hector-pietà
uit die marmerkolom van my spoegwit taal
probeer ek verleë vir die seun ‘n beeld boetseer
willoos hang die hande wat die koeëls wou keer
die knie ongedwonge geknak so sag so onbrutaal
gewillig die lyf tot fetus getroos deur kartetsmetaal
in die lokasie van die omsingelde hart het vrees ingeskeur
daar draal blanko verse op die tong se dooimansdeur
hector se hortende asemhaal is die taal se noodsinjaal
hoe beitel ek ‘n beeld se voeë skoon met stylfiguur
hoe worstel ek die oortollige vuilwit geweterots wég
hoe monumentaal is ‘n kind met bloed en versfraktuur
die dood weet alle seuns word uithuisig op die duur
elk verinneweerde gedig is kollektiewe pyn se patentreg
skierlik staan ‘n volk totaal ter fusilade in saluutvuur
(c) Tom Gouws (2013)
aangrypend verruklik dat dit my hart aangryp en my tot nuutverle”e onthou dwing
Aangrypend.
‘n Roerende sonnet uit die pen van ‘n meesterdigter.
Hier word ik stil van, een prachtig gedicht dat mij raakt!