Joan-Mari Barendse. En toe kom die reën…

Ek het aanvanklik gewonder of ek my wil verbind tot die skryf van ’n blog oor die digkuns vir Versindaba: wat as dit net so moeilik is om óór gedigte te skryf as óm gedigte te skryf? Toe word die draai van die seisoen aangekondig met ’n bui reën in die middel van die nag wat my huis se vensters laat ratel. Daar was selfs ’n donderslag.

Dit het die idees, êrens begrawe in my onderbewuste, losgeskud. Vir my kom gedigte (en gedagtes oor gedigte) meestal in die winter: nat, grys Kaapse winters waar die grens tussen dag en nag vervaag. Ek word gedwing om kreatief te wees waar ek die reën vir ure lank dophou. Die son brand my brein dood, maak my ongemaklik en verouder my vroegtydig.

Ek weet mense praat/skryf gewoonlik oor die weer as hulle nie weet wat om te sê nie. Nie my gesin nie. Vir ons is die weer ’n belangrike saak. Elke dag kry ek ’n SMS van my ma oor die stand van die weer in die George-omgewing, ek lig haar op my beurt in oor Stellenbosch:

“Snaakse wolkies hier.”

“Weer hier ook vreemd, bietjie van ’n koel wind.”

“Heerlike bui reën gehad.”

Dit het seker maar iets te doen met die plaaslewe. Toe ek klein was het ons vir ’n tyd lank nie genoeg opgaartenks vir reënwater gehad nie. Sommige jare was daar nie genoeg water nie. Ons moes kanne drinkwater uit die dorp aanry (’n groot storie, want dorpswater is natuurlik substandaard) en het in damwater gebad.

Dié obsessie met reën en water word verder gevoer toe ek as student vir ’n semester Nederland toe gaan. Almal weet dit reën baie in Nederland, so geen probleem daar nie. Iemand het egter vir my vertel dat mens nie die kraanwater in Europa kan drink nie. My vlug het in die nag geland. My grootste bekommernis: waar gaan ek drinkwater kry in die middel van die nag in ’n vreemde plek? Ek het al die botteltjies water wat ek op die vliegtuig gekry het in my handsak gebêre (waar die helfte van hulle uitgeloop het). Ek het darem gou na my aankoms besef dat mens nie sal dood neerslaan van Europese water nie.

In Nederland het ek ook die mooiste voorbeeld van presipitasie gesien. Dit het besonders baie gesneeu daardie jaar. Ek en ’n vriend het see toe gery. Die sand was bedek met sneeu, die golfies het gevries waar hulle die strand bereik het: ’n gedig op sigself.

Van die bekendste Afrikaanse digters is al geïnspireer deur die reën: Eugéne Marais se reën dans, Watermeyer se reën “sing soet deur die lang nag” en Leipoldt sing eerder oor die reën as oor geld. Die lirieke van Madness se “The sun and the rain” som egter vir my die effek van die reën op die kreatiewe gees die beste op:

“I hear the rain falling in my ears
Washing away the weariness like tears.
I can feel my troubles running down,
Disappear into the silent sound.
I feel the rain falling on my face
I can say there is no better place
Than standing up in the falling down
In so much rain I could almost drown…”

Mag daar hierdie winter soveel reën val dat die gedigte in strome sal vloei (genoeg om te stoor vir die droë seisoen).

Joan-Mari Barendse

Joan-Mari Barendse het grootgeword op ’n plasie tussen George en Knysna. Dáár het sy ’n voorliefde ontwikkel vir berge, woude en wolke. Na skool is sy Stellenbosch toe waar sy studeer het en vir ’n paar jaar gewerk het. Sy het haar doktorsgraad, wat handel oor distopiese toekomsromans in Afrikaans, in Maart 2013 ontvang. Tans is sy ’n nadoktorale navorsingsgenoot in Afrikaanse letterkunde by die Departement Afrikaans en Nederlands, Stellenbosch Universiteit.

Bookmark and Share

14 Kommentare op “Joan-Mari Barendse. En toe kom die reën…”

  1. adriaan :

    Joan-Mari, ek het ook besluit om in my hoedanigheid as selfaangestelde geesfluisteraar so bietjie later die water te kom toets, so met die maan se kort bene. Daardie ding wat die ewig teenswoordige verwerker skielik in ‘n digter laat ontaard is altyd interessant

  2. Joan-Mari :

    Hallo Adriaan, dink jou kommentaar is dieper (en meer poëties) as my blog! Ek sal nogal graag wil weet wat van die ander digters se “triggers” is.

  3. Gerhard :

    Joan-Mari, ek vermoed as mens op die platteland grootgeword het sal aspekte van die natuur meermale as “trigger” dien. Ek weet nie hoekom nie, maar daar is iets in die sak van die son agter bome wat my altyd vul met ‘n naamlose verlange, en die weerkaatsings van wolke en riete in ‘n stil plaasdam, en daardie geskree van kiewiete vroeg vroeg op ‘n koel herfsoggend.

  4. Joan-Mari :

    Hallo Gerhard,
    Ja, selfs al begin mens eers later te skryf, lyk dit tog of die “digter in jou” reeds van kleins af gevorm word.

  5. Johann Lodewyk Marais :

    Gedurende my kinderjare in die Oos-Vrystaat het reën (en droogte) ook ‘n groot rol gespeel.

  6. Joan-Mari :

    Ek kan dink dat ‘n dorre landskap ook as inspirasie kan dien.

  7. Johann Lodewyk Marais :

    Die Britse ontdekkingsreisiger Wilfred Thesiger (1910-2003) het inspirerende boeke oor dorre landskappe geskryf. Daar is natuurlik ook baie ander voorbeelde.

  8. carina van der walt :

    Daar is niks so goed soos lekker “rotweer” om mens in Nederland aan die dig te sit nie. Dis byna altyd grougrys en nat en koud: lees- besin- en skryfweer.

  9. Joan-Mari :

    Dit is ook opmerklik hoe die styl van mens se gedigte soms heeltemal kan verander na aanleiding van die omgewing waarin jy is.

  10. Johann Lodewyk Marais :

    Joan-Mari, kan jy dalk ‘n interessante voorbeeld noem?

  11. Joan-Mari :

    Johann, ek het nie regtig vir jou ’n interessante voorbeeld nie. Carina se beskrywing het my maar net laat dink aan my eie ervaring in Nederland destyds. My skryfwerk van toe het ’n eiesoortige gevoel. Dit is seker redelik voor die hand liggend dat mens se omgewing jou skryfwerk beïnvloed.

  12. Johann Lodewyk Marais :

    Ek dink N.P. van Wyk Louw skryf opmerklik anders oor verskillende omgewings in “Nuwe verse” en “Tristia”. Vergelyk byvoorbeeld sy gedigte oor Noord-Europe met dié oor die Mediterreense wêreld.

  13. Ivan Mocke :

    Natuurlik ook anderster oor die Boland en die Karoo. ‘n Goeie voorbeeld. Ook DJ Opperman oor Natal, Johannesburg en Boland. Hedendaagse voorbeelde?

  14. Johann Lodewyk Marais :

    Ek wens Opperman kon meer in Afrika reis. Toe hy Malawi laat in sy lewe besoek het, was hy in sy element.

  •