Desmond Painter. Barcelona digters: Anna Aguilar-Amat

Anna Aguilar-Amat

In Februarie vertrek ek op ‘n kort akademiese reis na Barcelona. Ek sal net vir ‘n week in die stad wees, maar hopelik sal daar benewens akademiese ginnegaap darem ook tyd wees om… wel, sommer net rond te loop. Ek is nie ‘n ‘goeie’ toeris as dit kom by museums en monumente nie; ek drentel eerder, ure aaneen, deur die strate — veral as ek op my eie is. Daar is niks lekkerder as om ‘n dag so aan sigself oor te laat nie, in ‘n ander ruimte en op ‘n ander ritme as wat jy (te goed) ken. ‘I walked a thousand miles just to slip this skin’ (Bruce Springsteen). Ek was laas in 2006 in Barcelona; toe was dit hoogsomer, nou sal dit winter wees.

Ter ‘voorbereiding’ het ek op die internet begin rondkrap vir artikels oor die hedendaagse digkuns in Barcelona. Een van die digters waarop ek afgekom het, is Anna Aguilar-Amat (geb. 1962). Sy dig uitsluitlik in Katalaans, maar skryf essays en akademiese werk (linguistiek) in beide Spaans en Katalaans. Hier is een van haar gedigte in Engelse vertaling:

*

Aerodynamics – Anna Aguilar-Amat

Today, a children’s programme reminded me,
or taught me, rather, how it is that planes are able to fly.
Because of the shape of the wing, the air passing over it
moves faster and is, therefore, of lower pressure than
the air beneath it.
If I could make my arms have an upper surface and an underneath
and I could run a lot beside the sea and next to soft things,
I could fly to where you are.
But all the places on my body are round:
time is round, the sky is round, loneliness too; death
is round as an eye, as a cough. And even my name
ends the way it begins, arbutus-fruit from an autumn
that’s already old, a berry that ripens and withers, shrinks,
grows rounder and rounder, gripping fear’s branch.
Falling can also mean flying, and in losing myself I can find myself,
when I give up counting the days.

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Desmond Painter. Barcelona digters: Anna Aguilar-Amat”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond: daar is darem baie mooi dinge om te sien en ervaar, of wéér te sien, al is die Barrio Chino saliger en lankal nie meer soos Orwell dit geken het of selfs in die tyd toe kelnerinne nog poedelkaal aan tafel bedien het nie. Gaan kyk weer na die Miro, na die Picasso museum waar baie interessante jeugwerk te sien is, en veral na die Tapiés Stigting waar baie van die meester (nie so lank gelede oorlede nie) se werk nog uitgestal word. Hou ‘n oor oop vir ‘n sterk opwelling van Katalaanse nasionalisme (Katalanisme) – tegelyk selfsugtig en eiegeregtig (victims bly maar victims), dom en kortsigtig – én fassinerend vir ons want gegrond ook in die geskiedenis van die Burgeroorlog en anargistiese vakbonde; En dan is daar die taalkwessie… Hou ‘n oog oop vir die stadsduiwe: hulle is nogal meer lekkerbekkig as dié voor die Pompidou. Benvinguts!

  2. Desmond :

    Breyten, dankie. Ek het in 2006 die Picasso museum besoek, en ek was nogal getref deur sy jeugwerk. Die Miro museum het ek destyds misgeloop (ons is vort teen die Costa Brava op en na Girona voor ek by Miro kon uitkom), so ek sal dit hierdie keer beslis besoek.

    Wat die Barrio Chino betref, en Barceloneta: ek het onlangs weer Manuel Montalban belees; sy Pepe Carvalho boeke is vol liefde en nostalgie vir die Barcelona wat was. In “Olympic Death” veral betreur Pepe die “skoonmaak” van die stad vir die ’92 Olimpiese Spele. Ek het laas nogal van die Raval area gehou; gaan hierdie keer weer daar tuis.

