Alwyn Roux. Lambie, Steyn of Catrakilis: Vergelyking in die literatuurwetenskap

Lees bietjie Van Coller en Strauss se artikel oor vergelyking in Tydskrif vir Geesteswetenskappe – Sabinet, skryf my promotor as deel van sy terugvoer op die soveelste hoofstuk van my studie.

Ek voer ʼn aantal internetsoektogte uit, maar sonder sukses. Ek kry nie die artikel nie, skryf ek aan hom terug, die naaste wat ek daaraan kom, is ʼn artikel oor metodologie en vakbeoefening in die geesteswetenskappe. Dit is ook deur Van Coller en Strauss en verskyn in Tydskrif vir letterkunde. Ná ’n dag of wat laat weet hy die besonderhede van die artikel: “Vergelyking in wysgerige en literatuurwetenskaplike perspektief” in Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans.

Mens sou dink dat ek hierdie artikel reeds aan die begin van my studie moes lees, maar ek lees dit vandag vir die eerste keer. Die artikel gaan oor vergelyking in die literatuurwetenskap. (Die universiteit waarby ek ingeskryf is, het juis vroeër die week ’n e-pos aangestuur oor die geregistreerde titel van my tesis, wat my daaraan herinner dat ek besig is met ʼn vergelykende studie.)

Die vraag op die agenda: Wat beteken dit om dinge te vergelyk?

Van Coller en Strauss (2007:4) verwys na Taormina wat die term ‘vergelyking’ soos volg omskryf: “A comparison presents two or more objects and describes and analyzes their similarities and differences.” Hiervolgens sou twee (of meer) dinge vergelyk kon word om die ooreenkomste en verskille daarvan duidelik te maak.

Ek dink aan ʼn voorbeeld van vergelyking uit die vorige week se nuus:

Die Springbokafrigter, Heyneke Meyer vergelyk Pat Lambie met Morné Steyn, maar bring ook vir Demetri Catrakilis in die vergelyking. ʼn Vergelyking tussen Lambie, Steyn en Catrakilis  behels dat hulle eners voorkom, maar tog betekenisvolle verskille vertoon. Om meer spesifiek te wees, hulle is al drie losskakels (vandaar die enersheid), maar bring ook elkeen sy eie unieke spel aan bod (vandaar die betekenisvolle verskille). Die ooreenkomste en verskille sou dus betekenisvol na vore tree in die uiteindelike keuse van die speler. (Daar moet ook bygesê word dat die afrigter se ‘sensitiwiteit’ en ‘oplettendheid’ ten opsigte van die ooreenkomste en verskille nie buite rekening gelaat kan word in die vergelyking van die spelers nie.)

By die keuse van die uiteindelike Springbokspan sou die teenoorgestelde beginsel geld, dit is dat dinge anders voorkom (die verskillende posisies wat gevul moet word, van die stutte tot die heelagter en die reserwebank), maar dat die spelers wat gekies word betekenisvolle ooreenkomste moet vertoon (’n sekere spelpeil, byvoorbeeld).

Uit bogenoemde is af te lei dat die belang van ooreenkomste en verskille by die vergelyking van dinge beklemtoon moet word om die spreekwoordelike kaf van die koring te skei.

By literêre vergelyking sien dinge nie veel anders daar uit nie. Van Coller en Strauss (2007:4) beklemtoon die ‘belang’ van literêre vergelyking om dit te vrywaar van ‘sinloosheid’. Daarby moet ’n vergelyking van (literêre) dinge die leser inlig oor iets wat hy of sy nie vantevore raakgesien of aan gedink het nie.

So bied ek laas week ʼn referaat by die maandelikse departementele gespreksforum aan, wat ʼn vergelykende studie van twee digters se ‘latere’ werk behels. Die gevreesde: “…dis nou als goed en wel, maar ‘so what?’” maak ná afloop van die lesing sy opwagting.

Ek leun terug in die stoel en trek my asem in.

Dié vergelyking, probeer ek verduidelik, is tweërlei: aan die een kant beskryf ek die digters se werk na aanleiding van die ontleding daarvan (en bring hulle werk met die fasette van die gekose benaderingswyse in verband). Aan die ander kant bring ek die beskrywing en ontledings van die gedigte van die onderskeie digters (met in ag neming van die insigte van die gekose benaderingswyse) met mekaar in verband.

“…maar ‘so what?’” herhaal hy die vraag.

Op dié wyse word die een digter se werk met die ander digter se werk vanuit ’n sekere benaderingswyse vergelyk.

“…maar dit wil voorkom asof mens enigiets met enigiets anders kan vergelyk, en met watter doel?”

’n Week later lees ek Van Coller en Strauss se artikel.

Aldus Van Gorp (en andere) is die doel van vergelykende literatuurstudie om ‘tekste’ met mekaar in verband te bring, dit is om hulle te beskryf sodat ’n beter verstaan en waardering daarvoor kan ontstaan (Van Coller & Strauss, 2007:7).

…maar hoe weet ons of die vergelyking geldig is, en nie bedag nie?

Dit gaan oor die keuse van dit wat vergelyk word.

Van Coller en Strauss (2007:8) se nosie van die ‘vergelykingsirkel’ kan hier gesien word as insiggewend. Die gegewens wat vergelyk wil word (die ‘comparata’) moet eers onderskei en geïdentifiseer word alvorens die ooreenkomste en verskille aangedui kan word. Die voltooiing van die sirkel behels dan dat die ooreenkomste en verskille na aanleiding van die onderskeiding en identifisering van die voorwerpe aangedui word.

Geldig of bedag, uit bogenoemde kan die volgende fasette van (literêre) vergelyking gestipuleer word:

  1. Die ‘vergelykingsirkel’ beklemtoon hoe gegewens wat vergelyk wil word eers onderskei en geïdentifiseer moet word alvorens dit tot vergelyking gebring kan word.
  2. ’n Vergelyking behels dat twee (of meer) voorwerpe met mekaar in verband gebring word om die ooreenkomste en verskille daarvan duidelik te maak.
  3. Die vergelyking van voorwerpe kan enersyds eners wees met betekenisvolle verskille of andersyds verskillend met betekenisvolle ooreenkomste.
  4. Om die vergelyking teen sinloosheid te vrywaar, moet die belang van die ooreenkomste en verskille beklemtoon word.
  5. ’n Vergelyking moet die leser inlig oor iets wat hy of sy nie vantevore raakgesien of aan gedink het nie.

Alwyn Roux

Alwyn Roux is in 1982 in Benoni gebore, en studeer letterkunde aan die Noordwes-Universiteit. In 2010 is hy ʼn gasnavorser in Nederland aan die Universiteit van Tilburg en die Universiteit van Amsterdam. Verskeie van sy gedigte is al getoonset en opgevoer, ondermeer ʼn libretto vir die Universiteit van Kaapstad, en hy was ook een van die drie digters van die Dismotief-uitstalling by Aardklop 2012. Op hede doseer hy literatuurwetenskap aan Unisa, en is besig met die voltooiing van sy PhD. Hy is ook die stigterslid en redakteur van die literêre tydskrif Guillotine.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Alwyn Roux. Lambie, Steyn of Catrakilis: Vergelyking in die literatuurwetenskap”

  1. Sarie Berkhout :

    Miskien begin die weet en oordeel van vergelyking in die opstel van die kategorieë van seleksie, erkenning en onderskeiding. In die Derridiaanse marges van in/uitsluiting? Miskien reflekteer hierdie verstrakking van een van die meeste gronliggende vorme van weet en (ver)oordeel in die verskraalde interpretasie van leef … so what. Dis juis in die verassende naasmekaarstelllings van digters wat verstaan verby die grense van grys gryp.

  2. Alwyn Roux :

    Ja, die verrassende naasmekaarstel van digters, bring verstaan verby “die grense van grys”, maar daardie verstaan word deur kategorieë (soos seleksie, erkenning, onderskeiding, in- en uitsluiting, ens.) tot stand gebring. Verrassing berus op ’n paradoks van nie-verrassendheid, opgesluit in ’n dualisme van verrassing/nie-verrassing. Ons bly vasgevang binne die paradoks. Waarmee ons onsself besig hou, is die sin maak van al hierdie verskillende verhoudings en hierin het alle benaderingswyses sin/nie-sin, is van toepassing/twyfelagtig.

  3. Maria :

    In “White Mythology” haal Derrida (1982:238-9) vir Aristoteles aan uit sy Rhetoric III, 10: “”We all naturally (physei) find it agreeable to get hold of new ideas easily: (…) From metaphor … we can best get hold of something fresh. When the poet calls old age a ‘withered stalk’ (kalamēn) he conveys a new idea, a new fact, to us by means of the general notion of ‘lost bloom’ which is common to both things. The similes (eikones) of the poets do the same …””. Aristoteles het ook in Poetics geskryf: “”(…): to be learning something is the greatest of pleasures, not only to the philosopher, but to the rest of mankind, however small their capacity for it – the reason of the delight in seeing the picture (eikonas) is that one is at the same time learning, and deducing (syllogizesthai) what is represented.”” (Derrida 1982:238).

  •