Joan-Mari Barendse. Oor eikebome

Ek loop nou al vir jare rond met die volgende reëls; die res van die oorspronklike gedig het ek geskrap:

Die boomwortels word

snags arms en bene

die grond haal asem en los

taai verdampte vlekke

of soms net ʼn sug

Die reëls is geïnspireer deur die groot eikeboom op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat in Stellenbosch (dieselfde boom waarna ek verwys in my gedig “Gedigte word geskryf”, wat in Nuwe Stemme 5 opgeneem is). Raad het ek nie met die reëls nie. Hulle kan tog nie op hulle eie staan nie (of kan hulle?). In ’n onlangse weergawe van die gedig probeer ek om slim te wees, maar kom gou agter dat ware wysheid nie geforseer kan word nie:

Akkerbome: Stellenbosch

Die boomwortels word

snags arms en bene

die grond haal asem en los

taai verdampte vlekke

of soms net ʼn sug

 

In 1679 het hy sy merk

gemaak in eik

geelhout, ysterhout

of swarthout sou nie deug

vir sý woud

 

Julle is geplant

as skadu teen die

Stellenbosse hitte

as baken van Europa in Afrika

nou word julle ʼn skuiling in die nag

blah, blah, blah…

Ek het dit selfs oorweeg om iets in te bring oor die swamsiekte (Oidium quercinnum, of so iets) wat ’n paar jaar gelede so onder die eikebome in Stellenbosch gemaai het. Die reëls gaan ek nou maar vir nog ’n paar jaar los, dalk vind ek ’n gedig waarin hulle pas.

Ek kan egter nie wegkom van bome nie, orals lees ek oor hulle simboliek en mag. Volgens Rob Nixon (2011:135) is die aanplanting en afkap van bome ’n politieke aksie. In die sewentiende eeu is bome in Europa beskou as tekens van aristokratiese bevoorregting. Bome is in protes teen die aristokrasie afgekap en verbrand. Dit is egter die volgende gedeelte uit Nixon se Slow Violence and the Environmentalism of the Poor (2011) wat my bybly: “Maathai and her followers, armed with nothing but oak saplings, with which they sought to begin replanting the plundered forest, were set upon by guards and goons wielding pangas, clubs, and whips. Maathai had her head bloodied by a panga; protestors were arrested and imprisoned” (Nixon 2011:135).

Nixon skryf hier oor Wangari Maathai, ’n Keniaanse omgewings- en politieke aktivis wat in die sewentigerjare van die twintigste eeu die “Green Belt Movement” in Kenia gestig het. Saam met ander Keniaanse vrouens het Maathai geveg teen die grootskaalse ontbossing (toegelaat deur die regering vir finansiële gewin) van hulle land. As diegene wat kos verbou vir hulle gesinne, het die vrouens gesien hoe hulle kosbare landbougrond jaar na jaar wegspoel as gevolg van gronderosie.

Ek sluit af met ’n passasie oor eikebome uit Marlene van Niekerk se Triomf (1994) waarin ’n geskiedenis van mag, besit en verlies saamgevat word: “Sy kyk vir die groot ou boom onder in Marthastraat. Dis die enigste groot skaduboom in die hele Marthastraat, mind you, in die hele Triomf. Pop sê dis ’n eikeboom. Hy sê hy reken daai boom is maklik driehonderd jaar oud. Baie ouer as hy. Hy sê dis vir hom interessant lat hulle daai boom gelat staan het toe hulle vir Sophiatown hier platgestoot het. Eike is besonderse bome, word glo honderde jare oud. Hy sê dit moes ’n besonderse iemand gewees het wat daai boom daar geplant het, ’n mens met ’n gevoel vir sy nageslagte, maar dis nou ok daarnatoe. En dit moes ’n besonderse hervestigingsbeampte gewees het, sê Pop, wat georder het lat daai boom moet bly staan, een met ’n gevoel vir bome” (Van Niekerk 1994:12).

Verwysings

Nixon, Rob. 2011. Slow Violence and the Environmentalism of the Poor. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press.

Van Niekerk, Marlene. 1994. Triomf. Kaapstad: Queillerie.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •