WOORDFEESHEMEL 2013
Die Woordfees was ’n klein-klein voëltjie,
‘n fladdergiertjie in die nag;
maar dertien somers later
sprei ‘n feestelike voël
sy vlerke teen die hemel
tot elke klank en woord
’n fluit word in die feesakkoord.
Die maand is Maart,
die akker gooi sy poorte oop;
die kunste bied ’n toegangskaart,
laat val ‘n veer waar alles spel is
op die dorp se groot verhoog.
Die Erfurthuis staan stomverbaas:
die dans raak al hoe kwater
en die soetste bekkie water.
Die Woordfees word ’n fopdoskarnaval
wat jou op wolke van verbeelding
inkring tussen sterre en die kunstehemel.
Plak vas jou vlerkies, maak jou bolla los
en bring jou harp na Stellenbosch;
maak selfs die duiwel wys hy’s welkom
want die feesgeheim is samesyn.
Hemels so ‘n tyd van somerdromery
as gedagtes vrug word onder eike
in ’n suidelike paradys.
© Zandra Bezuidenhout
(‘n Fragment van hierdie gedig is voor in die Woordfeesbrosjure vir 2013 geplaas. )