Andries Bezuidenhout. Die gedig as landskap

A.P. Grové (1993: 4) gebruik Gert Vlok Nel (1993) se gedig “landskap” as ʼn voorbeeld van hoe taal nie slegs beskrywend is nie, maar kan produseer. Hy beskryf dit as ’n gedig “waarin die lang pad en die wilde jaagtog na die dam (waar ʼn ongeluk plaasgevind het) ook figuurgewys in die drukwerk gestalte kry.” Alhoewel Grové ʼn goeie punt maak oor die vermoë van taal om iets te produseer, is dit duister waarom hy dink die gedig handel oor ʼn jaagtog en ʼn motorongeluk. Miskien hou Grové se soeke na ʼn motorongeluk hier verband met ʼn blinde kol in sy politieke truspieëltjie, wat ook dalk deels verklaar waarom hy die bundel as keurder te lig bevind het.

Toegegee, Le Roux (1998: 56) beskryf die gedig as ʼn “uitdaging”, omdat dit “die geoutomatiseerde leesmetodes en leesprosesse problematiseer… Die gedig kan horisontaal of vertikaal gelees word, waardeur die konvensie van die lineêre leeswyse en enkellynige denkwyse in die soeklig geplaas word.” ʼn Ruimtelike ontleding van “landskap” as gedig bring ʼn ander werklikheid as Grové s’n na vore – dit is immers een van die gedigte in die bundel wat ruimtelikheid op die mees direkte wyse aanspreek. Dit kan as ʼn voorbeeld van konkrete poësie (“pattern poem”) beskou word, waar die uitleg van woorde op die bladsy nie toevallig is nie en sodoende kartografiese betekenis kry.

David Harvey (2006) se essay Space as a key word word hier as bron gebruik om die gedig te herlees, aangesien dit Harvey se mees volledige en omvattende poging is om sy teoretiese raamwerke oor ruimte saam te vat. In sy essay word daar ook kommentaar gelewer op die verband tussen geografiese konsepte en letterkunde. Harvey betrek twee klassifikasies van ruimtelikheid om ʼn omvattende konseptuele skema te ontwikkel. Eerstens beskou hy ruimtelikheid as iets wat onderskeidelik absoluut, relatief en relasioneel is. Tweedens gebruik hy Lefebvre (1991) se werk, wat ruimte verklaar as materieel (hoe ruimte ervaar word), gerepresenteerde ruimte (hoe ruimte gekonseptualiseer word) en ruimtes van representasie (hoe ruimte geleef/beleef word). Hy bring hierdie twee skemas met mekaar in verband.

Absolute ruimte is vas en kan geometries gemeet word. Dit is hoe Newton en Descartes ruimtelikheid verklaar het – die ruimtelikheid van siviele ingenieuswese en stadsbeplanning. As materiële ruimte word hier verwys na fisiese objekte, soos berge en riviere, maar ook mure, paaie en brûe en ander fisiese grense of infrastruktuur. Menslike lyflikheid het ʼn absolute element van ruimtelikheid, asook state, provinsies en ander administratiewe eenhede. Absolute ruimte kan egter ook voorgestel word. As gerepresenteerde ruimte verwys ons hier na kaarte van stede of lande en landskapsbeskrywings. Aandag word gegee aan plasing, proporsie en skaal, wat ʼn beskrywing so na as moontlik aan die ooreenstemmende ruimte probeer gee. Fisiese objekte soos riviere en brûe word in ʼn sekere posisie op ʼn kaart geplaas. Absolute ruimte word laastens beleef as ruimtes van representasie. Hier kan verwys word na ʼn gevoel van huislikheid of eienaarskap oor ʼn fisiese objek soos ʼn huis of ʼn voorstad. Daar kan ook ʼn gevoel van ontneming wees, met die fisiese vernietiging van Distrik Ses of Sophiatown as voorbeeld, waar die gevoel van ontneming en ongeregtigheid gaan oor die vernietiging van werklike strukture. Hier hou dit dus verband met die ruimtelike basis van subjektiwiteit en identiteit (Harvey 2006: 121, 135).

Relatiewe ruimte bring ʼn tydelement ter sprake en word daar in plaas van tyd en ruimte na tydruimtelikheid (“spatio-temporality” of “timespace”) verwys. In plaas van proporsie en skaal gaan dit hier, in navolging van Einstein, oor perspektief – die punt van waar ruimtelikheid geobserveer word. As materiële ruimte gaan dit hier oor die sirkulasie en vloei van mense, geld en energie. Verder verwys dit na versnellings en vertragings, asook die friksie van afstand. Alhoewel die afstand tussen twee plekke, soos die spreekwoordelike kraai vlieg, dieselfde kan wees, maak vervoerinfrastruktuur dat Johannesburg byvoorbeeld nader is aan Londen as Kigali. Absoluut is dit verder, maar relatief nader. Soos absolute ruimte, kan relatiewe ruimte voorgestel word. As gerepresenteerde ruimte kan verwys word na tematiese en topografiese kaarte, metaforiese voorstellings van ruimte en tekenings in perspektief. Die kaart van die moltreinstelsel in Londen is ʼn voorbeeld hiervan. As ruimtes van representasie – hoe relatiewe ruimte beleef word – verwys Harvey na angstigheid om laat te kom, opgewondenheid oor die vreemde, frustrasie in verkeersknope, of die plesier van spoed of versnelling (Harvey 2006: 121-2; 153).

Waar absolute ruimte na Newton verwys en relatiewe ruimte na Einstein, word die idee van relasionele ruimte met Leibniz in verband gebring, na hierdie filosoof se kritiek op Newton se idee van ruimte as ekstern tot die waarnemer. Die relasionele idee van ruimte sien tydruimtelikheid as iets wat nie onafhanklik van die prosesse waarbinne dit geproduseer word kan bestaan nie. Eksterne prosesse word dus oor tyd geïnternaliseer en kan slegs as sodanig verstaan word (Harvey 2006: 123-126). In sy bespreking van ruimtelikheid in Arabiese oorlogsletterkunde beskryf Seigneurie (2005: 104) dit só:

‘A […] feature is the focus on everyday spaces, which implies a corresponding de-emphasis on high relief elements of narrative such as heroic characters, epiphanic events, and teleological time. Space conceived of as “a mutually conditioning network of character, event and place,” is an attempt to account for the relational and decentred nature of subjectivity that we find in these novels.’ 

Hierdie relasionele begrip van tydruimtelikheid maak dat dit baie moeilik gemeet kan word. Volgens Harvey (2006: 124) bring die idee van relasionele ruimte ʼn mens baie naby aan die punt waar wiskunde, poësie en musiek saamkom en moeilik van mekaar onderskei word. Harvey (2003, 2009, 2012) ontgin relasionele ruimte om kollektiewe herinneringe en stedelike prosesse te ontleed, iets wat baie moeilik binne die raamwerk van absolute en relatiewe ruimte gedoen kan word. Die punt is egter dat hierdie prosesse steeds in absolute en relatiewe ruimte begrond word, iets wat sekere postmodernistiese raamwerke nie noodwendig sou beklemtoon nie. Relasionele ruimte as materiële ruimte, volgens Harvey (2006: 135), verwys na die elektromagnetiese vloei van energie, sosiale verhoudings, huur of ekonomiese potensiaal, besoedelingskonsentrasies en klank- en reuksensasies. Relasionele ruimte as gerepresenteerde ruimte gaan oor surrealisme, eksistensialisme, psigo-geografie, asook metafore vir die internalisering van kragte en mag. Relasionele ruimte as ruimtes van representasie verwys na visies, fantasieë, begeertes, drome en psigiese toestande soos agorafobie, vertigo en kloustrofobie.

Tabel 1 bied ʼn uiteensetting van hoe Harvey sy eie en Lefebvre se skemas van ruimtelikheid met mekaar in verband bring. Die punt kan gemaak word dat die idee van relasionele ruimtelikheid die beskrywing van absolute ruimte sou kon uitsluit – ʼn radikaal relativistiese posisie. Harvey (2006) argumenteer egter dat die verskillende konsepsies van ruimte in spanning met mekaar gehou kan word. Hierdeur kan die linguistiese keerpunt (“linguistic turn”) van post-strukturalisme, of die idee dat daar niks buite taal is nie, deur ʼn geografiese perspektief aangevul word. Deur die wisselwerking tussen absolute, relatiewe en relasionele ruimtelikheid as ʼn produktiewe spanning te sien, word ʼn korrektief op die radikaal relativistiese posisie, waarna sopas verwys is, aangebied.

Tabel 1: David Harvey se matriks van ruimtelikheid

  Materiële ruimte
(ruimte ervaar)
Gerepresenteerde ruimte
(ruimte gekonseptualiseer)
Ruimtes van representasie
(ruimte geleef/beleef)
Absolute ruimte Mure, brûe, deure, trappe, vloere, plafonne, strate, geboue, stede, berge, kontinente, waterliggame, territoriale merkers, fisiese grense en skanse Kaarte, landskapsbeskrywings, metafore van gevangeneskap, oop ruimte, plasing en posisie Gevoel van huislikheid, gevoel van eienaarskap of ontneming, vrees vir vreemdelinge
Relatiewe ruimte
(tyd)
Sirkulasie en vloei van energie, water, lug, kommoditeite, mense, inligting, geld, kapitaal; versnellings en vertragings in die friksie van afstand Tematiese en topografiese kaarte, metaforiese voorstellings van ruimte, tekenings in perspektief Angstigheid om laat te kom, opgewondenheid oor die vreemde, frustrasie in verkeersknope, plesier van spoed of versnelling
Relasionele ruimte
(tyd)
Elektromagnetiese energievloei en –velde, sosiale verhoudings, huur of ekonomiese potensiaal, konsentrasies van besoedeling, klank- en reuksensasies Surrealisme, eksistensialisme, psigo-geografie, kuberruimte, metafore vir die internalisering van kragte en mag Visies, fantasieë, begeertes, drome, psigiese toestande (agorafobie, vertigo, kloustrofobie)

