Gesprekke op Facebook is maar soos enige sosiale interaksie – dit het die potensiaal om interessant te raak. So gebeur dit een aand dat ek tegelyketyd drie aparte kubergesprekke aan die gang het; een in Kanada, een Pretoria en een in Grootbrak. Twee gaan oor liminaliteit, die ander oor ʼn selakant. Teen middernag begin ek die gedagte kry dat hierdie eintlik één gesprek is. Hoe meer ek aan die liminale vis gedink het, hoe meer het ek gegoogle. Ek wou veral sien wat die kunste al opgelewer het. Is daar iewers ʼn selakantballet? ʼn Klein simfonie, dalk?
Hierdie installasiekuns deur Marcelle van Bremmel is die eerste waarop ek afgekom het http://catalogue.nimk.nl/site/?page=%2Fsite%2Fart.php%3Fid%3D9 Die meegande “artist statement lui: “The coelacanth… represents a transitory period from life in the water to life on land and has hence become a metaphor for a crucial evolutionary step… In a broader sense, Coelacanth could be viewed as being a metaphor for the processes of transition…”
Die nugterheid wat helder sonskyn bring het my die volgende oggend natuurlik laat besef dat my diepnagtelike mymeringe nie so oorspronklik of vreeslik aardskuddend is nie. Maar die proses was aan die gang en ek het vir die eerste keer in jare weer die selakant se spoor gevat. J.L.B. Smith se seun, Rob, was my skoolhoof en een oggend het hy toegelaat dat skool nie te veel inmeng met ons opvoeding nie, à la Mark Twain. Ons het klasse afgekry en in die skoolsaal vergader om te luister na J.L.B. Smith se vrou wat vertel van haar man en van die selakant. Sy was ʼn goeie spreker, vol entoesiasme en dit was vir my soos om ʼn Jaques Cousteau of ʼn Jules Verne te ontmoet. Ek het daarna lank gesoek, maar ons klein dorpsbiblioteek het niks oor die selakant gehad wat ek kon lees nie. Hoe anders as vandag, waar soveel beskikbaar is op my klein skermpie in die middel van die nag.
Die selakant se storie is so vol spanning en aksie, ek meen al vir jare dit kan ‘n suksesvolle fliek word, as dit intelligent aangepak word. Afrika in 1938. ‘n Skraal vroutjie sukkel met ‘n vyfvoet-lange vis in ‘n warm Suidelike somer. Niemand wil haar help nie. ʼn Telegram. En dan: om die onmoontlike te glo. Hier is ʼn oervis.
Geen dokumentêre DVD is te koop nie, sover ek kon vasstel. Maar hier is stukke ou “footage” wat dele van die storie vertel. Courtenay-Latimer kan gesien word. http://www.youtube.com/watch?v=yz1oTHXvbHg
Intussen het ek baie boeke gelees oor die selakant, party meer akademies of wetenskaplik as ander, maar vir my vergelyk niks met J.L.B. Smith se eie boek nie. Old Fourlegs lees boeiend, dis soos ʼn persoonlike dagboek. Een van my vriende het ʼn oorspronklike eksemplaar by sy pa geërf en ek is heilig daarvan oortuig dat dit eintlik langs my eerste-uitgawe Siel van die mier hoort, maar hy wil nie daarvoor val nie! Ou boeke is amper so mooi en spesiaal soos ou visse, voel ek.
In 1998 is die R2 goue herdenkingsmunt beskikbaar gestel. Dit is nou skaars en waardevol, ek het ene gesien by die Munt se opedag in 2001. Al afdruk wat ek daarvan kon kry het ‘n watermerk op….
Wat die ander kunste betref, het my soektog ook die volgende opgelewer: ʼn Tydskrif, http://www.thecoelacanthpress.co.uk/The_Coelacanth_Journal.html, ʼn paar wetenskapfiksie/fantasie tekeninge op plekke soos Deviantart (gaan kyk maar self www.deviantart.com) en ‘n punkrock-groep.http://www.youtube.com/watch?v=ZdBTKDIsLNI Daar was ook die gebruiklike “B-grade” grufilm, wat ek (genadiglik) nie gesien het nie Horror on the campus (vrygestel in 1958). Gister verneem ek so per riemtelegram dat ons eie Triggerfish animasie-studio ʼn konsepvoorlegging in Annecy doen (http://variety.com/2013/film/news/triggerfish-sets-sea-monster-movie-exclusive-1200493414/) vir ʼn vollengte fliek oor ʼn professor en ʼn fossielmonster uit die see iewers in Afrika. Ek wonder, ek wonder…!
