Hilda Smits. Oor skouspelagtige neuse, veral Rilke s’n

Rainer Maria Rilke

“Be patient toward all that is unsolved in your heart and try to love the questions themselves, like locked rooms and like books that are now written in a very foreign tongue. Do not now seek the answers, which cannot be given you because you would not be able to live them. And the point is, to live everything. Live the questions now. Perhaps you will then gradually, without noticing it, live along some distant day into the answer.”

― Rainer Maria Rilke, Letters to a young poet.

Om te blog, of nie te blog nie. Dit is die vraag. Ben, my nuut-getroude man, (nie dat ek iewers ‘n “ou” getroude man het soos wat ‘n mens soms op los munte iewers agter in die kar tussen gekneusde Coke blikkies en halfgekoude kougom  en groen kaastoebroodjies afkom nie,) hou van basketbal. En van Rilke, om die minste te sê.  Hy het in my vreesbevange oë gesien dat ek ‘n ysbreker nodig het om te blog. Dit – en ek het hom gevra-  vir iets indrukwekkend dog subtiel. Iets soos sy wyse held, Rilke, ‘n man van min woorde en vele ernstigheid. ‘n Man met ‘n skouspelagtige neus. Plus ons het besluit dat die legendariese basketbal speler, Lebron James (2.03 m.), te veel meter besit vir een blog.

Alhoewel ek van Rilke hou (veral sy Letters to a young poet en sy neus) en uiters graag ‘n aantal indrukwekkende dinge oor hom wil kwytraak – half gebakte kuikens wat op hierdie einste oomblik op die warm punt van my gretige tong broei – sê iets vir my dat die man vir homself sinne aanmekaar kan garing, en dat die blog-ys gebreek is.  So, dankie Ben. En dankie, Rilke.

Indien nie Rilke, of die talentvolle en ellelange Lebron James nie, waaroor om te skryf sonder om soos ‘n idioot voor te kom?

Daar is ander helde soos Rilke wat ek met groot moeite van Londen af Nashville toe verskeep het, en voor dit van een blyplek na die volgende karwei het. Hierdie helde het hulleself blosend bevind in  black cabs, ondergrondse treine en selfs een reënerige Sondagmiddag na ‘n vreeslike geswoeg in swart sakke soos lyke. Boeke in kerslig geskribbel deur vername menere (by tye dames) met die snorre van katte. En natuurlik groot neuse.  Belangrike boeke, waarvan ek die meeste nog moet lees. ‘n Opgaarder van boeke, is wat ek is. En ‘n opsteller van lyste, van Dinge Om Te Doen.  Dinge om hierdie jaar te doen. Om hierdie week te doen. Dinge om vandag te doen. Ongelukkig is ek ook ‘n procrastinator, ‘n uitsteller van dinge. Iemand wat draal en talm en sloer. Wat in spanning wag vir inspirasie.

Om terug te kom by die hart van die saak, of die derms of blaas; wanneer daar nie ‘n krisis is, of ‘n aardbewing iewers, of ‘n liefdesteleurstelling nie, sukkel ek om te skryf. Om te sit en aan sinvolle dinge te dink om te skryf. En so ek het besluit om te blog. Omdat daar sperdatums is. En sodat ek kan leer om my HAT te gebruik. En omdat ek al vir ‘n wyle monoloë in Afrikaans met myself het, siende dat die mense hier Engels praat asof dit die nasionale taal is. En omdat ek voel dat dit belangrik is om redes te hê om allerhande nonsens te mag skryf. En omdat ek so ‘n bietjie soos ‘n digter voel, en vir daardie rede klaarblyklik allerhande nonsens wil skryf.

En so terwyl ek aan my skelm sigaret op die stoep teug, ‘n stoep soos ‘n ridder op die oop vlaktes van Nashville, dink ek aan wat ek nog kan skryf. Soos dat die spiere van die telefoondrade hier in ons straat ‘n elektriese silwer rivier oor die nat pad span, en dat die reën vannag ruik na allerhande nuwe dinge, maar ook na ou woorde en na Potchefstroom waar ek die Mooirivier hoor spook soos ‘n geheim.

Hilda Smits

Hilda Smits is in Potchefstroom gebore, en het vroeg reeds geleer dat agt mense na heelwat moeite in een rooi Anglia kan pas. Later jare het haar pa darem ‘n kombi aangeskaf, en kon hulle dorpies die grootte van albasters agterlaat vir teer paaie en ‘n Ster-Kinekor. Na ‘n dekade van (onder andere) wortels pak in Londen bevind sy haarself deesdae in Nashville waar sy warm brakkies met mosterd verorber en die Meesters van Sielkunde uit die hoek van haar mal oog studeer. Van haar gedigte verskyn in New Contrast en Vonkverse 2011. Twee van haar gedigte wen in 2009 en 2011 die Bloemfonteinse Skryfkompetisie, en verskyn sodoende in Inkvars.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Hilda Smits. Oor skouspelagtige neuse, veral Rilke s’n”

  1. adriaan :

    Ha Hilda, jy met so knippie stout. Ek moes onlangs terugval op my 1965 druk, my nuutste HAT is gedaan, kom toe af op woorde soos paradysvy vir ‘n piesang.

  2. Hilda Smits :

    Adriaan, my HAT is ‘n nuwe dikkerige dame wat woorde soos paradys vy vir ontbyt eet.

  •