Bron: Harvey (2006: 135)

Hoe kan Harvey se raamwerk gebruik word om ʼn gedig soos “landskap” te herlees? Omdat die gedig in die vorm van ʼn landskap aangebied word, is daar immers ʼn aantal duidelike merkers van absolute ruimte as materiële ruimtelikheid; “ons huis”, “kerk”, “paul sauerstraat”, “skool”, “poskantoor”, ʼn ander huis wat as “mm daai huis” aangetoon word, “spoorwegwerf”, die “pad na die dam”, waarvan die rigting deur ʼn herhaling van die woord “pad” aangedui word, “motorhek” en “dam”. Op ʼn sekere vlak impliseer die teenwoordigheid van “die dun lyk/ van Kosie April” ook materiële ruimtelikheid. Binne die konteks van die bundel as geheel, is die leser bewus van die feit dat hierdie nie enige landskap is nie – hier word spesifiek na Beaufort-Wes verwys, ook waarskynlik na die woonbuurt Hillside.

Soos reeds genoem, is hierdie ʼn voorbeeld van konkrete poësie. Die plasing van woorde is nie toevallig nie. Absolute ruimte word op hierdie wyse as kaart, of as landskap, voorgestel. Heel bo is die woorde “o Here”, “wolkies” en “die maan”, gevolg deur ʼn spasie. Die eerste versreël is dus die lug bo die landskap. Dan volg “ons huis”, die “kerk”, “paul sauerstraat” en “die pad na die dam”. Naby die huis en kerk is die “skool”, die “poskantoor”, asook “mm daai huis”, wat die naaste aan die “spoorwegwerf” is. Elkeen van hierdie plekke word op die landskap geplaas en staan in verhouding tot mekaar. Die pad na die dam loop deur ʼn “motorhek” en aan die einde van die gedig (ook die landskap se grens), “die dun lyk/ van Kosie April.” Dit gaan hier dus oor absolute ruimte as gerepresenteerde ruimte.

Absolute ruimte, tot dusver as materiële en gerepresenteerde ruimtelikheid gelees, impliseer egter ook ʼn sekere belewenis, of ruimte van representasie. Die gedig begin met die woorde “o Here”. Die uitroep spreek ʼn gevoel van wanhoop uit, waarskynlik oor Kosie April se lyk. Die name “Here” en “Kosie April” is ook al woorde wat met hoofletters geskryf word, teenoor “paul sauerstraat” as pleknaam in kleinletters. Die “Here” in die lug word so opgestel teenoor “Kosie April”, wat in die dam dryf, of naby die dam gevind of begrawe is. Die gedig karteer dus die landskap met sy verborge gruwel. Die leser moet aanneem dat “mm daai huis”, dalk ook die spoorwegwerf, iets te doen het met die dood van Kosie April. Soos Le Roux (1998: 57) dit stel: “Die ‘huis’ kan dalk ʼn bordeel wees, wat sou verband hou met ander klandestiene bedrywighede op die dorp. In die proses van betekenistoekenning dwing die gedig die leser om verskillende moontlikhede te oorweeg.” Die gedig gaan eweneens oor wat verswyg word as wat op die landskap uitgelê word.

Daar kan egter ook aangevoer word dat die gedig met tydruimtelikheid, of relatiewe ruimte, werk. Die feit dat die gedig as konkrete poësie aangebied word, forseer die leser om stadig te lees. Daar is meer as een manier om die gedig te lees. Dit kan as versreëls benader word – van begin tot einde, soos met ʼn tradisionele gedig, of die leser kan dit as kaart benader en die pad na die dam volg. Selfs dan word die leesproses versteur deur die teenwoordigheid van ʼn motorhek. Die kartografiese aard van die gedig het dus, benewens ʼn ruimtelike impak op die lees daarvan, ʼn tydsaspek wat die lees vertraag. Dit vertraag as’t ware die friksie van afstand tussen die huis en die hek, die woonbuurt en die lyk. Hier kan dus verwys word na relatiewe ruimte as materiële ruimtelikheid, maar ook as gerepresenteerde ruimte. Die kaart plaas nie bloot objekte op ʼn landskap nie, dit bepaal – vertraag – die spoed waarteen die landskap gelees word. Die leser moet wonder, reflekteer, stilstaan en rigting vra. Dit produseer dan ook ʼn gevoel van frustrasie, m.a.w. relatiewe ruimte as ruimte van representasie, of die belewing van ʼn sekere ruimte.

