Joan-Mari Barendse. Om ’n breipen in jou neus op te druk

Leonard Cohen skryf in sy Book of Longing:

I’m going to put a knitting needle

up my nose

and poke out my brain

I don’t want to love you

for the rest of my life

In die geval van die digkuns is dit die skrywerspen wat jy soms in jou neus wil opdruk as daardie gepaste woord of strofe jou bly ontwyk. Daar is nogal ooreenkomste tussen ’n onvervulde liefde en ’n half-geskryfde (of ongeskryfde) gedig wat by jou spook. In die film Eternal Sunshine of the Spotless Mind word daar van ’n meer gesofistikeerde metode gebruik gemaak om van die geliefde te vergeet. Die titel van die film is geneem uit Alexander Pope se gedig “Eloisa to Abelard” (steeds is ons by die tema van gefrustreerde minnaars):

How happy is the blameless vestal’s lot!

The world forgetting, by the world forgot.

Eternal sunshine of the spotless mind!

Each pray’r accepted, and each wish resign’d 

Die karakters Clementine en Joel (gespeel deur Kate Winslet en Jim Carrey) in Eternal Sunshine of the Spotless Mind laat programmeer mekaar uit hulle geheue uit. Foto’s, geskenke en aandenkings wat hulle moontlik aan die verhouding kan laat dink, word uit hulle huise verwyder voor die prosedure. Vriende en familie word aangesê om nooit weer voor die een van die ander een te praat nie.

In ’n bespreking van die film het wyle prof. Paul Cilliers gesê dat mens onmiddellik na die einde van die film weer die begin moet kyk: dit sal dan een van die mooiste tonele wees wat jy nog gesien het. (Indien jy nog nie die film gesien het nie, hou nou op lees en gaan kyk dit). Aanvanklik dink die kyker dat Clementine en Joel mekaar in die openingstoneel vir die eerste keer ontmoet. Later besef jy dat dit ’n herontmoeting is. Die twee voormalige minnaars is egter salig onbewus daarvan dat hulle mekaar ooit geken het. Tog is daar iets wat hulle na mekaar toe aantrek, ’n herkenning op ’n dieper vlak.  

Skielik dink ek nie meer aan frustrasie nie, maar aan inspirasie. Die digkuns is vol sulke Clementine/Joel-oomblikke. Met die lees van ’n goeie gedig word die leser dikwels vervreem. Tog moet daar iets herkenbaar wees wat hom of haar telkens sal laat terugkeer na die gedig. As dit by die skryf van gedigte kom, moet jy na die wêreld kyk asof jy dit vir die eerste maal sien. Dit kom op die ou end neer op ’n herorganisasie van jou brein (natuurlik op ’n meer konstruktiewe wyse as wat Cohen voorstel).

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Joan-Mari Barendse. Om ’n breipen in jou neus op te druk”

  1. Gisela Ullyatt :

    ‘Eternal sunshine of the spotlesss mind’ is ‘n indrukwekkende fliek. Nie maklik om altyd by te hou met die ongewone plot nie, maar met die tweede kykslag is dit heel verstaanbaar en nou is dit een van my gunstelinge. Dankie vir dié interessante skryfsel daaroor, Joan-Mari!

  2. Wicus Luwes :

    Een van die eerste liefdes-flieks wat tel onder my gunstelinge. Ek het dit seker al ten minste vyftien keer gekyk en elke keer weer geniet. Jou blog se slot het my laat dink.
    Clementine: This is it, Joel. It’s going to be gone soon.
    Joel: I know.
    Clementine: What do we do?
    Joel: Enjoy it.

  3. Joan-Mari :

    Gisela, die film was veral vir my betekenisvol nadat ek prof. Cilliers se bespreking daaroor bygewoon het. Mens konsentreer so om by te bly met die plot met die eerste kykslag dat mens nogal baie mis!

    Wicus, dalk kan jy dit ’n 16de keer kyk! Altyd ongelooflik vir my hoe goed Jim Carrey in sulke offbeat rolle is.

    Dankie vir julle kommentaar.

  •