Skildery (kat) deur Louis Wain (1860-1939)
Skisofreenseun
(opgedra aan Clive)
Vanoggend dryf die bure se seun alweer duiwels uit
uit die klein marmer maagd in haar nis bokant die kaggel
uit die twee persiese katte en die groot gele wat koggel, geeste
uit die wasgoed wat blêr in die wind, uit die waaierpalm
en die bose grasperk, uit sy ma met haar smekende mond
gespanne in die deur, uit kinders op pad na die openbare
swembad; die bure se pas mondige studenteseun werp
duiwels uit met sy demone van binne na buite, sy stem
dryf teen die mure van die somer uit, dryf verby my
kamervensters en ons skoorstene, dryf uit bokant kerktorings
en die koffiefabriek, die bure se slim seun dryf in desember
na daardie hoë hotelkamer in durban, na die oop balkon
bokant die esplanade, hy dryf vanmore reeds uit na die twaalfde
verdieping waarvandaan hy sal spring voor sy ma se grypende arms
hom kan keer, die twaalfde verdieping waarvandaan hy sal dryf
na die stemme van engele en duiwe en die wappering van vlerke
waarvandaan hy uiteindelik sal vry word, vry van die swaarte-
krag van die skewe aarde wat so volhardend aan skerwe tol
Die bure se seun dryf weer duiwels uit en in die katte se ore wapper die vlerke
van engele wat vlieg in die katte se ore koggel die vlerke van engele wat vlieg en
die skuins aarde draai na sy einde toe draai die hooggespanne moeder se mond
pleit soos die dun pote van duiwe smeek oor die wasgoed oor die waaierpalm
die grasperk is ʼn duister baai skree die seun vanoggend siedend skree skewe
beswerings oor die wit maagd maria bid dol maria versteen in koel marmer
Die ore van engele met wankelende hande draai
want die sidderende katte dryf teen die mure uit
en vlieg is te hoog vir wapper en die gebede sweef
skeef die geeste buig die maagd se mond om en oop
sy was sy moeder sy was sy is maar sy vingers blêr
nou in die wind oop sy dun vingers blêr in die bure
se seun besweer alweer die duiwels in die katte
se ore bewe die vlerke van duiwe in die katte breek
die kerktorings en die koffiefabriek wat uitreik in die nag
terwyl die hoë dakke bewe stap hy na die onbeskermde
balkon en die winkende esplanade en iewers fladder iewers
die vlerke nog veilig bokant die grond is sy dun stem ʼn staf
wat die weg aanwys sy stem wat soos gebreekte ruite sny
hoekig soos glas wat wag op ʼn grasperk onder sagte blare
sy stem is bloedig soos die marmer bloedig soos maria
in die katte se ore uitgeban in die katte bloei die duiwe sidder
in die vlerke van die seun in die katte se ore sidder engele