende en indrukwekkend. Hopelik sal dit nou, met sy afsterwe, behoorlik in herinnering geroep word. In later jare het Gerwel wyer bekendheid verwerf as een van die Nuwe Suid-Afrika se hoogs (en met reg) gerespekteerde establishment-figure (met al die teenstrydighede wat hiermee gepaardgaan): as Direkteur Generaal van die Staatspresident (Nelson Mandela) se kantoor en in vele ander openbare posisies, kommissies en komitees. Gaan lees weer die rubrieke wat Gerwel vir etlike jare gereeld in Rapport geskryf het: hy het oor die intellek, gebalanseerdheid, en bedaardheid beskik om ʼn uitstekende openbare intellektueel (eerder as net nog ‘n dime a dozen joernalistieke ‘kommentator’) te wees.

Tog het ek Gerwel veral ná 1999 dikwels jammer gekry: sy rol as ʼn soort ‘party-intellektueel’, iemand wat homself in ‘n posisie van politieke ‘lojaliteit’ bevind het, het sy kritiese stem (myns insiens) by tye amper onafwendbaar aan bande gelê. Hy was gedwing om versigtig te wees; soms selfs apologeties. Behoort mense soos Gerwel te kon voorspel het wat van die ANC sou word? Tot watter derderangse bordello die kantoor van die President gereduseer sou word? Ek weet nie. ‘n Mens se gevoel is in elk geval dat Jakes Gerwel se persoonlike integriteit die morele verval van sy party transendeer. ʼn Mens sal hom dus as ʼn belangrike denker, iemand met ʼn kritiese en rigtinggewende verbeelding, onthou – en mis.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Desmond Painter. Die Tye en Teenstrydighede van Jakes Gerwel”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    Jakes Gerwel se “Literatuur en Apartheid: Konsepsies van ‘Gekleurdes’ in die Afrikaanse Roman tot 1948” het inderdaad baie daartoe bygedra om Afrikaanstalige letterkundiges anders na die ouer Afrikaanse prosa te laat kyk.

  2. Francis :

    Die nalatenskap van Jakes Gerwel is ryk en kompleks. Dit kan nie sommer so op ‘n hopie gevee word onder die noemer van “tye en teenstrydighede” nie. Indien wel, is daar ook ander denkers wie se bydrae so eenkant gevee en “bejammer” word. Waar laat dit ons?

  3. Francis, ek verstaan werklik nie hoekom jy dink ek wil Gerwel se bydrae “eenkant vee” nie. Om myself aan te haal: “‘n Mens kan nie eintlik ernstig oor die politiek van uitbeelding, van representasies, in die Afrikaanse letterkunde dink sonder om Gerwel se boek weer te gaan lees nie.” Ek wou juis die aandag vestig op die belang van sy akademiese en intellektuele bydrae vir die LETTERKUNDE, nie net die ander openbare rolle wat hy gespeel het en waaroor die koerante eerder berig lewer nie.

    Wat die “bejammering” betref: ek het dit spesifiek gehad oor die teenstrydighede waarin die “verbonde” intellektueel sigself dikwels bevind — veral wanneer die bevrydingsbeweging ‘n party word en die mag verkry. Daar is sekerlik voordele en nadele daaraan verbonde; mens sou Gerwel met vrug kon vergelyk met ‘n meer ‘onverbonde intellektueel’ (met betrekking tot die regerende party) soos Neville Alexander, ook onlangs oorlede.

    Ek probeer Gerwel geensins geringskat nie, maar die presidentskantoor waarvan hy DG was onder Mandela het baie verander onder Mbeki en Zuma; en hulle het hom geen guns gedoen nie. Gerwel was nie die enigste ‘verbonde’ intellektueel om homself in die moeilike posisie te vind van die onverdedigbare te moet probeer verdedig nie; of ten minste: dit versigtig te moet kritiseer nie.

    Ek dink groter afstand van die magsentrum sou hom in die laat 90s en vroee 2000s ‘n meer effektiewe kritiese stem gemaak het. Daarmee gee ek nie voor ons moet hom nou maar ignoreer nie. Dit is nogtans my opinie — reg of verkeerd.

  4. Francis, terloops, ek sien nou jou goeie stuk oor Jakes Gerwel op LitNet; lesers hier behoort dit te lees vir meer agtergrond by Gerwel se literatuurkritiese werk in die 1980’s. Fassinerende materiaal, daardie; vir my meer gedenkwaardig as Gerwel se betrokkenheid by bv. die Wereldbeker Kriekettoernooi.

    So baie van die tekste waarna jy verwys is uit druk of vergete. ‘n Groot jammerte. Kan LitNet Akademies nie tekste soos Gerwel se Literatuur en Apartheid (en baie ander) in elektroniese formaat argiveer nie? ‘n Plaaslike Project Gutenberg.

    Ons, veral in die akademie, het ‘n merkwaardig vergeetagtige verhouding met ons eie intellektuele geskiedenis in SA. Ek sien dit in die sielkunde: wanneer ons die studente histories orienteer, vertel ons hulle wat in die VSA en in Europa gebeur het. Nie dat Verwoerd ‘n PhD in sielkunde gehad het nie; nie dat sielkundiges ‘n groot rol in die Carnegie Commision se studies oor wit armoede gespeel het nie.

    Dit is juis ook waarom ek in my bloginskrywing die hoop uitspreek dat daar nou weer deeglik na Gerwel se werk gekyk sal word; nie net na sy rol as openbare figuur na ’94 nie.

    Die skakel na Francis se huldeblyk: http://litnet.co.za/Article/die-jaar-1983-drie-boeke-drie-denkers-in-n-drempeltyd

  5. Francis :

    Desmond, ek het groot waardering vir die uitbreiding van jou argument wat jy hier bo gee. Ek stem met jou saam oor die belangrikheid van die intellektuele geskiedenis – slegs teen so ‘n agtergrond kan die hedendaagse rol van die (on)verbonde intellektueel ingeskat word. Dankie vir die waardering van my klein bydrae.

  6. Francis, met die herlees van my inskrywing dink ek die woord ‘jammer’ gee die laaste paragraaf dalk ‘n onbedoeld neerbuigende toon. Wat ek bedoel het: ek het nogal groot begrip vir waarom sommige mense, ten spyte van hulle intellektuele statuur en morele integriteit, om historiese redes nie heeltemal wou/kon breek met die ANC nie. Onder Mbeki en Zuma moes dit egter al hoe moeiliker geword het om beide lojaal en krities te wees. Met ‘jammer’ het ek bedoel ek het nogal begrip vir hoe ‘tricky’ so ‘n posisie moes wees, veral die laaste dekade. Dit diskrediteer nie Gerwel en ander soos hy nie. Om die waarheid te s^e, dit herinner ons ook dat die ANC ook darem nog altyd meer was as bloot ‘n bende opportunistiese politici — daar was (en is?) ook in die ANC ‘n intellektuele geskiedenis wat nie sommer geignoreer kan word nie.

  7. Francis :

    Inderdaad Desmond – ek stem heelhartig saam met die laaste stelling: dat die ANC ‘n intellektuele geksiedenis het wat mens nie kan ignoreer nie.

  •