    Het jy die rolprent “Biutiful” gesien, met Javier Bardem in die hoofrol (die Mexikaanse regiseur se naam vergeet ek nou, maar hy het ook “Amores Perros” en “Babel” gemaak): ‘n donkerder blik op Barcelona vanuit die perspektief van die immigrante-gemeenskappe en die arm buurte. Die regisseur het hom doelbewus van die meer toeristiese representasies van die stad weerhou (bv. Woody Allen se “Vicky Christina Barcelona”): wanneer ‘n mens, amper halfpad deur die rolprent, die Sagrada Familia deur die hoofkarakter se hospitaalkamer gewaar, kom dit nogal as ‘n skok.

    Die Katalanisme en die taalpolitiek daar interesseer my; wil graag hoor wat my kollegas daar oor die dinge te s^e het. Die Katalane is natuurlik, wat politieke outonomie en ekonomiese mag betref, in ‘n heel ander situasie as bv. die Koerde in Turkye.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    Opvallend dat juis Montalban (hartstogtelike Katalanis wat sy boeke in Kastiliaans skryf – soos die Goytisolo broers en Joan Barril, mens sou kon sê hulle is man en muis ‘Bosman’ ) die ewe hartstogtlike anargis-kommunis, waarskynlik die mooiste koffietafelboek oor Barcelona geskryf het.

    Jy raak aan ‘n teer punt, daardie een oor die waarnemingshoek of belewenishoek soos deur immigrante ervaar. ‘n Histories onderdrukte en vernederde ‘minderheid’ (die Katalane) sukkel om ander ‘minderhede’ binne hulle droom van ‘n onafhanklike en eie staat (wat ‘n sotterny is – wié wil nou bodder met ‘n leër en met ‘n buitelandse beleid?) te akkomodeer. Eintlik is dit makliker in Katalonië om ‘n swart clandestino te wees as ‘n trekarbeider uit Andalusië of Galicië. En tog is byna 40% van die Kataloniërs van ‘Spaanse’ afkoms en praat hulle tuis Kastiliaans of ‘n weergawe daarvan en daar is selfs teen dié tyd ‘n inheemse tradisie van Katalaanse flamenco.

    ‘n Interessante studieveld sou juis Barcelona wees, om verskeie redes: werklik ‘n besige Mediterreense hawestad, ‘n werkersstad met sterk wortels in die sindikalisme en tegelyk ‘n bourgeois stad met die nalatenis en die lewende voortsetting van modernisme (veral in die argitektuur) oral te sien, ‘n aggregaat van die Katalane se grootliks kleinboer sentimente en gebruike, maar naatloos ook ‘n stad van uitspattige feeste en spandabelrigheid en transgressies… asof die magtiges daar ook ge-BEE sou wees. En die bindmiddel tussen ryk en arm is dikwels op ongeproblematiseerde manier ‘n sentimentele Katalaanse nasionalisme.

    Van die stier op die Katalaanse donkie: wanneer hooor ons meer omtrent Deleuze? Veral nou jy ook reeds in Girona was en dus kennis gemaak het met die oerbodem van die Kabalisme?

  4. Desmond :

    Breyten, die geskiedenis van die anargisme in Spanje en veral die anargo-sindikalisme in Katalonië fassineer my nogal. Ek weet daar is so ‘n geskiedenis in Suid-Afrika ook (Andries weet meer hiervan; waar is hy as mens hom nodig het?) maar dit is veel meer marginaal. In Afrikaans verwys ‘anargisme’ ongeveer altyd na ‘chaos’, eerder as na ‘n politieke tradisie. Waar is die Afrikaanse anargiste as jy hulle nodig het?! (Wel, sommige hulle bedel natuurlik voor die Pompidou, maar een duif is nie genoeg om die standbeeld van ‘n staatsman toe te kak nie…)

    Wat Deleuze betref: nadat ek videogrepies van jou onderhoud met Murray La Vita gesien het, wil ek sommer Foucault ook in die mix gooi!! Nee, ek maak maar ‘n grap: ek stem heeltemal saam met wat jy daar ges^e het. ‘Denke’ hier beteken te dikwels ‘n mens moet leer om ‘n dooie Fransman na te praat. Nogtans, ek hou vol dat Deleuze en Foucault interesanter skrywers was as wat die gekommodifiseerde kritiese diskoerse van die Amerikaanse ‘comparitive literature’ en ‘culture studies’ departemente mens laat vermoed… Dieselfde geld Guy Debord en soveel ander van daardie generasie Franse denkers: daar is nog veel van waarde.

    Deleuze en Guattari se idees oor ‘minderheidsliteratuur’ en om die taal te laat ‘stotter’ of ‘hakkel’ is steeds interessant. (En in hulle bespreking hiervan in ‘Milles Plateaux’ lei een van die voetnota mens juis na ‘n kort bespreking van jou werk…)

    Ons was te kort in Girona: twee lieflike dae. Ek onthou juis die Joodse museum, en eindelose dwaal deur daardie nou strate. Ek het ‘n mooi foto van Claire op die voetbrug oor die Onyar rivier, die veelkleurige, ‘hangende’ huise, die cases penjades, in die agtergrond.

    Ek hoop om terug te keer, eendag!

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond: Jy en jou naaste is welkom. Ek (ons) weet veel meer van Girona as Barcelona. Lg. is net 100 km ver maar dis die hofstad en ons is maar japies. Wat jy of julle dan nog nie gesien het nie of weer wil sien wys ons graag.

    Ek is dit roerend eens met jou oor die seminale en werklik baanbrekende impak van Deleuze, Debord et al, van belang vir ons almal ver buite die grense van Parys. My vrees is juis dat hierdie denkerdoeners gebanaliseer word omdat hulle knaend vir ‘n jis of ‘n nou uitgepluk word om die plaaslike piepel oor die kop mee te donder en te intimideer asof hulle (daardie eksotoriese nooit begrepe hintellektuele) vrot maar vietse visse sou wees. Dis mos nou om roodt herrings van dikwels goeie oesters te probeer maak.

    Ja, waar is Andries? Die laaste keer keer wat ek hom met ‘n oog gesien het, ook maar lugtig vir die visventers, was hy besig om met ‘n kettie die duiwebevolking (oorsee?) van beter te leer.

  6. Leon Retief :

    Probeer Robert Hughes se “Barcelona” in die hande kry.

  7. Verskoning Breyten en Desmond. Ek was in Postmasburg, Kathu en Kuruman, besig met die besigheid van vakbonde. My day job is vol jaloerse nukke en sperdatums. Desmond, die kenner van die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse anargiste (“Wobblies”) is Lucien van der Walt, deesdae by Rhodes.

  8. Desmond :

    Andries, nogal amusant: net na ek jou kommentaar hierbo gelees het, Google ek “Wobblies South Africa”. Een van die goed waarop ek afkom is: “Wine farms look wobbly”; ‘n berig verlede jaar in Business Day.

    En ook hierdie aanhaling deur ene Archibald Crawford, uit 1911: “Keep your eyes on South Africa, comrades and fellow-workers of the world. There capitalism is seen in its most naked and unashamed, its most cruel and inexorable, form.”

    Die man was seker ‘n profeet…

  9. Desmond :

    Leon, dankie vir die verwysing. Daar is ook Carlos Ruiz Zafon se ietwat sentimentele maar tog sjarmante Barcelona-romans. Wel, ek het net die eerste een gelees: “The Shadow of the Wind”.

  10. Desmond, hulle was hier bekend as die “Industrial Workers of Africa”. Lucien wys dat daar reeds ‘n nie-rassige tradisie by die anargiste was toe die kommuniste nog gevra het dat die “workers of the world” moet “unite and fight for a white South Africa” (dis nou in ’22).

  11. Desmond :

    Andries, die kommuniste het duidelik (soos dikwels) nie hulle Marx goed gelees nie (uit Kapitaal): “In the United States of North America, every independent movement of the workers was paralysed so long as slavery disfigured a part of the Republic. Labour cannot emancipate itself in the white skin where in the black it is branded.”

  •