Maar wat van gedigte? My gesprek met Marie Bredenkamp op facebook het juis gegaan oor ons onderskeie kennismaking met mense in die destydse Natal. Sy het Shirley Bell geken, wat die 1969 kinderboek Old man coelacanth geskryf het en in besit is van baie van J.L.B. Smith se korrespondensie en geskrifte. Ek wou al lankal ʼn gedig oor die selakant skryf, maar het elke keer halfpad opgehou. Uiteindelik het ons laatnaggesels en Marie se verjaarsdag my toe meer op vrouens se stories gefokus en ek het maar solank die volgende vers gepleeg:
Van M tot by die see
(vir Marie)
Vir jou verjaarsdag wil ek ʼn vers voltooi
wat ek voor my ma se dood begin het,
sommer omdat haar naam dieselfde was
as joune en die opnoem van woorde my koers gee;
ek volg hulle soos spore of sporte, soos toonlere
wat my moet lei na oewers of waters, la mer, mare,
sê ek, Maria, Marjorie – ek skryf
lossies, los en los. En vas :
Marjorie Courtenay-Latimer, hoe gepas
dat sy die lewe in 1907 moes binneglip
onder die sterreteken van die vis
asof iemand toé reeds kon raai dat die see haar ʼn roeping en ʼn lot
present sou gee, dat sy kort voor Kersfees sou moes heen en weer
van taksidermis tot lykshuis, dringend op soek na ʼn koelkamer of ys
om maaiers en rotting weg te hou van die sogenaamde rotskabeljou.
Wie kon voorspel dat ʼn longvis op vinne sou stap
tot in die binneland van haar hart,
dat haar bestaan van strand tot strand
gevul sou word deur die professor
en die selakant ?
Sy kon as hoogbejaarde vrou helder
soos in ʼn kinderrympie onthou
haar swemmende fossiel, die blou
latimeria chalumnae
“was covered in hard scales
and it had four limb-like fins
and a strange puppy-dog tail”
Toe sy alleenlopend sterf op 97 jaar
het sy seker lankal besef:
soms word ʼn hele lewe
in sout en formalien bewaar.
Ons het die selakant en sy misterie miskien lief vir die vrae wat dit vra, meer as vir die antwoorde wat dit verskaf. Ek spoor ʼn kinderrympie op, “The coelacanth flip flop” en ook Matthew Ladd se gedig wat begin: “Is it such a crime to stop writing/ we could all burn our manuscripts”. Dan is daar nog Elizabeth Spires se vers wat begin “I saw you in a book: bubble-eyed and staring” uit haar bundel The Wave-maker. (Ek kon nog nie die volledige verse opspoor nie). Rick Mullin se bundel kon ek nie kry nie, net die voorblad:
Op die Saatchi-galery se webblad is net een selakantskildery beskikbaar: http://www.saatchionline.com/art/Painting-Oil-Frozen-Coelacanth/314069/219054/view
Sedert my hoërskooljare is lewendige selakante nou al in hulle habitat verfilm en baie spesimens is versamel. Selekant is eintlik nie net een vis nie, dis ʼn orde. Die soorte in die Ooste is net familie van ons eie Latimeria chalumnae. Nogtans vind ek dit ironies dat die mens die selakant se verdere voortbestaan juis bedreig noudat ons hom ontdek het! Gaan lees gerus maar orals op die internet hoeveel selakante gevang en doodgemaak word. Daar is selfs ‘n geval van “a coelacanth and her 23 pups unfortunately died”.
ʼn Dooie selakant is nie eers naastenby so mooi soos ʼn lewendige een nie. Om mee te begin, verloor hy sy kleur en sy oë word dof. En juis daarom, vind ek Johann Lodewyk Marais se koeplet uit sy bundel In die bloute so skrynend, so verskriklik ráák.
J.L.B. Smith
“Die selakant is pragtig blou en grys
op die oomblik wanneer sy swemblaas bars”
Ek weet net daai woord het altyd …. moeilik gespel!!
O, magtag!
Daniël, kyk wat kry ek in my Pharos-woordeboek! “kieudraend, kiefdraend-e. Wat kiewe of kuwe het.”
Albei spellings is aanvaarbaar.
Ja, ek het gedink dis vreemd. Ek wonder watter een sou die regte opsie wees?
Rene, die enigste setfout/spelfout in Ina Rousseau se bundels waarvan ek bewus is, staan in hierdie gedig. Daardie “kuwe” moet waarskynlik “kiewe” of “kieue” wees.