Verder sou getoon kon word dat “landskap” ʼn sekere tipe relasionele ruimtelikheid daar stel. Daar is reeds gewys hoe die plekke op die landskap in verhouding tot mekaar staan. Die gebruik van Paul Sauer as straatnaam kan bloot toevallig wees – dit kom immers elders in die bundel ook voor – maar, soos Le Roux (1998: 58) aantoon, was P.O. Sauer die voorsitter van ʼn kommissie wat die “Kleurlingvraagstuk” ondersoek het. Die kommissie se verslag is in 1947 gepubliseer en volgens Le Roux was hierdie verslag “deurslaggewend vir die Nasionale Party se oorwinning in die 1948-verkiesing.” Ná 1948 is Sauer as minister van Vervoer aangestel, “waar hy hoofsaaklik met die Spoorweë belas was” (Le Roux 1998: 58; sien ook Giliomee 2003: 476-478; O’Meara 1996: xxxv).  Die naam Kosie April verwys ook na Suid-Afrika se rasgebonde verlede, in hierdie geval ʼn van wat verbandhou met die geskiedenis van slawerny. Slawe het in baie gevalle as vanne die naam van die maand wat hulle in Suid-Afrika aangekom het gekry. Terwyl die name Paul Sauer en Kosie April dus na absolute ruimtes verwys – ʼn straat en ʼn lyk – is dit in ʼn breër landskap van koloniale dominasie ingeweef. Die gedig “landskap” roep dus as relasionele ruimte ʼn tipe psigo-geografie op. Die landskap word voorgestel nie net as ʼn kartering van plek nie, maar as ʼn plek met ʼn sekere traumatiese geskiedenis waarin “ons huis” in verhouding met “mm daai huis”, die “spoorwegwerf” en Kosie April se “dun lyk” geplaas word. Relasionele ruimte word so gerepresenteerde ruimtelikheid, maar ook ʼn belewenis van daardie ruimte, of ʼn ruimte van representasie.

Grové se interpretasie van die gedig as synde oor ʼn jaagtog en ongeluk te handel, is seker nie geheel en al onhoudbaar nie. Nietemin, gegewe die ruimtelike herlees van die gedig wat hier aangebied word, asook dié in Le Roux (1998) se studie, is só ʼn interpretasie ten minste onwaarskynlik. Alhoewel, soos hier bo aangetoon, dit moontlik is om relatiewe en relasionele ruimtelikheid aan te toon, is die gedig se krag in die feit dat dit op so ʼn besonderse wyse met die fisiese gegewens van absolute ruimtelikheid werk. Die gedig word ʼn kaart, een wat die leser laat wonder oor wat aangetoon word, maar ook wat verswyg word. Verstegnies gaan dit hier oor die gebruik van konkrete poësie. Relasionele aspekte is belangrik vir begrip oor die belangrikheid van name soos Paul Sauer en Kosie April, maar die trefkrag is geleë in die gedig se verwysings na die materialiteit van landskap. Relasionele ruimte word dus deur intertekstuele verwysings bewerkstelling.

Bronne

Giliomee, Herman. 2003. The Afrikaners: Biography of a people. Kaapstad: Tafelberg & Charlottesville: University of Virginia Press.

Grové, A.P. 1993. “Om te dig is óók onnatuurlik.” Insig, 30 Junie, p. 3.

Harvey, David. 2003. Paris: Capital of modernity. New York: Routledge.

Harvey, David. 2006. Spaces of global capitalism: Towards a theory of uneven geographical development. Londen en New York: Verso.

Harvey, David. 2009. Social justice and the city: Revised edition. Athens: University of Georgia Press.

Harvey, David. 2012. Rebel cities: From the right to the city to the urban revolution. Londen: Verso.

Le Roux, Christiaan Johannes. 1998. “Vervreemdingstegnieke in Gert Vlok Nel se digbundel Om te lewe is onnatuurlik.” MA (Afrikaans en Nederlands), Universiteit van Stellenbosch.

Lefebvre, Henri. 1991. The production of space. Uit Frans vertaal deur Donald Nicholson-Smith. Maiden, Oxford en Carlton: Blackwell.

Nel, Gert Vlok. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

O’Meara, Dan. 1996. Forty lost years: The apartheid state and the politics of the National Party, 1948-1994. Athens: Ohio University Press.

Seigneurie, Ken. 2005. “Ongoing war and Arab humanism.” In: Laura Doyle en Laura Winkiel (reds.). Geomodernisms: Race, modernism, modernity. Bloomington en Indianapolis: Indiana University Press.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •