Plekgedig 8: Eduan Naudé . Inleiding tot Pretoria se portfolio

Inleiding tot Pretoria se portfolio

 

In oktober is haar shawl pers

om by haar eyeshadow te pas

wat gans te dik aangeplak is

as sy weer vir die wolke

en sy weerlig lê en wag.

 

Paaie lê deesdae lyne op haar gesig

wat eens aantreklik versier is met

ou staatsteaters en uniegeboue

saam ‘n monument vir voortrekkers:

nou meer ‘n harige moesie

as haar beautyspot op ‘n kop

daarom wys sy vandag haar oostewang

wanneer die cumulus-man oor haar hang

(want dis haar beste kant)

dan val die reën saam ‘n sagte bries

voor hy sy eerste foto’s vat

want dié stad weet

sy’t dit met die tyd geleer:

soos enige ander vrou

is sy op haar mooiste

nat

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •