Andries Bezuidenhout. Nieu-Bethesda tennisklubsaal

Hierdie skildery is ʼn poging om die gesprek met Vilhelm Hammershøi  verder te neem. Die toneel is toe nie lig in Pretoria nie, maar Nieu-Bethesda se tennisklubsaal. Ek dink die dorp se status as Mekka van buitestanderkuns het seker tot die plek se aantrekkingskrag bygedra. Die stapelstoele is Domus-stoele deur die Finse ontwerper Ilmari Tapiovaara (1914-1999) – nog ʼn Skandinawiese konneksie. Hammershøi het vele binnenshuise tonele van sy woonstel in Strandgade 13 geskilder, meestal studies van lig. My antwoord hierop se naam is “Nieu-Bethesda tennisklubsaal” (61 x 71 cm, olie op doek), ʼn poging om die verskil tussen die kwaliteit en tekstuur van lig in Kopenhagen en die Karoo te ondersoek. Ek het ʼn foto deur my vriend Berno Schneider as model gebruik, maar die saal ʼn paar keer gaan besoek om die toneel eerstehands te bestudeer.

Bookmark and Share

27 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Nieu-Bethesda tennisklubsaal”

  1. Christo van Staden :

    lieflike skildery, Andries, die perspektief, die lig

  2. Dankie Christo!

  3. Desmond :

    Hallo Andries. Ek het gister op my Air France vlug ‘n lieflieke kort dokumenter oor Edward Hopper gekyk; goeie kontekstualisering en kommentaar en heelwat beeldmateriaal van die man self. Op ‘n stadium noem hy dat al wat hy as skilder wil doen is “to paint light on the side of a building.” Hulle gesels ook met Wim Wenders, wat heelwat Hopper-tonele gebruik as inspirasie vir sy eie rolprenttonele. Ek wil bitter graag die Hoppers in NY gaan besigtig. Om die een of ander rede kom ek nooit in die VSA uit nie.

  4. Desmond, daar was juis ‘n Hopper-uitstalling in Frankryk – ek neem aan dis die rede vir die doccie. Mooi artikel daaroor in verlede week se By. Een van my groot wense is ‘n kans om ‘n paar Hoppers se tekstuur persoonlik te kan ontmoet. Iets wat ek by my tannie Zandra op laerskoolouderdom al geleer het – daar’s groot verskille tussen afdrukke van skilderye in boeke en skilderye. Dit gaan seker oor skaal en kleur, maar vir my veral oor tekstuur. Pas ‘n boek oor Turner en Constable gelees en die interessante wisselwerking tussen hulle en wat die Franse impressioniste geword het. Van Turner gepraat – foto’s kan glad nie die effek van “glazing” – deursigtige lae verf – weergee nie.

  5. Desmond :

    Andries, absoluut. Ek het dit pas weer besef toe ek die Miro Foundacio in Barcelona besoek het. Die oorbekende afdrukke in boeke kan mens nie voorberei vir die skaal en veral die tekstuur van sy werke nie. Trouens, Miro het my totaal uitgeklop: die verbeelding, die gebruik van kleur, die persoonlike visuele taal, die fantastiese sin vir ruimte (die skildery as ruimte, nie representasie van ruimte nie) — absoluut wonderlik. Ek het meer as 2 uur daar spandeer en moes toe waai om die vliegtuig te haal, maar ek sou maklik nog 3 uur kon spandeer. ‘n Mens moet eintlik herhaaldelik gaan (ai, om in te stad met goeie kunsmuseums te woon…) Sy beeldhouwerke en sketse is ewe wonderlik. En so ook die gebou waarin dit uitgestal word. (Op Breyten se aanbeveling het ek Antoni Tapies se werk ook gaan besigtig; ‘n lieflike ontdekking. Ken jy?)

  6. Desmond :

    PS. Dieselfde ervaring toe ek die eerste keer Rembrandt en Vermeer ‘lewendig’ aanskou het. ‘n Gloed wat nie eens in die beste kunsboeke weergegee kan word nie.

  7. Dankie Desmond (& Breyten)! Het nou oor Tapies gaan oplees.

  8. Desmond :

    Jy sal ook die gebou waarin die Tapies Foundation gehuisves word waardeer.

  9. Jy’s reg, Desmond. Gou gaan kyk. 1880s-modern – ek hou nog altyd van rooi bakstene. Ook die uitgewershuis se geskiedenis is nogal interessant.

  10. Buiteblaf Breytenbach :

    Julle mense maak my hartseer oor Hopper. Drie, vier keer daar probeer uitkom (of inkom), een keer selfs ‘n uur of langer buite in die sneeu tou gestaan. Kon net nie. Die internet kaartjies was uitverkoop of die eerste beskikbare datum (en besoekerstyd afgemeet) ‘n goeie drie weke later…

    Ek dink dis die afwesigheid, meer nog as die leegheid, wat mens vang in Hopper se werk. ‘Afwesigheid’ bring beweging teweeg. Net soos tekstuur, selfs sonder dat mens dit hoef aan te raak met die vingertoppen, die byna mistieke metafisika van die oppervlak tuisbring. In die Hopper geval ervaar ek die afwesigheid as ‘n soort eksistensiële stelling, ‘n gelate melancholie, die uitsigloosheid (depressie?) van die gemiddelde Amerikaner. Die einde van die Amerikaanse droom is jou gesig se gesigloosheid gereflekteer in die spieël, nogal met ‘n hoed op. Die lig en die leegheid het tyd geword. Sy gestolde lewe is deurdrenk van die sosiale en ekonomiese omstandighede.

    Dis ‘n ander leegheid (en daarom ‘n ander observasieposisionering) wat mens van bewus word in die werk van, sêmaar, Wang Wei, waar ‘leeg’ en ‘vol’ mekaar aanvul en vervang as dinamiese harmonie. Of dié van Chirico waar die ruimte gedroomde maangloed is. Of dié van Bezuidenhout. Of dié van Miro of Tapiés. Ek sou reken dis Tapiés se gebare (gestures) wat, saam met ‘n intensiewe bewusweeswording van tekstuur, die leegwees skep. Mens sien dit voor jou oë dat daar geen ontwyking is van verdwyning nie.

  11. Desmond :

    Breyten (en Anneries), mens hoor dikwels die verwysing na post-industriele landskappe, maar Hopper intensifiseer die uitbeelding van die Amerikaans-kapalistiese omgewing om die wesenlik post-sosiale aspek van die landskap (en selfs verhoudings) vas te vang: sy ‘karakters’ bevind hulle nie ‘far from the madding crowd’ nie; die ‘madding crowd’ is afwesig, die ruimte van stedelike sosialiteit leeg. Verlatenheid as gelyk eksistensiële en ruimtelike kwaliteit; ‘depressie’ as subtiel gehistoriseerde kondisie, eerder as die gepsigologiseerde (en universele) kondisie van die Amerikaanse sielkunde. Wat kan meer ikonies wees van die Amerikaanse kapitalisme, van die geglobaliseerder verbruikersomgewing, as ‘n enkeling, ‘n ‘man without qualities’, laatnag in ‘n modul^ere eetplek in ‘n generiese stadsruimte?

  12. “Die lig en die leegheid het tyd geword.” Breyten, dis die Hopper-leegheid wat my vang. Bv. in “Gas”. Og, dis mooi. Iets daarin maak dat ek nie wil dink nie, net kyk. Desmond, ek wonder of mens nie nou anders na die tydsgebondenheid van Hopper kyk nie – ‘n tipe post-Fordistiese nostalgie vir die strakker en meer elegante ruimtes van die 30s, 40s en 50s. Daardie “subtiel gehistoriseerde kondisie” waarna jy verwys interesseer my. Ek is soms geskok oor hoe nostalgies ek kan voel oor ‘n era wat ek nooit beleef het nie.
    Ek sien die uitstalling in Parys is nog tot einde Februarie aan, maar dat dit baie moeilik is om kaartjies te kry.

  13. Desmond :

    Andries, sekerlik, daar is van sy skilderye wat daardie soort gedempte nostalgie by my ook wek (veral die’s waar mense in die kantelende laatlig voor ‘n venster staan en kyk na… wat?: kamers, vensters, en ‘innerlikheid’ is seker ‘n ander tema wat mens kan ontgin by Hopper… daai glimps van intimiteit deur ‘n venster; die stad se binnelewe) maar daar is tog aspekte van die ‘leegheid’ (wat ek lomp ‘post-sosialiteit’ genoem het) wat vir my dringend kontempor^er voel. Asof hy daardie moeilike ding regkry: om dmv ‘realisme’ dit regkry om iets van die illusion^ere aspek (die voorlopige? die verloopte? die uitgeholde? die vervreemde?) van daardie einste ‘realiteit’, die onderliggende leegheid daarvan, vas te vang. Maar ek is in dryfsand hier: ek weet te min van Hopper, die tradisie, so ek moet eintlik sjarrap!

  14. Desmond, wat jy skryf maak sin. Interessant dat mense die woord “anomie” (Durkheim) gebruik i.v.m. die uitstalling in Frankryk. Hier’s ‘n ou, ou stuk oor realisme in skilderkuns in die vorm van ‘n kortverhaal – oor Walter Meyer se werk. Die titel is juis by Breyten gesteel: https://versindaba.co.za/2011/03/15/brokke-in-die-collage-van-afstand-en-aanwesigheid-1/

  15. Desmond :

    Andries, ek was aanwesig toe jy die kortverhaal voorgelees het daardie aand. Baie daarvan gehou; het daarna weer Sunny Skies in die hande gekry. Ek en Claire was daar saam met Paul Cilliers en sy vrou. Hy het my vreeslik uitgevra het oor jou (hy was mal oor jou verhaal). Ons het na die tyd ‘n impromptu maal by hulle gaan eet. Dit was die laaste keer: hy is oorlede voor ons weer by hom aan huis kon kom. Nou voel ek nostalgies.

