Desmond Painter. Is die PEN magtiger as die ‘drone’?

Chris Hedges

Die stigting van PEN Afrikaans verlede jaar was myns insiens ’n werklik belangrike inisiatief, een wat die potensiaal het om ons letterkunde te ‘internasionaliseer’ op ‘n manier wat nie summier reduseerbaar is tot leë bemarkingsretoriek nie.

PEN bied die Afrikaanse skrywer ʼn welkome vorm van ‘onbemiddelde’ internasionale verteenwoordiging: ons word immers op grond van Afrikaans, nie ten spyte van, of selfs ten koste van Afrikaans nie, deel van ʼn internasionale gemeenskap van skrywers.

PEN is nie die agent van die soort glansverpakte ‘wêreldliteratuur’ wat eintlik niks anders is nie as gekommodifiseerde woord-eksotika vir die verbruik van ʼn kosmopolitaanse elite nie. Dit is dus ook nie ʼn gilde wat na skrywers se mark-belange omsien nie.

PEN bied veral aan kleiner tale, en alle skrywers wat teikens word van politieke vervolging of onderdrukking, ʼn sekere mate van ‘simboliese mag’.

Lidmaatskap van die groter PEN-gemeenskap daag ons dus ook uit: tot ʼn opgeskerpte etiese en politieke verbeelding; tot die erkenning en uitbou van solidariteite oor lands- en taalgrense heen; tot deelname aan diskoerse wat poog om die homogenisering en vervlakking van wat ‘globalisering’ genoem word te herstel tot iets nader aan die amper vergete ideaal van ‘internasionalisme’. (ʼn Uitdaging, dalk, om ‘globalisering’ tegelyk vanuit die perspektief van die ‘plaaslike’ en die ‘universele’ te bevraagteken en te omvorm — en om aan te dring op die rol van taal en die verbeelding, van onvervreemde woordwerk, in hierdie proses.)

Daarom is dit ook noodsaaklik dat ons kennis neem van wat in ander PEN-sentra gebeur; en dat ons van ons laat hoor. Die bekende Amerikaanse joernalis, Chris Hedges, het byvoorbeeld ʼn maand of wat gelede uit PEN Amerika bedank en hom as spreker van die PEN World Voices Festival, wat in Mei aangebied word, onttrek. (Lees gerus hier en hier.)

Die rede vir Hedges se besluit was die verkiesing van Suzanne Nossel, ʼn voormalige ‘Assistent Deputy of State (International Affairs)’ wat onder Hillary Clinton diens gedoen het, tot Uitvoerende Direkteur van PEN Amerika. Haar ‘belangrikste’ bydrae tot die taal, sover ek kan vasstel, is dat sy die begrip ‘soft power’ gemunt het – ‘n begip wat ‘n integrale rol speel in die mistifikasie van Amerikaanse imperialisme, veral in die Midde-Ooste. Hier is Hedges se verklaring:

I will not be participating as a speaker in the PEN World Voices Festival in May. I will not participate because of your decision to select Suzanne Nossel as Executive Director of the PEN American Center. This appointment makes a mockery of PEN as a human rights organization and belittles the values PEN purports to defend. I spent seven years in the Middle East, most of them as the Middle East Bureau Chief of The New York Times. The suffering of the Palestinians under Israeli occupation and the plight of those caught up in our imperial wars in countries such as Iraq are not abstractions to me. Nossel’s relentless championing of preemptive war – which under international law is illegal – as a State Department official along with her callous disregard for Israeli mistreatment of the Palestinians and her refusal as a government official to denounce the use of torture and use of extra-judicial killings, makes her utterly unfit to lead any human rights organization, especially one that has global concerns. PEN American Center, by appointing Nossel, has unwittingly highlighted its own failure to defend and speak out for our dissidents, especially Bradley Manning. I hereby resign from PEN. I will wait until the organization returns to its original mandate to defend those who are persecuted, including those within the United States, before returning to the organization.

