Gerhard Bothma. Waarde van poësie in verbruikersera

Meer as ‘n eeu gelede het Nietzsche beweer dat die wetenskap en filosofie bankrot is ten opsigte van die waarhede wat hulle soek maar nooit kan vasgryp nie. Sedert sy tyd het die wetenskap baie ver gevorder. Ons beheer en manipuleer ons omgewings in meer gesofistikeerde maniere. Ons kan onsself beskerm teen die meeste gevare en ons kan die hulpbronne beheer wat ons voed, gesond, warm en skoon hou. Die natuurwetenskappe is die fondament waarop die tegnologiese en industriële beskawing van die Weste gebou is.

Dit het egter oor die afgelope paar dekades duidelik geword dat onbeperkte groei en uitbreiding dalk ‘n resep vir vernietiging eerder as oorlewing is. Wat ons vooruitgang noem skep dikwels net soveel probleme as wat dit oplos. Die uitlaatgasse van motors en afvalprodukte van nywerhede vergiftig die omgewing. Kernkrag het die potensiaal om lewe op aarde uit te roei. Die ongedissiplineerde gebruik van natuurlike hulpbronne tot die voordeel van party lei tot die uitbuiting van ander en verarm die aarde wat ons voed. Ons snelle wetenskaplike ontwikkeling het nie gepaard gegaan met ‘n soortgelyke groei in insig en wysheid nie.

Dit geld ook vir die sosiale wetenskappe wat, in ‘n poging om die natuurwetenskappe na te doen, die mens dikwels vervreem van sy eie menswees en ervarings met teorieë wat meganies en deterministies van aard is. Mense soos Freud en B.F. Skinner het die beginsels en tegnieke van die natuurwetenskappe ook as standaard neergelê wanneer dit kom by die studie van die mens. Die mens, as onderwerp van wetenskaplike ondersoek, word ‘n objek; sy menswees gereduseer tot enkele dryfvere. Binne die raamwerk van die evolusieleer word elke menslike aspek en uiting bepaal en gerig deur die biologie. Hierdie biologiese determinisme deursuur die sosiale wetenskappe vandag.

Soos wat die moderne samelewing meer gefragmenteerd, oppervlakkig en snel veranderend word, is daar die wat wonder of die wetenskap ons nie van net soveel dinge beroof het as wat dit ons gegee het nie. As ons vir ‘n oomblik wegstaan van die dolle gejaag na die volgende uitvindsel, die nuutste tegnologie, word ons gekonfronteer met ‘n vakuum van betekenis. Ons mag dalk die feite hê, maar die waardes gaan ons verby.

Ook word daar dikwels gespekuleer oor die nut van die digkuns in ons materialistiese verbruikerskultuur. Is dit nie juis hier, met die soeke na iets om hierdie vakuum te vul, waar die digkuns vandag ‘n rol te speel het nie? Dit is by uitstek die kunsvorm wat die dinge deurvors, wat betekenis haal uit banaliteit, wat besig is met die soektog na waarheid, wat die mens se ervarings verwoord. Kortom, dit is die getuigskrif van ons menswees, ‘n manier van wees in en omgaan met die wêreld wat in geen reduksionisties-deterministiese denkstruktuur ingepas kan word nie. Miskien bring ons tydsgees die waarde van die poësie na ‘n nuwe hoogtepunt. Miskien daarom ook die groei in nuwe digters en bundels in Afrikaans juis in hierdie post-apartheid, post-ideologiese tydperk.

 

 

na die vroegoggendreën

 

na die vroegoggendreën

‘n duisend oë tussen bome

wat ons gang deur die mis volg

 

twee smal skaduwees

losgeraak uit die skemer –

jy bioloog, op soek

en ek, die dromer agterna

 

in vraagtekens buig jou vergrootglas

oor klein dinge in die lang gras

 

mens moet afbreek, sê jy,

want die antwoorde is eenvoudig:

waar oorlewing en stryd begin

is ons maar stof in beweging

 

ek kyk weg na die bome

waar spikkels son iets

op blare skryf

 

‘n bos glimlag

geel blomme vir ‘n by

 

die nuwe vlinder wag

bibbervlerke teen ‘n tak

vir die oomblik

wat haar sal voltooi

 

 

Gerhard Bothma

Gerhard Bothma (39) is gebore op Worcester en het grootgeword op Caledon in die hart van die Overberg. Na matriek doen hy  diensplig in die ontstuimige negentigs. Hy begin met studies in die onderwys maar gaan woon in Ierland  vir drie jaar. Na baie reise en tydelike verblywe het hy uiteindelik rus gevind in Kaapstad waar hy besig is met nagraadse studies in Sielkunde. Die een konstante was ‘n liefde vir boeke. Hy skryf sedert sy vroeë twintigs, maar Nuwe Stemme 5 is die eerste publikasie van sy gedigte.

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Gerhard Bothma. Waarde van poësie in verbruikersera”

  1. Leon Retief :

    Gerhard ek is nie bevoeg om oor die geesteswetenskappe te praat nie maar ek dink jou siening van die natuurwetenskappe is miskien effens Blakeiaans, as daar nou so ‘n woord is. Ongetwyfeld is daar mense wat “scientism” (ek weet nie wat dit in Afrikaans is nie) as grondbeginsel gebruik maar ek dink hulle is in die minderheid. Die natuurwetenskappe is baie, baie meer as net ‘n middel wat gebruik word om ons lewens makliker te maak, die bevindings van hierdie vakgebied het ‘n intrinsieke skoonheid wat ons onder andere begin leer wat, wie en waar ons is. Ek dink dat hierdie skakel na Richard Feynman dalk sal help om my punt te verduidelik:

    http://www.youtube.com/watch?v=hIZhgLKSBaY

    Oor biologiese determinisme: baie van ons anatomie, fisiologie en gedrag word inderdaad deur ons evolusionêre verlede bepaal maar nie als nie en ek dink hierdie pragtige essay deur Gould en Lewontin stel dit dalk in perspektief:

    http://faculty.washington.edu/lynnhank/GouldLewontin.pdf

  2. Gerhard :

    Dankie Leon vir jou kommentaar. Om die skoonheid van die kosmos bloot te lê is een ding. Om verklarings te soek vir die ontstaan daarvan is iets gans anders, iets wat streng gesproke buite die grense van die wetenskap val. Maar wanneer die natuurwetenskappe dan nou wel antwoorde wil verskaf op wie, wat en waar ons is (is dit nie maar scientism nie?), moet ons onthou dat, soos enige ander kennisdomein wat hom met hierdie dinge besig hou, dit geskied vanuit ‘n spesifieke perspektief, in hierdie geval die humanistiese materialisme. Objektiewe antwoorde op metafisiese vrae bestaan nie, al kom hulle ook vanuit die “suiwer” wetenskappe. Wat die wetenskap hieroor sê is een moontlikheid tussen ander ewe legitieme moontlikhede.

    Die natuurwetenskappe is geneig om reduksionisties te werk te gaan met die onderwerpe van hul studies ten einde algemene wette bloot te lê. Wanneer hierdie werkswyse toegepas word op die mens, kan die logiese gevolg myns insiens uiteindelik niks anders wees as determinisme nie. Die Nederlandse filosoof, Herman Doyeweerd, het uitgewys hoe die Westerse denke sedert Descartes voortdurend soos ‘n pendulum swaai tussen ‘n deterministiese wetenskapsideaal aan die een kant en ‘n vryheidsideaal aan die ander. Miskien poog Feynman en kie doelbewus om die pendulum, wat van die 18 honderds tot na die Tweede Wêreldoorlog so sterk na die deterministiese kant oorhel, ‘n bietjie na die ander kant te vorseer.

  3. Leon Retief :

    Gerhard, ek dink nie dis “scientism” om te se dat die natuurwetenskappe ons baie geleer het van wie, wat en waar ons is nie – ons het darem nou al so bietjie gevorder sedert die tyd toe almal gedink het die aarde is plat en dat Eva uit ‘n rib gemaak is en dis wat ek bedoel het. Dit sluit ook baie aspekte van ons gedrag oftewel neurofisiologie)in. Die enigste uitgangspunt wat die natuurwetenskappe kan gebruik is wat ek verkies om te noem metodologiese naturalisme en dit poog ook nie om antwoorde op metafisiese vrae te gee nie. Ek is nie seker wat jy bedoel met “verklarings… vir die ontstaan daarvan” nie, (dit is nie noodwendig buite die perke van die natuurwetenskappe nie, afhangende wat bedoel word met jou stelling) maar die feit bly staan dat om te gaan se dat ‘n god of gode als gemaak het is op die ou end geen antwoord nie en verklaar niks. Waarmee ek nie probeer impliseer dat die natuurwetenskappe noodwendig die allerantwoord sal vind nie.
    Dit is natuurlik ook heeltemal moontlik dat ons gedrag dalk wel deterministies mag wees, wie weet.
    Ek dink nie dat Feynman doelbewus probeer het om die pendulum te swaai nie, hy was ‘n materialis net soos ek, maar wetenskaplikes is en was nog altyd mense soos elkeen van ons wat lag en huil, liefhet en haat, skoonheid kan waardeer, gedigte lees, musiekuitvoerings bywoon en so voorts, en steeds metodologiese naturalisme as uitgangspunt gebruik. Hy het bloot probeer om te toon dat materialisme nie die waardering van skoonheid of emosies ontse nie.
    Onder die invloed van veral Duitse wetenskaplikes van toentertyd het die wetenskappe inderdaad ‘n baie wat ek sal noem romantiese inslag gehad. So verander dinge maar, in hierdie geval ten geode dink ek.

  4. Gerhard :

    Dankie weer vir jou nugter kommentaar, Leon. Uit die neuropsigologie weet ons vandag die brein beinvloed nie net gedrag nie, maar gedrag vorm ook weer die brein. Is ‘n deterministiese biologie-bepaal-gedrag model nog enigsins sinvol? As ek dink aan byvoorbeeld ‘n Beethoven, vind ek dit moeilik om te glo dat die bepalende rol van biologie op gedrag werklik noemenswaardig is.
    Die idee dat die enigste uitgangspunt wat die wetenskap kan gebruik die naturalisme is, kom van die kunsmatige skeiding wat gekom het tussen geloof en wetenskap. Kunsmatig omdat elke mens, en beslis ook die wetenskaplike, na die werklikheid kyk vanuit ‘n sekere invalshoek. Wat daardie invalshoek is, word voorwetenskaplik bepaal deur die individu se religieuse grondmotief. ‘n Joodse of Christelike of Budhistiese wetenskap is net so moontlik soos ‘n naturalistiese. Want wat is die verskil om te sê ‘n skepper het ons gemaak en om te sê toeval het ons gemaak? Beide verteenwoordig ‘n metafisiese uitgangspunt. Dit word nog beter gestel deur die einste Harvard prof, Richard Lewontin, na wie se artikel jy my in jou eerste skrywe verwys het, in ‘n stuk wat hy vir die NY Times geskryf het so ‘n klompie jare gelede. Dit is die moeite werd om ‘n hele stukkie daarvan aan te haal:
    ‘Our willingness to accept scientific claims that are against common sense is the key to an understanding of the real struggle between science and the supernatural. We take the side of science in spite of the patent absurdity of some of its constructs, in spite of its failure to fulfill many of its extravagant promises, in spite of the tolerance of the scientific community for unsubstantiated just-so stories, because we have a prior commitment, a commitment to materialism. It is not that the methods and institutions of science somehow compel us to accept a material explanation of the world, but, on the contrary, that we are forced by our a priori adherance to material causes to create an apparatus of investigation and a set of concepts that produce material explanations.’

  5. Maria :

    Dalk ‘n bietjie oorvereenvoudig soos Leon meen, maar ‘n baie lekker stukkie Gerhard – die einde van jou gedig is ook pragtig. Ek hou veral van die reguit sinnetjie “Ons mag dalk die feite hê, maar die waardes gaan ons verby.”

  6. adriaan :

    ek begryp hoekom die aarde tiptollend donkertes van kuikens weglok maar met die krap se karapaks in bloedbelope doppruimoë het die Dromer my gestonk

  7. Leon Retief :

    Gerhard ek dink jou Beethoven-voorbeeld is ‘n goeie een, maar… daar is na my mening voldoende bewys dat gene/neurofisiologie inderdaad gedrag beïnvloed alhoewel daar natuurlik heelwat “ifs and buts” is. Mens kan kyk na byvoorbeeld die veranderinge in die adolessente brein vanaf ‘n jong ouderdom tot volwassenheid, waar daar beduidende bewyse is van ‘n genetiese komponent in onder andere risiko-soekende gedrag, asook “novelty-seeking” gedrag (wat dit ook al in Afrikaans is). Daar is ook fassinerende navorsing gedoen oor identiese tweelinge wat by geboorte geskei en enigiets van 10 tot 70 jaar later herenig en bestudeer is – weereens is daar sterk aanduidings van die genetiese bydrae tot gedrag, in sommige gevalle is korrelasiekoeffisiënte van so hoog soos 0,7 gevind. So as ‘n terloopse opmerking: ek is getroud met een van ‘n identiese tweeling en sowel my vrou Lesli as ek volg hierdie navorsing al ‘n hele tyd, dit is werklik baie interessant.

