Adriaan Coetzee. Om die ontwikkelde leek

Om oor jou eie gedig te skryf herinner my aan Breyten Breytenbach se belydenis en spesifiek die volgende woorde: “…die losgetorringde voering van my betoog…” Nie dat ek en hy in dieselfde liga lieg nie bygesê, hy’t darem enkele lesers. Ek het met die wat voel soos leef, skryf en lewe tot die mag oneindig nog net een gehad van die begin af. Soms troon hy bo alles uit en soms, in ’n hermetiese oomblik, reduseer ek hom tot ’n punt.

 

Reekse berg

 

Aan die berg se voet al langs

die doringdraadgrens van ’n plaas

kolk maagbosse behang met planete

van harige neute. Pylvlekkatlagters komeet

baldadig binne en buite sig.

 

Dieper die oop wond van die grondpad in,

so hittete duskant die weggekalwe brug,

kners ’n tamaai geel roweskraper,

 

op die kruin alleen fluit die koel ewigheid en ek onthou doodgewoon:

 

my bosnimf kaalbas baljaar

in Arendskloof se poele,

haar bewende buitelyn pastelle Degas,

onder ’n geselskap moepels my bloedlelie

vurig in haar rotsspleet ingewig-

 

Die ligbreker se volkleur droom is dood.

Wie gaan die kinders die spookstorie van vlees vertel,

dat niemand die wil tot waarheid kan bekostig ,

dat uitgeholde doppies van toktokkies in die skerpioen se nes

al is wat oorbly van dromers?

Het hulle maar eerder hul koppe teen die klippe oopgesplit

as om liefde deur hulle agterent te verwoord.

Het hulle maar eerder hul tonge afgebyt

en oor die vorste uitgespoeg in stom betoog

as om tot die orde van tweederangse jabroer geslaan te word.

 

Iewers bergaf buk en bedel ’n man,

slenter sy bedevaartslied

op riviere blou-angeliere.

In die vallei kaats Buffelspoortdam

’n afstertvoël die ruimte in.

 

Kortom, die prikkel vir hierdie gedig was Danie Marais se woorde: “Stop! Hierdie kosmiese konteks is sinneloos…”  So, ’n kosmiese soeke na sin. Maar ons gaan onsself toespits op lewe en hoedanig dit onderling en in die kosmos weerspieël word. ’n Soeke in die lewe wat ons ken na ’n soortgelyke iets iewers elders gereflekteer. Die titel dui op reekse/momente/rame/ruimtes wat as die deursnit van ’n berg byeengebring word. Die versreëls is kontoere. Alhoewel ek ietwat van ’n leestekenfilistyn is probeer ek weereens ’n gestap daarmee weergee. In krieket sal ek byvoorbeeld …) gebruik om vyf lopies met ’n oorgooi aan te dui, !İİ vir iemand wat geboul is, ’n spelfout vir ’n foutbal en … vir drie agtereenvolgende dot balls. Let op die enkel losstaande versreël van hierdie gedig wat eindig met ’n verlate blik na bo. In die eerste strofe is die aspirant/maagbosse met gedigte/planete van harige neute buitestaander van die kanon as doringdraadgrens en gevestigde digters/pylvlekkatlagters gesellig in die omgewing. Verder van belang is die stervormige hare op die maagbosse se blare en die asbruin bokant van die voëls, wat die gevlieg verder versterk in bal-da-dig. Die blosende voorkoms van Triumfetta sonderi se vrugte word hier profeties ingespan. In die tweede strofe, meer aardsgerig, word beide mens en natuur as verwoesters voorgestel in tyd as wond. En dan bestyg ons die hoogte. Hoekom? Elke kopbeen maak die plek net so bietjie hoër. Eensaamplek daai vir ’n doodgewone mens soos bv. Opperman. Solank jy ’n dromer is. Indien wel, waarvan sal jy droom? Amptelike digterskap? Kos op die tafel en ’n dak oor jou kop? ’n Tuin waar kinders oor alle grense heen bymekaarkom en kultuurskatte uitruil? Die liefde van ’n vrou? Hierdie strofe is onder sensurering. Gewoonlik tot in die mate wat dit moontlik is probeer ek die universele vrou besing. Hier bv. was Bouguereau se Nymphs and Satyr die prikkel wat ’n werklikheid herroep en in Degas se The Morning Bath verbeeld word. ’n Geselskap moepels dui op ’n intieme oomblik wat deur verbygangers versteur word in die geritsel van blare. Die moepels se donkerbruin bas is van belang. En die verspreiding van Mimusops zeyheri  lyk baie soos ’n mannetjie wat verbouereerd op die vlug slaan. Die bloedlelie is vanselfsprekend in volksnaam en in blomvorm. Hier net iets oor die bedrieglike aard van volksname: omtrent elke tweede ding is bv. ’n gifbol. Hierdie spesifieke bol se “voorliefde” vir skaduryke plekke sê dalk iets van die man se geaardheid. Aardspleet as beeld is ook heel eenvoudig. Maar julle gaan moet bontstaan as ek my vrou vertel julle beweer sy’s 3 biljoen jaar oud. Wat verder hierdie beeld herhaal is die ryp saad van Haemanthus humilis (skielik lyk daai naam soos ’n vernederde/nederige haaimanvis…) wat telkens bo die grond lê en ’n wortel uitstoot wat na die aarde boor. Die heel gepaste “rotspleet ingewig” is direk uit ’n veldgids ontleen wat bewys dat daar ’n digter in almal is. Partykeer verg dit net baie jare se gewoeker in jou eie skaduwee. So, nou, na al die * en daar lê die dinge. Dinge se toekoms waaroor jy worry. Dinge wat jy ’n doderyk in kan afdaal om te gaan haal as dit moet. Sinisme kan so soort dooie ryk raak. ’n Filosoof is altyd goeie geselskap in hierdie buitenste duisternisse. Praat van ’n ruimteling wat straal vanuit die niet om ’n teorie oor alles in koolstof te giet. Hierdie strofe is ook doodeenvoudig: die denkende digter word opgeroep om te toi-toi. Die laaste strofe fokus weer op ’n buitestaander wat nie die vaagste benul het van wat op hom wag daarbo nie. Ja, al biddend vir enigiets beter as iewers onder. Die digter getuig van ’n hawelose man wat bid vir uitkoms terwyl die digter op dieselfde berg besig is om saad te versamel as heenkome. Die veelvertakte bloeiwyse van Lapeirousia sandersonii versterk die beeld van ’n rivier soos die torrings van ’n pers kleed. Hoop daar is asimmetriese Rorschach fêns wat Buffelspoortdam wil Google Earth. En Mercurius word in die stafrym van die drie b’s in die eerste en laaste strofes vergestalt. Ek het hierdie gedig geskryf gedagtig aan my botaniese moeder, sy’s nie meer fisies daartoe in staat om in die berge te gaan loop nie. Eendag, as julle wil, kan ek julle voorstel aan my botaniese vroedvrou, ’n weduwee van die Magaliesberge.

 

 

Adriaan Coetzee het in Transvaal skoolgegaan en sy tersiêre onderrig in Gauteng opgeskop. Hy is tans ’n tuinier. Hy woon saam met sy vrou en twee kinders op Sterkfontein. Dit is loopafstand van die inrigting en behoort moontlike besoektye in die toekoms te vergemaklik. Hy het een ouma oor. Dit is ’n jammerte, volgens hom, want ou mense is goeie geselskap. Sy ouers hou nie meer hande vas in die kerk nie. Hy en sy broer kuier nie gereeld genoeg nie. Afgesien van berge in die see werp en die leviatan in ’n visbak dompel om sy skoonma se papegaai geselskap te hou belowe hy plegtig om te sorg vir ’n gestotter van trane en ’n geklapper van tande. En poësie.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •