Adriaan Coetzee. Om te herenig in glas
En daar versaak my swaer se pa se hart hom op Vadersdag. En ek weet nie wat om vir hom te sê nie. Ons verhaal is nie almal se verhaal nie. Ek veronderstel weens ’n gebrek aan ’n oorspronklike eufemisme sal ons ook beweer ons is besig om ons kinders op te voed.
’n Tydstip later, my kop onder beleg deur ’n hand vol vaders, herroep ek Morrison:
“ Death makes angels of us all
& gives us wings
where we had shoulders
smooth as raven’s
claws ”
Maar hoe sal ek hierdie behoefte om te herenig in glas deur vuur regverdig? In vyf woorde vir ’n rasionele mens: liefde is ≥ ons waarhede.
Die volgende praatvers is miskien ’n desperate poging deur ’n seun om ’n bedkassie vol Louis Lamour Westerns te omseil en vir ’n oomblik onder sy pa se oë te verskyn in die gedaante van die vrou wat hom gebaar het.
Meidjie
Tyd se gang het van jou ’n winkelhaak gemaak.
Jou agterkleindogter Neleha was net te laat
vir jou slaaptydstories. Deur die geslagte heen
het ons jou oë verloor. Jou agterkleinseun
Armandt se oë kan amper praat as sy wenkbroue
die woorde so teen sy voorkop plooi.
Maar jou oë Helena het soos ’n Hoëveld-storm
die hart se aardskuddende bliksems gegee.
Miskien het die oorlog se bomfabrieke
ons van meer as jou vlegsels geroof,
ons met dieper letsels gelaat as net jou skilferhoof.
Anderdag vertel my pa my van jou kindweesdae
op ’n plaas buite Nigel en hoe jy tussen veertien mense
om een blikkie Pilchards tevrede was
om net jou brood in die tamatiesous te doop.
En ek wonder hoeveel moed dit verg
om een vir een daardie gesin te begrawe
tot net jy staande bly.
Jou en oupa Dave se skip het toe nooit op Zuurbekom gedok nie
al was die liefde rooi onder lande en lande tamaties.
Die skuur het jy netjies met goiingsakke in vertrekke verdeel.
Daardie twee helsims, Dirk en Louw,
moes jy soms met ’n nat vadoek intoom.
En Annetjie, die dogter van jou strepe met die een verdorwe handjie,
sy’t mos jou pa en oupa Dave se eerste en laaste
bottel Oude Meester stukkend gegooi.
“Meid!?” het oupa Dave skielik een oggend geroep
en langs die bed oor sy skoene inmekaargestort.
Twee weke later het klein Louw agter die Holland&Holland
’n boesemvriend armer geword.
Onthou jy nog die dag toe ek geglo het James Earl Jones
kondig die einde van die wêreld aan op CNN.
My moedelose pa het my langs jou maak sit.
Jy’t my gekyk en gesê: “Ek gooi my dolos in die daggabos.”
Ek onthou die dag in Huis Herfsblaar
toe ek my gewete kom sus het
met ’n tweehonderd rand noot.
Die geld was oranje en jy was oranje
en daardie taal tussen ons was oranje.
Sedertdien is jy helder dog swaarvoet
agter jou “bos-mercedes” die ewigheid in en het ek
drie dosyn EKTs later ook uiteindelik rigting gekry.
Of was dit te danke aan jou Here,
deesdae is my geheue soldeerdraad.
Blywend egter is my oliekolonie vir Krismis
wat op TV met O Fortuna seelangs kom.
Jou krom lyf in ’n stofjas aan die sloof tussen rakke hardeware.
Die soetpatats in jou woonstel bo KFC.
Maar, bo alles ouma Meidjie, die dialoog in jou oë.