My suster se skoene
Ek leen my suster se suede-skoene
vir ‘n uitstappie
met my ouers en Tante
deur die Blyderivier-canyons.
My Tante, op besoek,
uit die Strand
met haar Bolandse bry.
Ek leen my suster se suede-skoene
vir die fynfamiliewals
met ‘n enigste blou-oogbroer,
glo as loods verongeluk
waaroor hulle murmureer
en hul pa word ‘n stilte-afgrond.
Ek leen my suster se suede-skoene
onwetend toe
hoe ek vir altyd die spoor
sou vat deur familie-dongas
roepend roepend verdwalend
na versakings, verstillings:
vlugtend vérvandaan.
© Joan Hambidge, 2012
En het jy nie ‘n mooi sussie nie, ek onthou ek het een aand langs haar gesit op ‘n gedigte aand by Tukkies. Ek was juis saam met my sussie daar. Lekker gelag en gesels en jy het van jou gedigte voorgelees.
Ja, hierdie tyd van die jaar dink mens maar aan familie. En is ook maar bly vir vryheid…
Heerlike gedig Joan! Die herhaling en dan klimaks van insig an afstand
Dis ‘n baie mooi gedig, Joan, wat die soek na herkoms en toekoms subtiel verwoord.