Sincerely,

Chris Hedges

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Desmond Painter. Is die PEN magtiger as die ‘drone’?”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond: Ek is dit volhartig met jou eens! Jou argumente is suiwer en hou water. Hier het ons nou die kans gehad om sonder ‘n by your leave in volle verantwoordelikheid deel te word van ‘n internasionale gemeenskap van literêre mense – en met die vrymoedigheid om krities na die sake te kyk wat jy opper. En nié net as vyfde, halfskaam wiel aan die wa mee te doen aan die Gaddareense gejaag na glans en gulsigheid nie. En veral om nié deur enige imperialisme gemanipuleer te word nie.
    Soos Hedges dit stel: Ons kan nie anders as om altyd en oral te veg teen die magshegemonieë nie.
    By die voorbeeld wat die oorsaak was van Hedges se bedanking (en dis interessant om te sien hoe vernuftig die Amerikaanse PEN se “World Voices” fees in New York die vis probeer versuip) sou mens kon vra: watter aandag gee ons aan wat op ons kontinent aangaan – selfs ook net vanuit skrywershoek gesien? Mali? Tunisië? Egipte? En wat van die gejag op vreemdelinge in Griekeland? (Dis tog iets waaroor ons met gesag sou kon saampraat – en dis by uitstek ook ‘n debatsonderwerp onder intellektuele in Griekeland.) Wat van Palestina? Neem ons enigsins kennis van die besware aangeteken teen Netanyahu se onmenslikheid soos in ‘n petisie verwoord deur ‘n sterk groep Israeliese skrywers – met verwysing na Palestynse hongerstakers wat sonder verhoor of veroordeling aangehou word in Israel se tronke? Het ons dan so gou vergeet van ons 90-Day Detention? So kan mens aangaan – nog voor jy kom by korrupsie, die rol van die Veiligheidsdienste, die toestande in tronke, die hongerloon van plaaswerkers in SA.
    Nee wat, wat hierdie organisasie betref – en vir ‘n eerste keer het ek gedog “hier kom ‘n ding”, nou kan ons kop optel – staan my ghrêmmer. Ek is uit.

  2. Sonja Loots :

    Beste almal
    PEN Afrikaans is in hierdie stadium minder hoorbaar as wat moet, veral omdat die bestuur stil-stil besig is om te stoei met die tipiese dinge wat enige vvrywillegersorganisasie in die eerste dae moet uitsorteer. Ons registrasie as nie-winsgewende organisasie is onverwags tydrowend en problematies. Voor ons dit nie afgehandel het nie, kan ons nie ledegeld hef nie. Sonder geld, kan geen projekte uit die wegspringblokke kom nie. Wees gerus: ons rus nie op ons louere nie. Hou asseblief ook in gedagte dat die meeste PEN-organisasies, soos trouens ook South African PEN, ‘n voltydse administratiewe beampte in diens het. Dit is iets wat ons in de vooruitsig stel en waarmee ons in hierdie einste week aan’t woeker was. Op die oomblik word PEN Afrikaans egter gedra (dalk gesleep) deur mense met baie verpligtings (en ja, voete van klei). Dit is nie so ‘n dekadente “verskoning” soos dit klink nie. Dis real life. Julle soek vuurwerke terwyl ons desnoods stokkies sit en vryf. Moet sseblief nou nie die tipiese Afrikanerding doen en onder mekaar begin baklei nie. By Aardklop is die volgende ledevergadering en die kans om te stem vir die bestuur en voorsitter wat julle verkies. Intussen bly PEN Afrikaans ‘n uitstekende inisiatief wat ons almal se empatie en lankmoedigheid verdien.

  3. Desmond :

    Sonja, jy is sekerlik reg. Ek self het hierdie blog vandag geskryf, eerder as ‘n maand gelede, omdat ek gewoon te besig was. Ons kan seker ‘n bietjie administratiewe hulp aanbied… My bedoeling was nie om met jou of enigiemand anders te baklei nie. Ek dink wel die Chris Hedges-storie is interessant en relevant vir ons; en dat PEN Afrikaans ons kollektiewe horisonne kan verbreed (om nou ‘n cliche te gebruik). Hieroor stem ons waarskynlik saam. My geteoretiseer is dalk ‘n bietjie pretensieus hierbo, maar nogtans: ek dink mens moet aandring daarop dat PEN Afrikaans – wanneer dit dan eers ordentlik op die been is – nie net ‘n bemarkingsinisiatief is, of slegs ‘polities’ wanneer dit die posisie van Afrikaans aangaan nie. Hieroor stem ons waarskynlik ook saam.

  •