GP Terblanche: Die asem van my pen

En toe, op ‘n sonskyndag, vroeg in die winter, sien ek die eerste keer my verse in druk. My eie, intense woorde, wat reeds te lank hier binne my geslyp, gemaal en gesuiwer is. Daar staan die woorde, swart op wit, langs my naam vir die hele wêreld om te lees, te oordeel en te analiseer. Ek is nou ‘n digter.

Maar tog nie. Om te publiseer is ‘n mylpaal, maar ‘n digter maak dit jou nie. Ek, soos mede-debutante, is lankal reeds digter – solank as wat ek kan onthou. Hierdie ingebore wil tot die ordening van woorde was nog altyd deel van my. Vir vele mense is woorde blote letters, doelgerig gerangskik as middel van kommunikasie. Vir my (en sekerlik vir ander woordkunstenaars) is woorde soveel meer. Dit is ‘n wye, onbegrensde wêreld sonder kompas, wat telkens weer vra om verken te word. Dit is die gereedskap, die boublokke, wat my die geleentheid gee om die anargisme van bestaan te orden; om beide die oorweldigende kompleksiteit en verstommende eenvoud van die lewe te verdiskonteer. Woorde is my terapie om skoon te maak, op te ruim en weg te pak.

Maar maklik is dit nie. Dit bly ‘n worsteling en meer dikwels ‘n redelike morsige worsteling. Want om op die ou-end by daardie paar karige woorde op papier uit te kom, moet daar gestoei, gesweet en selfs gebloei word. Elke keer die maagdevlies wat geskeur moet word, die geboorte wat moet plaasvind. Die woord word nie mens nie; dis die mens wat as’t ware woord word.

Hierdie worsteling met woorde is ten diepste ‘n proses om ten laaste te poog om te probeer sin maak van van wat was, is en sal wees. Naderhand raak die worsteling ‘n verslawing en ten einde laaste die asem van die pen waarsonder jy nie meer kan leef nie.

 

Gerrie Terblanche

Gerrie Terblanche het op Somerset-Wes grootgeword en aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Hy behaal die grade BA en BA Hons. (Politieke Wetenskap) asook sy MA in Afrika-politiek.  Hy woon 10 jaar lank in Pretoria waar hy vir die staat werk, maar het in 2002 bedank om terug te keer Kaap toe. Hy studeer verder aan die US Besigheidskool en het verskeie kursusse by die Kaapse Wyn-akademie voltooi. Tot en met 2006 was hy in die wyn- en gasvryheidsbedryf werksaam. Gedurende 2007 het hy Suid-Korea toe vertrek, waar hy sedertdien Engels onderrig.  Gerrie is ‘n aktiewe blogger wat reeds vir 5 jaar onder die naam Boer in Ballingskap skryf en het aan die einde van 2009 sy eerste roman, die Sommelier deur Rosslyn Pers gepubliseer. Hy  werk tans aan ‘n volgende roman.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “GP Terblanche: Die asem van my pen”

  1. carina van der walt :

    Hallo Gerrie,HOOR-HOOR!

  2. Jou asem woord mooi

  •