    Dan is daar natuurlik die berugte “gay” geen, wat weliswaar nie bestaan nie. Straight en gay mense kies nie hul seksuele oriëntasie nie, maar daar is besliste bewyse dat gay-wees ‘n genetiese komponent het. Mens moet aanneem dat om straight te wees ook ‘n genetiese fondament het. Wat die geval hier ook al mag wees, daar is beslis ‘n aantal gene betrokke wat seksuele gedrag beïnvloed. Dat dit ‘n komplekse situasie is sal ek nie ontken nie.

    Ons weet ook almal wat die gevolg van ‘n prefrontale lobotomie is, weereens ‘n aanduiding van die effek van neurobiologie op gedrag. Dit is natuurlik so dat gedrag ‘n baie komplekse verskynsel is en beïnvloed word deur groepe gene en nie een enkele geen nie en dat die ekspressie van daardie gene van individu tot individu gaan verskil, dat dit nie elke enkele aspek van gedrag gaan beïnvloed nie, maar dit gaan beslis mense se gedrag in ‘n seker rigting stuur. Mens kan byvoorbeeld dink aan testosteroon en oksitosien, om net twee van baie voorbeelde te noem. Ek is dit egter met jou eens dat wat Beethoven se neurobiologie ook al was, dit nie per se verantwoordelik was vir die laaste strykkwartette of die Negende nie.

    Dit is te verwagte dat gedrag neurobiologie sal beinvloed. Gedrag is ‘n respons op die omgewing en enige organisme wat nie sy gedrag by die omgewing kan aanpas nie sal nie ou bene maak nie.

    Sommige metafisiese uitgangspunte is meer gelyk as ander. Ek is nie seker wat jy bedoel met ‘n Christelike (of ander) wetenskap nie want dit beteken verskillende dinge vir verskillende mense. In die Bible Belt en feitlik dwarsdeur die Moslem-wêreld is fundamentalistiese interpretasies van heilige geskrifte wat so ver terug dateer as die Ystertydperk algemeen – so iets kan skaars as wetenskap bestempel word en het geheel geen kontak met die werklikheid (in terme van die materiële wêreld) nie. Die meer moderne weergawe van fundamentalistiese kreasionisme, naamlik intelligente ontwerp (IO), is deur Leonard Krishtalka baie raak bestempel as “creationism in a cheap tuxedo.” Die basiese standpunt van IO (oftewel Christelike “wetenskap”) is onreduseerbare kompleksiteit, oftewel: Moenie bodder om te probeer vasstel hoe die immuunsisteem, die stollingskaskade, die flagfellum of wat ook al ontstaan het nie, dis onreduseerbaar kompleks – God het dit geskape, dis ‘n wonderwerk en ons kan dit nie verklaar nie. In ek dink 2005 het mense in ‘n dorpie in Kansas wat Christelike “wetenskap” aanhang gepoog om IO in hul plaaslike skool in te voer. Dit is teengestaan deur ander mense in dieselfde gemeenskap en ‘n hofsaak het gevolg. Een van die getuies vir die verdediging was Michael Behe, wat nogal die vermetelheid gehad het om homself met Galileo te vergelyk. Kenneth Miller, toevallig ‘n gelowige wetenskaplike en ‘n getuie vir die aanklaers, het later beskryf hoe Behe uitgeloer het agter ‘n hele stapel boeke wat Miller voor hom neergesit het en wat die evolusie van die immuunsisteem beskryf (iets wat Behe natuurlik ontken) en steeds hardnekking ontken het dat daar ‘n verklaring vir die evolusie van hierdie sisteem is. Ek meen, jirre, dis nie wetenskap nie. Christelike “wetenskap” dalk, maar beslis nie wetenskap sonder die aanhalingstekens nie.

    Natuurwetenskaplikes konstrueer modelle/teorieë wat so na as moontlik is aan die waargenome data en wat toetsbare voorspellings maak. Sommige modelle is verstommend akkuraat soos byvoorbeeld kwantumteorie, ander soos atmosferiese wetenskap (en ook neurobiologie) minder so. Die volgende vraag is dus watter bydrae (indien enige) ‘n Christelike/Joodse/Boeddhistiese/Islamitiese wetenskap nou eintlik tot sulke modelle lewer. Is daar enige bydrae van daardie kant tot wat die wetenskap ons vertel oor die materiële werklikheid wat ons omring en waarvan ons self deel is? Nie so ver as ek kan sien nie – die bysleep van ‘n god of gode behels eintlik net ‘n bykomende laag van onnodige kompleksiteit wat niks verklaar nie, blote fieterjasies om mense gerus te stel oor waarom hulle bestaan en wat die “doel” van die lewe is, maar wat geen verduideliking gee van enigiets nie, dit verskuif die vraag maar net een stappie verder. Voorts, as daar dan ‘n god of gode is, wel, net een teologie kan korrek wees, en hoe sal mens nou kies tussen die verskillende wetenskappe wat jy genoem het, en waarom? Watter aspekt(e) van dit wat ons waarneem gaan beter verduidelik word deur ‘n Joodse wetenskap as ‘n Christelike een en waarom?

    ‘n Verdere vraag is dan waarom net konsentreer op bestaande godsdienste soos die Christendom, Islam en so voorts? Waarom net hoofstroom-religieë? Waarom dan nie ook Mormoonse of Sewende-dagse Adventistiese wetenskap nie, of een gebaseer op Spade Reën nie? Voorts, kan daar nie ook ‘n “wetenskap” wees wat gebaseer is op uitgestorwe godsdienste soos die van die Romeine, Grieke of Nore nie? Of voorvadergeeste, of selfs die Mayas of Inkas nie? Indien nie, waarom nie? Watter bydrae, indien enige, kan hierdie godsdienste lewer tot die natuurwetenskappe, en hoe? Hoeveel “wetenskappe kan daar dan bestaan? Ek weet nie hoeveel godsdienste die afgelope paar millennia bestaan het nie, sekerlik ‘n paar duisend. Hoeveel duisende “wetenskappe” moet daar dan nou wees?

    My bydrae word nou ontstellend lank, laat ek afsluit deur te noem wat ek in die eerste plek moes gesê het: ek hou van jou gedig!

  8. Gerhard :

    Dankie Maria, Adriaan, Leon vir jul kommentare en die positiewe reaksie op my gediggie.
    Leon, ek dink ons gaan nou net in sirkels om mekaar begin praat. Natuurlik het biologie ‘n invloed op gedrag, maar ons kan vir lank nog bespiegel oor hoe groot of belangrik daardie invloed is ten opsigte van of in verhouding met ander invloede, vernaam die menslike gees.
    Ek kan argumenteer dat Intelligente Ontwerp nie maar bloot die moderne weergawe van kreasionisme is nie, maar dat dit die oorsprongklike dryfveer was vir die opkoms van die wetenskap, dat die idee van ‘n intelligent ontwerpte kosmos in die begin logies was vir die vele groot en gelowige wetenskaplikes wat die Bybelse opdrag om oor die skepping te heers, wou uitvoer deur die wette van daardie geordende kosmos bloot te lê. Ook dat die Joods-Christelike wetenskapsfundering nie die Michael Behe karrikatuur is wat jy beskryf nie, maar ‘n Newton: die fondament waarop die materialistiese wetenskap gebou het. En dat selfs materialiste nie kan wegkom van woorde soos “orde”, “ontwerp”, “plan” en “bloudruk” nie omdat hulle dit om elke hoek en draai teekom.
    Ek kan argumenteer dat dit maklik is om uitgewerkte modelle en teorieë van godsdienstige wetenskaplikes te eis as jy die meerderheidstem het, maar wanneer jy feitlik geen fondse ontvang of geleentheid om te publiseer in vakjoernale nie, as jy jou posisie aan ‘n universiteit kan verloor deur kritiek uit te spreek teen die status quo, kortom, as jy jou gedurig vasloop teen fundamentalistiese materialisme, waar en hoe sal daardie modelle ontwikkel word?
    Ek kan verder argumenteer dat materialistiese verduidelikings ook maar stuit teen die misterie van die lewe, dat ‘n teorie van toeval dikwels nie bevredigende antwoorde kan verskaf nie. As lewe toevallig is, as ek toevallig is, dan is my brein ook toevallig, dan het hierdie rekenaar mos deur ‘n proses van toeval tot stand gekom, dan is my gediggie, soos blare deur die wind op ‘n hoop gevee, net ‘n toevallige klomp strepies op ‘n bladsy…
    Maar ek gaan nie 😉 Want ek dink ons moet nou maar stewig bladskud en “agree to not agree”.

  9. GP Terblanche :

    Gerhard, ek gaan in geen uitgebreide debat betrokke raak nie, maar ek het die inskrywing baie geniet. Ek is dit eens met jou en oor die rol van digkuns binne ons huidige tydswrig.

  •