  16. Desmond :

    Ek wonder of ‘anomie’ nie dalk ‘n te sterk begrip is vir die ekistensiele subtiliteit wat hy vasvang nie. Miskien eerder Freud se ‘onheimlike’ (‘the uncanny’)? (Dan kan mens sommer Freud se begrippe ‘rou’ en ‘melancholie’ ook bywerk — maar nou nie so dat ons weer ‘n lang geveg oor die psigoanalise op gang sit nie!) Die hele kwessie van ‘nostalgie’ (en die ‘nostalgie-industriee’) is in sigself ‘n interessante iets waaroor iemand op ‘n keer moet blog, sodat ons kan ginnegaap daaroor. (Nou moet ek eers aaklige admin gaan doen. Lekker naweek.)

  17. Desmond :

    Andries, ek het ‘n boek oor Hopper uitgeneem, ‘Silent Theater: The Art of Edward Hopper’. Ek rus myself toe om my stellings hierbo te repudieer — goeie boek.

  18. Desmond, verlede winter, toe ek daar in julle biblioteek kom sit het om aan my opstel oor Gert Vlok Nel te werk, het ek elke nou en dan na die kunsafdeling gestap en deur van die boeke geblaai – ook boeke oor Hopper. Ek het telkens na my kleutertoestand teruggekeer deur net na die prentjies te kyk. Dalk het my toleransievlakke vir die wisselwerking tussen beelde en idees ʼn versadigingspunt met Gert se gedigte bereik. Sy gedig “landskap” is juis ʼn gedig en ʼn skildery (sg. pattern poem). Soms verkies ek die skildery as ontsnapping eerder as die skildery as konfrontasie. Ek kan sien hoe Hopper beide vir mens kan doen, afhangende van dinge soos konteks en bui.

  19. Desmond :

    Ek stem saam, Andries. Niks fout daarmee om bloot te verdrink in kleur en tekstuur nie: ‘n soort meditasie; die blote genot van kyk. Dit is hoe ek deur die Miro-museum gedryf het; ek het die teorie by die kongres gelos. Terloops, ek is kort na die Woordfees in Pretoria. Ek noem dit maar net… miskien het jy ‘n ekstra kitaar, dan neem ons ‘n paar demos op wat oor jare ‘n legendariese bootleg, Die Pretoria Sessies, sal wees.

  20. Desmond, ek sien jou by die Woordfees ook, so dan kan ons planne beraam oor hoe ons ikone van die musikale underground gaan word. First we take Stellenbosch, then we take Pretoria? Iets hieraan klink nie so lekker underground nie, maar ek kan nie my vinger daarop plaas nie. Nietemin, hier is ‘n ekstra kitaar.

  21. Desmond :

    Andries, dit sou beter gerwerk het as ons kon s^e, First we take Brackenfell, then we take Boksburg. Stellenbosch is onredbaar bogronds.

  22. Desmond :

    Terloops, my ho”erskoolduo was so underground ons het nooit ooit opgetree nie; net tapes opgeneem op ‘n diktafoon. Eers onder die naam ‘Gytige Thys en die Vinger wat Wys’ en toe ‘Die Baske’.

  23. Desmond :

    Of: First we take Malmesbury then we take Benoni.

  24. Laat my dink aan ‘n ou André Letoit rip off tune wat in ‘n kroeg in Benoni afspeel: “Moenie my nou drop nie Lucille/ dertien egskeidings is ‘n las op my siel”. Dan iets wat ek nie meer kan onthou nie, gevolg deur: “Maar die pickups reageer not ‘n wiel/ Moenie my nou drop nie Lucille.” Diep, diep ondergronds.

  25. Desmond :

    Andries, ‘Die Bar op De Aar’ was een van die eerste boeke wat ek met my eie sakgeld aangeskaf het. Dit, EvH se Liegfabriek, en BB se Katastrofes en Lotus. Summer of ’89; St 7, puisies en gedigte. (Toe kon mens nog Afrikaanse digbundels koop by die CNA in Brackenfell se Hipermark.)

  26. ’89. Namibië, meestal Walvisbaai. Ek het nie per trein daar aangekom nie, so ek het nooit die voorreg gehad om De Aar se bar vanuit daardie perspektief te beleef nie. The less said the better. Behalwe dalk dat ek daardie jaar leer kitaar speel het op “Ver van die ou Kalahari”, nadat ek die vyf chords op my twaalfsnaarkitaar met net ses snare uitgefigure het. Nooit weer daarvan (of van Somer II) herstel nie.

  27. Desmond :

    My eerste kitaar in ’88 gekoop met geld wat die versekering vir ‘n gesteelde horlosie uitbetaal het. My laaste horlosie. My eerste songs: Country Roads, House of the Rising Sun, Jy’s ‘n Lady en (‘n paar maande later) Yesterday (daai vinnige skuiwe van F na A#m, na Dm, D en so aan was goed vir akkoorde oefen). Jare laas gespeel.

  •