Jaco Barnard-Naudé. Bespreking van Elisabeth Eybers se gedig ‘Voortgang’

Voortgang

 

Onverhoeds en verbasend kom jy op slag

deur ‘n samespel van beloning en straf.

By gebrek aan ‘n deugdelijke alternatief

durf jy die dag aan, al is dit nie iets

wat jy uit eie beweging sou kies.

Jy neem elke verdraaglike prikkel vir lief,

keer op keer waag jy jou selfs in die nag

en bring dit sowaar daar nog heelhuids van af.

Voortgang gaan voort. Aan die end van die tog

klink jou klaarste bevinding: kyk, hier is ek nog.

Hier het een voordeel: dat jy dit ken

al kos dit ‘n leeftyd om daaraan te wen,

banneling gebore. Vergeefs moet jy raai

wáárom alles per slot van rekening draai.

(Eybers 2004:744)

In die Nuwe Stemme 5-onderhoud op Versindaba haal ek hierdie gedig aan as ‘n soort lewensmotto. Dit is dus toepaslik om tentatief aan te dui wat ek as die eksistensiële boodskap van hierdie gedig beskou.

‘Voortgang’ staan in Eybers se bundel Verbruikersverse / Consumer’s Verse (1997) – haar derde laaste bundel. Die titel van die bundel is ‘n sleutel: die mens is uiteindelik verbruiker par excellence, bowenal van haar eie lewe. Van hierdie bundel in geheel skryf Schutte dat die gedigte in hierdie bundel, wanneer dit vergelyk word met vroeër werk, ‘yler’ voorkom (Schutte 2004). Die tematiek in die bundel is drieledig: ‘die verlede, eie huidige omstandighede en die oudwordproses’ (Schutte 2004).

Vir hierdie leser het die gedig ‘Voortgang’ ‘n sterk Heideggeriaanse inslag: dit handel met die verbasing / verrassing (Fr: sur-prise) van bestaan en leef en dra in vele opsigte Heidegger se boodskap oor dat die enigste essensie bestaan self is: ‘What does “existence” mean ..? The word designates a mode of Being; specifically, the Being of those beings who stand open for the openness of Being in which they stand, by standing it. This “standing it,” this enduring, is experienced under the name of “care.” The ecstatic essence of being there is approached by way of care, and, conversely, care is experienced adequately only in its ecstatic essence (Heidegger 1949).

Vir Eybers kom die lewe en die bestaan neer op ‘n reeks verrassings, ‘’n samespel van beloning en straf’. Mens durf die dag aan / gaan voort nié omdat jy dit kies nie maar omdat jy dit deurstaan ‘by gebrek aan ‘n deugdelike alternatief’. Die begin van die gedig is moeilik om te beskryf vanuit ‘n emotiewe oogpunt, dit ossilleer tussen uiterste verbasing en diep depressie / sinisme: ‘[j]y neem elke verdraaglike prikkel vir lief’. Hier klink ‘n besondere skeptisisme op. Die spreker meen blykbaar dat liefde ‘n versinsel is, dat daar nie iets is soos ‘ware’ / egte liefde nie, slegs die ‘verdraaglike prikkels’ wat ons ‘vir lief’ aanneem. Die dubbelbetekenis van ‘vir lief’ is hier veelseggend. Die digteres probeer met die ‘vir lief’ ook aandui dat sy verlief neem met die skynbestaan van liefde, dat sy dit as ‘n lewensfeit aanvaar.

Tog aktiveer die ervaring van hierdie kortstondige stimulasie van ‘verdraaglike’ / (verraderlike?) prikkels, roekeloosheid by die spreker – jy waag jou keer op keer selfs in die nag, ‘en bring dit sowaar daar nog heelhuids van af’ (let weereens op die verbasing / verrassingselement hier). Die digteres reflekteer hier oor die invloed van die Noodlot op ons lewe / bestaan. Hoe die onvoorspelbare, onberekenbare soms iets goed én iets sleg aan ons uitdeel. Hieraan / aan die radikaal onvoorspelbare gedeelte van die toekoms, aan wat Derrida die à venir noem (Derrida 1992), kan ons níks doen nie – ‘[v]oortgang gaan voort.’ Dit is nie binne ons rasionele of irrasionele vermoë om die toekoms volledig te voorspel of te bereken nie. Dit is ons lot as menslike wesens. Die digteres ervaar hierdie bevinding as tegelyk opbeurend en neerdrukkend. Ons enigste ware bevinding by oorlewing van die onvoorspelbaarhede van die lewensreis kan wees: ‘kyk, hier is ek nog’. Maar ‘hier’ het ‘n voordeel: ons kan dit ten dele ken. Ons kan dit ten dele bemeester, ons kan leer uit ons ervaringe. Die ironie is egter dat dit ‘n leeftyd neem om volledig te kan ken. Uiteindelik kan die gedig nie anders as om ‘n absoluut ambivalente posisie teenoor die subjektiewe ervaring van die menslike lewe en toestand in te neem nie: ‘banneling gebore’.

