Andries Bezuidenhout. Landskap

“At the heart of the unfreedom of the hereditary masters of South Africa is a failure of love.”
– JM Coetzee

Geloof, hoop, liefde. Hierdie drie,
maar die grootste hiervan is dalk geloof,
onthou ek uit ʼn gesprek aan die einde van Op ʼn eiland.
Vir Rita met haar wrokkige man
in om te lewe is onnatuurlik bly ʼn laaste halm hoop.
Iewers in ʼn gedig van André Letoit
word oorskietliefde geloot.

Hoe kies mens dan jou roete, jou invalshoeke
deur gom en gare en die blaaie van boeke?

Toeval dalk? Ry vanuit Oudtshoorn, rigting Calitzdorp,
op soek na ʼn uitstalling van landskapskilderye,
hou by De Hoop se kerktoring stil –
in geloof gebou, maar nou ʼn handlose vinger
sonder dorp om na terug te wys,
klok wat koersloos onder loodlas lui.

Kom dan op ʼn sinkgehuggie af,
kerk teen die horison, mezuzahkruis langs die deur
en besef waaroor die keuse moontlik gaan:

Geloof, De Hoop en wasdag,
hierdie drie, maar die grootse hiervan is die wasdag.

Bookmark and Share

23 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Landskap”

  1. Desmond :

    Mooi skildery, mooi gedig, Andries. Hou van die Coetzee aanhaling ook. Is dit uit White Writing?

    Ek wonder wat beteken ‘failure of love’ in hierdie konteks? Dat hulle te min liefgehad het? Of dat hulle liefgehad het, maar verkeerd liefgehad het? Net die landskap liefgehad het? Net die eie groep liefgehad het?

    Jou slot is lieflik. As Marxiaan in die ‘alledaagse lewe’ tradisie van Lefevbre en ander, dink ek natuurlik inderdaad ook die grootste van die drie is die wasdag! (En as post-Historiese nostalgiese subjek, die dag wat was…) 🙂

  2. Dankie Desmond. Daai aanhaling kom uit Coetzee se aanvaardingstoespraak vir die Jerusalemprys. Dis in “Doubling the Point” gepubliseer. Dit gaan oor liefde vir ‘n landskap, maar een sonder mense. Dirk Klopper het nogal mooi daaroor geskryf – “Hierdie lewe” en “Agaat” as teenpole vir Coetzee se punt: Dirk Klopper, “An Unsettled Habitation: Narratives of South African Landscape.” In: Michael Godby, The Lie of the Land: Representations of the South African Landscape (Iziko, 2010). Ek hou van “die dag wat was”!!

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    Lieflike skildery, lieflike gedig… In Mia Couto se “Voces Anoiticidas” word gepraat van “die gister van vantevore”. So sal die een hand die ander was totdat daar nog net beweging oorbly.

  4. Baie dankie Breyten. Dis deels ‘n gesprek hier (‘n ruk gelede) oor Afrika en landskappe wat my steeds aan die wonder het. Ek het onlangs op ‘n skildery van Lady Selborne deur John Mohl afgekom, asook hierdie aanhaling van hom: “But I am African, and when God made Africa, he also created beautiful landscapes for Africans to admire and paint.”

  5. ferdi :

    Andries, ek was Ferdi,ek wil jou nie op facebook kontak nie, dis net te mundane.Maar as jy my onthou, skryf dan na bogenoemde e-pos.

  6. Ferdi, hoe kan ek jou dan nie onthou nie? Ek stuur vir jou ‘n e-pos en ‘n gedig hier (met ‘n woord wat ek by Breyten gesteel het).

    DIE PALMLESER VAN SWAKOPMUND
    well today’s grey skies, tomorrow is tears
    you’ll have to wait til yesterday is here
    – Tom Waits

    Namib se mirage, helder blindernis
    en ek negentien jaar. Melanie speel gypsy,
    klokkiesromp by die Mole-kaai,
    my palm na bo gedraai wiggel sy:
    “Jy gaan doodgaan.” Ons lag. Ek sê:
    “Dan kan ook ék die toekoms sien,
    die vraag is net: hoe ver?”

    En nou, Melanie, negentien jaar later,
    die dorp, die verlede tree mistig terug.
    Almal van ons gaan ritmies dood.
    Het die vuurtoring nog dieselfde
    radius en kadens, die jetty se bene
    meer jaarringe roes, die spil
    waarom ek steeds entropies slinger?

    Sementbankie, soutstraat, laning palms –
    bakens wat my weer laat onthou.
    Vrou wat verwaaid stap langs die baai,
    wind wat haar jas teen haar kuite klap.
    My aandete verpak in bottel en sak,
    verloor ek my greep op die stuurwiel
    en nog wat. Sal ek die venster afdraai,
    haar nader roep: Ken jy vir Melanie?

    Melanie teen die Namiblig
    onthou ek nie meer die woorde
    wat jou tong in my mond wou lê nie,
    of die kers wat jy my gegee het
    met die kantate wat ek moes sê nie.
    Die was het gedrup en blase gebrand
    en toe ek buk om te lek
    was daar vlamme in jou hand.
    Melanie, Melanie, hoekom keer ek terug,
    negentien jaar later, na hierdie hinterland?

    September 2008

  7. Maria :

    Breyten mag homself dalk soms Buiteblaf noem, maar vir my bly hy deur en deur dinamies Derrideaans – “So sal die een hand die ander was totdat daar nog net beweging oorbly”! Dalk hou die Buiteblaf verband met die heerlike buitensporige spel in sy elke asemteug/uiting. Dankie aan almal betrokke op hierdie blad vir die heerlike glimlag wat op my gesig verskyn het. Ek gee die laaste paar maande skool by ‘n Afrikaanse skool en hulle werk hard daar, maar tussen die gebed in die oggend en die gebed in die middag sien ek gedrag wat my ‘n leidraad gee omtrent Griekwastad/die lewe se geheim … dinamiese dubbelsinnigheid … verbluffende onstuitbare beweging. Die wasdag is dus inderdaad die grootste/nodigste … ‘n tydjie vir stil word en fyn kyk, jouself toelaat om te sien wat jy lees en te lees wat jy sien (Derrida oor Heidegger oor Nietzsche in Spurs).

  8. Desmond :

    Die Derridansende Digter?

  9. Buiteblaf Breytenbach :

    So van die os op die esel, Andries: vanoggend wanneer in gesprek gewees oor hoe ‘kyk’ na die ‘ander’ tog altyd ‘n mate van besitname, kannibalisme, deelwording, vertering impliseer. Dit en dat mens nooit by die pit van nikswees kan uitkom nie. Dit, en dat die annekseringsproses daarom eintlik ‘n ontroosbaarheid van eksistensie is. Behalwe dan deur rituele. Miskien beswering. Dit, en juis dat ons (‘ons’) van alle tye af al weet dat ons vooruit weet in die sin dat ons die omgewing en die rede daarvoor en die bewuswording daarvan aanhou maak, én die patrone van die ooroergrote ruimte (wat nie ontsyfer kan word nie) in ons dra as resonans van bewuswording. Of as geheue. Of verbeelde geheue. Dit, en dat ons befoeter deur die sekwensiële gesekwestreer word – maar hoe dan gemaak wanneer die nood om narratief en dus begin, middel en einde, so déél van ons gene is dat ons dese daardeur gekondisioneer word? Dit, en dat ons dan ondergronds gaan, letterlik, soos in die Lascaux grotte. En alles opteken, al die ditte en die datte, so asof ons die ruimte self (en die ruimtes van self) moet spelonk, vergrot, verafgrot. En één keer ‘n jaar die son. Sonvloed. Sin. Syn. En dat die hole nou ontoeganklik is omdat asem (bewussyn) die raaisels, die skrif teen die muur, laat verskimmel. Maar dat ons weet ons is minder as hulle wat voor ons hier geskilder het. En tog dat ons bly weet van dit, die ondergrondse ruimtes. Dat hulle daar is. Net soos ons ook weet, uit Afrika, dat alles ons s’n is. En daarom ons verantwoordelikheid. Ook dié wat in vreemde ruimtes ‘oorsee’ onsigbaar geword het, van alle betekenis ontdaan: die diere in dieretuine, die renosters en die ape. Die verbeelding. Die geheue.

  10. Breyten, dankie hiervoor. Wat jy hier skryf resoneer vanaand op ontstemmende wyse. Ek is terug voor die rekenaar na ʼn wonderlike paar dae in die Drakensberge. By Kamberg het ons drie rotstekeningpanele besoek, hoog bo in die berge teen ʼn rotswand onder ʼn oorhangende krans. Daar is lae, maar volgens die gids is die meerderheid van die afbeeldings 4 000 jaar gelede geskilder. Die rooi oker en elandsbloed teen die rotse is op plekke steeds duidelik sigbaar. “Maar dat ons weet ons is minder as hulle wat voor ons hier geskilder het.” Ek het dít aan my vel gevoel. Ek is nietemin dankbaar vir die geleentheid om gesprekke aan te knoop, hopelik met die nodige perspektief.

  11. Johann de Lange :

    Dié gepleeg ná ‘n program oor navorsers wat vasgestel het die rooi pigment waarmee geskilder is in der waarheid elandsbloed is, wat verder beklemtoon watter betekenis die dier in die boesman se kultuur gehad het:

    PIGMENT

    Daardie donker rooibruin pigment
    deur klein-klein boesmanhandjies aangewend
    onder die oorhangende goed
    versteekte lip van klip is elandbloed.

  12. Helize van Vuuren :

    Pragtig, daai sterk slotwoord, Johann – miskien sou mens nog ‘n reël kon aanheg:

    wat hierdie oord se bossie-wortels voed.

  13. Evette Weyers :

    Andries, wat ‘n dansende gesprek vol Deridiaanse digters dansend.
    Ek het ‘n vraag
    Ek het hierdie gedig van Adam Small teegekom woordgetrou soos hieronder …………….

    Al sou hierdie land myne wees in al sy godsdiens
    Maar die liefde ondbreek my
    Dan is hiedie land myne sonder God

    Al sou ek hierdie land myne maak deur toegewydheid
    Maar die liefde ontbreek my
    Dan is hiedie land myne deur my tevergeefse dade

    Liefde is nie haat nie en haat word nie deur woorde liefde nie
    Want liefde bedek alles behalwe die liefde en die haat

    Toe ek ‘n kind was het ek gehaat soos ‘n kind
    Maar nou dat ek ‘n man is, het ek lief soos ‘n kind

    As daar nou swart en bruin en wit bly
    Dan is die grootste hiervan vir my, die liefde
    Adam Small

    Ek het dieselfde gedig ook teegekom met slotreel ;
    dan is die grootste hiervan vir my die geloof.

    Het Small dit gevarieer?
    Was dit bloot ‘n fout of wat/
    Dit is soos ‘n donker verskuiwing na uitsiglose herhaling, of is dit werklik geloof?

  14. Evette, baie dankie vir die byvoeging van hierdie gedig tot die gesprek. Jou vraag kan ek nie beantwoord nie, maar ek is seker iemand anders hier rond sal wel kan. Pragtige wisselwerking tussen Coetzee en Small. Ek gaan my eie gedig moet herskryf.

  15. Evette Weyers :

    Bly ek kon iets bydra. Geloof, hoop en liefde is erens in ons bybelse grootword geplant soos hoeksteene in ons. Na ek die vorige vonkpos gepos het, het ek besef die variasie wat ek teegekom het was
    ‘Dan is die grootste hiervan die hoop’.
    Dit het my damaals onkant gevang. Jare lange behoud van die ou status quo het seker die laaste bietjie liefde en geloof verweer en weggevreet.

  16. Desmond :

    Ek onthou nou skielik (en dis so half tersyde): Leroux se Silbersteins eindig met ‘die waarheid in gelid van die liefde’; Jan Rabie se ‘Waar jy sterwe’ (een van die deesdae afgeskeepte Bolandia-romans) met die vraag: ‘Wat is die mens sonder die blye sekerheid van hoop?’

  17. Evette Weyers :

    Heerlike pere wat daar verder loswaai uit jou boorde, Desmond.
    os op nog ‘n jas;
    Jare gelede het Fugard gesê dat ‘swart’ en ‘wit’ sulke gelaaide woorde is in ons land dat 2 akteurs net teenoormekaar kan sit op ‘n kaal verhoog en sê swart. Wit. Swart. Wit en jy sal ‘n drama hê.
    Miskien het ‘geloof , hoop en liefde’ ook, behalwe bybelse eggoes, die geskiedenisse van swerwende mense, verskuiwende mense, en verskuifde mense.
    Besef nou net, Drama naas gedigte mik wel vir iets anders. Fugard neem jou altyf poedelkaal in baie ongemaklike waarhede in. Dan volg Klimaks en katarsis of uitwissing.
    Waarheid is ook ‘n gelaaide woord.

    Maar ek dwaal nou ver weg van’ geloof, de Hoop en die wasdag’ wat jy so heerlik vasgevat het in jou gedig, Andries.
    Die grooste hiervan is beslis die wasdag!

  18. @Desmond. Lyk my die gedig gaan in ‘n paar weergawes kan uitkom. So terloops, ek sien uit na die publikasie van die volgende uitgawe van Nuwe Stemme.

  19. Johann :

    Helize, dankie vir die voorstel. Die vyfreëlige vers gee partykeer net daai ekstra ruimte wat mens nodig het. Ek sal dit beslis opneem.

  20. Buiteblaf Breytenbach :

    Maar ek wonder tog, Johann, of die vierlyn, die kwartet, juis omdat dit die konsentraat moet wees van so baie ruimte (én nog sin en betekenis – die twee saam maak tog ruimte? – om nie eens van die sedeles of die oorsprong wat ‘n oor-sprong is te praat nie) nie dalk méér ruimte bevat of suggereer (is ‘ruimte’ dan nie altyd suggestie nie?) as wat daardie ekstra of vyfde reël kan bied nie. Aanhou is immers ‘n beperking, dan nie? Bevat ry soms omvat in die wiele.

  21. adriaan :

    Andries, elandsbloed in gedagte, wil graag weet of dink jy dit wys om sê bv. die oranjes van wildeperske/wilde appelkoos, die gele van witstinkhout, die persbloue van blinkblaar, die rooi van doppruim se vrugte te ontgin as eg Suid afrikaanse palet. En hoe omskep jy vrugvleis in bemarkbare verf, miskien ‘n waterverf? En sal ‘n werk van sulke stowwe gou degenereer? Miskien weet jy van ‘n boek.

  22. Johann de Lange :

    Breyten, jy is natuurlik reg. In beperking lê bevryding, & soos met ‘n suksesvolle kortverhaal laat ‘n goeie kwatryn jou altyd ná die lees met die gevoel dat dit veel langer as 4 reëls is – soos daardie klein Japannese papierrosies wat jy in water sit & dan swel hulle volle grootte uit.
    Ek wil baklei teen die nuk om alles in die bestek van die kwatryn te ontgin. Dit veronderstel ‘n sekere soort ontginning. Ek is baie lief vir die kwatryn & die sonnet – op ‘n manier ‘werk’ hulle nogal dieselfde. Mens kan die kwatryn as sonnet-in-die-kleine benader, iets wat ek heelparty van gedoen het. Dink jy nie DJO se kwatrynvorm is ‘n ideale voorbeeld nie?
    Ek het bietjie begin eksperimenteer met 5 reëls & die 5-reëlige gedig het ánder innerlike geledinge & ek vind ek ontgin dieselfde gegewe op ‘n ander manier. Net nóg ‘n bewys dat vorm & inhoud een is.

  23. @Adriaan. Pauline Gutter het ‘n boek vir my aanbeveel oor verf as alchemie. Dalk sal ek eendag meer kan waag, maar vir eers meng ek nie my eie pigment nie. Ek werk met wat beskikbaar is in buisies. Ek dink ek het al die rooi van Suid-Afrikaanse sinkdakke bemeester, maar sukkel nog met die kleur van die lug se lig. Karoo, Johannesburg. Alles so verskillend. Oggend. Aand. Middag. Witstinkhoutblare hierdie tyd van die jaar. Johannesburg se lug in die herfs. (Vra vir Eybers!) Mense wat werklik kan verf gebruik waterverf. Vir eers, terwyl ek my voete vind, werk ek in olie. (Verskoon my onsamehangende antwoord. Ek brou ook nie my eie wyn nie, maar het waardering vir Suid-Afrikaanse kelders.)

  •