Louis Esterhuizen. Februarie is liefdesmaand, inderdaad

Februarie is inderdaad die maand van die liefde en om dié geleentheid te vier, het Poetry International ‘n spesiale uitgawe verlede week as deel van die wêreldwye Valentynsdagjubelinge geplaas. Volgens die lokteks die volgende: “To help you celebrate (or ignore) Valentine’s Day in style, we’ve collected a number of articles, poems, audio recordings, and videos for the occasion. In several articles from our substantial archives, poets from India, Israel, and Japan talk about having to fight those we love, the torments of love, and poetry as love.”

En dit is veral die artikel oor die Israeliese digteres, Haviva Pedaya, wat my oog gevang het; veral vanweë die verband tussen haar digkuns en die van Emily Dickinson wat deur Rami Saari, skrywer van die oorsigartikel “The Torments of Love”, getref word: “A search for God and for love is riddled with doubt and phrased in a language that borrows from the old and makes use of the new; poet and scholar Haviva Pedaya might be considered Israel’s contemporary Emily Dickinson. A rather special weave creates the poetic fabric of Haviva Pedaya’s From a Sealed Ark. This book presents to its readers a poet who faces many existential problems and often feels that she is on the edge of frustration and hopelessness. However, it should be noted that Pedaya does not immediately block all the openings to hope, and that she does provide a way out from the moments of crisis and despair in her poetry, and also an escape into meaning.”

By wyse van illustrasie haal Saari dan die slotreëls van Pedaya se bundel, From a Sealed Ark aan:

One thing have I asked and it I seek
your dwelling in me your giving me a spirit
one thing I cried when I remembered myself
for then when I prayed I lacked nothing
and now that I desire nothing
everything is trampled in me please be gracious to me and pity
bless my days purify them
raise them like a daughter crying over the apple of her eye
please if you can.

Haviva Pedaya

Na ‘n nogal indringende bespreking van die betrokke bundel, en tipering van haar digstyl, sluit Saari sy betoog met die volgende samevatting: “Pedaya mixes well-known literary quotations with expressions from spoken Hebrew. Her language draws on earlier forms of the language, sometimes ancient Hebrew, and therefore she can be difficult for those whose linguistic knowledge is superficial. Haviva Pedaya’s first book is witness to the talent of a real poet, to her deep knowledge of the Hebrew poetry that preceded her, and to her ability to create a brilliant combination of form and content somewhere inbetween old and new.”

Inderdaad. Gaan kyk gerus. Daar is sommer nog heelwat voorbeeld van dié uitsonderlike digter te vind by Poetry International.

Maar – die lekkerste aspek van Poetry International se lifedesdoepa is die reeks liefdesverse wat hulle uit hul argiewe saamgestel het. ‘n Twintigtal gedigte wat jou telkens verras met die verskeidenheid van aanbod; gedigte van die heel vernaamste digters wêreldwyd … En ja, die heerlike verrassing dat Charl-Pierre Naudé hom eweneens in dié uitgelese geselskap bevind met sy onvergeetlike vers “Teen die liefde”. Vir jou leesplesier plaas ek dit hieronder. Die Engelse vertaling daarvan (deur die digter self) kan ook op Poetry International gelees word.)

***

Teen die liefde

Is dit waar ons nou is? Hiér,
reg langs mekaar, en tog so ver uiteen;
twee liefdesvoëltjies wat na mekaar toe vlieg
in ’n transmissie waarvan die sein verbrokkel
tot vier liefdesvoëltjies – en verder opbreek – ’n hele sardientjieloop
wat nimmer die ander se strand sal haal nie.

Ek is teen die liefde, die hele storie van vermenigvuldiging:  
Die Vatikaan se mooibroodjiesbakkery,
sowel as die viswinkel langsaan.

Jou opgeprikte borsies flous my nie,
jy’t maar net jou pantser uitgeklop.
Die metafore is soldate, die gebare almal draagbare,
en jy’s ’n baboesjka-poppie
gevul met napoleons wat net al hoe kleiner word.
Stroop die vredemakers kaalgat en gooi hulle by die vensters uit,
Paasbolletjie-kant eerste! Die middelgrond traak my nie meer nie.
Kom ons breek op, laat ons die atoom kloof;
dít sal ons minstens nie in die steek laat nie, tot in die oneindigheid.
Ons soet woordjies? Dié het suur geword –
die giftige kersiekoekies van ’n versaakte voodoo-ritueel.
Al goeie hiervan is om te sien hoe die beraders
en priesters op die vlug slaan,
daardie swart poue in hul nuttelose sandale.
Ek is teen die liefde. Laat die kontinente uitmekaar dryf.
’n Nuwe wêreld maak. Nuwe ontdekkers.
’n Ander godsdiens.

Ek is teen sin. Ek is teen onsin ook.
Nou die dag nog is ’n vark se vrug
met ’n menslike spermsel gekruis.
Ek’s heeltemal daar voor.
Dankie meneer meisiedemone,
mevrou kolonel vlieënde vis,
vir paddas reën op die buikspreker,
dat jy die goëlaar só moes vasketting
aan die boord se hangende lemoene;

en die gilspoke wat die Trappis gery het,
jy kan nooit ’n nagmerrie vertrou nie.
Nou moet ek weer voor begin –
was dit nodig om my Drie Apies te steel?

Poplappie Zeus, Moedertjie Son,
jy was my Pantheon gefotostateer
en deur die wind tot lewe gewaai;
nou flapper die verinneweerde tempel
die ene vlêrmuise.

Wat het van ons geword? Waar is die herinneringe?
Ons is aan mekaar se kele soos arende,
verstar in ’n opgediepte familiewapen.

Dit word somer op die hoëveld, waar ons albei woon.
Hulle noem hierdie streek die Wieg van die Mensdom,
waar die eerste mens-ape rondgeloop het.
Die geraamtes van die oertiere lê weggepak
in die kalksteen soos virtuele vleuelklaviere.
Nog ’n jaar verstryk. Die naakte savanne sing. En die weerlig flits
soos my rekenaarskerm – wat dié dokument nou bêre.
Skarrelende makelaars van die jong republiek verbeel nuwe markte
en vergruis met hulle rondgetrap die oeroue skedels.
Maar terwyl alles weer begin lewe, het ons liefde gesterf.
Kyk, tarentale kom wikkel-wikkel uit die gras in hul tjalies van grafiet.
Hulle is die poue, die donsvuurwerke, van lank, lank gelede –
wat verdof het op die retinas van ons twee se lyke.

Liefde: die verborge kategorieë,
die beskilderde deure van die heuningkatakombes.
En nou dít. Verdomp. Fokkit. Vervolging.

Tyd: ’n klip versteende aarbeie,
die piekniekmandjie wat deur ’n  bobbejaan gesteel is
naby Sterkfontein Grot,
en die vermiste paartjie.
Ja dít. Móér.

Ons slaap nou op die bodem van ’n see.
Ons gesigte kyk in teenoorgestelde rigtings,
twee profiele op afsonderlike munte.
Ons hare wat kon lig op die briesie van die oomblik,
lê nou geslaan in die wind van die ewigheid.
Ons is ’n verlore skat.
Die skip het in onweer gestrand.

Maar eendag, op ’n mooiweersdag in die verre toekoms
sal twee duikers, ’n ou en ’n meisie,
verliefde skattejagters in die vlak water,
my en jou opnuut daar vind,
met hul splinternuwe lywe
ons weer opdiep
uit hierdie vergete wrak.

 

© Charl-Pierre Naudé

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •