Las Dos Fridas [Die twee Fridas], Frida Kahlo (1939).
Museo de Arte Moderno, Meksikostad
ek neem haar naam
ek neem haar naam in my mond
om my die vrankheid van ’n lewe
in spaans te verbeel proe die brandende woorde
en soet wonde van ’n helleveeg
diego rivera se derde vrou
bedônnerd van pyn aan’t verf in haar kombuis
opeens oorval deur musiek
uit ’n ander ryk
ek breek uit in bloedsweet
hart klop buite my lyf
sny my los
van die ander frida
slaan my
tot beskermheilige
van krankes, kinderloses
en masochistiese
saligheid.