Philip de Vos. ‘n foto is ‘n foto is ‘n foto

Wat is presies die doel van my plek op ’n literêre blog? Is dit om allerhande slim dinge oor die letterkunde, veral oor die poësie kwyt te raak, of verval dit dalk later in ’n tipe Facebook inskrywing om te laat weet wat ek vanoggend vir ontbyt geëet het en by watter restaurant. En alles vergesel van ’n foto van die cappucino waarmee ek afgesluit het?

Oor die letterkunde weet ek bittermin en het ek ook maar bittermin te sê. En hoe ek vanoggend opgestaan het, skeel niemand nie. Maar, partykeer gebeur daar tog die klein dingetjies wat in my geheue sal bly staan.

So byvoorbeeld beland ek Saterdagoggend by ’n kinderpartytjie waar ek gevra is om foto’s van die kinders te neem.

Eers toe ek by die huis kom, kon ek die foto’s goed op my rekenaarskerm beskou. En nou besef ek ook hoe maklik alles fotografies gesproke geword het. In my leërs lê hope negatiewe van foto’s wat ek vanaf 1963 geneem is, en duisende wat nooit afgedruk is nie. Nou met die digitale-era word alles maklik, te maklik. Almal druk deesdae knoppies met hulle ditale kameras of ipads of selfone. En dis nie nodig om te veel te dink nie, want tenminste een van die 384 foto’s wat jy vanoggend geneem het, gaan hopelik goed wees en kan dan binne ’n minuut of wat deur e-pos in Ysland beland, maar omdat ek in die pre-digitale tydperk begin foto’s neem het, dink ek steeds voor ek die knoppie druk.

En toe ek op my rekenaarskerm die skape van die bokke moes skei, en besluit watter foto’s goed genoeg is om te hou en watter met ’n druk van die delete-knoppie die ewigheid ingestuur kan word, ontdek ek een foto wat volgens my oordeel maar so-so is. En tog, met die nader beskou, kom ek op iets af wat agter in die foto verskuil is, en glad nie was wat ek raakgesien het nie. My oog was slegs gemik op die seuns wat in hulle swembadsprong vasgevang is.

Die groter foto het ’n kleiner foto geword en ek het albei op Facebook geplaas. En ’n kort rukkie daarna was daar die opmerkings:

 

Party van ons is gebore “outsiders”. Ek was altyd die kind alleen in die skoolbib of onder n boom met n boek en nou nog by ‘n werkspartytjie bly ek vir die toespraak en maak ‘n duik. Maar daar was baie tye wat mens net wens jy kan inpas – wegsmelt in die “cool crowd” deelneem aan die spansport, ophou om soos ‘n puisie op ‘n vark se boud uit te staan. Hierdie outjie is dalk nuut in die buurt of iets maar ek dink hy gaan nog eendag bly wees hy is anders. Ek weet ek is! 🙂:-)

 

En iemand anders skryf: Was die verklaring nie dalk bloot dat hy nie sy swemklere gebring het nie?

 

Die ma by wie se huis die partytjie was, antwoord: Die liewe seuntjie was op my seuntjie se verjaarsdagpartytjie gister. Hy was absoluut fine, wou net nie swem nie. Het geweldig lekker met almal gelag en geëet toe hulle eers UIT die swembad is, so… sorry to burst your bubble! Hy’s eintlik ‘n geweldige sociable klein mensie, net nie in die mood vir die water nie!

En mý antwoord: Nee, ons bubbles is nie geburst nie. Ek dink nie ‘n mens moet vrae vra of te veel van die agtergrond weet nie en alleen die foto as foto beskou.

 

Later het ek gewonder: moes ek slegs die een foto geplaas het – die een wat binne-in die groter een verskuil gelê het?

En dit kan seker op die poësie of enige ander kunsvorm van toepassing wees. Moet ons werklik weet hoe Mona Lisa gevoel het en hoe Da Vinci gevoel het toe hy haar geskilder het en hoeveel beelde dalk nog onder die verf wegkruip.

As persoon het ek nog nooit te veel vrae gevra nie. Waarom moet mens álles weet van die werkprosesse van tegniese aspekte? Waarom moet alles ontleed word?

Miskien is dit beter om ’n bietjie dom te wees, want soos iemand êrens gesê het: A little knowledge is a dangerous thing.

Hierdie kindergedig van Walter de la Mare laat my so ’n bietjie dink aan die seuntjie by die verjaarsdagpartytjie:

THE WINDOW

Behind the blind I sit and watch

The people passing – passing by:

And not a single one can see

My tiny watching eye.

They cannot see my little room

All yellowed by the shaded sun,

They do not even know I’m here;

Nor’ll guess when I am gone.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •