Blikvanger: Die etiese knoop wat die digkuns verknoei

Ethics knot leaves poetry at sea

Leon de Kock

Antjie Krog has diverged from the popular route of cheer and optimism in South Africa, describing instead a country devoid of common ground.

“To talk ethics, you have to talk to someone,” Krog pleaded. “You have to engage with someone about exactly what the ethics are about. I thought I knew. I grew up thinking I knew. Since 1990 I’ve been at a loss. I feel I’m in a country that has a fractured morality; a country that is deeply confused about what its ­ethics could and should be, even what ethics is. The ethics in which I was raised proved to be a failure. Now you have to relearn. But there are barriers that prevent this engagement. We agreed on a constitution, an anthem, et cetera, and yet below it there’s turmoil.”

Lees Leon de Kock se volledige berig by Mail & Guardian.

 

Bookmark and Share

30 Kommentare op “Blikvanger: Die etiese knoop wat die digkuns verknoei”

  1. Leon Retief :

    Dit is waarskynlik redelik tipies van Krog dat sy wit SA-ners steeds as setlaars beskou. Se moer! Byna die hele wereld bestaan verdomp uit setlaars.

  2. Johann :

    Leon, dit behoort vir jou duidelik te wees uit die gebrek aan kommentaar op jou opmerking, dat jy jou alleen bevind. En dan is die probleem wat sy aanspreek, nl die feit dat sowel die skrywers as die ander inwoners van die land by mekaar verby praat, mekaar nie verstaan nie, ‘n al dwingender probleem & een wat jy op straatvlak, hiér, moet ervaar om te weet waaroor dit gaan. Dit is nie net nóg een van die eindelose rits sale waaroor mense online opinies kan uitspreek nie. Persoonlik vind ek die opinie van iemand wat nie hier die probleem & die konsekwensies daarvan eerstehands ervaar nie van weinig waarde.
    Kom woon hier, kom offer op, kom ervaar wat hier aan die gebeur is aan eie bas, dan sal jy ten minste beter ingelig wees. Watter van enigeen wat hierdie blad of ander Afr webwerwe besoek, het dag na dag die verskrikkinge van die TRC aangehoor & daarop gerapporteer? Wie kan onaangeraak, onveranderd & ongeskonde aan die ander kant uitkom? Wie kan daardie dinge aanhoor & steeds dink dinge word oordryf? En die vermetelheid om dit te doen vanuit ‘n ander kontinent waar jy niks van die dag tot dag realiteite hiér werklik ken nie; die vermetelheid om iemand soos Antjie wie se lewe baie makliker sou kon verloop het as sy ander keuses gemaak het, vanuit ‘n knus selfingenome & histories antikwariese perspektief te kritiseer, dit vind aanmatigend.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    Beste Johann: Mag ek in alle respek sê jy weet nie waarvan jy praat met betrekking tot hierdie spesifieke gesprek, met wat Antjie gesê het nie?(Iets van die kompleksiteit en, ja, die rouheid van die onderwerp skemer deur in De Kock se berig.) Sover ek van bewus is was jy nie daar nie. So dit help nie veel om die wysie te neurie nie.
    En wat jou baie persoonlijke aanval op Leon Retief aangaan… mens sou van ‘n bekroonde digter darem ‘n ietsie beter verwag as hierdie populistiese verdagmakery, die elmboog-op-die-kroegtoonbank gejil oor “bly-of-gly”! As digters nie op meer genuanseerde wyse kan omgaan met woorde en begrippe nie – wie dan? Retief “vermetel”? Het hy hom dan nie al by herhaling uitgespreek oor sy eie trajek nie?
    Kom nou, Johann – wat se gekef is dit skielik?
    Goeie groete
    Breyten

  4. Desmond :

    Antjie Krog se eties-politiese kommentaar word nie altyd ewe goed ontvang nie, so ek dink nie Leon se reaksie kan sommer so as oningelig afgemaak word nie. (Ek stem nie altyd met Leon saam nie, maar ‘n oorhaastige, oningeligte of opportunistiese skrywer is hy nie – anders as ek, wat te dikwels al drie hierdie sondes begaan!)

    Onlangs is ‘n onderhoud met Financial Mail word Fred de Vries soos volg aangehaal: “If he were a black person, says De Vries, he would eventually find even Antjie Krog a bit much, with all that ‘begging to be black’ empathy.” Miskien interpreteer De Vries Krog se ‘begging to be black’ verkeerd, maar dit is nie die punt nie. Krog se standpunte word klaarblyklik uit verskillende (‘ideologiese’) oorde geproblematiseer, en ek dink mens moet daaroor praat, eerder as om haar op grond van haar merkwaardige digterskap bo kritiek te verhef.

    Krog is ‘n briljante digter en ‘n fassinerende denker, en het eintlik nie verdediging nodig nie. Op ‘n ietwat ander noot: Ek is in elk geval bly dat Slipnet se skrywers bereid was om ook kritiek uit te spreek in hulle skrywes oor die fees – of mens saamstem met die kritiek of nie, dit is beter as om te verval in ‘n soort houding van ‘koloniale dankbaarheid’.

    Natuurlik is ‘n mens dankbaar dat so ‘n fees hier plaasgevind het, maar daarna moet mens ook onthou om kritiese deelnemers te wees, nie net swymelende aanhangers nie. Die Afrikaanse beriggewing het myns insiens bietjie geneig na laasgenoemde, maar dalk het ek net half gelees. (Ek was immers ook nie daar, of selfs hier, nie.)

  5. Johann de Lange :

    Beste Breyten

    Ek gaan (probeer om) nie met jou ‘n bekgeveg aan te knoop nie want dan gaan beide van ons dinge sê wat ons later mag berou. Maar ek wil wél ’n paar dinge noem:

    1. Retief was ook nie by die geleentheid nie, maar dit is blykbaar in sy geval nie ’n belemmering nie. Uit die aard van my vriendskap met Krog is ek egter bewus van haar opvattings.
    2. In teenstelling met Retief blý ek hiér, ónbeskerm deur geld, & ervaar van dag tot dag dinge wat Retief vanweë sy geografiese verwydering regtig nie kan begryp nie. Ek is helaas van die bly-of-gly brigade, noem my maar old school.
    3. Ek woon nie literêre geleenthede by nie, & het fundamenteel ‘n probleem met glansgeleenthede soos dié by Spier, binne die konteks van wat buitekant die grensdrade van die landgoed aangaan. Die toegangsfooi is meer as wat die grootste deel van die bevolking kan bekostig, of regverdig. Ek wil Wilma Stockenström se woorde oor “oorlee mevrou Ples” bietjie aanpas & sê dat digters nou nie juis ’n seldsame dier is nie.
    4. Ek verstaan ook nie waarom daar van my as ‘bekroonde digter’ verwag word om ánders op te tree as wat ek sou doen sónder die bekronings nie. Die bekronings het niks met my as mens of met my skryfwerk te maak nie. Hulle is, binne die groter bestel van sake, werklik irrelevant, & ek loop nie met hulle aangespeld nie.
    5. Jy sien egter geen fout daarmee dat Retief vir Antjie aanvat nie (eweneens ‘n bekroonde digter). As iemand wat dikwels die slagoffer was & is van presies daardie soort aanvalle, sou ek gedink het dat jy meer empatie met ‘n kollega sou hê. Daar word van openbare figure verwag om ‘n waardige stilte te handhaaf (wat Antjie tot haar eer regkry) terwyl sommer enigeen met ’n laptop, iPad of selfoon hulle op openbare forums na hartelus kan aanval (heel dikwels agter skuilname).

    Ek het reeds meer gesê as wat ek wou, & miskien ook dinge wat maar kon gebly het. Na wat almal in hierdie land sedert 1994 meegemaak het, & met ’n daaglikse dosis van sotlikhede deur ons leiers & ’n ál bleker toekoms, het my nerf soos dié van baie ander landsburgers dún geword wanneer dit kom by die opinies van buitestaanders. Ek het ’n skerp tong & ek maak nie verskoning daarvoor nie, ek is ‘n heethoof wat soms skryf voor ek dink, & ek is nie die tipe wat die ander wang draai nie, maar dan kan mens nugter beskou dieselfde van jou ook sê. En neffens jóú reaksies op kritiek lyk my reaksie op Retief skoon Hoofs van hoflikheid.

    Toegeneë,
    Johann

  6. Leon Retief :

    @Johan: Jy mag moontlik van my verskil maar ek beskou myself as ‘n wit SA-ner en Krog se stelling etiketteer my dus op ‘n wyse waarteen ek ten sterkste beswaar maak. Gevolglik het ek die reg om my opinie te lug oor wat ek as plein kommin nonsens beskou. Die feit dat sy ‘n bekroonde digter is het met die hele saak niks te doen nie.
    Voorts: Jou hele vloermoer het niks te doen met wat ek gesê het nie. My opmerking het geheel en al net gegaan oor Krog se sienswyse dat wit SA-ners setlaars is. Ek het niks gesê oor die ander dinge wat sy aangeraak het nie, in daardie opsig(te) is sy ten minste gedeeltelik of dalk heeltemal korrek. Ek is alles behalwe “geografies verwyder” van wat in SA gebeur. Ek het sestig jaar in SA gewoon en weet net so goed soos jy hoe groot die kloof tussen die verskillende groepe in SA is, ek het nie iemand nodig om dit aan my te vertel nie. Ons het wat daar gebeur het aan ons eie basse ervaar, soos jy dit gestel het en ek dink ek het uit die aard van my daaglikse doen en late heel moontlik meer daarvan gesien en ervaar as jy.
    Wat die bevindings van die TRC te doen het met die kwessie of wit SA-ners as setlaars beskou moet word of nie is vir my onduidelik, maar deur dit op te haal skep jy die indruk (moontlik nie met opset nie) dat ek my gat afgevee het aan wat hulle als oopgekrap het en dat ek gedink het dat dit oordrewe is. Dit is alles behalwe die geval. As ek jou reg verstaan het en as dit is wat jy impliseer dan is jy geheel en al verkeerd en ek dink nie jy moet sulke dinge aan iemand toedig sonder om te weet wat daardie persoon se menings is nie.
    Baie mense wat SA op ‘n permanente of tydelik langtermyn basis verlaat doen dit weens politieke oorwegings wat op die werklikheid gegrond mag wees of nie, maar dit is nie die rede waarom ons hier sit nie. Ek het die volste reg om my mening te gee oor enigiets in SA en ook om ‘n opinie te lug oor wat enigeen in SA kwytraak oor enige onderwerp waarvan ek iets weet. As dit nie die geval was nie sou nie jy of ek die reg hê om byvoorbeeld die VSA te kritiseer oor die drone-aanvalle in Afghanistan nie want nie een van ons woon en “offer op” in Afghanistan of die VSA nie.
    Dit wil my voorkom asof jy dink ons is al dekades lank buite SA. In werklikheid is ons nou vyf jaar en twee maande hier, ons besit steeds ons huis in Kaapstad en meeste van ons meubels is ‘n pakhuis daar. Die rede waarom ons in Kanada is is omdat die Five Hills Health Region my ge “head hunt” het – ‘n aanbod wat hulle aan mý gemaak het en nié ‘n pos waarvoor ek aansoek gedoen het nie. As dit nie daarvoor was nie sou ek nie eers daaraan gedink het om SA te verlaat nie. Dit was vir ons ‘n geleentheid om ‘n ander land, sy mense en omgewing te leer ken wat min mense kry en daarom het ek die aanbod aanvaar. Jy het nie die vaagste benul van waarom ons hier is nie, wat ons toekomsplanne is nie en om ons as buitestaanders te beskou is doodgewoon onvanpas en onkundig.
    As wit SA-ners dan setlaars is – die verskil tussen ‘n setlaar en ‘n buitestaander (wat ek volgens jou is) is seker maar gering. As buitestaanders moet stilbly dan moet setlaars ook hul bekke hou, dan moet ons almal, Johann de Lange, Breyten, ek en les bes Krog ook, ‘n stilte a la Samantha Vice handhaaf oor wat in SA aangaan.
    Ek stem ten minste oor een ding met jou saam: jy skryf soms voor jy dink, en klaarblyklik ook voordat jy mooi lees wat iemand anders geskryf het. Maar toemaar, ons doen dit almal van tyd tot tyd.

  7. @ Leon, so gepraat oor witwees, Samantha Vice en debatte by / oor die digtersfees, lees gerus hierdie interessante kommentaar van Marlene van Niekerk op ‘n kritiese beskouing van sekere feesdebatte deur Kavish Chetty. Dit sluit ‘n gedig in met die titel ‘Brief aan Samantha Vice’.

    http://slipnet.co.za/view/blog/spider-in-a-jar/

  8. Leon Retief :

    Dankie Desmond, ek het dit gelees. Vice sou dalk ‘n punt beet kon he as die SA regering enigsins in staat was om woorde soos etiek en goeie administrasie te spel, newwermaaind wat daai woorde beteken. Dan sou ons wittes dalk tereg aangese kon word om ons bekke te hou. Wat vir ons opvallend was, in die kort 5 jaar wat ons hier is, is dit: toe ons hier aangeland het was dit meestal wit SA-ners wat op ‘n permanente basis na Kanada verhuis het. Binne maande na ons aankoms het daardie demografie verander na gekleurde SA-ners, toe Indiese SA-ners en nou is die ooweldigende meerderheid SA-ners wat na Kanada wil versit swart SA-ners, om redes waaroor ek seker nie nodig het om uit te brei nie. Nuff said. Helaas…

  9. Leon, ek ken vir Samantha baie goed, sy’t filosofie by Rhodes begin doseer toe ek daar in die sielkunde dept gewerk het. Ek ken haar en ek hou ook van haar; maar ek stem beslis nie saam met die strekking van haar argument rondom witwees nie. Dit laat my te veel dink aan hierdie stukkie uit Nietzsche se ‘Genealogy of Morals’, waar hy praat van ‘beautiful souls’:

    “Among them, again is the most loathsome species of the vain, the lying abortions, who make a point of representing ‘beautiful souls,’ and perchance of bringing to the market as ‘purity of the heart’ their distorted sensualism swathed in verses and other bandages; the species of ‘self-comforters’ and masturbators of their own souls. The sick man’s will to represent some form or other of superiority, his instinct for crooked paths, which lead to a tyranny over the healthy.”

  10. Jaco Barnard-Naudé :

    Sela, Johann De Lange. Ek wás daar by die gesprek wat hier ter bespreking dien. Ek dink Antjie was een van die min digters wat bereid / dapper genoeg was om die ubuntu-sit-om-die-vuur-braai-marshmallows-sing-Lion-King diskoers te versteur / problematiseer. Niemand vertel / praat van die oomblik toe Sandra Botha (sonder die swakste sweem van ironie) opstaan in vraetyd en basies vir Antjie sê dat sy wat Sandra is nou “die Ander” heet in Suid-Afrika en hoekom moet sy skuldig voel oor die verlede? (Ie die prys word betaal (solank sy steeds by die Spier-digtersfees kan opstaan om haar spraak te sprook)). Die ergste daarvan vir my was die algehele gebrek aan ‘n besef van konteks, die onvermoë juis om jou in die posise van die Ander te verbeel en om uit die posisie van die Ander te dink – en dan met kollegas in die vertrek wat waarskynlik dink (contra Jeanne Goosen) ons ís almal so. Jaco

  11. Johann de Lange :

    Antjie skyn die enigste een te wees wat besef dat die Spier-fees sélf illustreer wat verkeerd is in hierdie land. In die kleine bevat dit al die elemente. En vir dié wat nog sukkel om die klooutjie by die oor te bring, dié kosare vinjet: terwyl die gaste die mooi dinge van die Kaap gewys word (& mooi is dit, o ja), is die bergie wat hulle op eg Kaapse wyse gegroet het met jou-ma-se-p**s, glo vinnig deur Hannelore F Bekokstower stilgemaak dat hy nou nie die mooi patina van die geleentheid beskadig nie.
    Sandra Botha, klink dit my, begryp ook nie mooi die konsep van die Ander nie. Dis nie ‘n simpllistiese omruil van rolle nie, & ek wil my verstout om te sê dat weinig van dié wat die geleentheid bygewoon het op status van die ‘Ander’ kan aanspraak maak. Ons praat nog steeds by mekaar verby.

