(k)not a book. 2009
Ek het nou al vir die hoeveelste keer hier woorde getik, net om hulle weer uit te vee. Dit is deesdae my neigings: die uitwissing van woorde. Nee, nie eintlik deesdae nie – dit kom al ‘n lang tyd aan, maar onlangs het ek ontdek dat daar eintlik ‘n erkende term daarvoor is: “Erasure poetry”.
Wat sal ‘n mooi poëtiese Afrikaanse terme daarvoor wees?
“Erase”: uitwis, uitvee, rojeer, deurhaal, skrap, uitkrap, radeer, uitvlak?
Dit is wat die tweetalige woordeboek sê, maar wat seg die digters?
Dit is vreemd hoe ʼn mens kan verdwaal in woorde. Die interweb is die perfekte plek om te verdwaal. Dit het sekerlik alles begin by Yoko Ono→ collage poetry→ Twaikus→Miniatuur gedigte→ Gwarlingo→Mary Ruefle→William Burroughs →Tristan Tzara→ TS Eliot se Waste Land, wat blykbaar gedeeltelik bestaan uit aanhalings uit die Bybel, Bram Stoker, Ovid en die Brihadaranyaka Upanishad, Shakespeare, Whitman ens. ( Ek het self nog nie The Waste land gelees nie, maar is nou dodelik nuuskierig.) Daaarna lees ek oor Thomas Jefferson wat gedeeltes van die Bybel uitgesny het met ʼn skeermeslemmetjie en die versies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes herrangskik het om ʼn enkele storielyn te vorm; asook Tom Philips se Humument

Dit alles het nie noodwendig so gevolg op mekaar nie. In die vervolg sal ek graag broodkrummels of iets wil strooi soos ou Hansie om my pad weer terug te vind. Hier staan ek wraggies en ontken myself. Van uitwissing tot broodkrummels strooi. Nee wat. Geen wonder my standerd 1 juffrou het vir my pa gesê: “Hierdie kind se kop is vol muisneste”.
Om terug te kom by die uitwissing van woorde…..Die bogenoemde het alles min of meer tydens die 16de Desember gebeur. Ek was toe vuur en vlam en kry die boek “Geskiedenis van Suid Afrika” in die hande. Die muse het kom kuier.

Ek het klaar die bladsy reg, ʼn naald om die woorde van geskiedenis weg te krap, todat my man vir my vra of ek my skoonma se toestemming het, want sien: dit is haar boek.
Sy weier dat ek haar boek verniel, want sy wil hom weer lees.
Daar gaan my poging tot uitwissing en die res is alles geskiedenis, of is dit….?
Ek wend my pogings met uitwissing na Engels, met die pragtige boek: ‘Woman, Wedlock and the World” en besluit sommer om dit te “twaiku”: (elke dag plaas ek ʼn bladsy op twitter) of dit geslaag is weet ek nie.

Ek twyfel of ek dit ‘twaiku’s’ mag noem, want dit voldoen nie juis aan die reëls nie, maar nou ja.
Twee dae gelede kry ons toestemming om in die motorhuis deur skoonma se ou kinderboeke te gaan (sy was ʼn pre-primêre onderwyseres) Daar het ek talle wonderlike boeke gevind asook vernieldes, geknaagdes en sommige bladsye kwyt .
Hier is my kans om Afrikaanse woorde uit te wis in ʼn poging om iets poëties te skep.
Dankie dat jy die stuk gelees het Marthe. Ek moet bieg dat dit in die begin moeilik was, maar nadat die uitwissing in volle gang was het dit n genotvolle speletjie geword. Nou is ek heel moontlik verslaaf.
Ek het baie lekker gelees aan hierdie stuk. Geniet die uitwissing. Dit lyk na pret.
Dankie Marlise, dit is so lekker om met woorde te speel. Ek hou van jou stelling om geskrapte woorde op n hopie te gooi- kan net indink hoe mooi dit kan lyk! Wat muisneste betref: dit het my altyd gepla todat ek besluit het om dit te ’embrace’ want daar is niks so lekker soos n kop vol muisneste 🙂
Hannalie, dis ‘n genotvolle stuk om te lees/na te kyk! Uitwissing vir die digter is byna sinoniem met ‘kill your darlings’. As ek al die reëls en woorde wat ek al uit my eie gedigte geskrap het en op ‘n hopie gooi, sal dit sekerlik ‘n paar bundels volmaak. 🙂 En daardie opmerking van jou st 1 juffrou van ‘muisneste’ het ek regdeur my skoolloopbaan gehoor – veral in die hoërskool: “het jy alweer muisneste?”, “jy is ‘n dromer”, “hou op om na die berge buite die klas te wil staar”, “jy speel alweer kitaar op die telefoondrade ipv te weet wat in die klas aangaan”, “hoekom teken jy prentjies in jou opstelboek?” ens. ens.
RT @versindaba: Hannalie Taute. Die uitwissing van woorde: Ek het nou al vir die hoeveelste keer hier woorde getik, net om hulle… htt …