Die vonds van die selakant (Ina Rousseau)
Nadat die professor
die fossielvis betrag het –
die swaar pote met kloue,
die ysterharde harnas
van draakskubbe
waarin dit gevaar het
deur gevaarlike seë
soos in ‘n pantserskip,
die kuwe van klip,
kwellend en getand soos gaffels –
het hy die pens oopgesplits:
Biine-in het hy gevind
gebreekte kakebene, elmboë
groot ongeskonde grysblou oë
Dankie Marthinus, ek sal more in die bundels kyk – ons lysie kry nou lyf; ek is bly.
gilbert gibson het ook ‘n vers oor die selakant geskryf – vgl. oogensiklopedie (“selakant ii”)
in “grotargeoloog” (troglodiet) verwys tom gouws ook na die selakant
Die Achterberg-gedig is regtig besonders! Ek was heeldag besig, moet nog gaan soek na Ina Rousseau se vers – dankie vir daardie inligting, Johann (JLM)
Er is in zee een coelacanth gevonden …
Hoe ‘n wonderlike ruimte vir gesprek het oorlede selekant nie hier geskep nie…dankie René!
op hierdie webroering, tom gouws se antwoord op djo se “metafisika-buffel” – is die syspraak!
maar natuurlik ken die buffel (en die selakant) geen metafisika:-)
Ek weet net ek weet niks.
Kry egter nou hierdie boodskap van een van my jonge vriende (ek dink hy is 22) Dalk skakel dit hier iewers in of aan?
“Mysticism keeps men sane. As long as you have mystery you have health; when you destroy mystery you create morbidity. The ordinary man has always been sane because the ordinary man has always been a mystic. He has permitted the twilight. He has always had one foot in earth and the other in fairyland. He has always left himself free to doubt his gods; but (unlike the agnostic of to-day) free also to believe in them. He has always cared more for truth than for consistency. If he saw two truths that seemed to contradict each other, he would take the two truths and contradiction along with them. His spiritual sight is stereoscopic, like his physical sight: he sees two different pictures at once and yet sees all the better for that. Thus, he has always believed that there was such a thing as fate, but such a thing as free will also. Thus, he believes that children were indeed the kingdom of heaven, but nevertheless ought to be obedient to the kingdom of earth. He admired youth because it was young and age because it was not. It is exactly this balance of apparent contradictions that has been the whole buoyancy of the healthy man. The whole secret of mysticism is this: that man can understand everything by the help of what he does not understand. The morbid logician seeks to make everything lucid, and succeeds in making everything mysterious. The mystic allows one thing to be mysterious, and everything else becomes lucid.”
-G. K. Chesterton, Orthodoxy (1908)
Ek wil nogal verskil van die grote Goethe – ek dink dit is nie soseer “elevating” wat die mens moet doen nie, dalk eerder kleiner word, minder heerser en sentraal wees om toegang tot die hart van die natuur te vind.
@Breyten: 🙂
En kom mens toe af op ‘n uittreksel uit Goethe se “Conversations with Eckermann” (ek het ongelukkig slegs die Engelse vertaling byderhand) – wat gaan oor die Metamorfose van Plante en, meer spesifiek, oor die toegang tot die hart of die verstand van die natuur:
“The Understanding will not reach her; man must be capable of elevating himself to highest Reason, to come into contact with the Divinity, which manifests itself in the primitive phenomena (‘Urphänomenen’), which dwells behind them, and from which they proceed.
“The Divinity works in the living, not the dead; in the becoming and changing, not the become and the fixed. Therefore Reason, with its tendency toward the Divine, has only to do with the becoming; but Understanding with the become, the already fixed, that it may make use of it.”
Sou mens persoonlik verkies dat Divine vervang word deur Diverse. (Al weet mens dat dit nie vir Leon Retief sal paai nie en koes mens by voorbaat vir sy tjaarts.)
Kyk ook Ina Rousseau se “Die vonds” oor prof. J.L.B. Smith en die selakant. Sy het beslis “Old Fourlegs” (of die Afrikaanse vertaling van die boek) gelees voordat sy haar gedig geskryf het.
Dankie vir die verwysing, Daniel. Ek vermoed jy het Achterberg se “Ichtyologie” uit die bundel CENTOGRAAF in gedagte? Ek plak dit sommer hieronder by wyse van toevoeging.
Er is in zee coelacanth gevonden,
de missing link tussen twee vissen in.
De vinder weende van verwondering.
Onder zijn ogen lag ‘t eerst verbonden
de eeuwig onderbroken schakeling.
En allen die om deze vis heenstonden
voelden zich op dat ogenblik verslonden
door de millioenen jaren achter hen
Rangorde tussen de mens en hagedis
en van de hagedis diep in de stof,
verder dan onze instrumenten reiken.
Bij dit besef mogen wij doen alsof
de reeks naar boven toe hetzelfde is
en kunnen zo bij God op tafel kijken.
(c) Gerrit Achterberg (Uit: “Centograaf”)
Dankie Daniël!
“Er is in zee coelacanth gevonden
de missing link tussen twee vissen in
…………”
Gerrit Achterberg
(ek weet nie of ek volle gedigte mag plaas nie. Kopiereg?)
Die Nederlandse digter Gerrit Achterberg het ook ‘n pragtige vers oor die selakant geskryf.
“En uit vier kknoppe van die selekant
knop
voet na voet
hand na hand
kruip en waggel ek orent
langs die eersterivier
…………….”
(Uit: Glaukus klim uit die water. D.J. Opperman)
Ja – dis in “Komas uit ‘n bamboesstok”?
Ook in DJO se gedig “Glaukus klim uit die water” is ‘n verwysing na die selekant (sy spelling).
Dankie, Marthinus, ook vir die posseël-inligting. Ek kon net ene van die Comores opspoor op die internet. Sal bietjie soek vir die 16c voorbeeld. Ongelukkig het ek nie ‘n “Groen” nie – so jammer ek het nie van jou kwatryn geweet nie, ek hou baie daarvan! Dit was presies my droom – dat ons ‘n klomp Afrikaanse selakantgedigte kan bymekaarkry.
rené, in Groen (Johann-Lodewyk Marais, 1990) is my kwatryn “selakant soek tog” opgeneem:
vier vinne oorkruis hardloop
hond of perd dié vis ‘n viervoetdier
verlaat die water raak (r)evolusionêr
vis of vlees
Daar was ‘n 16sent-posseël deur A. Mc Bride in 1989.
marthinus
Dankie, Marie – natuurlik is jy welkom:-) Ek moet sê jy is die enigste persoon wat ek ken wat ‘n gedig as “toegangsgeld” vra by jou verjaarsdagpartytjies! Dit is ‘n lieflike idee wat groot genot verskaf.
Kom ek vanaand in die koue op Henley-on-Klip aan en gesels ons weer oor die heerlikhede van die verjaarsdag, en ek nogeens jammer dat ons nie by die lees van al die verse uitgekom het nie – en ek wonder teenoor my vriendin of ek jou kan vra of ons dit kan plaas? Groot dus die genot om op hierdie artikel af te kom – én ook om Susan se vers-in-wording onder oë te kry!! (Wanneer ek myne geskryf het, sal ek ook my indrukke wil kom bydra!!)
Ek sien J.L.B. Smith dra Old Fourlegs op: “The book is dedicated to Miss M. Courtenay-Latimer, one of South Africa’s most able women.” Jou “Miss Marjorie” pas dus mooi in, Susan.
Dankie,Susan! Ek sal nou aandagtig gaan lees, maar kan solank sê dat “nagswemmer dryfjagter bodemloper” vir my pragtig is.
René, hier is die gedig, nog vlees, nog vis.
selakant
Coelacanthiformes, Latimeria chalumnae
toe almal geglo het
hy is lankal dood
toe net fossiele
360 miljoen jaar oud
van hom oorgebly het
sien Miss Marjorie ou vierpoot
by Tyalomnqa in Desember van ’38:
hol ruggraat
geskarnierde bek, lobgevin
die kalm nagswemmer
dryfjagter bodemloper
te laat.
sal hy, die meester
seestroomnavigeerder steeds
moeiteloos en beweeglik in die swel
en val van deinings sy roete maneuvreer
oor nog ‘n miljoen of meer?
ek is so opgewonde ek kan nie reg tik nie – verskoon die gestruikel oor “nog” en “waardering”
Ai en nou is ek so bly ek was domastrant genoeg om my visvers hier ten toon te stel! Want agter die skerms kon ek Susan Smith se arm draai om haar vers in wording (waarvan ek tot netnou nog nie eers geweet het nie) ook hier te kom plaas. Dit neem die selakantgesprek ng ‘n treetjie verder. Ek het groot waardeinr vir hierdie gebaar van jou Susan, al skaaf ons nog aan die gedigte – dankie dat jy aan hierdie prentjie deelneem:-)