  12. Johann, die verskil tussen Leon se Krog-opmerking en jou Bekokstower-opmerking is dat Leon s’n kritiek lewer op wat hy sien as Krog se standpunt (waarop sy sou kon reageer deur te s^e hy verstaan nie haar standpunt nie; of deur te verduidelik waarom sy haar standpunt huldig) terwyl jou opmerking Bekokstower (en ons weet almal wie dit is) gewoon verdag maak. Hoe bevorder dit produktiewe, kritiese debat oor ‘n komplekse kwessie? Een mens se ‘kosbare vinjet’ is seker maar ‘n ander mens se skinderstorie… Hoe ook al, iets soos die Spier-fees is amper onafwendbaar deurspek van teenstrydighede – net soos, in ‘n land met soveel armoede, universiteitsopleiding, eet by duur restaurante, die koop van boeke, ‘n dak oor mens se kop, ens. Natuurlik moet ‘n mens dit problematiseer, en skote as Antjie Krog dit wel gedoen het. Sy was nogtans self DEEL van die fees; en so ook, klink dit, Jaco Barnard-Naudé. Die gesprek oor die fees (en die kwessies wat dit lostorring) kan dus nie so maklik gereduseer word tot een of twee geisoleerde opmerkings uit die gehoor en ‘n venynige staaltjie oor ‘n mede-digter nie.

  13. Johann de Lange :

    Desmond, as jy nie die kloutjie by die oor kan uitbring nie, gaan ek dit nie vir jou doen nie. Maar ek sal wel wou sê dat op ‘n sekere vlak (vir my altans) sê Antjie & die bergie dieselfde ding, elkeen soos hulle gebek is.

  14. ʼn Ruk terug het Breyten opgemerk: Almal wil eet, maar niemand wil kook nie. Ek voel werklik bevoorreg om by hierdie fees te kon wees, die feit dat iemand die moeite gedoen het om te kook. ʼn Mens kon sien dat resepte, bestanddele versigtig oorweeg en geweeg is. Ek voel bevoorreg om na ongelooflike voorlesings te kon luister, boeke op my oortrokke rekening aan te skaf. Antjie Krog het my uitgedaag om my eie gelatenheid te bevraagteken en Jaco Barnard-Naudé het ʼn te gemaklike selfvoldaanheid oor die digkuns as morele posisie ondermyn deur sy voorbeeld oor Milosevic as digter. Soms het ek ongemaklik oor die weelde gevoel, oor die kontras tussen die oorwegend wit gehoor en die oorwegend swart dansers. Ek het ongemaklik gevoel oor ʼn gedig wat Celan se eie woorde in sy mond lê, alhoewel my ongemak waarskynlik meer oor my as oor die gedig sê. Maar bowenal voel ek dankbaar en bevoorreg om daar te kon wees en om te kon drink en dans saam met ander mense wat gedigte skryf en lees. Ek voel bevoorreg, want ek weet dis onverdiend. Ek voel ook die chefs verdien nie die tipe suur druiwe wat nou hier opgedis word nie.

  15. Maria :

    Val die volgende rymelary uit my uit:

    Die Spier-fees is soos ‘n woord
    of ‘n woord is soos die Spier-fees
    ‘n gekheid moet waak oor ons denke (aldus Derrida)
    om dit te kan begryp

    Wat is ‘n relevante vertaling?

    Ons is almal setlaars
    almal reisigers
    almal Ander(s)
    almal bergies

    Ons bedel almal
    met elke woord wat ons spreek
    elke naam wat ons gee
    bedel ons vir begrip

  16. Francis :

    Baie dankie Andries dat jy die galdraad geknip het en die moontlikheid vir meerdere perspektiewe en ervarings van die fees bewerkstellig. Ek voel ook bevoorreg dat ek die besluit kon neem en die moeite kon doen om hierdie maaltyd te ervaar: die digters se voorlesings en uitsprake (van uiteenlopende aard en aanslag), die dansers se lyfgedigte, die musikante se kadanse, die verfkunstenaar se kleurbewegings oor die agterdoek en ook die saamwees en –dans in die tent, die stap onder die sterre met lantern en klip, die gesels met ou bekende en nuwe jong woord-eters. Baie dankie aan die kokke, koksmaats en kokkedore wat hierdie fees opgedis het.

  17. Carina Stander :

    Ek het ook, soos vriend Andries hier bo, ‘n paar dagreise moes onderneem om Dansende Digters te kon bywoon. Uiteindelik kon ek drie van die vier lesings en albei aandvoorlesings meemaak. Dit is veel meer as boereordentlikheid wat my noop om my dank behoorlik hoorbaar uit te spreek aan Binneblaf en sy saamstappers vir ‘n verbysterende fees. By die val van die laaste versreël het ek geweet my versonke versvonk het na jare weer opgevlam.

    Tydens die gesprek waaraan Antjie Krog deelgeneem het, het die gedagte my getref dat, buiten Ronelda Kamfer, weinig van die Afrikaanse digters-in-hul-dertigs hulle met rassepolitiek bemoei. Dit wemel van gender kwessies (Fourie Botha, Melt Myburg, Loftus Marais). En soms skryf ek en Ilse van Staden dalk ‘n soort ekopolitieke gedig of groenvoetspoorvers. Maar daardie politieke verse wat kom met die kaalvuis krag van ‘n Krog – verbeel ek my of is dit maar skaars onder ons jongspan, dalk omdat die meeste van ons eers wettiglik kon stem na 1994…?

    “Poetry does nothing. It only makes the nothing move”, had dansmeester BB ons immers gerus gestel.

  18. Johann de Lange :

    Carina, die oproep om betrokkenheid is so oud soos die digkuns self. Die oorgrote meerderheid Afr digters (uit alle tye) is ‘skuldig’ daaraan dat hulle nie rassepolitiek aanspreek nie (ek inkluis). Miskien is dit óók iets wat Antjie tussen die reëls suggereer (dit begin vir my lyk asof Antjie se teks ‘n soort spieël ophou, & ons hou nie almal van wat ons sien nie). Daar bestaan sulke digters, maar hulle is min, wat uit die politiek blywende kuns kan/kon maak. Persoonlik glo ek nie dat kuns geforseerd moet wees nie. Wat wel moet gebeur, is dat ons meer polities bewus moet raak, meer moet ómgee, & dán sal dit ook op organiese wyse in ons skryfwerk deurwerk. Kuns moet in sy tyd staan, maar nie ván sy tyd wees nie.

  19. Carina Stander :

    Ditto, Johann. Dis jammer as die gesprek te maklik oorgaan in ‘n geoërollery van ag-alweer-Antjie. Want ja, fakkeldraer wat sy is, het sy op plekke beweeg en dinge gesien en beleef wat ons in ons wildste nagmerries nie kan indink nie. Juis hierom het ek, terwyl sy aan die woord was, skuldig gevoel omdat ek nie skuldig genoeg voel oor die politieke lot van ons land nie. Aan die ander kant het ek ‘n gevoel van choose your battles. ‘n Digter kan onmoontlik oral betrokke wees. Om die digkuns dan geloofwaardig te hou, moet mens jouself seker afvra waar jy jou bevind. Ons generasie het in die global village grootgeword, ons is dalk minder vaderlandsbewus. Ons ouers is teleurgesteld in nasionalisme, verleë oor die gruwels van Apartheid wat hulle help verswyg het en in die algemeen ontnugter deur partypolitiek. As wêreldlopers is die jonger digters miskien meer besorg oor aardverwarming en die spoed waarteen die Sahara groei of die wrede besnydenis van jong meisies in Somalië as oor Zuma se uitlatings… Tematies sal die digkuns aanhou kantel – diekanttoe, daaikanttoe. Dat ‘n mens jou moue vir ‘N saak moet oprol – dis seker ‘n goeie ding. Betrokkenheid behoed en bewaar ons hopelik teen middelmatigheid. Maar ja. Eerstens vurige taal, dan tematiek.

  20. Desmond Painter :

    Carina, interessante dinge wat jy opper. Ek weet nie of ons generasie (30somethings) juis in die global village grootgeword het nie – werklik internasionale gebeure / kwessies vind maar min neerslag in die meer onlangse Afrikaanse poësie. Ons het dalk eerder grootgeword in ‘n soort Amerikaanse popkulturele sfeer – wat natuurlik wel neerslag (en interessant so) vind in die meer onlangse poësie, maar op iets anders dui as wereldburgerskap.

    Verder: ek dink daar is ‘n verskil tussen ‘betrokke’ poësie en poësie waarin politieke vraagstukke / ervarings op ‘n manier neerslag vind. Eersgenoemde kan maklik retories en raserig word, natuurlik – maar ‘n poësie waarin temas soos die natuur, seksualiteit, godsdiens, liefde, ens. voorkom, maar die politiek agterwee bly, is vreemd. (Ek bedoel nie elke tema moet in elke digter se werk voorkom nie.)

    Waarom word laasgenoemde (die politieke) so dikwels gesien as iets wat die poësie ‘tydgebonde’ gaan maak? – asof die politiek, daaglikse stryd, menseverhoudinge, die markplein, minder deel vorm van wie ons is as mense, minder ‘universeel’ is, as intiemse verhoudings, romantiese gevoelens, godsdienstige / spirituele ervaring? Asof alle ervaring – insluitende en dalk juis die ‘intieme’ – nie histories is nie. Asof die ‘universele’ nie altyd konkreet manifesteer nie.

    Breyten Breytenbach se ‘Bid vir Hanoi’ (uit Kouevuur) lees soos ‘n koerantberig, dit is beslis tyd- en plekgebonde (die oorlog in Vietnam), maar dit ontroer ‘n mens vandag nog. En dit bly ook tydig. Dieselfde geld Uys Krige se ‘Lied van die Fascistiese Bomwerpers’ – dit het meer as net historiese waarde. Die politieke woede wat deur beide uitgedruk word, is nie minder universeel menslik as ‘n liefdesgedig uit ‘n vorige eeu nie. Dit gelei nog steeds die hitte.

    Ek dink politieke verse ‘werk’ wanneer hulle die politieke dimensie as ‘n eg menslike ervaringsgegewe oopskryf, eerder as om dit as ‘n ’cause’ te hanteer, iets buite die gewone ervaring. Die hele idee van en gesprek oor ‘betrokkenheid’ dui vir my op ‘n vreemde kuns- en literatuuropvatting: asof enige kuns, letterkunde, gedig, ‘onbetrokke’ kan wees – by die wereld, die self, ander, die natuur. Is die digkuns nie een van die maniere waarop ons ons ‘betrokkenheid’ probeer ‘uitfigure’ nie?

    ‘n Goeie voorbeeld van uitstekende ‘politieke’ verse in die onlangse Afrikaanse digkuns, deur ‘n 30something, is Loftus Marais se ‘Ontmoet my by die gewone plek agtuur’. Daar is geen sprake van ‘betrokke’ gedigte (retoriese standpuntverse) nie, maar die politiek, veral in die vorm van ras en klas, van gebreekte verhoudinge, wedersydse wantroue, ens., kry aangrypend neerslag in heelwat van daardie gedigte. Dit is vir my een van die uitstaande kwaliteite van ‘n bundel wat beslis ‘n hoogtepunt in die onlangse Afrikaanse literatuur is. ‘n Mens kan maar net lees en leer.

  21. Desmond, ek stem met jou saam oor Loftus se bundel. Dis die tipe bundel waaroor mens opstelle wil skryf oor hoe ruimtelikheid daardie gewaande konstruksie van privaat/openbaar ondermyn. Ek dink een van die redes waarom mense steeds soveel aanklank by Gert Vlok Nel se enigste bundel vind is die besonderse manier waarop die plaaslike daarin universeel word. Politieke geweld is IN die huishouding, nie net op die landskap daar buite nie. Dit plaas mens in ‘n heel ander etiese posisie. So gepraat van die huishouding – ek hoop dis nie nepotisties om na Irma du Plessis se uitstekende artikel oor “Agaat” te verwys nie – oor die gesin as metafoor vir die volk/nasie, maar ook die biologiese konstruksie waarop die volk/nasie gebou word. Ek stem egter saam met Johann se punt oor die kwaliteit van sommige politieke gedigte. Ek kan nou dink aan van die Afrikaanse klerewerkers s’n waarna ons in die verlede verwys het. Maar die rede daarvoor is nie betrokkendheid nie. Daar is gedigte oor liefde en blomme wat ewe swak is, dalk selfs swakker. Ten minste is politieke gedigte soms interessant weens die konteks waarin hulle geskryf is. Ek dink ook nou aan Loftus se gedig oor die nut van betrokke gedigte as stukke papier wat jy onder ‘n tafelpoot kan induk (in sy eerste bundel). Dan is daar sy gedig oor Steve Reich op die N2 – daai een bly by my spook en ek het ‘n paar keer daaraan gedink by Dansende Digters, ook terwyl ek gedans het.

  22. Carina Stander :

    Desmond, Andries – dankie. Ek stem, meeste digters is iewers ‘betrokke’. Hetsy by die politiek van die mikrogemeenskap (soos jou goeie voorbeeld van Gert Vlok Nel) of dan vanuit ‘n bird’s eye view, soos BB dikwels. Ek wonder waar presies trek jy die grenslyn tussen ‘betrokke’ poësie en poësie waarin politieke ervarings deursypel. En: hoef ons te (onder)skei? Loftus se nuutste bundel het ek ongelukkig nog nie onder oge gehad nie. Maar daar is talle digters wat nie aldag die brandstempel van die politiek dra nie en tog verbluffende verse op daardie gebied gepleeg het. Hier dink ek veral aan George Weideman se onthutsende “Herinneringe van ‘n teruggekeerde soldaat” en Lina Spies se “Paternoster vir Suid-Afrika” – om nou maar enkele voorbeelde te noem van gedigte wat, meer as enige koerantberig of politieke relaas, reeds op skool by my ‘n diep meegevoel geskep het met Die Ander.

  23. Desmond Painter :

    Carina, kom nou toevallig op ‘n protesgedig af wat Marlene van Niekerk as brief in vandag se M&G gepubliseer het – dit het sommer alreeds ‘n reaksie vanuit regeringskringe ontlok:

    Die gedig:
    http://mg.co.za/article/2013-05-17-00-motshekgas-name-is-mud/

    Die reaksie:
    http://mg.co.za/article/2013-05-31-anc-has-not-built-one-mud-school

  24. Dankie, Desmond, vir die skakel. Marlene het met haar gedig bewys hoe kragtig woorde kan wees, en die reaksie van die minister se woordvoerder het demonstreer hoe die taal ontkrag kan word tot absolute onsin. Maar wat kan ‘n mens van iemand verwag wat kinders se moedertaal verag en Engels as die alleensaligmakende taal van die opvoeding beskou?

  25. Desmond Painter :

    Daniel, inderdaad word mens hier gekonfronteer met twee uiterste modaliteite van die taal – aan die een kant taal in verhouding tot waarheid; woorde wat skoonbrand – aan die ander kant taal in verhouding tot die leuen; woorde wat versluier. En dan kom die reaksie nogal uit ‘n ‘communications unit’! Nuutspraak vir propaganda. Lanklaas dat ek so ‘n direkte konfrontasie tussen hierdie twee modaliteite van die taal gesien het… lanklaas dat ‘n ‘communications unit’ dit nodig ag om te reageer op ‘n gedig!!

  26. Desmond, onthou jy hoe senuweeagtig Afrikaanse skrywers (veral Brink en Breytenbach)die destydse regering in die sewentiger- en tagtigerjare gemaak het? Dit is mos vooruitgang as politici hulle aan skrywers begin steur!

  27. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie, Desmond, dat jy ons attent gemaak het op hierdie kragtige gedig van Marlene van Niekerk wat sommer ‘n klomp Ander se Selfingenome gepoerpoer rondom die etiese knoop ook in proporsie bring. Ek het nou net probeer reageer in die M&G se brieweblad op die Minister se Spreekbuis se modderkoekiebakkery, maar het die aftog moes blaas voor die skynbaar onoplosbare raaisel van ‘sign-ons’. Moet sê die Minister se Modderverkoper, a victim of history, gebruik darem baie keurig die Queen’s English; Net jammer die logika en ook slegs ‘n lekseltjie sin vir verantwoordelikheid teenoor dié in wie se naam “die demokratiese ruimte” ‘n brassery vir staatsplundering en korrupsie geword het, het agterweë moes bly.
    So sal daar dan maar gewriemel moet word in die modder op soek na wysheid.

  28. Carina Stander :

    Dankie, Desmond, vir die ketting na Marlene van Niekerk se vers. Oorrompelend, haar slim draakstekery. Die reaksie van die kommunikasie eenheid herinner aan daardie ou-ou outokratiese Pedi gesegde van Letsu la kgosi le agelwa morako. Die koning se stem is ommuurd. Ons kan maar net hoop dat ‘n wolkbreuk van hierdie soort vers of kinderstemme of ‘n woedende voetstampery die muur laat vermodder.

  29. Francis :

    Ek sal graag Antjie Krog se mening (in haar eie stem) oor Marlene van Niekerk se gedig (en die reaksie daarop) wil lees.

  •