Neels Jackson. Guernica
Guernica. Picasso
Guernica
(vir Danie du Toit)
geluidlose gille klief deur die doek
soos die speer deur die romp van die perd
uit die brandende stad reik arms
hulpeloos omhoog
soveel monde sper hemelwaarts oop
dié van ‘n vrou soos die moeder van jesus
met ‘n dooie kind op die skoot
die brokstukke van ‘n soldaat
met die meester se wond in sy hand
die struikelende swanger figuur
die ros aan wie se sy ‘n christuswond gaap
selfs die duif wat vrede nie kan sing nie
die draer van die vlam van vryheid
het ‘n spook geword
bo alles hang ‘n brandbom soos ‘n doringkroon
in elke verminkende aanval
guernica dresden hirosjima marikana gasa
speel ‘n kruisiging opnuut weer af
word god vermoor
maar iewers onopsigtelik onder pablo se protes
begin iets soos hoop weer blom
soos ‘n opstanding