Selfportret, deur Lucian Freud
Lucian Freud, ‘n selfgesprek
“I want to paint work as flesh”
I
Alles wat ek skilder
vir selfgebruik en plesier.
Niks ontglip my priemende blik nie,
alle vlees word verf.
Net dit wat buite die skildery se raam
bestaan, word my soektog,
met onverdrote ywer,
spits beskilder
asof, asof
dáárdie objek ook ek
sou kon wees. Die smakkende lyf
van ‘n oorgewig vrou,
‘n onwennige meisie met haar hond
wat haar bors vir die kyker (en my) wys,
naakte vrou teen omsingelende lakens,
lieflike, kaal Kate Moss;
ja, dit alles is die storie-van-my-lewe.
Woedende portrettis dié is ek,
nes Francis Bacon,
met elke kwashaal val ek die doek aan
dis ek, dis ek, dis ek…
woekerend met verderf.
II
Telkens maak ek my kwas skoon
vir die helder besinning
om iemand anders mý te maak.
Kom sit aan my voete,
luister na my verhale
sodat ek jou kan vertel wie jý is.
Om te skilder, is om te veg
met jouself, en gots ja,
en jou familie
wat oor jou skouer loer
en jou kunswerk mag bederf.