Desmond Painter. Graham Greene in Langstraat

In BY van Saterdag 23 Februarie verskyn ‘n artikel deur Lin Sampson oor die vriendskap tussen Etienne Leroux en Graham Greene. Dit is ‘n interessante artikel, maar bied min nuwe onthullings vir aanhangers van Leroux. Greene se ‘fan mail’ aan Leroux, geskryf terwyl eersgenoemde die Engelse vertaling van Sewe Dae by die Silbersteins aan die lees was, is al legendaries in die Afrikaanse letterkunde. So ook Greene se besoek aan Koffiefontein en sy reis deur die land, begelei deur Leroux. Boonop het JC Kannemeyer met gebruiklike deeglikheid oor die episode geskryf in sy Leroux-biografie.

Sampson kom wel vorendag met interessante gegewens oor Greene se besoek aan (en latere aanbeveling van) Clarke’s Bookshop in Kaapstad. As iemand wat in Kaapstad grootgeword het en heelwat van my eerste boeke by Clarke’s gekoop het (insluitend boeke van Greene!), is dit nogal lekker om te dink dat Graham Greene op sy dag ook daar rondgekrap het vir ‘n winskopie of ‘n rariteit. Dit het my ook laat verlang na die dae toe daar nog meer boekwinkels as restaurante in Langstraat was… Vir my as tiener was Langstraat se tweedehandse boekwinkels ‘n onmisbare deel van my opvoeding. Ek het my sakgeld gespaar en tydens skoolvakansies ‘n toksak boeke daar gaan koop. Greene, Camus, Sartre, De Maupassant… noem maar op, hulle staan almal nog hier op die rak.

Maar dit is hierdie sin in Lin Sampson se artikel wat my verbaas het: “Al het hy dalk gevoel hy hou ’n gelaaide geweer vol romanmatige koeëls in sy hand, kon ek nog niks opspoor wat hy oor Suid-Afrika geskryf het nie. Net sy roman The Heart of the Matter speel af in ’n Britse kolonie aan die weskus van die vasteland.” Sampson het seker nie baie hard gesoek nie, want Greene het na sy besoek aan Suid-Afrika ‘n roman, The Human Factor, geskryf waarin ‘n Suid-Afrikaanse gegewe (‘n Britse spioen wat met ‘n swart Suid-Afrikaanse vrou getroud is en dan betrek word by ‘n tipiese Koue Oorlog intrige rondom die stryd teen apartheid) prominent figureer. Dit is in 1978 gepubliseer en daar was ‘n jaar of wat later ook ‘n rolprentweergawe van die roman.

In 1982 skryf Greene verder ‘n voorwoord vir ‘n heruitgawe van die boek. Ook daarin verwys hy direk na Suid-Afrika: hy voer aan dat Westerse skynheiligheid oor apartheid ‘n belangrike tema in The Human Factor is. Waarteen Greene dit had, was dat Westerse moonthede in die openbaar hoog opgegee het teen apartheid, maar agter die skerms ‘they simply could not let South Africa succumb to black power and Communism.’ Onthou: in 1982 was die konserwatiewe regimes van Thatcher en Reagan aan die stuur van Westerse sake.

The Human Factor is beslis nie een van Greene se beste romans nie. Die ander roman waarna Sampson verwys, The Heart of the Matter, is heelwat beter. Verder is daar al veel beter kommentare as Greene se voorwoord geskryf oor apartheid in die konteks van die Koue Oorlog. Nietemin, Sampson is verkeerd as sy dink Greene het sy eerstehandse ervaring van Suid-Afrika nie gemyn vir sy skryfwerk nie.

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Desmond Painter. Graham Greene in Langstraat”

  1. Desmond :

    Nog ‘n interessante artikel oor Graham Greene, hier deur Paul Theroux — oor ‘n era voor “publishers became corporate middlebrow monsters”… Dit het my daaraan herinner dat Greene se “Burn’-out case” in die Kongo afspeel; en dat hy verder ‘n resiboek geskryf het, Journey Without Maps, oor ‘n lang reis deur Liberie. So ek weet nie waarom Lin Sampson dink Greene het net in The Heart of the Matter oor Afrika geskryf nie.

  2. Desmond :

    Ag ja, daar vergeet ek die skakel:

    http://www.nytimes.com/2004/10/17/books/review/17COVTHER.html?pagewanted=all&position=&_r=0

    En ek bedoel ‘reis’, nie ‘resi’ nie.

  3. In die laat-1990s was daar ʼn uitstekende navorsingsverslag oor hoe Sierra Leone se bloeddiamante deur Liberië gesmokkel is. Die verslag se titel het na “The Heart of the Matter” verwys.

  4. Desmond :

    Andries, jy is vol fassinerende medelings vandag! Ek het bitter lanklaas Graham Greene gelees, maar ek was in my tienerjare versot op sy dronk priesters en lewensmoee diplomate. Greene se dood het destyds die 7-uur nuus op SAUK gemaak.

  5. Desmond, Desmond, “gemaak” in jou laaste sin hierbo is ‘n afgryslike anglisisme! Dit moet natuurlik wees: gehaal. (Ja, ja, ek weet Ronnie Belcher het die jag op anglisismes die “Boereoorlog van die taal” genoem.)

  6. Joan Hambidge :

    Desmond, dankie vir jou regstelling oor Graham Greene. Ek het dit vir die redakteur van BY aangestuur. Greene is ‘n goeie romanskrywer en die feit dat hy Etienne Leroux as ‘n belangrike stem (h)erken het, bly vir romanlesers in Afrikaans meer as ‘n voetnoot.

  7. Desmond :

    @Joan: ek dink dat Greene op sy beste ‘n werklik uitstekende romanskrywer was: Brighton Rock, The Power and the Glory, The End of the Affair, ens. ‘n Mooi Greene-eggo in Afrikaans is die ‘whisky priest’ in Chris Barnard se Moerland.

  8. Desmond :

    @Daniel: jy is reg! Mens kan ongelukkig nie hierdie kommentaarblokkies redigeer nie…

  9. Buiteblaf Breytenbach :

    ‘Gehaal’ is tog seker nie altyd dieselfde as ‘gemaak’ nie? Bedoel Desmond nie dalk dat die skrywer se afsterwe luister verleen het aan die nuusuitsending nie?

  10. Desmond :

    Ek vermoed ook nou dit is wat ek gemeen het om te bedoel. Daardie aand was selfs die Sport ‘n antiklimaks.

  •