Die slot van die gedig is ‘n sterk poëties-filosofiese, maar wrang eksistensiële boodskap. Bestaan / hierwees / aanwesigheid / bewustelikheid het een voordeel: ons kan dit ken. Eybers steun hier op die Westerse metafisiese tradisie waarvolgens die voorwaarde van alle kennis die bewustelike, rasionele individu is. Soms kos dit ‘n leeftyd om sin te maak van ons bestaan, om dit te bemeester. Die pragtige ‘banneling gebore’ som die sterk eksistensiële aard van Eybers se digkuns op. Die mens is gebore om verban te word van die aarde, om verban te word uit bewustelikheid – soos Heidegger dit het: Dasein is gerig tot haar eie dood. Eybers skryf hieroor ook in vroeër werk. In Die Vrou en ander verse (1945), byvoorbeeld, verwyt Eybers haarself daarvoor dat sy haar kind ‘uit bestaanloosheid se diepe rus / geruk het in die strik van vlees en bloed’. In dieselfde bundel is die wrangheid opmerkbaar in ‘Sonnette aan F.’: ‘Dit maak mens weersinnig en verslae / dat iets so trots en vonkelend soos jou gees / geblus kan word en ophou om te wees’. Uiteindelik is ons bestaan ‘n onoplosbare raaisel. Tog gee ons nooit op om dit te bepeins en te oordink nie. Dit is daarom ook geen toeval nie dat ons oorlewingsdrang juis sterk gekoppel is aan die drang om ons bestaan te dekodeer.

Verstegnies kan mens let op Eybers se briljante spel met die sonnet. Die eindryme is ‘n kombinasie van volrym en halfrym, die slot is in koepletvorm (ooreenkomstig die vereistes van die Engelse sonnet), maar is nie ‘n afsonderlike strofe nie. Die hele gedig is, terloops, aangebied in een veertien-reël strofe. Hierdie elemente maak dit eintlik onmoontlik om die gedig as ‘n ‘Engelse’ of ‘Italiaanse’ sonnet te karakteriseer. Dit bevat elemente van beide. Dit is eintlik nie verbasend dat Eybers aan die einde van haar digterskap ‘n meer komplekse posisie teenoor die sonnet inneem nie, gegewe die volgehoue beoefening van die sonnet in haar oeuvre. Vormgewys mag ons dus hier seker praat van die Eyberiaanse sonnet.

Bronne:

Derrida, J. ‘Force of Law: The “Mystical Foundation of Authority”’ in Cornell et al Deconstruction and the Possibility of Justice (1992).

Eybers, E. Versamelde gedigte (2004).

Heidegger, M. ‘Existence and Being’ beskikbaar by http://www.marxists.org/reference/subject/philosophy/works/ge/heidegg2.htm

Schutte, S.E. Die uitbeelding van die dood in die digkuns van Elisabeth Eybers, Olga Kirsch en Eveleen Castelyn (2004) Ongepubliseerde D Litt proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Jaco Barnard-Naudé. Bespreking van Elisabeth Eybers se gedig ‘Voortgang’”

  1. ‘n Lekker ontleding, Jaco. Ek hou veral van die tipering “Eyberiaanse sonnet”. Terloops, daardie “deugdelijke” is maar net een van die talle setfoute in die 2004-uitgawe van Eybers se “Versamelde gedigte”.

  2. Jaco Barnard-Naudé :

    Dankie vir die terugvoer Daniel. Ek is veral nog onder die indruk van die ryme in hierdie gedig.

  3. Maria :

    Poësie en dekonstruksie – hier volg ‘n skakel na die Oxford Literary Review (2011) se uitgawe wat gefokus het op die verhouding tussen poësie en dekonstruksie. Die skakel behels gratis toegang tot Sarah Wood se redaksionele inleiding getiteld ‘It will have blood’: http://www.euppublishing.com/doi/pdfplus/10.3366/olr.2011.0013

  •